STORIEMONSTER – Episode 9

Deon Strydom breek ‘n wind op. Die prostituut steek met moeite haar afkeur weg. Haar mondhoek trek effens af as haar oë oor die pens gaan. Die geld is net só fokken goed….
‘ Kom skattie, oom Deon is lus.’

Sy ril onwillekeurig, en hy verwar dit met afwagting. Hy gooi sy kop terug en lag. Hy leun oor, en knyp haar tepel. Dit vat elke greintjie wilskrag wat sy het, om nie weg te ruk, of sy hand weg te klap nie.

Die swart vuilgoed sit onder sy naels, en hy ruik na ou sweet. Hy staan op, en trek sy broek af, en skop dit in die hoek van sy vuil kamer in.. Hy gooi haar op haar maag op die bed, en dan forseer hy homself van agter af in haar in. Sy begrawe haar kop in die vuil beddgoed, en sy bid dat dit moet gou oor wees…… soos gewoonlik.

//

Al het die geld soos water in sy sakke ingeloop, het Deon nooit van sy huis ontslae geraak nie. Dié huis het aan sy ouers behoort. Nostalgiese waarde, en die feit dat hy verandering haat met ‘n passie.

Die donker geklede figuur, het geen moeite om in die perseel in te kom nie. Die baster kollie is al jare dood, en die oortreder sien die jong terrier langs die voordeur lê.

Die figuur trek die wapen uit ‘n skede op sy rug, en lê dooierus oor die draad aan. ‘n Gedempte plop, en die hond vlieg orent, en gee ‘n skerp blaffie. Dan tjank dit net vlietig, en begin dronkerig te steier. Die enkel naakte gloeilampie in die stoepdak gooi ‘n droewige skynsel op die yl gras langs die voordeur. Die dier val net buite die vlekkie lig.

Die figuur beweeg gemaklik. Amper met ‘n sweef, gly die profiel oor die draad. Die donker skaduwees laat dit lyk asof die indringer teleporteer. ‘n Oomblik later, is die skaduwee weg.

//

Deon sit op die gehawende bed, en kyk oopmond na die klein televisietjie met die haasore op. Die prostituut lê met haar rug na hom toe. Haar rustige asemhaling, laat dit lyk asof sy slaap. Sy sien egter die skaduwee verby die venster sweef. Sy sien die geweer, en sy sien hoe die indringer aanlê. Amper verlig knyp sy haar oë toe, en staal haarself vir die slag. Die sagte plop, is amper ‘n teleurstelling.

‘Fok! Wat de fok, masepoes…..’ skree Deon, en vlieg orent. Hy gryp in sy nek, en begin tol, dan slaan die groot man met ‘n dowwe slag neer op die vloer. Hy probeer nog ‘n laaste keer orent kom, maar sy oë is omgedop. Die prostituut sit verskrik regop. Dan is die swart figuur in die kamer. Soos toorkuns. Deur die venster dalk? Die prostituut knip- knip haar oë. Die figuur is gemasker, en die swart handskoen slaan oor die ligskakelaar.
In die blou flikkerende skynsel wat die televisie oor die kamer gooi, beweeg die figuur stadig tot langs die prostituut. Die hand streel deur haar hare, en dan gee die figuur woordeloos vir haar, haar klere aan. Sy trek haastig aan, en die indringer hou die deur vir haar oop. Sy laat nie op haar wag nie. As sy deur die tuinhekkie gaan, vroetel sy vervaard in die klein handsakkie vir haar selfoon, en bel die motor wat haar moet kom haal.

Twintig minute later, as die voertuig opdaag, is die prostituut amper histeries. Sy het in die skaduwees oorkant die pad gestaan en luister na die pynkrete wat elke nou en dan gedemp by haar uit gekom het. Sy kan nie vinnig genoeg in die kar klim nie…

//

Kaptein Krys Wessels, is nog ou-skool speurder. Hy is vier en vyftig. ‘n Lang man, en fors gebou. Die gesig het fyn gebarste aartjies op die wange. Krys was nog nooit bang om ‘n dop te drink nie. Die nuwe range in die polisie, het hom as kaptein laat uitstap anderkant. Die salaris is maar nog net dieselfde.

Hy fluit deur sy tande as hy die moordtoneel betree.

‘Waar is Stevens van forensies?’ vra hy vir die bleek konstabel, wat in die hoek die heel verste van die bebloede bed, skuil.

‘Hy was nou-nou hier kaptein, ek sal hom gaan soek.’ sê hy en hy ontsnap dankbaar uit die vertrek uit. As die groot kleurling man, met die groen handskoentjies aan, vyf minute later die kamer binnekom, het Krys ‘n taamlike idee van wat gebeur het.

‘Yes Stevens, hoe gaan dit?’

‘Dit het goed gegaan Kaptein, tot hierdie fokkop ingebel is. Ek het nog nooit so iets gesien nie.’

‘Self nie’ herken Krys.

Hy kyk na die man wat nakend op die bed lê. Sy geslagsdeel is met chirurgiese presisie, en met ‘n vlymskerp voorwerp, afgesny, en ‘n deel daarvan hang bloederig uit sy oopgerekte mond. Krys ril onwillekeurig. Hy het ‘n keuse gehad, versmoor, of bloei dood. Dit is moeilik om te skat watter een van die opsies hy gevat het. Hy moes iemand ongelooflik afgepis het iewers.

‘Wat het jy?’ vra hy vir Stevens.

‘Wel, hier was definitief seksuele omgang gewees.’ Hy beduie vir Kruis om hom om die bed te volg.

‘Hier’ en hy beduie na ‘n gefrommelde kondoom wat op die vloer lê.

‘Enige agtergrond oor die man?’

‘Jip, skatryk, al lyk dit nie so nie’ en Stevens beduie teatraal na die gehawende vertrek om hom. ‘Dit was sy ouers se huis, en hulle is so vyftien jaar terug in ‘n motor ongeluk dood. Sy naam was Deon Strydom. Sy rykdom was ‘n poks. Hy het goudneerslag uit ou mynpype gehaal, en miljoene gemaak.’

‘Hoekom kom sulke goed my nie oor nie?’ sug Krys.

‘Praat jy, kaptein….hy was lucky..’ Die ironie van die stelling, laat Krys grynslag.

‘Hier is net nog een vreeslike snaakse ou dingetjie wat my pla,’ en as Krys hom net vraend aankyk, beduie hy weereens vir die groot man om hom te volg. Hulle haas hulle deur die beknopte huisie. Alles is donker en mistroostig. Die agterdeur se skarniere kerm as Stevens dit oopgooi, en Krys die vier trappe aflei in die stowwerige agterplaas in. Teen die agterste draad, onder ‘n sukkelende eikeboom, staan ‘n asbes opslaanhuisie. Seker ses meter lank, en 3 meter breed.

Stevens druk die deur oop, en die reuk van gebrande was, en sweet, vul hulle neusgate. Die reuk is walglik, en Krys is amper lus en haal sy sakdoek uit.

Voor hom, is die vertrekkie swak verlig. Daar is net ‘n enkele meubelstuk. ‘n Gehawende groen tafeltjie. Enkele dik boeke is daarop gepak, en onder dit op die vloer lê n verdere aantal boeke wreed in die stof.

Die opvallendste kenmerk van die vloer in die vertrek, is die groot swart pentagram, wat kru, en skynbaar met ‘n kwas en swart verf, op die vloer aangebring is. Orals op die punte van die ster, is verskeie goedkoop gekleurde kerse. Meeste van hulle sommer in koeldrank bottels gedruk.

‘Nou wat de duiwel sal dit wees?’ vra Krys.

‘Ek het weird familie kaptein, en my vrou het ‘n suster wat soms heel die kluts kwyt blyk te wees. Sy is ‘n heks. Nie sommer enige heks nie, ‘n moderne heks. In haar huis, is kak soos die, volop.’ sê Stevens. Hy beduie met ‘n oop hand deur die beknopte vertrekkie.

‘Gee my haar adres, ek sal dalk by Liewe Heksie ‘n draai moet gaan gooi.’sê Krys.

‘Sy sal wat wou gee om n bietjie shine te vang.’ merk Stevens droog op.

//

Marius jaag terug in die pad in. As die BMW se bande aan die teerpad byt, huil die rubber ‘n gemartelde deuntjie, en dan is hulle fort.

Marius bestuur soos ‘n mal man.

‘Jy kan maar jou groottoon van die main jet afhaal’ sê die groot man droog, ‘ek dink nie hulle gaan ons haastig agtervolg nie.’

Marius huiwer op die rand van histerie.

‘Wat de fok het nou net daar gebeur? Wie is jy? Waar moet ek heen?’ skree hy.

‘Jissis, het jy Bioplus vir ontbyt gehad?’ Die groot man vat die sak wat hy by sy voete ingegooi het, en skuif dit met moeite oor op die agtersitplek van die BMW.

‘Ry na jou huis toe, ek weet nie van jou nie, maar ek kan doen met ‘n dop.’

Marius wil hom eers vererg, en dan dring die besef tot hom deur….. Die man het heel moontlik sy lewe gered. Of hom ‘n helse klomp drama gespaar. Trauma… dit is ‘n ander storie. Sy keel is self droog, en sy hande bewe.

Hy kyk sydelings na die groot man. ‘Marius van der Berg.’ stel hy homself voor. Hy probeer nie eers die skrilheid in sy stem wegsteek nie.

‘Dirk Dhooge’ sê die diep stem. ‘ek weet wie jy is.’

Marius sien die man se kneukels is flenters en bloederig.

‘Ons sal moet laat kyk na jou hand.’

‘Ons kan kyk by jou plek. Ons sal moet praat, en ‘n plan van aksie uitwerk’

Marius het nie ‘n keuse nie. Hy is intelligent genoeg om dit te besef.

//

Dirk Dhooge kamoefleer sy stukkende kneukels met ‘n rol toiletpapier wat hy uit die sakop die agtersitplek ruk. Maar daar is geen kamoeflering bestand teen Heleen Bosch se sesde sintuig nie. Hulle was nog nie by die voordeur nie, toe storm sy al uit buite toe.

‘Wats fout?’ Die fronsie tussen die oë, en die reguit kennetjie, laat Marius onmiddelik weet dat hy nie nou moet draaie loop nie. Sy steier terug as sy die massiewe man langs Marius sien. Sy staan woordeloos weg uit die voordeur, en laat hulle binnegaan.

Marius stap reguit na die kroegie in die hoek van die voorkamer toe, en hy haal drie glase uit. Sonder om te vra wat hulle wil drink, gooi hy drie stywe brandewyne. Daar hang ‘n swanger stilte.

Marius plof neer op die rusbank, en Dirk Dhooge sit die groot sak by sy voete neer, en bly staan. Heleen vat ‘n lang teug van die goue drank, en dan ontspan sy haar rug.

‘Sit meneer uhh ummm..’

‘Dirk’ sê hy eenvoudig.

‘Sit Dirk.’ en sy gaan sit langs Marius.

Dirk gaan sit op die punt van die leunstoel, die stilte dawer voort. Niemand kyk regtig vir mekaar nie. Dirk verbreek die ongemaklikheid:

‘Marius, jou oom het my gehuur. Ek is ‘n privaatspeurder, maar daar was ‘n ander lewe voor die een.’n Lewe waarin jou oom ‘n helse groot rol gespeel het.’ Hy vat ‘n teug brandewyn.

‘Ek wou nie regtig betrokke raak in die ding nie, maar soos die duiwel dit wou hê, is ek altyd op die regte plek, op die verkeerde tyd.’

‘Wag wag,’ keer Marius, en sit sy drankie op die tafel neer. ‘ek het amper my gat gesien vandag. Ek is ‘n penpusher, en eks heeltemal tevrede daarmee. Ek sukkel om in ‘n fokken geweerloop op te kyk, en ek is nie mal oor carchases nie. Wat de fok het al hierdie goed met my te make?’

Dirk kyk hom reguit in die oë.

‘Ek volg jou van twee dae na jou oom se dood af al. Jou oom het geweet die poppe gaan dans. Hoekom hy jou betrek het hierby, gaan my verstand te bowe.’

Marius snork net minagtend.

‘Weet jy wie jou oom regtig was?’ vra Dirk. Sy toon is een van absolute respek.

‘Ek het geen idee nie, maar moet nie uit die oog verloor dat hy die lafaard se uitweg gevat het, en sy eie kop weg geskiet het nie.’

Marius het die groot man nie eers sien beweeg nie. Heleen se gilletjie het gekom nadat Marius die kroeg toonbank twee meter van daar af stukkend geval het. Dirk ruk Maruis uit die puin uit, en hy gooi hom terug in die rigting van die bank.

‘Jy sal hom respekteer. Ek sal elke beentjie in jou liggaam breek.’ Dirk is bleek van woede.
Heleen spring skielik op, en gryp haar selfoon van die tafel af.

‘Ek bel die polisie!’ skee sy driftig.

‘Gaan aan, ek dink ek moet in elk geval wegkom hier. Nie een van julle twee sal die einde van hierdie week sien nie. Good riddance.’

Dirk tel sy sak op, en stap in die rigting van die voordeur. Dit is Marius wat hom stop, en die selfoon saggies uit Heleen se greep verwyder.

‘Hy het my gat gered vanmiddag, Heleen. Ek weet nie wat hier aan die gang is nie, maar ek dink ek skuld hom n kans om te verduidelik…. en ek is bang. Ek is nie toegerus vir hierdie tipe van konfrontasie nie. Die mense wat my gevolg het, is gevaarlik.’

Hy kyk na Dirk Dhooge.

‘Vertel jou storie, Dirk. Laat my verstaan.’

//

Middernag 15 Oktober 1975. Rundu.

Die pad is plek-plek teer. Na die groot reëns van die afgelope paar weke, is dit meer modder as enigiets anders. Kommandant Renier van der Berg staan agter op die Land Rover. Die uniform wat hy aan het, is te klein. Dit span om sy breë skouers. Die rang…. verkeerd.

As mens alles verdomp geheim moet doen, dan is dit nou hoe dit gaan, dink hy geïrriteerd. Hulle moes hulle perfekte uniforms verruil vir die afgeleefde derdehandse drek. Nog ‘n groter irritasie, is die sewe Unimogs wat hulle moes agter los. Hy kyk na die res van die konvooi agter hom. Gehawende ou vragmotors. Afgeneem by die vlugtende Portugese uit die siel van die groot land voor hom. Angola….

Hulle ry reg wes, die konvooi kreun en kraak en bewe en stoei oor die gehawende pad. Hulle handhaaf nie twintig kilometer per uur nie. Die voertuie protesteer. Kosbare oomblikke van rus gaan verlore as hulle weereens moet werskaf aan die ou vragmotors. Hulle druk deur daardie nag, en selfs die ekstra rytyd help nie veel nie. As hulle by Serpa Pinto kom, sit die son al hoog.

‘Kerels, rek bene!’ beveel hy, en hy klim styf van die Landrover af. Hy kyk na sy mense. ‘n Mengelmoes van swart en wit en bruin. Hulle babbel in vier verskillende tale, en tussen sommige van hulle, is daar ‘n tradisionele styfheid. Oorlog het nie reëls nie.

Vier afdelings FNLA soldate en twee afdelings Boesmans. Veertien Spesiale Mag soldate. Kommandant Dawid Reynecke kom deur die modder aangestap.

‘Ek stel voor ons draai suid,’ sê Renier.

‘Vir wat? Luanda lê noord. As jy bang is vir nuuskierige oë….kan ons altyd noordwes hou, en later wegdraai.’ redeneer Dawid.

Renier vryf oor sy moeë oë.

‘Nee, ons beweeg suid. Hierdie paaie is ‘n fokkop. Ons kan nader aan die kus, opbeweeg na Luanda toe. Die roete daar is volgens intelligensie beter.’

Dit is finaal. Dawid aanvaar dit so. Immers, is die kommandant die skerpste strategiese brein wat hy nog teëgekom het. Hy skree die bevel.

Hulle bestyg die gehawende voertuie, en kruip al langs die spoorlyn op, in die rigting van Artur de Paiva. Hulle is net na sonopkoms deur die nedersetting, en dan kom die bevel. Reg suid, in die rigting van Cassinga. Hulle druk deur en die monotonie van die mars, wys op elke moeë troep se gesig. Dit is altyd die gevaarlike deel, dink Renier. As die manne verveeld raak. Dit is een ding om te sukkel met konsentrasie, want jy is moeg, en heeltemal ‘n ander as jy glad nie konsentreer nie….. want jy is verveeld. Hy het ‘n gevoel in sy water.

As hulle ‘n uur later die Cunene distrik binnekom, halt hy die konvooi.

‘Korporaal Kruger,’ gebied hy ‘vat twee van my boesmans, en kyk gou of die pad skoon is.’

Hy voel die donners. Dié wereld slyp jou instink vlymskerp. Hulle stop, en die groepie mans word voor hulle oë deur die vaal bosse ingesluk. Renier klim bo op die traliewerk van die naaste vragmotor. Sy verkyker fynkam die ruigtes voor hom. Niks. Die gevoel is nou meer as net in sy water. Dit is teen sy ruggraat…. sy vel tintel.

‘Cuvelai,’ sê hy hardop vir Dawid, as laasgenoemde vraend na hom kyk. ‘Dit is té stil.’

Dawid kry sy mense reg. Hy skuif die Landrovers met die Vickers masjiengewere vorentoe. Die vragmotor waarop hulle die groot 30 kaliber Browning aangebring het, laat hy héél voor ry.

‘Korporaal van Dyk….. is jy reg met die 25 ponders?’

Renier swaai die wye oog van die verkyker. Was daardie ‘n beweging? Hy sirkel die apparaat om die stukkie aarde wat sy agterdog opgewek het…. niks.

‘So reg soos ‘n roer Kommandant!’ skree die jong korporaal vol geesdrif. Renier glimlag, dié manne is nie bang nie. Die eentonigheid is gebreek. Almal voel die adrenalien van kontak. Dit is nie meer lank nie.

n Uur later is die reccie groep terug.

‘Kommandant, ons het spore gekry. Seker so dertig man. Hulle het gekruis oor die pad, ongeveer twee kilometer van hier af. Ons kon nie verder volg nie, sonder om ons dekking te verloor nie. Ek het ‘n merker geplaas in die bome langs die pad. Hulle is naby.’

‘Met wie het ons te make korporaal?’ vra hy

‘Van die boots lyk vir my na Amerikaanse-Issue Kommandant.’

UNITA, dink hy grimmig. Hulle is veronderstel om aan dieselfde kant te wees. Die probleem is, baie van UNITA se mense het nog ‘n vyandigheid teenoor die FNLA. Dit is moeilik om eertydse vyande skielik te laat saamwerk. Bitter moeilik. En dan lyk sy hele groep nog soos fokken Portugese ook.

Renier bedank die jong man, en beduie die vloot om te beweeg. Hy klim op die heel voorste Landrover, en skuif langs die jong troep in wat afwagtend met sy vingers op die snellers van die Vickers sit.

‘Boet….draai daai ding regs van die pad, ek sal uitkyk vir die merkers.’

Vandat hierdie guerilla groep tot stand gekom het, was dit die enkele eienskap wat Kommandant Renier van der Berg laat uitstaan het. Die manskappe wil weet hulle leier is een van hulle. Om altyd die voortou te neem, en self jou hande vuil te maak, en self te koets vir patrone, self die snellers te trek, saam die gevalle slagoffers te begrawe… is goed vir moraal. Hier is niks anders hier, behalwe moraal nie. Sy mense het respek vir hom. Die leeu van Angola, noem hulle hom.

Renier sien die effense senuweeagtigheid by die troep. Hy is jonk, seker maar negentien of so. ‘n Fris jong man.

‘Jy sal ok wees, boet, maak soos ek sê, en jy sal ok wees.’ Hy kyk die jong man reguit in die oë, en hy sien die twyfel plekmaak vir veglus. Die vrees plekmaak vir ‘n onverskilligheid. Hy sal vêr kom…..

Hy sien die effens platgedrukte gras, en die omgedrukte bos.

‘Hou jouself reg troep!’ beveel hy gedemp vir die jong man.

Dan sien hy die ritseling in die gras. Seker vyftig meter voor hom. Net links van dit, flits die son dofweg op die loop van ‘n wapen. Dan kwets die eerste patrone oor hulle koppe, gevolg sekondes later deur die klank van die skote. Renier knik vir die troep, en beduie met sy hand. Die jong man het ook die beweging gesien. Hy trek die snellers. Die groot geweer blaf, en skop en stotter. Die troep swaai die verwoesting in wye boeë. Die veld oorkant se tekstuur verander. Takke breek af, en vlieg weg in duisende splinters, hompe gras word onseremonieel uit die grond geruk. Iemand gil in die bosse. Nog ‘n sarsie of twee word gevuur van die vyand af. Die patrone wat lomp teen die voertuie vasslaan.

Al drie Vickers gewere blaf nou, en dan….. die diep rommel van die groot Browning. Heel bome word omgeruk. ‘n Miershoop ontplof in ‘n enkele geel bol stof en dan is dit stil. Hy steek sy hand op, en die wapens staak hulle verwoesting. Rook dartel lui by die lope uit, en die reuk van kryt hang swaar in die lug. Hy sien hoe vier man hulle G-3’s gryp, en begin dekking soek langs die pad.

‘Dek daai manne, kêrels’ skree hy, en sy Landrover en een ander skuif reg in die pad. Dan is hy op die grond. Hy gryp ‘n portugeese G-3 van die bak af, en storm agterna.

Die veld is verniel. Dit lyk op plekke asof die grond vars omgeploeg is. Boomstamme wat nog regop staan, is beroof van hul bas. Die eerste liggaam lê net binne die lang gras. Net ‘n torso. Die Browning moes hom gekry het. Renier raap die AK-47 wat ‘n ent verder in die gras lê op, en storm dieper die veld in. Daar klap ‘n vinnige sarsie skote regs van hom, en dan ‘n enkele doodskoot.

Amper ‘n halfuur later is die drie dooie terroriste gestroop van alle bruikbare artikels. Hulle is ses AK47’s ryker. Hulle het geen verlieste nie en kan weer beweeg.

//

19 Oktober 1975.

Die konvooi tref ‘n tweede kontak net buite Mupa. Die rooi gras beide kante van die pad het skielik begin lewe. Struike het skielik van vorm verander…. en wapens in hul kloue gehad. Kort sarsies outomatiese vuur het skielik geknetter. Twee sarsies terugvuur van die Browning, en ‘n verdere ses slagoffers, en al skade wat hulle gehad het, was ‘n vleiswond deur die arm van klein korporaal Smit.

Gereelde kontak hou die manne op hulle tone. Renier kyk oor die groep, en daar is ‘n nuwe vuur in hulle. Hy wonder hoeveel van hulle weet waarvoor hulle baklei. Fok weet, hy wonder soms….
Renier het die vraag aan Generaal Viljoen gevra. Hy het oor sy ken gevryf, en met min oortuiging geantwoord.

‘Die oorlog daarbo gaan uitsluitlik oor wie die wenkant beheer. Ons veg om dit uit kommunistiese hande te hou. Kan jy dink wie is volgende in donker Afrika as Suidwes en Angola in rooi hande val? Ons is. Dit is ‘n feit. Ons moet genoeg gesag daarbo afdwing. Die Amerikaners is agter UNITA en die FNLA…. so hulle is ons nuutgevonde makkers. So dwars as wat dit ons in die krop steek.’

Die een goeie aspek is, hy het ‘n gevegsgroep uit die drek van Angola saamgestel. Met die regte opleiding, het hulle stadig ontaard in ‘n gedugte span. Hy wonder of die top brass daarbo bewus is dat sy rommel span besig is om hulle oorlog te veg? Hy veg skouer teen skouer saam met hierdie mense. Die band is gesmee in bloed. Hy is trots op hulle.

Jammer die fokken publiek sien dit nie so nie. Die gesigte van die wit bevolking toe sy troepe reg oorkant Rundu kaalgat in die Kavango rivier gebad het….. Die neerhalende gemaak geskokte geteem van die ou vrouens, wat tog ook nie wou wegkyk nie. Hy haat die politiek.

Hy hou die manskappe op gereedheidsgrondslag.

‘Kerels, Evale is net hier voor. Hou julle oë oop.’ maan hy.

Evale, die klein verwaarlose dorpie, waar die hutte ongeorden in die plat landskap ingepak is, is verlate. Nie ‘n siel in sig nie. Renier sien die manne ontspan. Hy is self verlig, dit was ‘n lang dag.

‘Ons gaan druk tot binne trefafstand van Pereira de Eca. Daar sal ons rus.’

Pereira de Eca is die hoofstad van hierdie provinsie. Die Kunene. Volgens inteligensie, is daar ‘n honderd en vyftig man sterk garnisoen daar gevestig. Dit gaan nie net ‘n rustige inval wees nie. Beide FAPLA en MPLA…..

Terwyl hy nog so met sy gedagtes deurmekaar is, hoor hy skielik die vreesaanjaende swiep van ‘n RPG-7 vuurpyl. Hy sien hoe dit die voorste vragmotor tref. Korporaal van Wyk se voete is gehul in rook, maar….. dit ontplof nie. Hy sien die man vinnig afbuk, en die vuurpyl die veld inslinger… daai man het ballas. Dan knetter die masjiengeweer vuur. Korporaal van Wyk het ‘n dertig kaliber Browning in sy gebalde vuiste, en hy swaai dit blitsig, en sonder om skuiling te soek, begin hy terugvuur.

Renier reageer blitsvinnig. Hy en Korporaal Kruger dink dieselfde, en hulle beide jaag hulle Landrovers vorentoe. Die troep laat nie op hom wag nie…..die Vickers begin blaf. Korporaal Kruger val saam met hom in, en die ammunisie loop soos water.

‘Van Dyk…. dek die flanke met mortiere!’ skree Renier.

Die aanvallers se terugvuur raak skielik stil, en Renier sien hoe hulle omdraai en vlug. Hel, dit was amper. Hy roep korporaal van Wyk nader.

‘Connie…’ sê hy, die man se hande is stil en ontspanne lang sy sye. Daar is ‘n roekelose uitdrukking op die gesig. Skok… en totale opleiding, maak ‘n gedugte teestander. Renier se bors swel van trots.

‘Ek sal seker maak jy word vereer hiervoor, seun. Goeie werk’ sê Renier eenvoudig. Hy druk die korporaal se skouer.

Die man knik net en salueer sy kommandant, en as hy wegstap, hou hy sy kop regop. Renier beduie die troep ook nader.

‘Hoekom is jy nie ‘n korporaal nie seun?’ vra Renier. Die Recce instrukteurs word onmiddelik balkies toegeken.

‘Ek het kak aangejaag in ‘n kroeg in Rundu, kommanadant’ sê hy stil.

‘Jou naam is Vaatjie nê?’ vra Renier. Hy weet van die voorval.

‘Dis reg Kommandant.’

‘Ek sal seker maak dat ons op Rundu, jou balkies terugsit. Jy het lewens gered hier.’

‘Dankie Kommandant,’ stamel die seun ‘kan ek rook kommandant?’

Renier kyk om hom rond. Die rookwolke hang nog in die lug, en die veld brand luierig regs van die pad.

‘Alles brand al klaar, seun, jy kan maar rook.’ glimlag Renier.

Die groep is gou reg om te beweeg. Jy hang nie vreeslik op een plek rond hier nie. Die volgende nedersetting is Amhanca, en geen kontak was ‘n welkome einde aan n lang dag. Net na agtuur is hulle binne trefafstand van Pereira de Eca.

//

20 Oktober 1975

Alpha kompanjie was die naam gegee aan sy rommel-soldate, terwyl die boesmans as Bravo kompanjie bekend was. Renier gee die opdrag, vir Bravo om die dorp te sirkel, en hulle noord daarvan te laat ingrawe. Kommandant Dawid Reynecke voer hulle aan.

Eerste lig die volgende oggend, is die tyd waarop hulle ooreenkom vir die aanval. Dit is ‘n bitter warm nag. Alpha maak reg om in te kruip, en Renier roep Korporaal van Wyk nader.
‘Korporaal, vat twee manne, en gaan verken die dorp. Ek wil alles weet. Waar die groot gewere is, waar die mortiere en vuurpyle is, alles. Jy weet wat om te doen.’

‘Ek kry gou manne bymekaar Kommandant.’

//

Net na tien daardie aand, kraak die eter. Renier laat Korporaal Ribiero die detail deurgee vir Bravo. Hulle is reg.

08:00, na eerste lig, val hulle Pereira de Eca aan. Alpha uit die suide, en Bravo uit die noorde. Die verkenning van die vorige aand werp vrugte af. Die mortiere land sekuur, en die boesmans uit die noorde storm die vyandelike posisies vreesloos. Renier staan op die raamwerk van die afgeleefde Saviem lorrie en sy verkyker wys die totale wanorde tussen die boesmans. Dit was effektief hier, want die verassingsfaktor was hulle s’n…. maar hy sal hulle meer konvensioneel moet oplei. Hy sien hoe ‘n vyandelike mortier een van sy manne in twee ruk. Dit kon voorkom gewees het, as hulle meer georden gestorm het.

Die aanslag laat die oorlewendes van die garisoen wegspaander in alle rigtings.

//

Laatmiddag kraak die radio weer. Nege gepantserde voertuie van 2 SAI gaan hulle aansluit by sy groep. Welkom, baie welkom. Dit sal hulle heelwat meer slaankrag gee. Dit blaas nuwe lewe in die manskappe.

Vroegoggend val hulle in die pad na Rocades. ‘n Belangrike dorp, want die pragtige ou fort wat daar staan, hou wag oor die Kunene rivier….. en die belangrike brug wat die dit span.

Renier hark ‘n korporaal nader.

‘Jy ken die dril korporaal, verken gou die area, laat ons sien waarmee ons te doen gaan hê hier. Maak gou, want vannaand rus ons.’

Die korporaal maak haastig twee boesmans bymekaar, en beweeg uit.

Minder as ‘n uur later, is die korporaal terug, met ‘n bree glimlag op sy gesig.

‘Korporaal, dit lyk asof jy melk gekry het’ sê Renier met opgetrekte wenkbroue.

‘Kommandant, hier gaan ons nie baklei vannaand nie.’ Hy beduie iets in die algemene rigting van die bos agter hom, en ‘n sersant in die SAW klere van 2SAI kom versigitg te voorskyn.

Hy salueer oordadig, en die vuil manne om hom kyk die sersant geamuseerd aan.

‘Sersant, durf ek vra waar de duiwel jy vandaan kom? Besef jy dat hier nie Suid Afrikaners hier behoort te wees nie. Besef jy ons loop rond in hierdie aaklige uniforms, en ry met hierdie kak hier agter rond….. omdat ONS NIE HIER MAG WEES NIE!!!!’ val Renier met die deur in die huis.

‘Kommandant, ons was die groep wat in Augustus die Ruakana waterskema verdedig het. Dit was so maklik, ons het sommer besluit om so bietjie uit te brei.’
‘Hoe ver het julle uitgebrei, Sersant?’ Renier rol die laaste deel van die sin sarkasties.

‘Rocades en Peu peu, kommandant.’

Renier weet nie of hy moet lag of huil nie. Hy bedank die sersant styf, en laasgenoemde maak hom haastig uit die voete. Hy besluit om te lag. Rus gaan hulle rus. Salige welverdiende rus.

Vroeg die volgende oggend, voeg Majoor Dirk Nienaber en veertien Eland 90 gepantserde voertuie, wat afgetak het van 2-SAI, hulself by Renier se groep. Renier plaas die gepantserde voertuie wat hulle by Pereira de Eca aangevul het, direk onder Majoor Nienaber se bevel.

//

Humbe, Cahama en Tchibemba word oorgeneem sonder enige teëstand. Dengue het ‘n enkele geweerskoot opgelewer, maar die totale oormag, het die vyand laat vlug.

Alpha skiet ‘n terroris dood by Jau, en ‘n verdere drie word gewond.

Daardie aand om ‘n kampvuur, trek Renier vir Dawid Reynecke eenkant toe.

‘Pereira de Eca….. ons het ons eerste slagoffer daar gehad. Jy weet natuurlik hoekom nê?’

‘Ek weet ja, die boesmans is gesoute guerillas. Onkonvensioneel is hulle ‘n gedugte span. Die probleem kom in by konvensionele oorlogvoering. Hulle weet nie waaroor dit gaan nie. Hulle is ongeorden en dit is gevaarlik.’

Renier kyk na Dawid. Stupid is hy nie.

‘More-oggend, stop almal wat hulle doen. Vat hulle na die vliegveld hier agter toe. Lei hulle op in peloton en bataljon oorlogvoering. Dril hulle. Dit sal lewens spaar.’

Great minds….. dink Renier, en stap terug vuur toe.

//

22 Oktober 1975

Bravo vat die grondpad wat teen die stewige opdraende uitkartel. Dit lei hulle na die eskarpement wat die Angolese hoogland begrens. Hulle mikpunt is Sa dan Bandeira.

Renier fynkam elke bos en klip. Sy instink vertel hom dat Sa dan Bandeira ‘n maalpot van FAPLA soldate gaan wees.

‘Kêrels, hou julle oë oop! Hier ga….’

‘n Sarsie geweervuur verdoof die bevel wat hy bulder, en ruk een van sy manne onderstebo. Die tuimelpatrone van die AK47 skeur die linkerarm weg van die lyf af. Die energie agter die patrone, ruk die man met ‘n slordige gebreekte skreeuende boog deur die lug.As die man die grond tref, is die kreet gestol in sy keel. Hy krul ‘n laaste keer grotesk, dan is hy stil.

Hulle slaan dekking, en die groot Vickers op die Landrover bulder. Renier druk op die troep se skouer, kalmeer hom, en beduie dat hy die kant van die pad moet dek.

‘n Geweerskoot is ‘n bliksemse ding….. Nooit hoor jy eers die skoot nie. Nooit is daar eers ‘n waarskuwing nie. Dit gebeur net in flieks, en storieboeke. Daar is altyd eers die kwetsende swiep, en altyd die eers die gemartelde klank van verwoesting, of die dowwe klam klap, as die patroon vleis tref. Dan… as jy gelukkig is, sal jy die skoot hoor.

Renier hoor die swiep, en Vaatjie gaan nie sy balkies terugkry nie. Renier moet sy vingers loswriemel van die sneller. Hy voel nog die laaste sametrekking van spiere, en hy probeer die oog wat aan ‘n enkele dun spiertjie, lam oor die jong man se wang rol, ignoreer.

Dan pak hy die sneller, en swaai die wapen om. ‘n Digte bos links van hom, disintegreer, en eers sien hy ‘n staaldak trek, en dan verskeie liggaamsparte. Hy het Vaatjie gewreek… dink hy…. dan swiep daar nog ‘n patroon rakelings verby sy kop. Hy hoor dit loeiend wegskram as dit die Vickers se basis tref.

‘Sniper !’ skree hy ‘Links iewers, hoog, dek die bome!’ Hy swaai die Vickers op, en hy laat kort sarsies los. Takke en blare tuimel uit die bome…. en dan die langgeweer. Dan, die verminkte bol vleis, wat stadig soos ‘n nat handoek deur die takke val. Stukke wat agterbly. Hy het hom, en as hy terugkyk na die plas bloed wat vinnig die vloer van die Landrover dek, is hy vreemd beroof van sensasie. Hy het hom….. te fokken laat. Vaatjie was agtien.

Die skermutseling is oor. Hy stap na die eerste slagoffer wat verwronge in die sand lê, toe. Hy draai die vernielde liggaam om met sy stewel se punt. Dit is ‘n Kubaan. Fidel Castro se mense.

n Halfuur later tel hulle veertien Kubane en twaalf FAPLA soldate. Voor hulle in die bosse, roep ‘n stem opgewonde…

‘Kommandant, hier is iets wat ons gaan pas soos ‘n handskoen.’

Renier haas hom soontoe, en die Kubaanse enkelloop 122mm vuurpyl lanseerder staan ongeskonde en vaal blink tussen die ruie bosse. Nie ‘n enkele merkie op dit nie.

‘Maak baie seker julle monteer daardie ding op een van die voertuie. Hulle SAL van hulle eie fokken medisyne kry.’ Vaatjie nog vars in sy geheue.

Alpha groep het ‘n ompad gevolg. Hulle het verskeie klein dorpies en nedersettings suid van Sa da Bandeira, asook Humpata sonder moeite oorgevat.
Bravo het Rotunda net na sonsondergang oorval. Die halfhartige teenaanval van die FAPLA’s beteken vir Bravo net een ding. Dit gaan ‘n lang nag wees.

‘Ons kamp hier.’ beveel Renier. Hy sit sy wagte uit, en maak drie groepe van twee man elk as patrollie.

‘Hier was te min teënstand hier kerels,’ sê hy bekommerd aan die patrollieleiers. ‘Hou julle oë en ore oop, ek verwag sporadiese aanvalle deur die nag.’
Hulle is doodmoeg. Renier laat die patrollies mekaar aflos. Elke drie ure, sodat almal ten minste ‘n paar uur slaap kry.

Twee uur die oggend, staan Renier op, en loop patrollie saam met Korporaal Retief en sy twee makkers.

‘Enige moeilikheid gehad seuns?’ wil hy weet.

‘Nie regtig nie kommandant, daar was ‘n paar oomblikke, maar lyk my die ters is bang, as jy die sneller trek, hol hulle’ sê Retief.

‘Korporaal, jy weet beter as dit. Moenie laat dit jou flous nie. Julle bly altyd op gereedheidsgrondslag. Dis hoe dit werk.’

Die laaste ding wat hy nou wil hê, is dat die manskappe dinge te maklik begin vind….

Soos die duiwel dit wil hê, loop hulle hulself trompop vas in twee Kubaanse personeel voertuie. Retief, sonder om twee keer te dink, jaag ‘n RPG 7 reg in die kajuit van die voorste voertuig in. Korporaal Steyn laat nie op hom wag nie, en tref die agterste voertuig in die sierrooster met ‘n tweede vuurpyl. Renier sien die spoed waarmee Retief herlaai. Skielik maak sy bynaam sin. ”Vingers” Retief.

Vier FAPLA soldate bly in die slag, en Renier los die voertuie net so….. die drek kan op hulle eie uitbrand.

In die verte hoor hulle nog geweervuur. Onophoudelik. Alpha-groep is oppad.

//

Die oggend van 23 Oktober, sluit Alpha-groep by hulle aan. Die manne is moeg. Hulle is deur vier lokvalle, het ‘n gewonde makker, en hulle is laag op ammunisie. Teen tienuur, is almal weer op volsterkte. Nuwe ammunisie is getrek, hulle het spaarsaam geëet, vol mae en magasyne maak moraal hoog. Geen mate van moegheid maak saak, as moraal hoog is nie, dink Renier trots.

Net na 11 val hulle Sa da Bandeira in. Renier se gevoel was reg. FAPLA en die Kubane veg met alles wat hulle het. Die presiesheid en ongenaaktbaarheid van die Suid- Afrikaners, gee hulle die oorhand. Elf ure van hel later, sterf die laaste geweerskote oor die koppies, en sak die laaste kruit rook weg in die aarde.

Die FAPLA dodetal was oor die honderd man. Renier volg ‘n opgewonde Korporaal Retief in ‘n reuse pakhuis in. Tonne en tonne wapens en ammunisie, asook uniforms en stewels is daar verpak. Renier ontbied onmiddelik die flossies.

‘Dis nog niks Kommandant’ tuimel Retief deur die woorde ‘check gou hier’

Sewe vliegtuie staan geparkeer op ‘n verlate vliegveld. Renier glimlag, en ontbied ‘n paar ekstra loodse, om die buit terug te vlieg Republiek toe. Nou gaan hy sy manne laat rus.

27 Oktober 1975

Renier stuur ‘n sein aan Pretoria. Hy soek dienspligtiges om Sa da Bandeira te garrisoen.

‘Kerels, die volgende teiken is Mocamedes. ‘n Hawedorp. Alpha en Bravo gaan weer verdeel. Ons gaan langs die treinspoor langs hier af die vlakte in.’ hy beduie met sy hand in die algemene rigting van die kus.

‘Alpha gaan padlangs, die plato af, deur die Huilaberg pas, verby Humpata.’

Bravo maak kortemette van Vila da Arriaga. As hulle mettertyd by die grootpad kom waar dit Caraculo kruis, was Alpha klaar daar. Bravo kon van die hoogte af sien hoe ‘n massiewe skermutseling tussen Alpha en FAPLA geskied. Die lug besaai met 122mm vuurpyle en RPG-7’s.

Vroegoggend beweeg Bravo deur Alpha se posisies, en die veld was besmet met rokende en steeds brandende voertuie en toerusting. Die boesmans het verwoesting gesaai.

‘Versigtig daar’ en Renier beduie in ‘n ruie kol bome in. Sy woorde was nog nie koud nie, toe klap ‘n paar verdwaalde skote. Die groot Brownings bulder slegs een keer, en die geweervuur was stil.

As Bravo die hoofstraat van Mocamedes binne kom, staan die mense juigend, en bankvas langs die pad. Hulle sien hulle vryheid in die Suid Afrikaners.

In die stad self, het net die hoofkwartiere van FAPLA ligte verweer gebied, en ‘n klein skermutseling by die lughawe.

Weereens buit hulle massiewe hoeveelhede wapens. Sommige nuwe Russiese ontwerpe. Die betrokke wapens is versigtig na Suid Afrika gestuur, om ondersoek te word, en hulle werking en samestelling te noteer.

Luitenant van Wyk het die hawegebied anekseer. Honderde nuwe bakkies, ‘n paar grondverskuiwings voertuie en verskeie vragmotors kon by die inventaris gevoeg word.
Renier vaardig een van sy sersante af, en vestig ‘n kompanjie in Mocamedes. Hulle het die dorp as basis gebruik en die omringende Huila provinsie terug geplaas in FNLA besit.

//

2 November 1975

Twee Bravo Kompanjies val Catengue aan. Tot hulle verbasing is die dorp verlate. Hulle voeg ‘n groep 81mm mortiere by hulle geledere.

Renier laat sy manne uitspan, sodat die res van die groep kan opvang. Net na middagete, kom die sein deur. Renier moet onmiddelik terug na Pretoria. Pretoria stuur ‘n befaamde Parabat majoor, om in sy plek die bevel oor te neem.

Min het Renier van der Berg geweet, dat die eenvoudige bevel, die res van sy lewe sou verander.

//

26 Augustus 1975.
Renier van der Berg bewe van woede. Die flossie C-130 is amper te klein vir hom binne. As die groot vliegtuig skielik draai, en begin sak in die rigting van die vliegveld op Rundu, haal Renier ‘n slag diep asem. Stadig nou. Kry die feite, en neem aksie. Jissis, hy sal die man se kop vermorsel……

//

‘Praat met my Majoor’ sê Renier stil, en hy gaan sit op die lendelam stoeltjie wat in die tent se hoek staan.

Majoor Charlie Frey bly staan. Sy hele houding een van frustrasie.

‘Kommandant, die majoor wat hulle die veld ingestuur het, het hoog aangeskrewe gekom.’

Hy stap na ‘n trommel wat op die grond staan toe, en haal ‘n lywige bruin vouleêr uit. Hy sit dit versigtig voor Renier neer.

Renier blaai tydsaam deur dit. As hy klaar is, sit Charlie regoorkant hom, met sy ken in sy hande.

‘Ek moes bleddie geweet het dis te goed om waar te wees. Rumours loop hier, soos kommandant self weet. Drie weke terug het ek gehoor die man,’ en hy beduie in die rigting van die leêr ‘is ‘n banggat. Ek het hom Luengue toe gestuur, en die terugvoer wat ek gekry het, was dat hy homself gemaklik gemaak het, geen vegpatrollies nie, niks. Sit en bier suip en kak praat.’

‘Ok ok, majoor, ek kan nie gaan op hoorsê nie. Het jy bewyse hiervan?’

‘Kommandant, jy weet een van ons beste mense was Sersant Daniel Lobato. Hy en sy peloton het van Mavinga af inisiatief geneem, en patrollies geloop noord van Cunjamba.’

‘Goed, was dit hierdie peloton wat my gewaarsku het van die FAPLA front wat teen die rivier opgekom het?’

‘Einste Kommandant, en ek weet u het ‘n bevel deurgegee dat die pad tussen Mavinga en Luengue gemyn moet word. U bevel was dat hy moet onttrek terug na SWA toe.’

‘Dit is korrek’ sê Renier en vryf oor sy ken

‘Wel, daar was ‘n klein foko…skuus Kommandant, daar was ‘n hinderlaag naby Coutado do Mucusso. Drie dae gelede.’

‘Luister Majoor, ek weet hiervan, die RPG-7 wat die voertuig met die plofstof getref het, en ons man,’ Renier tik op die leer voor hom ‘ wat alles netso gelos het, en gevlug het. Ek het hom beveel om terug te gaan, en die oorlewendes te gaan haal, en sommer in die proses die brug by Dirico op te blaas. Ek wil weet wat daar gebeur het?’ die irritasie in Renier se stem, laat die majoor vinnig opstaan en verduidelik.

‘Die majoor het die konvooi oor ‘n paar kilometer uitgerek. Hy was heel agter, en sersant Lobato was heel voor met een van die mynbestande Unimogs. Op die noordoewer van die Okavango, het hulle ‘n myn getrap. Een groot genoeg om die voertuig in die lug te gooi. Dit het Lobato sy lewe gekos. Die majoor het by die aanhoor van die nuus, die hele konvooi beveel om te retireer terug SWA toe.’

‘Hy het wat!’ skree Renier.

‘Jip, hy het onttrek, en die gesneuweldes en gewondes net so daar gelos. Ek het ‘n helikopter ingestuur, en daar was swaar kruisvuur. Ons het nog vier van ons top manne verloor.’

‘Verdomp!’ Renier slaan met sy vuis op die hout tafeltjie voor hom. ‘kry die majoor by my, ek wil so gou as moontlik met hom praat.’

‘Ek maak so Kommandant.’ Die majoor salueer haastig, en maak homself uit die voete.

Renier kyk na die leer voor hom. Ek gaan die wêreld vir jou ongemaklik maak Majoor Simon Kotwal….. ek sal die deure vir jou toemaak. Hy slaan weer driftig op die tafel.

Word vervolg … 

2 Responses so far »

  1. 1

    Kokkewiet said,

    Hierdie boekwurm is nou verslaaf – ‘n groot deel van my tyd by die werk gebruik om alles van episode 1 tot hier te lees en kan nie wag vir die volgende episode nie!🙂

  2. 2

    kopbeenn said,

    Nou het ek eindelik opgevang van 1 af. Post more s’n sommer vandag:mrgreen:


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: