STORIEMONSTER – Episode 11

Tommie Forbes beur stadig weer terug in sy bewussyn in. Die smaak van een of ander chemikalie drup dik en stroperig agter in sy keel af. Hy sit stadig orent. Die duiseligheid dreig om hom weer te oorval. Sy oë sukkel om te fokus. Die voordeur lê nog wyd oop, en tussen sy voete kan hy wollerig ‘n wit kartondosie uitmaak. In sy hand het hy ‘n hamer. Sirenes kom oorverdowend die straat af. As hy wil orent kom, verloor hy sy balans, en hy val op sy gesig.

//

Jacob sit voor die TV. Een van die voordele van losloper te wees, is jy kan met jou voete op die tafel sit, en kyk net wat jy wil. Hy vat nog ‘n handvol grondboontjies en sluk dit af met ‘n teug bier. Hy skakel in op die sokker kanaal.

As hy behaaglik terugval in die plomp rugleuning van die rusbank in, lui sy selfoon in die kombuis agter hom.

Hy vloek luidrugtig, en gooi sy voete van die tafel af. Rustigheid in ‘n speurder se lewe is ‘n luuksheid.

‘Mafudi!’ skree hy geiriteerd in die gehoorbuis af.

‘Jacob, kaptein De Lange hier, ons het dalk ‘n oplossing vir jou probleem….’ Jacob luister aandagtig na die gesprek en lui af. Hy stap vinnig in sy kamer in, en trek sy skoene en T-hemp aan. Hy gryp sy karsleutels, en in die verbygaan, gooi hy die laaste van die grondboontjies in sy keel af. Werk wag.

//

Die woonstel in Nelspruit middedorp is omsingel deur blouligte en omstanders. Jacob klim oor die polisielint, en stap in die rigting van ‘n groepie mans wat staan en rook.

Hy sien die lang sersant homself losmaak van die groep, en nader stap.

‘Naand sersant Maritz’ groet Jacob eerste.

‘Naand Luitenant. Jammer om u op ‘n Saterdag te pla. Ek sou nie eers gebodder het nie, maar daar is goed hier wat ek dink u moet sien.’

‘Dit is in die haak, sersant’ sê Jacob, trots op sy foutlose afrikaans. ‘Kom wys my, en hoe het julle hier uitgekom?’ vra hy.

‘Anonieme oproep. Iemand het gebel en gesê daar is ‘n moer…sorry…verskriklike bakleiery hier aan die gang. Toe ons hier kom was daar niks van die aard nie, maar die betrokke adres, se deur het wyd oopgehang’ vertel hy, en wys na die woonstel voor hulle. ‘ek sou ook niks van dit gemaak het as ek nie die hamer gesien het, en die boksie spykers wat ‘n groterige bloedvlek opgehad het nie. In hierdie dorp gebeur taamlik min, en die manne het net vanmiddag in die kantien weer gesit en praat oor die moordsaak hier bo, en hoe ‘n walglike fokken besigheid dit was,’ hy kyk amper skuldig na Jacob oor sy taalgebruik, maar vervat dadelik: ‘dis hoekom ek gedog het Luitenant sal like om self te kyk.’

‘Nee, eks bly jy het inisiatief geneem, sersant!’ Hulle stap by die oop voordeur in, en die reuk van ou tabak, en sweet vul hulle neusgate. In die klein voorkamer sit ‘n man koponderstebo op die verwaarloosde rusbank.

Die sersant druk Jacob eers in die rigting van die kombuis. Hy praat gedemp.

‘Hierdie knaap is Tommie Forbes. Glibberige ventjie. Kan nie sy hande tuis hou nie, ons het hom al ‘n paar keer vasgetrek op klein goedjies, maar rumour has it, hy is een van die mannetjies wat die dorp se hoere deur sy gat rek. Feit is, hy het op ‘n piesangplaas hier bo by Witrivier gewerk. Die eienaar se dogter is een aand verkrag agter die pakstoor. Sy was so geslaan, en bang, dat sy nooit getuig het nie. Almal was dit eens dat dit Tommie Forbes was,’ hy beduie met sy duim in die rigting van die voorhuis, ‘maar hy het sy spore briljant toegevee. Sy taktiek is om dom te speel, maar hy flous my nie. Hy is slimmer as wat enigiemand besef.’

‘ Ek sal graag die detail van daardie saak wil bestudeer, sersant. Kan jy seker maak ek kry die file Maandag.’ Vra Jacob.

‘Ek sal Luitenant. Wag ek het die goed wat ons aandag getrek het net so gelos, kom ek wys u.’

Jacob kyk na die hamer wat eenkant lê, en die pak spykers wat in die middel van die vloer staan. Hy stap nader, en bekyk ingedagte die pakkie spykers. Hy loop haastig uit na sy voertuig, en haal sy tassie uit die kattebak. Hy trek sy plastiek handskoene aan, en rol versigtig twee groterige toerits seilsakkies uit. Hy sit eers die pak spykers in die een, en dan die hamer in die ander. Hy kyk na die man wat beteuterd op die bank sit.

Hy is lank, en fris gebou. Die hande is knoetsig en gebruik. Die hande van ‘n werker. Die gesig is nie een wat intelligensie uitstraal nie, die vaal blou oë onder die ruie wenkbroue,beweeg amper lui oor die kamer. Die gesig is ongeskeer, die mond pap en hang effe oop. Hy het ‘n vreeslike swak ken. As mens dit ‘n ken kan noem. Meer ‘n onderlip wat oorgaan in ‘n nek. Sy hare hang onnet skouerlengte, en dit dun vinnig uit in die omgewing van die agterkop. In kort, nie die tipe ou wat jy sal sien op voorblaaie van tydskrifte nie.

‘Ek gaan jou ondervra op my eie tyd, meneer. Ek sal graag eers dié items wil ondersoek.’ sê Jacob, en wys in die rigting van die twee plastieksakke. ‘Ek gaan u invat stasie toe, u ken die dril, u sal ‘n oproep kry, as u regsverteenwoordiging soek.’ Jacob lees sy regte vir hom voor, en beduie vir Sersant Maritz om hom stasie toe te vat. Die man stribbel glad nie teë nie. Hy laat hom gedweë uitlei.

//

DAGBOEK VAN N TIENER

Ek kyk by die venster uit na my drie vriendinne wat gewip en haastig na die voorhekkie toe stap. Hulle onderskeie houdings verraai hulle afkeur in wat ek hulle vertel het. Die koppe is onderlangs na mekaar gedraai. Ek kan net dink waaroor die geselskap gaan.

Ek het nie soveel teëstand van hulle verwag nie. Weereens wys dit vir my die perfekte breinspoeling wat skole en ouers op onskuldige bloedjies soos my drie boesempelle het. Ek verstaan dit nie. Die Bybel, en al die sprokies daarbinne, die finaliteit van die reëls, die ongenaaktbare straf vir oortreding, en dan, die mense wat die boek strak volg, en duisende jare se oorloë en dood en teistering in die naam van die opperwese….

Elke Sondag,het ek in die kerk gesit, langs my ouers, en saam geluister hoe die dominee soms histeries die Woord in ons indril. Ons het na ons luukse huis gery, en net die beste kos geëet, en daarna gesit en kla met die goue lepel in ons mond, en almal wat ‘n ander kleur as ons is, gehaat en blameer vir die feit dat ons nie nog ryker is nie. Dit kan nie blote toeval wees nie, kan dit? Hoekom het die onderdrukker altyd ‘n bybel onder sy arm? Hulle en hulle oortuigings het hierdie saadjie geplant.
En nou? Nou is daar vir my ‘n uitweg. Daar is antwoorde. Net die vrae wat niemand kan beantwoord nie, hang daar, maar dit pla my nie. Die res van my wese begin sin maak. Tannie Wilma lei my, en as ek nie toelaat dat hierdie nuwe rigting boos raak nie, vervul dit my geweldig.

Ek het vier nuwe boeke oor die Wiccan geloof. Tannie Wilma het belowe om my later deel te maak van haar kring. Ek sal moet geduldig wees, en maak soos sy sê. Ek kan nie meer wag nie.

Dit is jammer my pelle is nie vatbaar vir dit nie. Hulle breinspoeling is kompleet.

Krys Wessels ry uit Lenz toe. Sy jongste dogter is ‘n lopende ensiklopedie. Soos sy egter vir hom verduidelik het, is ensiklopedieë heeltemal obsolete. Hy moet haar eerder vergelyk met GOOGLE. Hy skud sy kop. Jirre, hy is tegnologies gestrem.

Sy het hom versigtig in haar klein koninkryk….. onder sy dak nietemin…. ingelei en hom sit gemaak voor haar rekenaar. Ure later was hy taamlik behendig met die Google besigheid. Maar, waarna soek jy? Hy is gelei deur die Pagan geloof, en deur die Wiccan geloof, en hy het draad op draad gevolg.

Kyk, hy is ‘n realis. Hy is Christelik groot gemaak, en hy het taamlik stywerug deur die detail gegaan. Sy gevolgtrekking was dat hy heeltemal te oud is om die mould om hom nou te breek. Snaaks genoeg, was die blywende indruk wat die hele “ander” geloof opset, by hom opgebring het, een van onskadelikheid. Soveel so, dat hy soms gewonder het of die mense nie dalk ‘n punt beet het nie. Dit is ‘n romantiese geloof. Hy kry die gevoel hy jaag wind. Wat met Deon Strydom gebeur het, twyfel hy, het enigiets te make gehad met sy geloof.

Fokkit, dit is ál wat hy het op hierdie stadium. Wie ook al verantwoordelik was vir sy dood, het bleddie seker gemaak dat sy spore doodgevee is. Sy beperkte kennis van die internet, en sy lompheid om ‘n rekenaar, noodsaak hom om weer terug te val op wat hy ken. Goeie ou speurwerk.

Patricia Stevens is klein. Petite in die oordrywende trap, en mooi. Donker vel en helder groen oë. Sy dra donker lipstiffie, en haar oë is donker gegrimeer. Haar juwele is verskeie vorms wat hy wel op die internet gesien het. Die huis in Lenz is nie groot nie, maar netjies. Hy merk oral tafeltjies op met verskeie ornamentjies. Wesens wat lyk soos feetjies….. en klippe, en stene. Hy het homself gestaal vir dik lae aangeplakte weirdness, maar hy is vreemd verras. Sy is ‘n bondel energie, sy hop rond soos ‘n rubberballetjie. Net deur te lank vir haar te kyk, maak Krys moeg. Ouderdom het hom ingehaal, dink hy grimmig.

‘Juffrou Stevens, ek is jammer om net so hier in te val, ma…’

‘Nee, dis okei, ek het jou verwag. My skoonbroer het my vertel van die hele storie. Ek is moer geïnteresseerd. Ons het ‘n kring hier, en ons visit gereeld ander kringe, dalk ken ek die ou.’ borrel sy.

Krys staan nog in die ruim voorkamer, en sy beduie hom in die rigting van ‘n rusbank. Sy gaan sit nog voor hy sy kreunende knieë gebuig kan kry.

‘Jong, ek het bietjie navorsing gedoen oor Wicca en Paganism en dies meer, maar ek maak nie altyd hond haaraf nie. Ek het ‘n paar fotos hier, waarna ek wil hê jy moet kyk. Da…’

‘Kom ons drink eers tee.’ val sy hom in die rede, en voor hy kan antwoord, is sy weg.

Hy trek die lang koffietafel nader aan die bank, en haal die fotos uit die groot wit koevert, en rangskik hulle netjies. Die fotograaf het ‘n eksterne ligbron gebruik, en die fotos is pragtig duidelik.

Patricia kom terug, en sit ‘n groot geblomde beker voor hom neer. As sy omdraai, en haar oog val op die fotos, verstar sy.

‘Jy is op die verkeerde plek, my broer.’fluister sy, en Krys merk ‘n amper vyandigheid op.

‘Hoe sô?’ vra hy net.

Sy tel een van die fotos op, met twee vingers, asof dit haar gaan besmet.

‘Ek dog die ou was ‘n Pagan…..of Wiccan? Hierdie,’ sy gooi die foto terug op die tafel ‘is die teken van Satan. Ek kan jou nie help nie.’ Volgens haar is die vergadering oor.

‘Wag nou, juffrou….’

‘Patricia, my broer, ek is nie ‘n teacher nie.’ help sy hom reg.

‘Goed, Patricia, ek was onder die indruk die pentagram is die teken va….’

‘En jy is reg’ val sy weer in sy sop ‘maar kyk na die pentagram. Ster binne die sirkel, die teken van negatiewe energie.’

Hy kyk haar verdwaas aan.

‘Jy verloor my, jy het nounet gesê ‘SATAN’ en jou tee gemors, waar kom jy nou aan die negatiewe energie storie.?’

‘Jy moet verstaan. Ek glo nie in ‘n god of ‘n duiwel nie. Alles is energie. Ek glo wel in positiewe en negatiewe energie. Negatiewe energie is powerfull enough om fokken evil te wees. Dit is die probleem met my geloof. Baie mense begin onskuldig, en as die rewards daar is, soek hulle meer. Dit is nie lank nie, dan gaan hulle vir die ultimate power, en dan draai hulle.’ Sy vat ‘n groot sluk warm tee, en steek die pyn verbasend goed weg.

‘Draai hulle?’ vra hy

‘Jip, gaan donker. Duiwelsaanbidders as jy dit eenvoudig wil stel’

‘So hierdie man was ‘n duiwelsaanbidder?’ vra hy.

‘For sure, dit is bitter maklik om ons teken met daardie een te verwar”

‘Ek sien’ sê Krys, en sien absoluut niks nie. ‘Wel, dankie vir die tee, ek sal maar weer gaan krap op die internet.’

‘Jy sal moet versigtig wees my broer. Jy gaan goed sien wat jy nie gan like nie. Jy is ‘n christen ne?’

‘Ek dink ek is’ antwoord hy.

‘Wel, hou jou kop oop, and tread lightly. Eerder jy as ek. As jy van ‘n Christen se oogpunt na hierdie gemors kyk, dan ís dit inderdaad die duiwel waarmee jy te doen het…’ en daarmee is die gesprek oor.

//

Krys ry ingedagte terug. As hy die N12 hoofweg vat, lui sy foon.

‘Wessels.’

‘Inspekteur, Stevens hier, ons he…’

‘Ek was nou net by jou skoonsuster’ val Kruis hom in die rede.

‘Was sy weer op haar stukke? Sy’s weird nê?’ lag Stevens.

‘Glad nie, ek was op die verkeerde spoor, die ou was ‘n duiwelsaanbidder. Sy wou niks met my uit te waaie gehad het nie.’

‘Duiwelsaanbidder? Daars nou vir jou ‘n ding, en dit sluit aan by wat ek jou nou wil vertel. Daar het ‘n prostituut vanoggend hier in die kantoor ingestap. Dit smaak my die goose het jare laas geslaap, en sy hardloop op die skerp kant van ‘n meslem rond. Sy was daar toe die moord gepleeg is.’ Hy bly dramaties stil, en laat die nuus insak.

‘Is sy nog daar?’

‘Jip’

‘ Hou haar daar, ek is oppad. Gee my so twintig minute.”

//

Krys stop voor die Ernstige Geweld Misdaad Eenheid in Langlaagte, en stap haastig die vaal gebou binne.

Hy kry Stevens in sy kantoor, waar hy met ‘n jong vrou sit en praat. Jong vrou wat stofpad geloop het. Op ‘n kol moes sy mooi gewees het, maar haar kenmerke is afgerem. Dwelms, drank en ‘n leefwyse wat merke los. Die hardheid om haar mond, en ‘n leegheid in haar oë. Asof sy van buite af inkyk op haar wese, asof sy van haarself losgeskeur is.

Stevens kyk op, en beduie hom nader.

‘More Inspekteur.’ Hy stel haar voor as Mejuffrou Elna Meyer. Krys knik vir haar, en sy glimlag stram vir hom.

‘Juffrou, ek gaan nie baie van jou tyd mors nie, ek kan seker vir Stevens hier vra om my in te lig, maar ek sal eerder self vir hoor wat u te sê het. Wat het gebeur by meneer Strydom se plek?’

Sy vroetel met haar gehawende handsakkie se ritsluiter, dan kyk sy by die venster uit, en begin praat.

‘Deon het ‘n liking in my gekry. Hy was ‘n loner. Trust me, ‘n loner op ‘n heeltemal nuwe level. Ek dink soms ek was die enigste mens wat hy naby hom toegelaat het,’ sy frons, en vervat: ‘en dit was nooit ‘n lekker ervaring nie. Ek kan verstaan hoekom hy en mense nie oor die weg gekom het nie. Hy het seriously gelack in die human skills afdeling. Soms was hy rof met my. My nooit geslaan nie, maar hom skielik op my afgedwing. Asof ek heeldag jags en ready rondloop.’

Sy kyk na Krys, en soek ‘n uitdrukking, as sy dit nie kry nie, gaan sy bitsig aan.

‘Eks ‘n hoer, en steek is my job, maar ek loop nie heeldag met ‘n tuinslak tussen my bene nie. Soms was dit seer as hy my so vinnig betrek. In elk geval, hy was nie ‘n favourite nie….dis die bottom line, en hierdie spesifieke aand was nie anders nie. Hy het ‘n manier gehad om klaar te maak, en hy het altyd vir ‘n ekstra uur betaal. Amper asof hy wou fokken huis-huis speel met my. Soms moes ek vir hom koffie aandra, soms kon ek net daar lê. Ek moes altyd voorgee ek slaap. Vir my tyd daar moes ek sy vrou speel. Dit was die idee wat ek gekry het.’

Sy kyk Krys reguit in die oë.

‘Ek het die moordenaar voor die venster sien verby beweeg. Dit was fokken eerie, om die minste te sê. Die beweging was fluid, amper soos iemand wat sweef. Dit kon dalk die swart kleed gewees het, ek weet nie, maar Deon het opgevlieg en die volgende oomblik was die moordenaar in die vertrek. Dit was net te vinnig. Die moordenaar het aan my gevat, en my tyd gegee om my uit die voete te maak.’

‘Kon jy enige kenmerke uitmaak aan die oortreder, iets wat ons sal kan help?’

‘Niks, die persoon het ‘n sluier gedra, en ‘n tipe kleed, maar daar was een ding wat ek opgemerk het……’ n fyn reuk van hand room. Ek weet, ek gebruik ook Vaseline Intensive care. Ek kon dit ruik.’

Krys kyk sydelings na Stevens. Hy trek sy wenkbroue op.

‘Kon die oortreder dalk ‘n vrou gewees het?’ vra hy aan Elna.
‘Deon was ‘n sterk man, ek het die gille buite gehoor, ek kan nie dink dat ‘n vrou sterk genoeg sou wees om hom te oorrompel en aan hom te doen wat daardie fotos wys nie’ sê sy en beduie na die pak fotos wat Stevens beskermend vashou.

‘Hy was onder verdowing’ sê Krys. Hy het nog nie die verslag van die nadoodse ondersoek gelees nie, maar die pyltjie was daar, en hy is definitief getref.

‘Hy het geskree soos ‘n maer vark, Inspekteur. Ek het gewag vir die voertuig om my te kom haal, ek het alles gehoor. Hy was by sy positiewe.’

‘Hoeveel tyd het verloop vandat jy die huis verlaat het, todat jy hom hoor skree het?’ wil Krys weet.

‘Niks meer as tien minute nie’

‘En, was daar nie nuuskierige bure nie?’

‘Dis Carletonville, meneer, hulle is fokken alles gewoond in sy buurt. Niemand bother nie.’

‘Dankie dame, dis al. Jy het seker darem jou kontak besonderhede vir Stevens gegee?’

“Sy het’ antwoord Stevens vir haar.

‘Dankie juffrou, u kan gaan’ se Krys.

//

Later, sit Krys en Stevens in Stevens se kantoor. Hy skuif die nadoodse verslag oor na Krys toe.

‘Propofol. Bitter klein dosis. Al het hy geskree, dink ek daar was precious little wat hy kon doen aan die feit dat sy tril afgesny word. Behalwe skree natuurlik. Op daardie stadium was hy klaar vasgebind.’

‘So…. dit kon ‘n vrou gewees het?’

‘Verseker, maar ons moet ons nie laat flous deur handeroom nie.’ Stevens trek sy laai oop, en skuif skamerig ‘n botteltjie handeroom in sy rigting.

‘Ek gebruik dieselfde room.’

Word vervolg … 

1 Response so far »

  1. 1

    jagternw1976 said,

    Mmm … En so begin die gewag na more… Alweer.🙂


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: