STORIEMONSTER – Episode 8

Martin kyk op sy horlosie. Hy is honger. Hy stop by die McDonalds Drive- Thru in Tom Jones Straat Benoni, en koop twee quarterpounders.

Terwyl hy eet, stuur hy die motor weer terug in die rigting van Ebotse Estate. Hy lui die knoppie by die hek, en sonder dat gevra word vir identifikasie, gly dit geruisloos oop. Hy stop voor die imponerende stoep, en as hy uitklim, kyk hy uit oor die pragtige tuin, met die perfekte gras, en netjies versorgde struike. Al die geld in die wêreld….en dan skiet iemand jou met ‘n haelgeweer in jou gat. Hy skud sy kop, vee weer sy mond af met die laaste servet, en dan stap hy voordeur toe.

Dit bars sonder waarskuwing oop, en die aaklige ou vrou staan arms in die sye daar.

‘Ek hoop jy het ‘n lasbrief. Die polisie ís klaar hier. Wat wil jy hê?’

Martin kyk haar oorbluf aan, en dan vererg hy hom uit sy vel uit. Sy het haar man verloor, en spanning is ‘n bliksem, maar hy gaan nou nie prosedure volg, en haar gat lek nie. Hy ruk sy boeie uit sy gordel, en stap tot reg voor die benerige lelike vroutjie.

‘Hierdie is ‘n moordtoneel, mevrou. Ek het nie ‘n lasbrief nodig nie. Dit is my saak, en laat ons mekaar sommer uit die staanspoor baie mooi verstaan. Ek sal jou net hier in hegtenis neem vir dwarsboming, en dan gaan sluit ek jou in ‘n vieslike vuil fokken selletjie toe, saam met vieslike vuil vroutjies, en dan vra ek jou my vrae môre vir jou in ‘n vieslike ondervragingskamertjie. Wat gaan dit wees?’

Sy retireer weg van hom af. Haar oë vasgenael op die boeie wat hy voor haar klingel.

‘Ek…ek..ummmm, kom dan maar in.’ stotter sy. Die wind heel uit haar seile. Martin stap in.

‘Mevrou,’ sê hy, sy stem nou weer normaal ‘ek sal graag ‘n bietjie deur u man se besittings wil gaan, en ‘n bietjie deur die huis stap. Vermis u enigiets?’

Sy kyk hom net aan, en steek bewerig n sigaret op. Die groot borselkop man met die deurdringende staalgrys oë ontsenu haar.

‘Net sy computer is weg. Verder is alles hier.’ sê sy.

‘Wys my asseblief?’ vra hy beleefd.

Sy skuifel voor hom uit. Martin verkyk hom aan die luukshede. Dik matte waarin jou voete wegsak. Houtpanele op die mure. Die versierings teen die plafonne. Die binneshuise swembad, met ‘n eksotiese tuin knus in die verste hoek genestel. Hierdie ou het dalk baie probleme gehad. Geld was nie een van hulle nie.

Die kantoor waar sy hom in begelei, is amper so groot soos sy hele huis. Boekrakke versier twee van die mure, en die massiewe geelhout lessenaar, staan voor ‘n getinte venster wat die vol lengte van die muur agter dit span.
Die boekrakke kreun onder die gewig van duisende boeke. Almal met netjiese leer omhulsels. Meeste van die titels kan Martin nie eers uitspreek nie. Die niksbeduidende vroutjie beduie in die algemene rigting van die vloer onder die lessenaar, en Martin sak af op sy hurke. Die rekenaar skerm staan op die hoek van die lessenaar. Die kabels lê verstrooid onder die lessenaar, die res skitter in hulle afwesigheid.

Martin staan op, en daar is iets wat hom pla omtrent die boekrak teen die middel muur. Hy kan net nie sy vinger op dit sit nie.

Die vrou gaan sit op die leerbank wat voor die lessenaar staan. Sy trek haar bene onder haar in, en kyk met n leë uitdrukking na Martin. Die klein kraalogies toon geen teken van treur nie. Die lyne om die pap mond, amper geëts. Sy is leeg, en hard, dink Martin. Haar naels tot in die lewe afgekou. Hy kug en vra dan:

‘Mevrou, het jou man enige vyande gehad? Besigheid wat dalk skeefgeloop het? Tone waarop hy dalk getrap het?’

Hy dink eers sy gaan hom ignoreer. Sy skud haar as net so op die mat af.

‘Hy was ‘n vark. Varke maak seker vyande, ek weet nie. Ek is nie lus vir die kak nie, ek wil net uitgelos word. Die res van sy geld uitlewe, en as die moordenaar gevang word, hom ‘n stewige handdruk gaan gee.’

Martin kyk haar geamuseerd aan. Haar houding maak dit vir hom baie makliker om sy volgende vraag te vra. Tog doen hy dit so taktvol as moontlik.

‘Mevrou, uit die aard van die saak, is dit vir my nodig om u te vra of hy enige seksuele voorkeure gehad het. Die manier waarop hy geskiet is, het my la…’

Sy val hom skerp in die rede.

‘Ek het gese hy was ‘n vark. Ek kan persoonlik nie dink aan ‘n beter manier waarop hy die lewe uitgehelp kon word nie.’ Sy het ‘n effense glimlag om haar mond.

‘Was hy biseksueel?’ vra Martin.

‘Nee meneer, definitief nie, maar hy het groot genot daaruit geput om my te verneder. Anale seks het hom ‘n goedkoop kick gegee.’ Sy sidder, en die eerste keer voel Martin simpatie vir die vrou. Hy los dit daar.

‘Mevrou, iets pla my omtrent daardie boekrak daar oorkant. Is daar iets wat ek moet weet?’

‘Die hefboom sit onder die lessenaar se blad’ Sy staan op en rol Martin en sy stoel uit die pad. Sy kniel, en vroetel, dan skuif die boekrak geruisloos oop. Dit maak n effense merk op die dik tapyt, en dit is wat Martin se onderbewuste opgetel het.
Hy stap nader, en hy kyk na die vertrek wat in donkerte gehul is. Hy soek na ‘n ligskakelaar, en dan hoor hy hoe die vrou weer vroetel onder die lessenaar. Dan is die vertek helder verlig.

Dit is ‘n eenvoudige vierkantige hokkie, met netjiese liggies versink in die dak. Heeltemal uitgepleister, en ‘n donker sjokoladebruin geverf. Die vloer is gladde swart marmer, en in die middel daarvan, in roomwit marmerblokkies…… is die pentagram. Die kamer toon tekens van gereelde gebruik, halfgebrande kerse staan op die hoeke van die ster van Wicca.

Martin kyk na die vrou oorkant hom. Sy staan net en staar na hom.

‘Dit was die enigste enkele ding in sy lewe, waaraan hy commit het’ sê sy, en hy sien die afkeur in die kraalogies, as hulle deur die versteekte kamertjie flits.

‘Wil jy my dalk meer vertel?’ vra Martin, en hy lei haar aan die arm terug na die bank toe. Amper soos ‘n ongelukkige kind, dink hy.

Sy steek ‘n vars sigaret op, en dan begin sy praat.

‘Hy was nie altyd so nie. Daar was ‘n tyd wat ons arm en gelukkig was. Toe was daar ‘n tyd wat ons net arm was. Die hele ding met die sweets. Dit was weird. Kyk, die idee was syne, en dit het goed afgeskop. Ons het skielik bietjie geld gehad. Nuwe karre, verf vir die huis, en ‘n onthaalarea. Verstaan my egter mooi, dit was Jack. Ek het my lewe saam met Jack spandeer. Ek het hom beter geken as enigiemand anders.’

Martin sien ‘n effe sagter sy van die vrou. Alhoewel dit haar geensins mooier maak nie, maak dit die skans om haar net ‘n bietjie meer deurskynend.

‘ Jack het die vermoeë gehad, om alles waaraan hy raak, onmiddelik te laat verander in kak. Ek het nie gedink dat sy skielike soettand, enigsins anders sou gewees het nie.’

Sy druk die sigaret dood in die geborselde aluminium asblik op die vloer voor haar.

‘Skielik het hy saans begin wegraak. Soms tot na middernag. Selde was hy dronk as hy tuis kom. Nugter, maar amper…..amper…’

Sy soek na die woord.

‘Detached’ sê sy eenvoudig ‘in sy eie wereld, amper in ‘n trance as jy weet wat ek bedoel.’

Martin knik net.

‘En toe, by ons ou plek, het hy ook daai ding in sy kantoor geteken.’ Sy wys in die rigting van die boekrak wat nog oopstaan.
‘en skielik, het alles waaraan hy vat verander in goud. Jack was n sout van die aarde tipe man. Skielik het hy ‘n tatoetieer merk gehad. Klein en uit die pad uit. Maar tog’

Martin kan nie onthou dat hy enige merke op die man gesien het nie. Hy trek sy wenkbroue op vir haar, en sy vervat:

‘Agter op sy oorlob, ‘n klein sterretjie, dieselfde patroon as die een daar op die vloer. Kort daarna het hy met sy varksigheid begin. Hy het altyd die neiging gehad, maar ek kon dit aflag. Skielik, was dit van my verwag.’

‘Waarvan praat u?’ vra Martin.

‘Die anale ding” sê sy net, ‘en skielik het alles waaraan hy gevat het verander in goud. Die geld het net ingestroom. Dit was asof hy ‘n magneet was.’

‘Skielik het invloedryke mense uit sy hand geëet.’

Sy kyk weer na die oop boekrak.

‘Dit het alles met daai kak begin’ en sy wys met ‘n vars onaangesteekte sigaret in die kamertjie in.

‘Net laastens mevrou, ek het nog nie jou verklaring gelees nie, dit spyt my, maar is daar enigiets wat u kan onthou van die aanval? Enigiets wat u dalk nog nie vir ons gesê het nie?’

‘Nee, ek het net vir Roger hoor val by die voordeur, en die volgende oomblik toe brand iets in my nek.’

‘Dankie mevrou’ sluit Martin af.

‘Een ding wat ek vanmore oor gesit en wonder het, Roger het by die voordeur geval, ek het gedraai om my sigaret dood te druk,’ sy maak ‘n gebaar met haar brandende sigaret na die asblik toe, ‘en voor ek kon terug draai, tref die pyl my….’

‘Ek volg nie mevrou.’

‘Whoever dit was, moes fokken vinnig gewees het. Daai voordeur is dertig meter weg van die ingang na die sitkamer toe. In die sekondes wat ek geregistreer het voor ek uitgepass het, het ek nie ‘n enkele beweging opgemerk nie. Hoe lank vat dit my om ‘n sigaret dood te druk?’

Dirk kyk na die afstand, en skat hoe lank dit sal vat vir ‘n man om sy bewussyn te verloor. Die hofknapie is ‘n klein mannetjie, as die aanvaller dadelik beweeg het na hy die skoot gevuur het, is dit nie bonatuurlik nie. Vinnig. Definitief ‘n Pro.

‘Dankie mevrou. Sterkte vir u.’ Hy glimlag vir haar. ‘Geniet die geld, jy het dit verdien.’

//

Jacob Mafudi krap ingedagte agter sy oor met ‘n potlood. Voor hom het hy Brian Cartwright se nadoodse ondersoek verslag. Die man het heelwat Rohypnol in sy bloed gehad.

Jacob weet kosbaar min van die verdowingsmiddel. Hy weet dit is die sogenaamde “date-rape’ middel. Nie verskriklik moeilik om te bekom nie. Wat hom pla, is die feit dat die slagoffer verdoof is, brutaal vermink is, en in die toestand waarin die polisie hom gevind het, wakker moes geword het.

Die hele daad, stink vir Jacob te veel na vergelding. Hierdie was meer as net ‘n doodgewone moord. Hierdie slagoffer, moes ‘n les leer.

Daar is nog ‘n paar ander klein goedjies wat hom pla. Die sterteken op die vloer in die man se huis…. dieselfde teken is onder die man se linker groottoon getatoeïeer.

Brian het alleen gebly. Hy kyk deur die slagoffer se geskiedenis. Hy skribbel ‘n adres in sy notaboekie, vat haastig sy sleutels, en stap uit in die laeveldse hitte.

//

Die netjiese enkelverdieping meenthuis, is net nog ‘n sproet wat die wange van die mooi koppie buite Nelspruit skend. Daar is duisende van hulle. Elkeen wat iewers ‘n handtekening van die eienaar probeer uitbasuin. Hetsy dit ‘n netjiese tuintjie, of ‘n onmoontlike verfskakering is, meeste van die huisies probeer te hard om indvidueel te wees, en faal.

Grace Cartwright se handtekening, is potplante. Duisende van hulle. Langs die voordeur staan ‘n nuutgeplante piesangboom. Die blare blink, en beur orent. Die boom gaan ‘n sukses wees.

Jacob druk die voordeur klokkie, en tien sekondes later skuif die deur op ‘n skrefie oop. Hy sien die vrou se mond ‘n verskoning begin vorm, en hy het nie lus vir die kak nie, en voor sy vir hom kan lieg oor waar sy haar beursie verloor het, hou hy sy identiteitskaartjie uit na haar toe.

Haar houding verander van die miesies, na die medeburger toe, in ‘n oogwink. Sy hou vriendelik vir hom die deur oop, en Jacob stap met ‘n stywe rug in. Na al die jare, maak dit nog seer.

Die huis is ruim en lig binne. Amper vrolik. Die vrou is skraal en blondgrys. Nie mooi nie, ook nie lelik nie. Gemiddelde bou, met die jare wat begin rem aan haar borste. ‘n Deursnit vrou. Sy is geklee in swart, die grimering donker. Swaar gekleurde oë, donker lipstiffie.

Jacob sien etlike kristalle, en bakkies met growwe sout, op ‘n lae tafeltjie, met ‘n donker doek oor. Die vrou volg sy oë, en sy daag hom amper uit om uit te vra. Dit is nie hoekom hy hier is nie. Hy weet iets van die Pagan geloof af. Dit het niks met hom uit te waai nie.
Die vrou vra hom nie om te sit nie. Hy bly ongemaklik staan. Hy besluit om die verrigtinge so gou as moontlik agter die blad te kry.

‘Mevrou, ek wil eerstens my simpatie aanbied oor u verlies. Ek wil u net ‘n paar roetine vrae vra.’

‘Ons was al lank geskei,’ haar oë soek na ‘n rang.

‘Luitenant’ vul hy haar met genoeë in.

‘Luitenant, ek het hom al jare gelede verloor, en ek het my vrede gemaak.’

‘Ek wil net ‘n bietjie agtergrond kry.’

Hy haal ‘n foto uit van die pentagram, en gee dit vir haar aan. Sy frons.

‘Wat beteken hierdie simbool?’ vra hy.

Sy beduie na ‘n stoel, en gaan sit self.

‘Ek is ‘n NeoPagan. Ons glo in die heelal. Die krag en energie van die heelal balanseer mekaar uit. Twee teenoorgestelde pole. Die aarde, of moederaarde as jy dit so wil verstaan, en die son. Die pentagram…’ sy haal ‘n sirkelvormige ster, wat aan ‘n leerbandjie om haar nek hang, af ‘het vyf punte. Hulle verteenwoordig vyf elemente. Lug, vuur, water, die grond waarop ons loop, en gees.’

Jacob kug net, en sy gaan aan: ‘Daar is vreeslik baie afwykings, en verskillende fasette van my geloof. Jy glo aan wat jy mee gerieflik is. Die basiese beginsels is dieselfde.’

‘However,’ en sy sit op die puntjie van die stoel….. ‘baie mense maak die fout, en verwar ons teken met Satanisme. Hierdie…..’ en sy beduie afkeurend na die foto wat Jacob haar gegee het, ‘is onmiskenbaar die teken van die kerk van Satan. Kyk, dit is ‘n eenvoudige ster binne ‘n sirkel. Vreeslik maklik om te onderskei.’ Sy sit haar hangertjie bo op die foto, sodat Jacob self die verskille kan sien.

‘So, u eertydse man was ‘n satanis?’

‘Dit was die hoofrede hoekom ek daar weg is. Ek het ‘n teorie.’ Sy staan op.

‘Luitenant, kom ons gaan maak koffie, dan vertel ek jou.’

//

Hulle sit om die ontbythoekie. Die stoele is hard en ongemaklik. Jacob verwag ‘n blikbeker, maar kry porselein.

‘Luitenant, hou nou net ‘n oop kop asseblief. Wat ek jou gaan vertel, gaan jy nie glo nie, maar ek het ‘n goeie idee, dat ek nie vreeslik vêr van verkeerd af is nie. Al die tekens was daar.’

Hy slurp sy eerste sluk.

‘Ek luister’ sê hy ‘en noem my sommer Jacob.’

‘Ek’s Grace’ Die atmosfeer wat velkleur skep, verdwyn skielik.

‘Jacob, daar is aangetekende legendes, waar mense hulle siele aan die duiwel verkoop het, in ruil vir faam, of rykdom, of wysheid. Sekere musikante, skilders en dies meer, het beken dat hulle hierdie transaksie met satan gedoen het.’

Jacob staar haar net ongelowig aan.

‘So, wat moet jy doen om hierdie eer te hê?’ vra hy geinterreseerd.

‘Gewoonlik word ‘n siel met geboorte verkoop. Die merk van satan moet iewers op jou lyf wees. As bewys van die transaksie. Soms kan dit skriftelik gedoen word met jou eie bloed as ink. Dit is onbelangrik hoe dit gedoen word, feit is, dit kan gedoen word.’

‘En jy is onder die indruk dat jou man ….ummm…eksman hierdie transaksie gedoen het?’

‘Ek is amper doodseker. Daar was ‘n spesifieke tyd wat hy drasties verander het. Net nadat sy patent verkoop is. Geld was volop, en skielik het hy die vermoeë gehad om onbesonne hoeveelhied geld te maak, sonder om te hard te probeer. Aandele, en ander beleggings, Krugerrande….’

‘Hierdie merk, hoe lyk dit?’

‘Die merk van die dier….soms is dit ‘n tatoo, soms…’

‘Soos die?’ en Jacob skuif nog ‘n foto voor haar in.

Sy kyk na die foto van haar gewese man se groottoon, en n tikkie hartseer wys op haar gesig.

Sy knik net.

Word vervolg … 

12 Responses so far »

  1. 1

    Anoniem said,

    genade, ek kan nie wag vir nog nie..

  2. 2

    jannas said,

    Julle sit nou al die mense/lesers op ‘n “drug” hier veral die bosluise !!!

  3. 3

    gigibaby said,

    Tsk nou moet ons weer wag tot more!

  4. 4

    nicole said,

    sjoe ek is so bly ons dit daarem hier verder lees! My PC was stukkend gister. wanneer is bosluis weer gefix???

  5. 9

    Dellie said,

    Eish, ek hoop nie Bosvark het nou ‘n Verskrikte Afrikaans fan geword nie … *bang*

  6. 10

    aceofspades said,

    Mooi storie, ek dink die lorriedrywerkie het talent.
    Dellie is jy nog tussen die sand duine?

  7. 12

    Charms said,

    Ag nou moet ek weer wag tot more.


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: