STORIEMONSTER – Episode 14

Daar is ‘n kabaal in die ingangsportaal. Krys laat sy kop sak in sy hande. Dit is laat, hy is nie lus vir dié stront nie. Die ink is nog nie eers droog op die aanklagstaat nie, dink hy grimmig. Syd Barnard, Eben se pa, en ‘n trop regsverteenwoordigers stoomroller na die ontvangstoonbank toe.

‘Waar is my seun? Ek wil hom NOU sien!’ gebied hy met die intrapslag. Die sersant aan diens kyk hom half verveeld aan, en beduie met ‘n pen in die gang af. Eben is oor die ergste skok, en sy pa se stem, bring sy manhaftigheid terug. Hy ratel die aanhoudingsel se tralies, en Syd haas hom soontoe.

Krys bly sit. Hy hoor die onderlinge gemompel van stemme, en dan is die hele spul terug.

‘Wie is in beheer hier?’ bulder die ryk man.

Krys staan afgemete op, trek sy baadjie om sy skouers, en stap agter hulle verby na die deur toe.

‘Ek is in beheer hier. En ek gaan nou huis toe. Ons kan die gesprek môre voer. Stuur maar die gorillas terug bed toe.’

Hy kyk nie weer om nie. Hy klim in sy kar. In die truspieël krioel dit. Die groep mans drom saam om ‘n blink Mercedes Benz.

Hulle gaan die wêreld vir hom warm maak môre….

//

Majoor Bosman bel Krys terwyl hy nog besig is om lusteloos in sy bakkie Rice Crispies te krap. Krys slaan sy oë hemelwaarts as hy sy baas se nommer op sy foon se skerm herken. Majoor Bosman is ‘n redelike man. Krys kan die kere wat iets hom ontstel het, op sy een hand tel. Krys antwoord. Die majoor se stem is kalm aan die ander kant.

‘More Krys.’

‘More Stefan.’ Hulle is dieselfde ouderdom. Hulle is saam deur al die verandering in die mag. Range tel nie vreeslik baie nie. Hulle ken hulle plek in die voedselketting.

‘Jong, ek het ‘n lawaaierige klomp manne in suits by die stasie. Ek het ses boodskappe op my foon van Sydney Barnard af, en jong Barnard wil ‘n saak van aanranding teen die polisie maak. Gaan jy cope met al dié gemors?’ Sy stem plat en vriendelik.

‘Ek sal cope. Ek is oppad in. Weet jy wat maak my vies, Stefan?’ vra Krys.

‘Seker nie die feit dat Syd Barnard dink wapens, wat by ‘n moord betrokke was, en in sy seun se kar gevind is, deur geld weggetoor kan word nie.’ Hy lag skor as hy weet hy het die spyker op die kop geslaan.
‘Nail hom as jy kan Krys. Ek gaan nie geboelie word nie.’

Hy lui af.

Krys ry in stasie toe. Hy klim uit sy voertuig. ‘n Jong man kom fluks aangehardloop, mikrofoon in die hand.

‘Kaptein, wat is u kommentaar op die aantygings van polisiebrutaliteit?’

Hy vee die knaap uit sy pad uit. Hy betree die gebou, en daar is algehele chaos.. Die Barnard bende is besig om al wat ‘n polisieman is. verkeerd op te vryf. Die gorillas se getalle het ook eksponensieël toegeneem.

Syd kyk oor sy skouer, en sy en Krys se oë sluit vir ‘n oomblik. Dan bars alle hel los.. Hy, en twee mans, wat Krys aaneem is van die pers, storm op hom af. Krys druk tussen hulle deur en beur in die rigting van sy kantoor.

‘Dit is nou ‘n polisieman….’ skree Syd dramaties ‘wat my seun ‘n nag tussen moordenaars en verkragters laat slaap, oor hy homself in ‘n kroeg verdedig het!’

Krys stop, en glimlag. In die wasigheid van hul egos, het hulle nooit die aanklag gelees nie. Die stomme man vreet op wat sy seun hom vertel het. Krys besluit om die bom te gooi.

‘Meneer Barnard’ sê hy hard ‘as jy en jou span …’ hy soek na ‘n woord en Syd vul die woord ‘gorillas’ venynig in. Krys knik oordadig en vervat: ‘As julle minder toneel gespeel het, en meer omgegee het, sou jy geweet het jou seun is hier op ‘n aanklag van moord.’

Hy laat ‘n pouse, en skielik is die voorportaal stil. Syd Barnard se mond gaan oop en toe, en Krys wys nonchalant in die rigting van die toonbank. ‘Alles is op die aanklagvorm. Ek stel voor die gorillas begin huiswerk doen. Die strop trek elke oomblik nouer om jou seun se nek. Ek begin die ondervraging in tien minute.’

Net om n bietjie gewig agter sy woorde in te gooi, skree hy gebiedend op die naaste konstabel.
‘Bring die beskuldigde na ondervragingskamer nommer twee. Raak ontslae van hierdie hansworste in my stasie!’
Dan stap hy haastig uit in die gang.

//

Krys kyk geïrriteerd na die verslae voor hom. Nie ‘n enkele vingerafdruk op die wapens nie. Die gorillas gaan ‘n fokken field day hê daarmee. Gistermiddag, het die landdros borg geweier, en alles het rooskleurig gelyk. Hiér is te veel skuiwergate. Hy skuif sy bril teen sy neusbrug op, en vat weer die laaste verdoemende vel papier.

Eben Barnard het ‘n skitterende donnerse alibi vir die aand wat Deon Strydom vermoor is. Inderdaad, kan alibis nie meer waterdig wees nie. Hy het rugby geoefen. Twee en twintig getuies, en net om alles netjies te sink, ‘n video opname van die oefening. Eben Barnard pronk deur die hele sessie.

Hy gaan stap, besef Krys. Iets hier, is nie lekker nie.

//

Hulle stop op Upington, en Dirk stel voor Marius gooi die BMW vol petrol. Soms het nie Brandvlei of Kenhardt petrol nie, en terug Keimoes toe, is ‘n taamlike trekkie.

Hoe vêr is dit nog?’ vra Heleen. Hulle het bitter min gestop, en sy is moeg en geirriteerd.

‘Net hier oor die bult, nog so 260km plaas toe.’ antwoord Dirk droog.

Die son is ‘n rooi bal in die weste. Net voor Brandvlei, draai hulle op die Lus 10 pad Granaatboskolk toe.

‘Ek wonder vir wat kruip hy weg.’ vra Heleen vies vir Marius. Sy maak haastig die lugversorging se toevoer toe. Sy kan die stof van die vragmotor voor hulle proe.

Marius is moeg en gatvol gery, hy antwoord haar nie, en dit maak haar nog meer knorrig.
Dit is alreeds donker as die vragmotor voor hulle se remligte aangaan, en hulle stadig deur ‘n draadhek gaan. Skielik, is daar ligte, en lewe, en ‘n opstal.

Die vragmotor swenk links, in die rigting van ‘n groot pakstoor. Oor die werf, kom ‘n massiewe boerboel nuuskierig aangehardloop. In die ligte van die BMW, sien hulle hoe die hond amper in Dirk se arms spring as hy uit die vragmotor klim.. Dit gee ‘n vreeslike ritueel af. Spoeg en arms en tande en bowenal, tong. Beide Heleen en Marius besluit om maar eers ‘n rukkie te sit.

Rudi draai die vragmotor om, en stoot dit agteruit in die stoor in. Dirk kom aangestap na die BMW toe.

‘Het julle nie genoeg gesit nie? Welkom op Granaatboskolk, versigtig met Diesel, julle is die eerste vreemde mense wat hy sien, en ek weet nie hoe hy gaan optree nie. Oor die algemeen is hy vriendelik, daar is seker net een manier om uit te vind.’ sê hy. Die groot hond staan met ‘n frons tussen sy oë, en kyk in die motor in.

Marius maak sy deur oop en klim uit. Hy stap daadwerklik om die kar, en maak die kattebak oop. Die boerboel staan nader, en Marius steek sy hand uit. Die hond ruik aan hom, en dan streel Marius oor sy kop. Die ys is gebreek, en hy karnuffel hom met ‘n nat neus in die ribbes.

Dirk kyk na Marius….. snaakse mannetjie, soms so amper useless, en ander kere, doen hy goed soos dié… Hy begin help om uit te pak. Heleen begewe haar uit die kar uit, en dit blyk Diesel het ‘n sagteplekkie vir vroue. Hy staan nader, en sy hou haar hande weg. Hy ruik een keer, en dan hardloop hy ‘n speelse lang draai oor die werf. Die opgewonde tjankblaffies weergalm deur die niks agter hulle.

‘Stomme hond’ sê sy net en giggel.

Hulle dra die bagasie in die huis in. ‘n Groot vriendelike bruin man, seker in sy laat dertigs, maak verskoning.

‘Welkom terug Dirk. Julle is net ‘n bietjie vinnig op my, ek sou help dra het, maar ek het ‘n haaspasty in die oond.’ Hy praat perfekte afrikaans.

‘Dawid… hierdie is Marius, daai is Heleen….’ en hy kyk na die twee, en gaan aan..’ Dawid’ stel hy hulle voor.

Marius kyk na die goed ingerigte gymnasium langs die voorkamer, maar dit is Heleen wat se mond ‘n stille “o” maak. ‘n Sagte fluit kom deur die lippe.

‘Dirk, waar kom jy aan al die goed?’ en sonder om regtig te vra, stap sy die rekenaarkamer binne, en begin liefderyk oor omhulsels te streel.

Sy begin onophoudelik te babbel. Sy spoeg spesifikasies uit, en vroetel en OEE en AAA!

Dirk kyk met ‘n opgetrekde wenkbrou na Marius.

‘Ummmm, ek dink julle twee het mekaar sopas gevind. Sy is ‘n boffin met daai goed. Haar eerste liefde.’ skerts hy.

‘Special’ sê sy, en kyk na Dirk, ‘en sommige van dit militere spesifikasie….’

‘Kom, ek wys julle waar slaap julle.’ ignoreer hy haar.

Twintig minute later, het almal nes geskop, en Rudi kom die voorhuis binne.

‘Rudi, jy slaap oor. Ons sal môre afpak. Ek weet nie van jou nie, maar ek is moeg.’ Hy stap in die reuse kombuis in, en kom terug met vier biere ‘en dors’ voeg hy by.

Hulle sit om die groot tafel, en vernaam Heleen, het baie vrae.

‘Daar is servers daarbinne’ verduidelik sy terwyl sy vir Marius kyk ‘wat Denel s’n laat lyk na speelgoed.’ Sy kyk na Dirk, ‘en genoeg memory en banke, vir ‘n moerse klomp data. Wat maak jy hier?’ vra sy reguit.

‘Ek bly op hoogte van sake, en ek hou tabs, en ek smeer spore dood. Ek weet wat die mag van tegnologie is. As jy so afgesonder soos ek is, is dit natuurlik nodig om met die samelewing in kontak te bly. Blikbrein is my skakel met die wereld.’

Dawid red hom van die kruisverhoor, as hy met ‘n reuse bak stomende bredie, die eetkamer instap.

‘Giftige haasvelle!’ kondig hy aan, en die uitdrukkings op die twee dorpsjapies se gesigte is prysloos. Hy glimlag en vervat: ‘my ma se naam vir haasbredie’

Die reuk laat alle twyfel kwyn, en hulle skep. Mildelik.
//

Ingrid van der Berg trek haar geel Honda Jazz in die garage. Sy ruik die sigaretrook voor haar motordeur heeltemal oop is.. ‘n Skielike beklemming pak haar beet, intuisie dalk, en dan verlam angs haar. Die liggaam se natuurlike reaksie op gevaar. Die oeroue instink om nie gesien te word nie. Sy sit doodstil in die voertuig, en dan is hulle skielik daar.

Hardhandig word sy uit die voertuig geruk. Sy sien eers net die twee gemaskerde mans, maar val haar blik op die deur tussen die garage en die huis. Dit staan oop. Splinters hout op die grond wat getuig dat dit oop forseer was. Hoeveel is daar binne?

Sy word hardhandig die huis ingestoot. ‘n Swaar hand op haar skouer wat haar lei. Die reuk van sigaretrook nou skerper as vantevore. Deur die waskamer, en die kort agtergang, regs uit die kombuis uit, in die eetkamer in.

‘n Man sit en rook by die groot geelhout tafel. Sy rug na haar toe. Hy sit gemaklik, asof hy wag vir tee. Hulle plak haar hardhandig in ‘n stoel neer. Hy staan op, en draai die stoel om, nog steeds met sy rug na haar gedraai. Hy laat val die sigaret op haar mat, en trap dit met die hak van sy skoen dood. Dan draai hy om.

Hy is amper te netjies. Hy is in sy laat vyftigs, as sy moet raai. Die hare is vierkantig in militere styl gesny. Sy naels perfek gemanikuur. Die helderblou oë, deurdringend en koud. As hy gaan sit, merk sy ‘n effense spastiese ruk in sy nek. Baie fyn, maar daar. Die kakebeen is sterk. Dun lippe, en ‘n duidelike spleet in sy ken. Onder ander omstandighede, sou sy hom baie aantreklik gevind het.

Sy stem is diep, en gesaghebbend. ‘n Man wat nie sommer nee vir ‘n antwoord vat nie.

‘Mevrou van der Berg’ fluister hy, en gaan sit. Hy is geklee in ‘n denim en helderblou kraag hemp, en ‘n donkerblou sport baadjie. Hy vou die baadjie toe, en kruis sy bene. Gemaklik.

‘Wat soek julle in my huis?’ vra sy. Die ergste skok oor. Die baklei besig om terug te kom.

Daar is ‘n effense flits van onsekerheid oor die gesig. Net vlietend, dan is hy weer in beheer. Ingrid het ‘n graad in sielkunde. Die onsekerheid was daar. Sy besluit om die situasie uit te buit.

‘Ons vra die…’ begin hy, maar sy val hom skerp in die rede.

‘Dan maak julle ‘n blessitse afspraak. Julle weet ek bly alleen. Dit is algemene kennis. Is dit normaal vir groot uitgevrete lummels soos jyself, om in weerlose vrouens se huise in te breek, en hulle te boelie?’

Hy antwoord nie. Die spiere in sy kake en slape bult soos hy op sy tande kners. Hy knik net vir een van die mans, en laasgenoemde verlaat haastig die vertrek.

‘En néé, jy kom nie alleen nie… met versterkings nogal’ skree sy, ‘jy is ‘n lafaard’

Hy bly doodstil sit. Hy haal ‘n sigaret uit die pakkie, en gebruik ‘n groot koper Zippo om dit mee aan te steek. Hy blaas die rook stadig uit, dan beweeg hy blitsig. Hy gooi haar voor die kop met die aansteker. Met soveel krag dat haar kop agteroor ruk, en as sy herstel, is hy langs haar.

‘Ek besluit nog of ek jou gaan laat lewe, mevrou van der Berg. Jy maak die besluit moeilik’ sis hy, en daar is die reuk van kougom agter die tabakreuk as sy asem nat oor haar wang blaas.

Die man wat hy weg gestuur het, is terug, en hy het ‘n driepoot, waarop ‘n videokamera gemonteer is. Hy plaas dit versigtig reg oorkant Ingrid, en hy skuif die stoel effens weg. Die borselkop loop weer terug en gaan sit. Ingrid herken ‘n ander trek op die man se gesig. Dit vul haar met angs. Waansin.

Die ander man beweeg om die tafel, en gaan staan weer agter haar iewers.

Borselkop vroetel met die kamera, kyk in die skermpie, en doen ‘n verstelling, as hy tevrede is, druk hy ‘n knoppie, en vestig sy aandag weer op haar.

‘Wie ek is, is nie belangrik nie. Ek stel meer belang in wie jý is.’ Hy trek ‘n lang diep trek aan die sigaret. ‘Daar is ‘n donker kant aan elke mens, Ingrid. Ek wil hê jy moet my vertel van jou donker kant.’

‘Jy kan in jou moer gaan. Ek sal jou nie ‘n dooie ding vertel nie.’ skree Ingrid. Sy gaan in elk geval nie lewend hier uitkom nie. Sy is amper doodseker daarvan.

‘Ons sal dit dan die moeilike manier moet doen. Verstaan een ding Ingrid, ek is nie gewoond aan baie woorde nie. Ek vra jou nog een keer. Vertel my van Renier van der Berg.’

Die naam ruk deur haar. Hoe de duiwel weet hulle van Renier? Dit kan nie wees nie. Haar, en haar oorlede man se versigtige bewaarde geheim. Hierdie man kan nie die waarheid ken nie.

‘My oorlede man se broer? Wat het hy met enigiets uit te waai?’

‘Dit is hoekom ek hier is, ek weet nie. Ek het ‘n vermoede. Jý gaan my vermoedens staaf.’

Ingrid maak ‘n minagtende snorkgeluid. Die man gooi die stompie weer op die vloer, en laat sak sy hand onder die tafel.

‘Daar is ‘n asbak in die…’ sy maak nie die sin klaar nie. Daar is ‘n dowwe plop onder die tafel, en Ingrid voel ‘n vae ruk aan haar been. Dan skielik, is daar ‘n muur van pyn, waarteen sy vasgeslinger word met geweld. As die man se arm weer bo die tafel verskyn. Sit hy die vuurwapen met die knaldemper versigtig neer. ‘n Fyn rokie warrel nog by die loop uit. Dan skree Ingrid. ‘n Staalgreep sluit oor haar mond.

‘Dit was jou regter knieskyf. Jy sal nooit weer daardie been normaal gebruik nie. Jy het ‘n linker knieskyf ook’ sê hy kalm.

Die pyn is verblindend. Vir ‘n oomblik balanseer sy op die randjie van bewusteloosheid. Die hand om haar mond, verslap, en ‘n sekonde later voel sy ‘n prik in haar arm. Dan die heerlike warm gevoel van morfien. Dit begin deur haar are soek na senuweepunte.

‘Praat!’ en Ingrid weet skielik, dat sy gaan praat. Sy kan dit netsowel so pynloos as moontlik doen.

//

Renier van der Berg was haar eerste liefde. Die groot sterk man, beide fisies en geestelik, het haar hart verower met die eerste oogopslag. Hulle het twee weke uitgegaan, verloof geraak, en Maart 1974 is hulle getroud.

Suid Afrika was in ‘n oorlog met haar buurstate. Renier was gebou vir oorlog. Die vlymskerp brein, die natuurlike affiniteit vir wapens en sy liefdesverhouding met die konsep van guerilla oorlogvoering.

Hulle het mekaar verorber. Versigtig. Renier wou nie daelik met ‘n familie begin nie. Elke jaar, het hulle dit uitgestel, want elke jaar was daar nuwe konflik in Afrika. Ingrid het dit so aanvaar. Haar liefde vir hom het alles verteer. Die spanning as hy daar bo was, die beklemming om haar hart as ‘n uniform in hulle oprit opgestap gekom het, en die lang alleen nagte. Sy het liefgehad sonder perke. Voluit.

Laat in 1975, was daar skielik ‘n verandering in hom. Sy het dit toegeskryf aan spanning. Die vrouens by die huis was altyd net brokkies inligting gevoer, maar daar was gereeld kiste deur Flossies ingevlieg, en wapens, en meer wapens uit, die oorlog was in volle swang in Angola. Daar was ‘n onkarakteristieke senuweeagtigheid aan hom. Skielik was hy oorbeskermend. Hy het haar leer skiet, en ‘n alarm laat installeer, en haar gedril om haar oë oop te hou.

Die daaropvolgende twee jaar was gevul met spanning. Spanning wat hulle in hul alleentyd, nog hegter gebind het. Renier was nie ‘n vreeslike prater nie, soms het sy die idee gekry daar is iets anders fout. Asof hy oorlog maak op tuisgrond ook. Januarie 1978 is sy swanger. Sy sal die aand wat sy hom vertel het, nooit vergeet nie. Dit was asof die nuus van ‘n baba, ‘n sigbare wig tussen hulle ingedryf het. Hy was hewiglik ontsteld. Sy laaste woorde aan haar was:

‘Dit is nie my kind nie. Verstaan jy dit? Dit kan nie wees nie!’

Sy het nie verstaan nie. Dit was nie bedoel as beskuldiging nie. Meer ‘n stelling, en hy het omgedraai en geloop. Sy het hom nooit weer gesien nie.

Dreyer van der Berg was amper twee jaar ouer as Renier. Renier het verdwyn. Vermis in aksie. Dreyer was daar om die stukke op te tel. Drie jaar later toe klein Marius hom begin ‘pappa’ noem, het Ingrid Renier laat gaan, en met Dreyer getrou.

Dreyer, die absolute teenoorgestelde van wat sy broer was, het stadig in Ingrid se hart gekruip. Sy was lief vir hom. Nooit soos sy was vir Renier nie, en Dreyer het dit geweet, maar sy was syne. Dit was genoeg.

Ingrid het altyd die vreemde gevoel gehad dat Renier haar beskerm. Daar was verskeie gevalle waar sy agtergekom, het sy word gevolg. Sy was nie dom nie, en Renier het haar genoeg geleer dat sy die agtervolgers kon eien. Dan was hulle weer weg. Marius was een keer deur Driekus Beyers geboelie. Een keer. Iets het ‘n naakte vrees in die vieslike mannetjie geplant. Hy het skielik vir Marius vermy. Intuisie….

Sy het geweet hy was altyd daar.

//

Die borselkop man het stil gesit en luister. Deur haar pyn, kon Ingrid sien haar verhaal bevestig sy vermoedens. Hy het moeite gehad om sy emosie in bedwang te hou.

‘Nou is hy dood, en dit is al rede hoekom jy hier kan sit, jou drek!’ snou sy hom toe. Haar einde was naby. Vrees maak ‘n krytsmaak in haar keel.

‘Sy legacy’ sê hy stil, en dan sien Ingrid weer die waansinnige trek om sy mond. Die nek gee weer ‘n rukkie. Hy skuif die kamera ‘n entjie terug, en verstel die fokus.

‘Ek sal alles wat hy gehad het vernietig. Alles!’ Ingrid sien hoe hy die wapen optel.

Die 9mm kort patroon tref haar tussen die oë. Die laaste beeld op die kamera wys hoe die slag haar halflyf uit die stoel ruk, en hoe haar rug krom trek onder ‘n laaste stuiptrekking. Dan loop ‘n fyn straaltjie bloed oor haar voorkop, en sy val vooroor. ‘n Laaste paar sinapse sukkel om die boodskap te kry, en haar lyf gee ‘n laaste sidder. Dan druk ‘n vinger die knoppie, en die kamera sit af.

//

Martin en Nana stap deur die kompleks. Hulle kyk deur vensters, maar hulle sien nie. Nie regtig nie. Die skuur van ‘n arm, die strengel van vingers, die vlietende hitte van ‘n asemteug oor ‘n stukkie oop vel. Hulle verdrink in mekaar.

‘Eks immi’ fluister Nana.

‘Jy’s wat?’ vra Martin

‘In My Moer In’ sê sy

Martin stop, en kyk bekommerd na haar. ‘Wat bedoel jy, is j….’

Sy val hom laggend in die rede.

‘In my moer in verlief op jou!’

Iets binne in hom rebeleer. Iets skree vir hom dat dit te vinnig is. Hy besef hy is bang. Sy reaksie, die weifeling maak haar seer. Hy kan dit sien.

“Dis te vinnig’ sê hy net.

Amper verlig, kyk sy geamuseerd na hom.

‘Jou banggat’ beskuldig sy, en nestel onder sy arm in.

//

Martin slaap oor by haar. Vroeg Dinsdagoggend het hulle ‘n halfuur voor hulle moet regmaak om na hulle onderskeie werksplekke te gaan.

Hy draai op sy sy, en lê en kyk vir haar. Die perfekte vorm van haar nek. Die gesig wat die laaste rustigheid van haar nagrus, koester.

‘Eks immi’ sê hy

n Glimlag sprei oor die gesig, en sy rol in hom in. Die passie ontplof weereens roekeloos tussen hulle.

//

Hy ry kantoor toe. Sy gemoed so lig soos ‘n veertjie. Hy fluit ‘n verskriklike verdraaide weergawe van The Cult se Painted on my Heart.

Op sy lessenaar lê ‘n koevert. As hy dit n minuut later neersit, is hy Kaptein Martin Marx. Hy is ook R2500 ‘n maand ryker. Hy gaan sit op die hoek van die tafel, en hy staar uit oor die mistige Benoni dorp. Jirre, die besigheid pla hom. Dit help nie hy loop draaie met homself nie. Hy het die verkeerde ou laat toesluit gister. Nie dat dit hom vreeslik pla nie. Die man is gemors, MAAR, iewers daar buite loop ‘n moordenaar rond, en hy wat Martin Marx is, het hom ‘n paspoort gegee, en gestamp, om aan te gaan waarmee hy besig is.

Hy maak die saak offisieël toe. In sy gemoed egter, hou hy dit daadwerklik oop. Sy instink vertel hom dat dit nie die laaste gaan wees wat hy hiervan gaan hoor nie. En hy was nie verkeerd nie.

Dan is daar natuurlik nog een ou ander los draadjie wat hy wil gaan soldeer. Hy vat sy baadjie, en loop terug na sy kar toe.

//

Solly Davids is ‘n papbek opportunistiese doos. Een van die tipe mense wat niks het nie, nooit iets sal hê nie, en in die proses geweldige kraters agterlaat in sy strewe na totale mislukking.

Martin parkeer sy voertuig ‘n blok weg, en hy stap na die huis toe. Hy spring oor die draad, en loop onseremonieel die voordeur uit sy kosyne uit. ‘n Vet vrou gee ‘n benoude gil, en Martin sien die gesette man stamelend orent kom, en naarstigtelik probeer wegkom. Die man sien hy is nie vinnig genoeg nie, en hy ruk die vrou voor hom in.

‘Wie de fok is jy?’ skree hy agter sy skans uit. Die vrou se oë is groot van vrees.

Martin slaan ‘n goedgemikte hou oor die vrou se skouer, en Solly se kop ruk, en hy val weg van haar af. Martin ruk hom regop aan sy yl hare, en stuur hom uitgestrek op sy maag in die oop spasie van die voorkamer in. Hy ruk die yl hare weer, en gooi hom hardhandig op ‘n verslete bank neer, en net vir die wis en onwis, klap hy hom met ‘n plathand deur die gesig. ‘n Stel valstande val knetterend in die verste hoek van die vertrek.

Martin gaan haal die vet vrou, en lei haar aan haar arm die voorkamer in, en maak haar sit langs die beteuterde figuur op die bank.

‘Ek het nog nooit ‘n vrou met die vuis geslaan nie, vandag lyk vir my soos ‘n goeie dag om te begin. Weet jy wat hierdie stuk kak doen met Shane?’ vra hy aan haar.

Sy knik.

Toe is Martin vreeslik lus en gee haar ook ‘n oorveeg.

‘Nou kyk, dit is baie eenvoudig. Elke dag, om en by hierdie tyd, gaan ek hier ‘n draai gooi. Een keer ‘n week wil ek Shane in my kantoor hê sodat ek hom kan ondersoek. As ek ‘n merkie op hom kry, kom ek hiernatoe en ek maak tien keer soveel merke op julle. As hy weer uitgehuur word vir een of ander siek bliksem se plesier, sal ek reël dat dieselfde lot julle oorkom. Tienvoud.’

Hy staan op, en klap Solly Davids weer deur sy pap mond.

‘Tienvoud, verstaan jy my. Ek sal jou in ‘n sel toesluit vir ‘n naweek, saam met die grootste, jagste fokken kriminele wat ek in die hande kan kry, en ek sal laat hulle jou naai tot jy nie meer kan loop nie. Het jy dit?’

Die man is in ‘n beskermende bondeltjie opgerol. Martin sien hy het homself natgepis. As hy nie dadelik antwoord nie, skop Martin hom hard op een van sy skene, die man kerm ‘n kreet uit.

‘HET JY DIT!!’ skree Martin weer.

‘Ek het, ek het, ek sweer.’ huil Solly Davids.

Hy kyk na die vet vrou, en mik vinnig ‘n vals hou in haar rigting. Sy slaan reg agteroor en val met ‘n dowwe plof op die vloer.

‘En jy, het jy dit?’

Sy knik net, en Martin dink die boodskap is taamlik duidelik. Hy staan terug, en kyk met afkeur na hulle.

‘Hy is vyftien. Julle was veronderstel om hom groot te maak. Julle was al wat hy gehad het, en julle het hom vir life opgefok. Ek verafsku drek soos julle.’ Martin spoeg in die rigting van die man op die bank. Skielik word sy woede vervang met weersin.

As hy oor die splinters en stukkies glas deur die gapende voordeur, na buite stap, staan Shane Davids voor die tuinhekkie.

Sy gesig is kalm en ‘n effense glimlag krul om sy een mondhoek.

‘Dankie oom. Ek skuld jou een’ is al wat hy sê.

Martin knik net sy kop, klim weer oor die draad, en is reg om sy dag as Kaptein Marx te gaan voortsit.

Word vervolg … 

2 Responses so far »

  1. 2

    Ace said,

    Baie ineressant, wag net vir môre,

    fankyou dellie


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: