STORIEMONSTER – Episode 12

‘So, ek kan solank alles reël?’ vra Dirk in die kombuis aan Heleen en Marius. Dit is net na sewe. Die debakel in die verkeer daardie middag is aangegee by die polisie. Dirk en Marius het uitgery na die toneel toe, en die Sentra was weg. Die Citigolf het daar gestaan. Sonder bande en vellings, en gestroop binne. AVIS gaan taamlik die moer in wees daaroor.

‘Waar is jou plaas?’ vra Heleen

‘Noord- Kaap, in die middel van niks en nêrens. Jy sal dit haat.’ kry Dirk ‘n stekie in. Hy en Heleen kan mekaar nie verdra nie. Om al die verkeerde redes. Sy rol haar oë plafonwaarts, en draai terug stoof toe.

‘So, wat is die modus operandi?’ vra Marius.

‘Ek sal ‘n klein vragmotor moet huur. Ek het geweet waar die boeke gebere is. Jou oom het my ingelig. Hy het dit baie duidelik gemaak dat ek jou moét vergêsel soontoe’ sê Dirk

Hy sien die agterdogtige kykie wat Heleen met Marius wissel. Hy ignoreer dit en gaan aan.

‘Ek dink ek weet hoekom, ek sal jou wys more.’

“So, wanneer moet ons vakansie insit?’ vra Marius. Sy baas gaan ‘n erdvark kraam. Skuld is skuld.

‘More is Sondag, ons sluip vroeg hier weg, en gaan kyk hoeveel boeke daar is. Dan reël ek dien ooreenkomstig ‘n lorrie, en ons pak dit. Ek reken ons sal kan rol teen Woensdag.’

‘Goed’ sê Heleen en Marius in ‘n koor, dan doen ons dit so.’

//

Sesuur Sondagmore haal Dirk Maruis hardhandig agter die wit boude uit. Heleen bedek vervaard liggaamsdele, en Dirk glimlag liefies vir haar. Sy is nog te deur die slaap om befoeterd te wees, en sy draai haar rug op hulle, en rol haarself in ‘n bondeltjie.

Dirk stap om die bed, en druk ‘n 9mm pistool onder haar kussing in.

‘Druk die knippe af en trek die sneller, ek sou verkies het dat jy saam kom.’sê hy onskuldig.

Sy is skielik wawyd wakker, en skarrel weg van hom en die wapen af.

‘Jissis, jy is so fokken taktvol soos ‘n stoomroller!’ skree sy vies.

‘Fokkof uit my slaapkamer uit. Gaan maak koffie, ek kom.’

Dirk kyk na Marius, en glimlag. Marius verstaan, en vang homself dat hy van die groot man begin hou….al is sy ribbes donners seer.

//

Dirk trek sy kop onder die BMW uit. Die twee mense staan skaapagtig vir hom en kyk.
‘Goeie nuus, hier is geen opsporingsapparaat op die voertuig nie, wat beteken hulle weet nie waar ons is nie.’ Dirk lyk ingenome met dié stand van sake.

Hulle ry uit Edenvale toe. Dirk hou die truspieëls dop. Hulle word nie gevolg nie. Net na agt draai hulle by die stoorplek in. Die sekuriteitswag by die hek laat hulle teken, en beduie vir hulle in die rigting van ‘n tydelike asbesgeboutjie. Langs dit staan ‘n ouerige Landrover. Geen opspuit Sandton modder hier nie. Dié voertuig werk.

As hulle uitklim, gaan die deur klaar oop, en ‘n seningrige man in sy middel vyftigs kom uitgestap. Dirk herken dadelik die militêre agtergrond in die man se houding. Die flits in die man se oë, as hy na Dirk kyk, dui op ‘n wedersydse erkenning. Die ongesproke taal van die weermag.

Dirk stap nader, en steek sy hand uit.

‘Dhooge.’

‘Deysel…. majoor’ voeg hy stadig by.

Dirk knik net.

‘Julle is hier vir die Generaal se goed?’ sê hy meer as wat hy vra. Dirk knik net.

Die ou man is nie een van veel woorde nie. Hy vat die sleutel by Marius, wat net soos Heleen, met ‘n vraagteken op hulle voorkoppe staan.

‘Die Generaal het gesê hulle sal vergesel wees deur ‘n militere persoon. Dit was my opdrag, sonder jou sou ek hulle nie daar toegelaat het nie’

Die skeiding tussen militêr en sivvie straat is lewendig en gesond. Dirk glimlag.

“Personeelmyne?’ vra Dirk, en vat ‘n kans. Die ou man knik glimlaggend,

‘Enkel tripwire, meter van die deur af…. geskakel met ‘n trommel agter in die vertrek. Wie nie weet nie, sou darem sy gat in styl gesien het’ Hy kekkel goedkeurend.

Marius en Heleen strompel agterna, hulle het nie ‘n idee waaroor die gesprek gaan nie.

As hulle voor nommer 14 staan, sluit die ou man die deur oop, en Dirk hou sy hand op:

‘Wag eers hier.’ gebied hy.

Dirk sak af op sy hurke, en die sonlig wat by die deur inval, mis net-net die toutjie… enkelhoogte van die vloer af, styf gespan. Dirk staan op, en trap versigtig oor die toutjie. Die ligskakelaar sit net buite bereik as jy voor die toutjie staan. Slim, baie slim. Hy sit die lig aan, en volg die ingewikkelde katrolstelsel waardeur die snellertoutjie loop. Dirk sien die twee personeel myne, versigtig op ‘n blou trommel gepak. Reg teenoor dit,teen die naaste muur, is nog een. Die toutjie verdwyn agter die netjies gestapelde trommels, iewers agter in die vertrek in. Dirk skat daar moet seker genoeg plofstof daar agter wees, om elke boek hier binne netjies in sy moer te skiet. Trommel en al.

Hy ontkoppel die toutjie versigtig uit die katrolmeganisme uit. Hy plaas dit saggies op die grond.

‘Whatever julle twee doen, probeer om nie op die toutjie te trap nie, as julle die toutjie nie respekteer nie, is julle dood. Simpel soos dit.’ verduidelik Dirk aan Marius en Heleen.

Hulle kyk weer na hom met die dooie uitdrukkings op hulle gesigte.

‘Verstaan julle! Die toutjie is vas aan genoeg plofstof hier binne, om ‘n gat te skiet van hier af tot in julle voortuin by die huis!’

Die beeld dring deur, en Heleen word aswit.

‘Ek gaan in die kar sit.’

‘Die kar is nie ver genoeg weg nie’ sê Dirk droog.

Die kyk wat hy kry was absoluut die moeite werd.

//

Die trommels is vier hoog gestapel. Ses stapels oor die breedte van die vloer. Tien diep. Hier is ‘n kakhuis vol boeke, dink Dirk. Die trommels is gesluit met kodekombinasie draaislotte. Die ou man staan nader, en haal ‘n netjies opgevoude vel papier uit sy bosak.

‘Elke trommel het ‘n nommer op die bodem onder. Hier is die kombinasies.’

Hy gee die vel papier vir Dirk. Die eerste trommel wat hy pak, lig hy op. Marius lees die nommer agt onder dit. Dirk draai die kombinasie wat netjies uitgetik is op die vel papier in, en die slot klik oop.

Binne, is die boeke dig gepak. Sommige van hulle in plastieksakke. Bo-op lê ‘n vel papier. Die inventaris van die inhoud…..

Dirk het genoeg gesien. Hy gaan ‘n agt of tientonner nodig hê. Hy haal sy selfoon uit.
//

Dirk maak die volgende môre seker hy verwyder al die plofstof uit die stoorplek. Hy glimlag by homself. Die rudimentere ontwerp van die katrol sisteem…. so eenvoudig…….. so dodelik. Die vragmotor het hy van Upington af laat kom. Rudi Wentzel se lorrie. Rudi is ‘n ewige avontuurlustige. Dirk was aangenaam verras toe die groot rooikop man self agter die stuur van die vragmotor uitspring.

‘Naand ou grote!’ kom die diep baritoon stem.

Rudi Wentzel is ‘n groot man. Net ‘n halwe kop korter as Dirk, maar amper net so breed. Die Wentzels van Upington se legendariese krag, is ‘n sprokie wat al jare deur die Noord- Kaap loop. Rudi se pa wat ‘n trekker se enjinblok sommer so aan die krukas se punte kon vat, en agter op sy bakkie laai.

Dirk het ‘n voorsmaak gehad. Sy mikrovliegtuig se enjin het opgepak. Die Wentzels het naas die vervoerbesigheid, ‘n klein werkswinkeltjie, en ingeneursbesigheid op dieselfde perseel.

Dirk is ‘n ongelooflike sterk man, en hy het sonder seremonie die klein Rotax op die werksbank neergesit. Die enjin het ‘n gat in die krukbak gehad, en dus sonder olie geloop. In die proses het die masjientjie homself stewig vasgewoel. Dirk het op die plaas aan hom gewoel met ‘n vicegrip om die krukas….. niks… die ding was vas. Dirk het uitgery na die Wentzels toe.

Ou man Wentzel het met ‘n vrolike fluit van buite af ingekom…. gegroet, en gevra wat die probleem is.

‘Nee oom, die enjin is geseize,’ het Dirk gesê ‘vas, ek dink ons sal maar moet kompleet overhaul. Ekt alles gekoop. Nuwe crank, bearings, pistons en sleeves.’

Die ou man het geïnterresseerd nader gestaan. Die enjintjie so met sy linkerhand om die silinderkop vasgehou, en met sy regterhand die klein vliegwiel gegryp, en met ‘n helse geknars van gemartelde metaal…. die masjien heen en weer in die rondte gedraai.
‘Ja-nee my seun…. die moutertjie is in sy ma se moer.’

Dirk het doodstil gebly oor die vicegrip…..

‘Naand Rudi, eks bly jy ry self. Alles ok?’

‘Ja wat, net in my moer tam gery, ek kan nie meer ry soos toe ek jonk was nie.’ mor hy, en strek die groot liggaam.

‘Ons gaan nou lekker rus. Eet, ‘n goeie nag se rus inkry, dan pak ons more, en val in die pad.’ stel Dirk hom gerus.

Marius werk sy laaste dag, en Heleen is klaar by die huis. Dirk bel haar teësinnig om hom en Rudi gou te kom haal. Die skuurpapier tussen hulle toon nog geen tekens van verweer nie.

//

Marius doen alles behalwe werk sy laaste dag. Elke beskikbare oomblik wat hy gehad het, het hy weg ge-Google. Na verskeie oproepe, en lag-lag die weirdste versameling mense waarmee hy al ooit gepraat het, het hy ‘n kortlysie gehad van boekhandelaars. Handelaars wat nie sommer in enige manuskrip belangstel nie. Vanoggend het hy die laaste kandidate gesif, en die naam waarmee hy gesit het, was Mauritz Lotz.

Die gesprek tussen hulle was kort en kragtig. Marius het sy huiswerk deeglik gedoen. Die man het genoeg geld gehad om absoluut enigiets te kan bekostig, en die sterk ouman stem het ‘n gesag omtrent dit gehad. Marius was seker sy keuse was reg.

Hy swaai die BMW by die groot gekartelde staalhekke in. Die ou herehuis sit manjifiek teen ‘n effense bultjie. Hy het geweet Westdene, Benoni het groot ou huise, maar hierdie een is half karakterloos. Te oud om modern te wees, te nuut om in die mode te wees. Imponerend is dit wel. Kwantiteit bullshit amper netsoveel soos kwaliteit. Die plek is massief.

Hy stap teen die reuse trap op na die voordeur toe, en die klok lui net een keer. Die jong meisie wat oopmaak, is in uniform. Sy buig haar knieë beleefd, en Maruis het vir ‘n oomblik nie ‘n fokken idee wat om te doen nie.

‘Va…van der Berg’ mompel hy net. Hy skuif die groot boek onder sy arm in, en skuifel verby die meisie.

‘Mnr Lotz verwag jou, volg my.’ sê sy. Marius vind altyd hierdie brokkie useless inligting amusant. Hy volg haar nietemin.

Alles is marmer, aluminium en vlekvrye staal. Die meisie hou verby die trap, en draai skerp links onder die trap in. Hulle vat die hysbak. Funky, dink Marius.

Twee groot glas skuifdeure skei hom en rykdom as die hysbak oopskuif. Die jong man agter die lessenaar wink hulle binne. Die meisie knik en verlaat die vertrek, en verdamp in dun lug.

‘Meneer van der Berg!’ sê die man, en staan op.

Die stem, en die man, pas nie. Die stem klink perkamentagtig en oud. Lotz kan nie ‘n dag ouer as dertig wees nie. Die vertrek het ‘n reuse venster, en in die verte kan Marius die Korsmann voëlpark sien. Die uitsig is foutloos. Om hulle, staan rakke en rakke boeke. Almal keurig belig, en agter glas.

‘Middag meneer Lotz.’ sê Marius en gooi die boek op die lessenaar. Lotz kry amper ‘n toeval. Hy vlieg om die lessenaar, en tel die boek op, en liefkoos dit soos ‘n ma ‘n kind sal liefkoos. Sy lang vingers streel oor die omhulsel. Sy oë amper waansinnig besitlik. Hy druk die boek teen sy bors, en stap stadig terug om na sy stoel toe. Hy beduie vir Marius om te sit.

‘Het jy enige idee wat hierdie is, meneer van der Berg?’ vra hy, beskuldigend.

‘Snaakse vertaling vir die Sleutel van Salomo, neem ek aan. Noem my Marius asseblief.’

Hy bied nie aan dat Marius hom op sy naam noem nie. Marius wil die transaksie agter die blad kry, en wegkom van dié mannetjie af. Van hier af kan die klein doos sy boeke op E-Bay koop, dink Marius geïrriteerd.

‘Hierdie boek, is ‘n tweede uitgawe, dit strek terug na seker die vroeë 16de eeu. Dit is ontsaglik waardevol.’

Marius besluit om hom eers ‘n bietjie in sy eie vet te laat braai. Hy het die boek deeglik nagevors, en alhoewel dit sy verstand te bowe gaan dat ‘n stomme boek soveel werd kan wees, wil hy eers uitvind met hoeveel geld die mannetjie hom mee wil verneuk. Hy lewer geen kommentaar nie, en Lotz teem aan: ‘Dit is oorgetrek in mensvel,’ hy streel weer oor die manuskrip. ‘van die bladsye is in bl…’

Marius het genoeg gehad.

‘Wat bied u aan, meneer Lotz?’ vra hy, en bestudeer verveeld sy naels.

‘Oooo, ek kan u in die omgewing van een punt vyf miljoen rand aanbied, meneer Van der Berg.’

Marius sit vooroor, en steek sy hand uit . Dit lyk asof die koddige mannetjie sy blad wil skud. Marius klap die hand vies uit die pad.

‘My boek asseblief meneer Lotz. U is besig om my tyd te mors.’

Die man ruk die boek weg.

‘Dit is goeie geld mene…’

‘Die fokken boek asseblief.’ besluit Marius om nie meer draaie te loop nie.

Lotz hou paaiend sy vry hand omhoog.

‘Goed goed, meneer Van der Berg. U het seker u navorsing gedoen. Ek moet bieg, die boek is in ‘n puik toestand. Vir ‘n tweede druk soos die kan ek seker twee….’

‘As daar een ding is wat my kwaad maak Lotz, is dit as iemand my in die oë kyk, en dink ek’s ‘n poepol. Daardie is ‘n eerste druk. Die oorspronklike. Laat 14de eeu. Ek het ‘n aanbod in my kluis vir driemiljoen Euro. Either jy klop dit, of gee my donnerse boek.’

Die mannetjie se oë knip- knip, en Marius weet hy het hom aan die knaters.

‘Watse bedrag het u ingedagte?’ vra hy, minder manhaftig.

‘Dertig miljoen rand, in my rekening, sodat ek die belasting kan betaal’ sê Marius, en haal sy rekeningbesonderhede uit sy bosak.

Lotz trommel met sy vingers op die tafel, en voordat hy kan praat, voeg Marius by: ‘Nie onderhandelbaar nie.’

Lotz druk sy vingers in sy boortjie, en wriemel senuweeagtig.

‘Ek het die fondse, meneer Van der Berg, maar dit sal my ‘n dag of twee vat om dit oor te plaas.’

‘Ek het nie ‘n dag of twee nie, plaas nou die geld oor, of ek verkoop aan die Noorweër.’ bluf Marius.

‘Gee my ‘n oomblik’ sê Lotz, en tel sy foon op.

//

As Marius ‘n uur later in sy voertuig klim, is hy uitasem van spanning. Die transaksie is gedoen. Die dokumente in sy bosak brand soos vuur. Hy gaan na belasting sit met sewentien miljoen rand. Hy begin onbedaarlik giggel. Hy draai die BMW se neus huis se kant toe. Hy sien nie die gordyn op die boverdieping ritsel nie, en hy het geen manier gehad om te weet dat Lotz naarstigtelik ‘n nommer bel nie.

Marius het sopas ‘n transaksie gemaak, wat die mat van die lewe, netjies onder sy voete gaan uitruk.

//

Marianne McBride vat die jong man aan sy arm, en sy lei hom simpatiek na die ondersoektafel toe. Sy werk vir die SAPS forensiese afdeling as reservis. Martin staan teen die venster, met sy arms gekruis voor hom.

‘Elke detail Marianne. Alles. Ek het onbuigbare bewyse nodig.’ sê hy. Sy humeur lê nog vlak in hom.

‘Ek wil die bliksem bere vir moord, maar as troosprys nê, sal tien jaar of wat die ding doen.’ sis hy.

Marianne kyk vraend na hom.

‘Weet jy wie James Hippert is?’ vra hy

‘Dit lui ‘n klokkie. As my klokkie lui, moes ek hom al iewers in….wag ‘n bietjie. Ook bekend as Jimmy…. Verlede jaar, die skooldogter… maar hy het geloop, want die bewyse was eenvoudig haar woord teen syne. Ek onthou hoe sy verder in die hof verniel was deur sy prokureur. Hulle het haar uitmekaar geruk, en hy het gestap’ peins sy. Sy kyk na die seun, en ‘n nuwe lig brand in haar oë.

‘Kom hier, wat is jou naam?’

‘Shane, mevrou, Sh,,Shane D.D.Davids.’ hy hakkel effens.

‘Goed Shane, ek gaan jou moet deeglik ondersoek. Die man, het hy omgang gehad met jou, seun?’

‘Ja mevrou, h.h.hy huur mmmmy baie.’ stotter hy.

‘Huur jou?’ sy kyk betekenisvol na Martin.

‘Ja, me..me..mmevrou, by Solly Davids…my oom.’

Martin skryf die naam in sy notaboek.

‘Het jou oom ‘n foonnommer waar ek hom in die hande kan kry?’

Die seun knik en Martin skryf die nommer neer. Die oom gaan darem nou ‘n see van kak hê, dink hy befoeterd.

‘Goed, Shane, ek wil he jy moet hier op die bed kom lê.’

Sy kry droë semen op sy linkerboud, en sy versamel alles sorgvuldig. Daar was rektale stres, en dit word gefotografeer. Shane lê ‘n volledige verklaring af, en as Martin hom ‘n uur later voor ‘n netjiese huisie in Airfield aflaai, mik hy vir die handvatsel van sy motordeur.

Shane kyk hom smekend aan.

‘Oom, ek het ‘n harde dag agter die blad, en eks nie lus om nog gemoer te word ook nie. Kan oom hom later ondervra? Asseblief?’

Martin kyk na hom, en daar gaan emosies deur hom wat hy nie ken nie.

‘Goed, môre dan’ sê hy net styf, en die seun klim uit. Dankbaar.

Fok, dink Martin. Goed soos dié, sit jou eie netelige probleempies in perspektief. Hy trek weg, en net as hy huis se kant toe draai in Great North, lui sy selfoon. Dit is nog in sy broeksak, en hy sukkel om die foontjie uit te kry, en hy tref amper die randsteen. ‘n Speurder het ook nie ‘n fokken lewe nie. Hy kry die foon in die hande, en druk dit skeef teen sy oor.

‘Marx!’ blaf hy.

‘As jy elke keer jou foon so antwoord as ek bel, is hierdie verhouding klaar op die rotse.’ Diep hees damestem…Nana Forme. Hy voel ‘n vae opgewondenheid, Martin se hande sweet nie maklik nie, die stuurwiel raak glibberig in sy hande.

‘Nana’ sê hy haar naam sonder om te dink.

‘Ah, goed so, ek het gewonder of ek enige kompetisie het, maar as jy so vinnig op my naam kom, moet ek lós voor wees.’ Sy lag ‘n ongoddelike sexy diep rokers laggie. Beide hande sweet nou.

‘Ek het skielik iets onthou.’ gaan sy aan. Dit ruk Martin weer werklikheid toe.

‘Eks die ene ôre’

‘Ek het vars koffie. 234 Sapphire Straat Farrarmere. Ek sluit die hond solank agter die huis toe.’

‘ Eks naby, gee my tien minute.’ Hy swaai by die BP garage in, en koop twee pakke Oreo koekies.

//

Sy verorber sy koekies, en Martin sit dwarsdeur die fees en wens hy kan die daad vice versa op haar toepas.

As sy die laaste krummels met die agterkant van haar hand afvee, sien Martin hoe gespierd haar arm is. Perfekte definisie, sy moet iewers in ‘n gym hard werk. Sy volg sy blik.

‘Goeie gene, ek oefen nie’ sê sy net.
Martin skuif al sy vieslike skoothondjie gedagtes op die agtergrond, maak keel skoon, en vra:

‘So wat wil jy my vertel. Het jy enigiets anders gesien?’

‘Ek het net onthou dat jy die mooiste oë het wat ek nog aan enige iets anders behalwe ‘n filmster gesien het. Ek wou jou maar net vertel, en dis Sondag, en eks alleen, en morbied.’ Sy sit behaaglik terug, en teug aan haar koffie.

Martin krap sy hare deurmekaar. Kak soos die gebeur nie met hom nie. Vernaam nie met ‘n godin soos dié nie. Hy staan op en begin soos ‘n leeu in ‘n hok, op en af te stap voor die bank waarop sy sit. Haar blik volg hom. Stadig. Dit lyk asof sy tennis kyk…. op Wimbledon…. en die spelers speel in goue stroop.

‘Kyk, Nana, ek’s fokken op ‘n goeie plek. Eks alleen, en ek like dit. Jy is…ummmm… ummmm jissis…. ek sal val vir jou. Ek weet niks van jou af nie. Ek wil nie weer my gat sien nie. Eks te oud da….’

Sy val hom skerp in die rede.

‘Relax, fokkenhel, wat wil jy weet. Ek’s 34, ek is self deur ‘n kakkerige verhouding ‘n paar jaar terug, ek’s alleen, jy tiek my bokse, dis dit. O ja, en ek werk by die koerant hier onder in die…’

Voor sy haar sin kan klaarmaak, storm Martin na die voordeur toe. Hy gryp sy sleutel van die klein tafeltjie by die voordeur af, en hy skree vir haar:

“Ek moes gefokken weet het. Die verleidelike verslaggeefster en die dom polisieman wat jags en lam in die knieë, netjies in haar web val. Weet jy wat… fok jou, LOS MY UIT!!!’

Hy loop amper die voordeur uit sy kosyne. Die polisiemotor se trurat krap as Martin dit ru in rat stamp. Nana Forme storm deur haar oop voordeur. Sy tel rats ‘n groterige klipbeeldjie van haar grasperk af op, en in een vloeiende beweging, gooi sy dit sekuur deur die nuwe Ford Focus se toe kantvenster. Die glas versplinter, en hy vang die beeldjie instinktief ‘n sentimeter van sy neus af.

Sy loop bakarm nader, en as sy haar kop laat sak tot op sy ooghoogte, en hy vir haar loer om die beeldjie, sis sy deur haar tande:

‘Die sportblad, jou dom doos.’

Sy draai om, en stap driftig terug huis toe. Sy is manjifiek gebou. Martin sit ‘n rukkie met die beeldjie, hy klim uit en gaan sit dit op sy plek. Hy oorweeg dit vir ‘n oomblik om haar om verskoning te gaan vra. Hy besluit daarteen. Hy ry huis toe, met glastukke wat in sy gat invreet.

//

Martin slaap sleg. Hy druk helder wakker, maar met ‘n krapperigheid agter sy oë die wekker se alarm dood. Vandag gaan nie ‘n lekker dag wees nie.

Nie eers ‘n warm stort, wat hy met ‘n paar yskoue slierte water afsluit, laat hom vreeslik beter voel nie. Hy ry moeisaam kantoor toe. Op sy rekenaar skerm is ‘n oulike geel papiertjie geplak. “KOM SIEN MY DADELIK AS JY INKOM’. Hy sug. Hy het ‘n goeie idee waaroor dit gaan. Hy staan op en forseer homself terug kar toe. Die Brigadier hou nie daarvan om te wag nie.

//

Sy is onoortreflik pragtig. En so befok jy kan pofadders in haar baarmoeder uitbroei.

‘Jissis Marx’ val sy met die deur in die huis. ‘kan jy nie jou hande tuishou nie. Die laaste donnerse ding wat ek nou nodig het, is n testosteroon fokken overdose van jou af. Hoekom het jy aan die man geslaan?’

Sy is buite haarself van woede.

Martin se swak nagrus, die hele Nana debakel, die flietende emosie met die jong vernielde seun, vloei terug in hom in die vorm van woede.

‘Hy is vyftien Brigadier. Vyftien. Hippert maak letsels en vernietig jong lewens, en as ek n halwe kans kry, donner ek hom dood. Die geenpoel sal beter af wees sonder drek soos daai. Jy kan nou maar daar staan, en in n perfekte posisie van jou gerieflike leunstoel af klippe gooi, jammer is ek nie. Poepol is ek nie. Ek het hom so geslaan dat daar nie merke sal wees nie. Sy woord teen myne. En ek sal myself reguit hel toe lieg, om hom agter tralies te kry. Is ek op, of af van die saak af?’

Dit vat die wind effens uit haar seile. Sy sien die uitdrukking op sy gesig. Voor sy iets kan se, vervat hy: ‘Sy oom huur hom uit soos n grasmasjien. Drek soos Hippert gebruik hom. Vyftien Brigadier. Waar was jy toe jy vyftien was?’

Daar brand skielik n ander vlam in haar oe.

‘Jy kan my niks vertel van vyftien wees nie. Niks wat MY sal skok nie. Jy was way out of line Marx, en jy beter jou kak vandag regmaak. Sorg dat jy by die hof is tien-uur. En sorg dat jy die regte antwoorde het vir die ducktail doos wat hom verdedig.’

Daarmee is die gesprek oor, en voor Martin loop, kan hy nie help om die hardheid om haar mond te sien nie. Iewers het sy ook haar seer gekry.

//

Die borgtog verhoor vind plaas in Landdros Alana Harley se kantoor. Martin stap in en knik net sy kop vir haar. Oorkant die tafel, sit James Hippert geboei, en dieselfde konstabel wat gisteraand oor hom wag gehou het, staan paraat langs hom. Hippert kyk openlik smalend na Martin. Martin onderdruk die begeerte om sy hand om die dun nekkie te sit, en die vent te druk tot hy stilraak.

Langs Hippert sit ‘n buideldier. Dit is ‘n hoe ‘n kruising tussen ‘n marmot en ‘n bewer moet lyk, dink Martin. Die mannetjie se hare is terug geolie. Dit blink, en vlek sy boortjie. Die oë is egter wakker, en koud en beredenerend. Die staatsaanklaer maak plek,en Martin skuur verby. Die aanklaer is self ‘n olierige ventjie. Martin dink strak by homself. Iewers in die wereld, sit ‘n drol op ‘n seiljag, terwyl talle blonde borrelkoppies gulsig aan hom knibbel, en hy het skatryk geword uit haarjel. Fok hom ook sommer.

Landdros Harley maak keelskoon, en begin die verwikkelinge. Die staat staan borg teë, op gronde van die sluimerende moordaanklag, en ook om die veiligheid van die minderjarige seun te verseker.

Die verdediging bring onmiddelik polisiebrutaliteit in die resep in, en dan is Martin onder die lat.

‘Sersant?’ vra die Landdros ‘Is dit waar dat u die man aangerand het?’

Martin is nie lus vir draaie loop nie. Hy sit beide sy hande plat op die tafel oop. Kneukels na bo.

‘Lyk dit asof ek hom aangerand het? Ek is ‘n groot man, as ek hom aanrand, sal hy nie daar sit nie, en definitief nooit weer sy tottie in….’

‘Dit is genoeg Speurder-sersant!’ Haar stem dra genoeg gesag, om hom te laat besef hy het te vêr gegaan. “Net ja of nee!’ maan sy.

‘Nee edelagbare, ek het hom nie aangerand nie. Daar staan nog ‘n getuie’ jok Martin, en wys in die rigting van die konstabel. Laasgenoemde lieg vlot saam, en ‘n gat word deur die argument geskiet.

Meer as ‘n uur later, na ‘n geweldige oor en weer kleilat gooiery, maak Landdros Alana Harley haar keel skoon.

‘Ek kan amper nie glo julle narre het die moed om my tyd so te mors nie. Daar is nog geen verslae van forensies af nie, so die moordsaak kan nie hier betrek word nie.’ Sy gluur oor die dunraambrilletjie na die staatsaanklaertjie toe. Die marmot kyk triomfantelik na Martin. Spesifiek na Martin.

‘MAAR,’ vervat sy ‘ek stel vreeslik belang in daardie verslae. Sodra dit beskikbaar is, wil ek onmiddelik in kennis gestel word. Ons ontmoet weer hier môremiddag vier-uur. Tot dan, meneer Hippert, bly u in veilige bewaarding.’ Haar woord is finaal. Sy slaan met die hamertjie op haar tafel, en tot Martin se genoegdoening ruk Hippert se kop op.

Die bliksem loop ‘n fyn draad. Goed so. Hulle verdaag.

Word vervolg … 

Advertisements

3 Responses so far »

  1. 1

    jagternw1976 said,

    Wie kan ek bribe vir die volle storie ? 🙂
    Eish ……

  2. 2

    Pikkelik said,

    Moet asseblief net nie eers daaraan dink om die inskrywings te probeer protect of copyright of iets nie… Ek copy gou elke more die storie, paste dit op word en gee dit een of ander fancy werkverbande naam… Soos ek dan deur die dag tyd kry lees ek so skelm, skelm stuk stuk… Hiehiehie… ‘n man moet doen wat ‘n man moet doen!


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: