STORIEMONSTER – Episode 18

Augustus 1977

Renier bel vir Steyntjie. Wikus Steyn is vir die militêre polisie, wat Einstein was vir Wetenskap. As jy informasie wil hê, dan druk jy Steyntjie se knoppie.

Nadat Steyntjie amper die dag wat Generaal van der Berg hom gebel, verklaar het as amptelike vakansiedag, bedaar hy, en vra Renier:

‘Wikus, ek soek informasie.’

Die stem kom joviaal terug.

‘Enigiets generaal, absoluut enigiets.’

‘Ek is opsoek na iemand. Natuurlik vertrou ek dat jy dit vir jouself sal hou!’

‘Jissie, generaal, ek sal so stil soos ‘n standbeeld bly.’

Renier glimlag.

‘Ok, Simon Kotwal, hy is die eienaar van Guido engineering in Randfontein. Sal jy vir my ‘n adres kan kry vir die man?’

‘Kotwal…. Kotwal…. hoekom lui die naam ‘n klokkie?’ Renier hoor hoe Steyntjie aan die ander kant sy lip kou.

‘Hy was ‘n majoor. Parabat.’ sê Renier net.

‘Was hy nie die blikse…. skuus generaal…. die ou wat daarbo weggehol het en die…’

‘Dis net hy, Steyntjie,’ val Renier hom in die rede.

‘Generaal gaan dit nie glo nie, maar ek het my eie persoonlike file op daardie ou!’

Renier vlieg so vinnig regop, hy stamp die foon van die tafeltjie af.

‘Nou hoe so, Wikus?’

‘Alles of the record natuurlik, generaal. Generaal weet dat sy ma al die jare die weermag kontrak gehad het. Guido het alles gemaak vir ons voertuie. Van crownwheel en pinions af, dwarsdeur tot pantser en kanonlope. Rumour had it, dat sy ma taamlik pissed off was oor die gebeure daarbo. Daar was ‘n vreeslike geskinder in die gange nadat hy so skielik ontslag gekoop het.’

Renier sit verstom en luister. Daar begin ‘n prentjie in sy kop vorm. Steyntjie is op sy stukke:

‘Sy ma was perdfris en gesond. Ek sal weet, want sy was ‘n kampioen perde skouspringer. My ma en sy het ‘n lang pad saamgeloop. Skielik is sy dood aan kanker, en dit het my knoppies gedruk. Ek het so bietjie op sy case geklim, generaal. Daai tannie was perdfris en gesond. BOEM, dood. Dit was net fishy. Die ka… sorry generaal, die moeilikheid het begin toe ek laks begin raak het, en sommer so oop en bloot begin vrae vra het.’

Hy bly ‘n oomblik stil, en as Renier nie praat nie, vervolg hy.

‘Majoor De Lange het hier ingestap, my baie mooi laat verstaan at ek terug in my kas moet klim, my notas gevat, en dit was dit. Ek was oortuig daar was iets anders aan die gang, generaal.’

‘Jy kyk genoeg van hierdie nuwe televisiebesigheid, Steyntjie. Jy het darem seker voorsorg getref,’ terg Renier. “wat dink jy gaan nog daar aan?’

‘Dubbel afskrifte van alles, generaal’ spog hy. ‘Nee generaal, ek het ‘n pel by 1 Mil. En daar het blykbaar nou en dan mediese toerusting na die Kotwal huis toe gegaan.’

‘Watse tipe mediese toerusting?’ vra Renier agterdogtig.

‘Spuitnaalde, dripsakkies, en verbande meestal, Generaal.’

‘Sal jy vir my die adres kry?’

‘Ek sal generaal. Bel my more.’

‘O ja, en Steyntjie, wat bedoel jy Guido WAS die verskaffer aan die weermag?’

“Nee maar net dat Guido die ou tannie was. Hulle verskaf nog steeds, maar hulle het groterige kontrakte afgestaan aan Silverton engineering.’

‘Ah, ok dankie Steyntjie, ek bel jou more.’

‘Plesier generaal!’

//

Steyntjie is so goed soos sy woord. Agtuur die volgende oggend het Renier ‘n adres. Hy besluit om ‘n vinnige recce te doen. Hy krap in die gangkas, en haal ‘n verslete broek en hemp uit. ‘n Ou gelapte vishoed maak die res van sy uitrusting op. Hy klim in die bakkie, raadpleeg sy padkaart, en ry uit Randfontein toe.

Hy kon ontmoontlik die plek mis. Hy ry eers ongeërg verby, en sy geoefende oog suig die informasie op. Dooie donner, die plek het ‘n vyftien voet hoë muur. Massiewe staalhekke, en hy sien meer as een kamera, op strategiese plekke versteek.

Waarvoor is hy so versigtig, wonder Renier. Hy stop twee blokke weg, trek sy skoene uit, en sluit die bakkie. Hy steier kaalvoet terug in die rigting van die huis. By die eerste asblik, stop hy, en krap oordadig binne in. Hy hou die laphoed laag oor sy oë. Hy kyk onderlangs na die muur. Minder as tien meter van hom af, draai ‘n kamera lui in sy rigting. Hy sal nou moet versigtig wees. Hy sit ‘n oordadige systappie in. Die kamera volg hom…

Hy skarrel oor die pad, en ‘n motor toet verergd vir hom. Hy is besig om sy tyd te mors. Hy sal ‘n ander manier moet vind om binne in die plek te kom. Hy maak seker hy hou sy toneelspel vol tot hy uit sig uit is. Hy loop om die blok terug na sy bakkie toe.

//

Renier sit geïrriteerd en tik- tik met ‘n pen op sy eetkamertafel. Kotwal se plek is goed uitgedink. Oorkant die straat is twee oop persele, waarvan geen posisie onsigbaar kan wees nie. Beide kante van die perseel is privaat huise, en so ook dan agter dit. Nie dat dit hom veel sal help nie. Die muur is amper belaglik hoog. Hy sal moet deur die hek inkom. Om dit te doen sal hy moet die ingang kan dophou, en ‘n tipe patroon vasstel. Wanneer word die vullis verwyder. Swembaddienste dalk. Hy sal moet uitvind wie wel by daardie hekke ingelaat word op die perseel. Waar grawe hy homself in? Hy besluit hy gaan die boemelaartema enduit ry.

Hy bel ‘n huurmotor, en die voertuig ry twee keer verby hom, die bestuurder wat sy nek rek om huisnommers te kan uitmaak. Renier staan gebukkend op die sypaadjie. Sy klere verflenterd, en ‘n paar dae oue baard wat meer geloofwaardigheid aan sy vermomming verleen. As die stomme bestuurder lank genoeg in sy eie vet gebraai het, stap Renier in die pad in, en stop die man.

‘Vat my Randfontein toe asseblief.’

Renier druk ‘n twintigrand noot in sy hand, en die man kyk hom sydelings aan. Renier beduie na die pad, en die man stamp die voertuig onseremonieel in ‘n rat in, en trek rukkerig weg.

//

Renier strompel deur die Pick ‘n Pay parkeer terrein. Hy steel ‘n verwaarloosde kruidenierstrollie, en die volgende uur spandeer hy om die waentjie met allerande drek te vul. Plastieksakke en stukke karton. As hy tevrede is, begin hy in die rigting van Kotwal se huis drentel. Hy maak seker die sterk weermagverkyker wat hy onder die rommel versteek het, is nie sigbaar nie. Hy stoot die trollie langsaam. Koponderstebo.

Hy lig die voorkant van die waentjie moeisaam oor die randsteen en stoot dit diep in die oop perseel oorkant die Kotwal woning. Hy posisioneer die trollie so, dat hy die hek kan sien. Dan keer hy die waentjie om, en hy sak agter dit neer. Hy rol koerantpapier om die verkyker, en ‘n minuut later het hy die hek in sy sig.
Teen agtuur wonder hy of hy sy kop moet laat lees.. Iewers blaf ‘n hond met ritmiese tussenposes. Hy wonder wat de fok die hond se eienaar doen. Deur net die hek dop te hou, begin vir hom na ‘n onsinnige besigheid te lyk. Die hele dag het geen voertuig die hek verlaat of binnegegaan nie. Twee ure later, maak hy homself reg vir ‘n lang nag….

Hy staan styf en ongemaklik op uit sy skuiling. Die son het sopas sy wollerige kop oor die geboue se dakke gelig. Hy is honger. Hy los die trollie net so, versteek die verkyker onder droë gras, en as hy die regte houding het, skuifel hy uit pad toe.

Daar is ‘n kafee drie blokke van hier af. Hy sal iets moet kry om te eet. Hy loop effe vooroor gebuig, en hy sleep sy voete. As hy by die kafeetjie kom, staan twee jong skoolseuns en redekawel om ‘n dikwielfiets. Hy strompel verby, en hy sien die twee seuns hom nuuskierig beloer.

Hy koop ‘n witbrood en ‘n liter Coke. Nie die ideale ontbyt nie, maar as dit moet katkop wees, dan is dit katkop. Hy glimlag as die term vir brood en Coke uit sy jongdae, weer deur sy geheue speel. Dit voel soos ‘n ewigheid terug.

‘n Halwe blok weg van die kafee af, tref iets hom tussen sy blaaie. Hy sien die klip wegrol in die pad in. Hy kyk om. Die twee seuns volg hom. Die blonde knaap is groot gebou. Rugbyspeler, en die donkerkop wat die fiets stoot, is net daar as passasier. Hy hoor hulle giggel, en ‘n gedempte gesprek voer. Dit is nou al wat ek nodig het, dink Renier geïrriteerd. Hy volg doelbewus ‘n ander roete, weg van sy skuilplek af. Hulle volg so twintig meter agter hom. Elke nou en dan lanseer hulle ‘n ander projektiel in sy rigting. Die feit dat hy nie reageer nie, maak hulle al hoe meer braaf.

‘n Klip tref Renier hoog in sy nek, en dit is met krag gegooi. Hy vlieg so vinnig om, dat dit die twee seuns heeltemal onverhoeds betrap. Voor hulle kan reageer, is hy op hulle. Hy slaan die blonde knaap op die midrif, en hy vou dubbel en gaan grond toe. Die tweede hou is reg op die passasier se mond, en hy volg sy maatjie moederaarde toe.

‘Ek is oud genoeg om julle pa te wees. Waar is julle respek?’ Hy moet die drang om hulle dood te skop onderdruk. Hy spring oor die fiets, en verdwyn oor die pad tussen die huise in. Hy spring oor twee grensdrade, en vyf minute later sleep die boemelaar sy nuwe tuiste binne.

Wie het gesê boemelaar wees is ‘n eentonige bestaan. Hy maak homself onsigbaar agter die trollie. Sy dag kan begin.

//

Huidig

Marius kan nie in die donker sy voete sien val nie, maar die ritme van sy voetval komplimenteer dié van Dirk. Hulle draf tien kilometer. Elke oggend, en tot Marius se verbasing, hou hy skielik by. Sy longe brand, en sy bene is moeg, maar dit is draaglik.

Die strawwe sessies in die gymnasium, word al hoe langer, en Marius se hersteltye al hoe korter. Hy het die afgelope maand amper sewe kilogram afgeskud. Daar is ‘n hardheid wat begin vorm in sy spiere, en as hy mooi in die spieel kyk, begin sy lyf ‘n ander vorm toon. Die vaagheid wat hy om sy middel gehad het, is besig om te verdwyn, en sy klere val van hom af. Hy vang homself dat hy uitsien na die oefensessies.

Die strek oefeninge begin al hoe makliker gaan. Hy voel ‘n soepelheid en op die oefenbaan wat Dirk aanmekaargeflans het, kan hy amper al die struikelblokke bemeester. Elke dag word hy vinniger.

Daar is egter ‘n swaarmoedigheid in hom vanoggend. Heleen gaan Sondag huis toe. Sy wil weer begin werk. Hoe meer hy dit wil laat indring dat sy nooit weer hoef te werk nie, hoe meer neig sy terug Johannesburg toe. Hy moet seker haar redenasie probeer insien. Hulle is skielik by die Lus 10 pad, en Marius is verbaas dat die eerste been van hulle oefening klaar agter die rug is.

‘Wil jy bietjie rus, en strek?’ vra Dirk.

‘Ek’s reg, kom ons draai om’ antwoord Marius, en in die donker kan hy nie die glimlag op die groot man se gesig sien nie.

Heleen het haar gat af gewerk in haar broer se besigheid. Hy was ‘n IT boffin, wat die skatkis van die Internet vroeg opgemerk het, en ‘n klein besigheid wat diensverskaffing en onderhoud van die informasie hoofweg aan kliente gebied het. Binne twee jaar was hy ‘n reus. Heleen wil graag haar eie besigheid begin. Haar broer belowe nou al twee jaar finansiering, en sy is onder die wanindruk dat sy haarself net moet bewys. Die prys van onafhanklikheid is duur. Dit is Heleen se ding… onafhanklikheid. Hel, hy kan haar nou finansier, maar sy het die idee so entoesiasties afgeskiet, en met soveel vuur, dat hy nie weer in daardie rigting gepraat het nie.

Hy gaan hier bly tot hy reg is. Hy gaan sy ma wreek, en die malman agter alles ontbloot. Come hell or high water.

//

Dirk skuif vir die tweede keer in een week die merker nog ‘n gat af op die gewigte aan die Trojan gymnasium. Marius beur en rem, en dan begin hy sy oefening. Stadig en met ritme. Ordentlik. Die mannetjie het sy stoutste verwagtinge oortref. Haat, is ‘n bliksemse ding.

Heleen kom uit die gang gestrompel, mompel iets wat klink soos ‘n groet, en verdwyn in die kombuis in. Oomblikke later verdwyn sy in blikbrein se nes in. Net soos elke ander oggend. Sy is self besig om iets te jaag. Amper asof sy iets het om te bewys.

Feit van die saak bly, hulle het nog steeds geen idee na wie hulle soek nie. Renier van der Berg, was ‘n geheimsinnige man. Dirk het ‘n spesmaas Heleen is op die spoor van iets. Sy werk soms die sleutelbord amper koorsagtig. Hy laat haar begaan. Dit gee hom meer tyd om aan Marius te werk.

Dirk het nog ‘n vae gevoel van onraad in sy gemoed. Hy het nog niks weer van Koert gehoor nie. Dit is al amper ‘n maand. Hy het hom twee keer geskakel, en sy foon was af. Koert is eksentriek, en Dirk het besluit om die man uit te los. Koert sal hom kontak as hy iets het.

‘As jy hier klaar is, dan gaan doen ons gou weer die obstacle course. Terwyl jou spiere warm is.’

Marius doen ‘n laaste repetisie, en hy knik net.

//

Dirk staan met die stophorlosie. Marius is besig om teen ‘n hoe houtskerm uit te klim. Die tou vreet in sy hande in, maar hy beur oor. Hy val plat in die bad modder, en hy kruip behendig onder deur die doringdraad wat laag oor die modder gespan is. Dan is hy op die been, en hy swaai aan ‘n nuwe tou oor die sementdam, en dan het hy net die dromme oor. Dirk druk die stophorlosie as Marius oor die laaste drom spring.

Die mannetjie is net twintig sekondes agter Dirk se beste tyd. Dirk glimlag tevrede.

‘Raait, jy kan gaan skoonmaak!’

Marius staan met sy hande op sy kniee, en as hy orent kom, jaag sy asem skaars.

//

Marius is nog in die stort, as Heleen die eerste groot deurbraak maak. Sy loer om die hoek van die grot, en aan haar stemtoon, weet Dirk instinktief sy het iets belangriks ontdek.

‘Dirk, kom kyk gou hier.’

Dirk gaan sit langs haar voor die groot skerm.

‘Jy weet, ek tas in die donker rond hier. Ek het gesoek na weermagveilings. Daar was heelwat info, maar dit is ‘n geneuk om uit te vind wie het wat gekoop. En natuurlik wanneer. Ek het ‘n bietjie gatvol geraak vir daardie lyn van ondersoek. Marius se pa, het homself geskiet in ‘n pentagram. Elke liewe donnerse boek daarbuite in die stoor, het iets uit te make met daardie pentagram, en wat dit verteenwoordig. So ek het meer in daardie rigting begin beweeg. En laat ek jou nou nie nonsens vertel nie, dit fassineer my. Die hele Pagan streep Wiccan geloof, is ‘n relatiewe jong geloof. En dit is so ingewikkeld, en heerlik los. Jy kan basies van dit maak net wat jy wil. Ek is besig met verdere ondersoek in die geloof self, en ek lees van die boeke in die trommels.’

Sy bly ‘n oomblik stil.

‘Raait, nou die aand in een van my menigte google soektogte, toe kom ek op hierdie af. Ek het eers niks van dit gemaak nie, en dit in my agterkop gefile.’

Sy tik op die sleutelbord, en ‘n media 24 artikel verskyn op die skerm. Die opskrif lui.

RYK SAKEMAN WREED VERMOOR.

‘Die ou, ene Jack Mathysen, is met ‘n haelgeweer in sy gat geskiet. Ek bedoel, letterlik IN SY GAT, en jy weet hoe werk Google. Al die woorde wat jy ingetik het in jou search, word kursief in groen gedruk. Check hier’

Sy wys na die tweede laaste paragraaf.

‘Inspekteur Marx het aan verslaggewers genoem dat hulle nie geloofsoortuiging uit die lys van motiewe skakel nie. Hy het genoem dat ‘n afgesonderde kamer ‘n groot pentagram op die vloer gehad het, en dat enige lede van die publiek wat meer inligting kan verskaf, hom asseblief moet kontak.’

Sy klik af op die skerm.

‘Hier is ‘n foto van die pentagram.’

Dirk het geen idee waarheen sy mik nie. Sy sien sy verwarring, en gaan vinnig aan:

‘Ok, toe safe ek om een of ander duistere rede die berig in ‘n folder, en ‘n week later kom ek op hierdie gem af.’

Sy tik op ‘n ikoon in dieselfde folder, en nog ‘n media 24 artikel verskyn op die skerm.

BEKENDE SAKEMAN STERF GRUSAAM

‘Hierdie ou is net so wreed vermoor. Sy naam was Brian Cartwright. Kyk daar in die middel van die artikel. Daar word ook verwys na ‘n groot pentagram. Weird nê? Check hier, fokken vishoeke deur sy ooglede.’ Heleen sidder. ‘Dit klink amper fucked up genoeg om die werk te wees van ons geheimsinnige man.’

‘Wag ‘n bietjie, Heleen. Hoe de duiwel verbind jy die mense met ons verdagte. Ek volg glad nie’

Sy kyk hom aan asof hy stupid is.

‘Wag nou, man, ek’s nog nie klaar nie. Dinge gaan nog interessant raak. Bly by my.’

Sy maak die artikel toe, en tik op ‘n derde ikoon in die folder. Die skerm verlig weer, en weereens dieselfde media 24 webtuiste.

BEROEMDE KLUISENAAR VERMOOR

‘Die derde moord, is net so weird. Deon Strydom. Jy sal dit nie glo nie, maar iemand het dit goed gedink om sy tottie af te sny, en in sy keel af te druk.’

Dirk kan amper nie sy oë glo nie. Daar is siek mense daarbuite.

‘Fokkenhel’ sê hy net.

‘Jip’ gaan Heleen aan ‘ But wait there is more. Die ou het ook ‘n pentagram by sy huis gehad. Dieselfde storie.’

‘Ok, maar daar moet derduisende mense in hierdie landjie van ons wees, wat hierdie gelowe ondersteun, wat laat jou dink dit het enigiets uit te waaie met ons geheime man?’

‘Intuisie, Dirk, intuisie. Iets waarvan julle mans niks verstaan nie. Maar wag, hier is nog ‘n titbit. Steve Hofmeyr het ‘n televisie program gehad… Dis hoe dit is…. met Steve. So ‘n lekker gesels program. Jy kan sien in die opskrif. Die vent was “beroemd” omdat Steve hom geinterview het. Hierdie ou het skatryk geword toe hy goudneerslag in ou mynpype ontdek het.’

‘Hoekom kom sulke goed my nie oor nie?’ sug Dirk

Heleen ignoreer die aanmerking.

‘Raait, so toe gaan doen ek ‘n bietjie huiswerk op die ander twee slagoffers. Raai wat?’

‘Ek het geen idee nie’ erken Dirk.

‘Beide die ander twee het ook onkonvensioneel skatryk geword. Brian Cartwright het ‘n motorpart ontwerp, en die patent vir miljoene verkoop, en Jack Mathysen het lekkergoed begin verkoop uit ‘n container in sy voorerf. Hy was ook ‘n multimiljoener.’

Dirk trek sy wenkbroue op. Tot dusver was die hele argument maar taamlik dun, skielik is hier net te veel toeval betrokke. Hier is ‘n rokie…. hulle moet die vuurtjie kry.

‘Goed, daar is een ander brokkie nuus. In die hele proses, het ek een ander persoon gekry wat ook met n luckshot skatryk geword het. Sy naam is Siegfried Kamfer. Sex sells, is sy slogan. Die man het ‘n reuse eksklusiewe hoerhuis. Daar is net een verskil, hy lewe nog’

‘Hoerhuise is nie so onkonvensioneel nie, skattebol. Van die rykste mans in ons land het daar begin, of deurgedruk daarmee. Ek sien nie di….’

‘Wag’ val sy hom in die rede ‘ek het gesoek na ‘n konneksie. En nou-nou, toe kom ek op hierdie berig af.’

Sy druk ‘n paar sleutels, en n skinderblad se webtuiste verskyn op die skerm.

‘Let nou mooi op’ se sy selfvoldaan. Sy klik op die kantlyn op ‘n klein fototjie, en as die skerm die foto vergroot, staan vier mans glimlaggend, met drankies in hulle onderskeie hande vir die kamera en kyk.

Die onderskrif lees.

“Die fantastiese vier- vlnr Jack Mathysen, Brian Cartwright, Deon Strydom en Siegfried Kamfer.”

Dirk kyk oorbluf na die foto. Hier is ‘n drol in die drinkwater. Hy lees die berig. Woorde soos ‘formidabele beleggings’ en ‘ruimstoots’ word gebruik. Beleggings in die Suid Afrikaanse Weermag. Die datum onder die berig dateer terug na 1998. Hy kyk na Heleen, en sy kyk met ‘n vreemde uitdrukking op haar gesig na hom. Amper asof sy wil hê hy moet weer kyk. Hy kyk inderdaad weer. Hy verstar. Die foto is korrelrig en swart en wit, maar in die agtergrond, heel links in die foto, staan Renier van der Berg.

‘Terwyl julle buite in die modder speel, het ek ook die huisvrou games gejol.’ sê Heleen smalend.

‘Fokkenhel’ sê Dirk weer.

Word vervolg … 

Advertisements

1 Response so far »

  1. 1

    jagternw1976 said,

    Waar is episode 19 ? Is half tien 10:30 of 09:30 ??

    Eish …..FEED ME …..


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: