BEAUFORT WES EN DIE JAPANESE

Nog ‘n bonus kortetjie …

Dit is middel Junie. Dit is koud. Ek is oppad van Durban af Kaap toe met drie ses meter containers agter op my superlink sleepwa.

Die Transkei se paaie was beroerd daardie jare, so ons het maar opgetrek Harrismith toe, en dan so oor Bethlehem en Paul Roux Winburg toe gery. Dan fort oor Bloem, Kaap toe.

Dit was n helse trek. 1753 kilometer om presies te wees. Ek het nie geld gehad daardie jare nie. Ons is per kilometer betaal, so, hoe harder jy ry, hoe vinniger kom jou skip in. Of, hoe langer hou jy dan nou die geldwolwe weg van die voordeur af.

Anyways, so laat loop ek en die sinkhuis. Die sinkhuis was n spik splinternuwe International Eagle. Vandaar natuurlik nou die geldwolwe. Ek hou haar so op negentig kilometers n uur, Sesuur die aand draai ek op die N1 by Winburg. Eks al klaar tammerig. Ek het die vorige nag maar drie ure geslaap.

Ek kom in my ritme, steek n sigaret op, en haal n Coke uit die yskas. Die langafstand radio op die paneelbord kraak, en ek hoor n bekende stem.

‘Riekus…. Frits… Hoesit.’

Elke een van my pelle het ek n spesifieke ou troetelroepie voor gehad op die langore. Langore was wat ons destyds die lang afstand radios geroep het. Op n goeie dag kon jy amper tweeduisend kilos ver praat.

‘Frits, Frits, gits Frits…Riekus Frits’ groet ek hom. Te bly om bietjie geselskap te he, en die verveeldheid so effe hok te slaan.

‘Is dit jy hier voor?’ vra hy, en ek soek vervaard in die truspieels na sy lorrie. Wragtig, daar dop hy oor die bult.

‘For sure, hoe lyk dit’

//

Dit was altyd goed vir rytyd. Om n pel op te tel, en dan so konvooi te maak. Dit was n absolute bonus as die man n radio gehad het. Dit het menige lang nagte kort gemaak. Ek kon nooit besluit of dit die karrige bietjie praat was nie, en of dit die wete was dat jy saam met n ou is, wat net so moeg soos jy is, en nog net so ver moet druk.

Ek en Frits het altyd lekker saam gery. Ons het dieselfde styl gehad, en ons het gehou van dieselfde spoed. So vyf en negentig, dan is ons happy.

Daar was altyd n duidelike patroon in so saamgeryery. Eers praat jy vervaard. Hoe gaan dit by die huis, dan oor hoe kak die tariewe is, dan of jou vrou rondneuk of nie. Dan die kinders en dan niks. Bietjie skinder, bietjie musiek praat, bietjie kak praat, en dan lang stiltes. As jy in die spieel kyk, is hy daar. Dit was genoeg. Dan druk jy hard.

So kom en gaan Bloem en Colesberg. Deur Hanover en Richmond. Die stuk van Richmond af Beaufort toe, waar die enigste verandering in die droee karoolandskap, n Shell garage was by Drie Susters, was altyd n stywe stoot.

So loop ek en Fritsie oop koppe. Ek wou al twee ure terug piepie, maar dit is een ding wat n lorriedrywer bitter vinnig onder die knieg kry, blaasbeheer. Ons gooi. Daar waar ons Remhoogte sak, so tagtig voor Beaufort, vertel die wekkertjie op die dashboard n droewige storie. Dit is half twee in die oggend, en Klaas Vakie is deur my kajuit met twee kubieke meter sand. Hy strooi nie die goed nie, hy gooi dit met skopgrawe.

‘Gits Frits’

‘Yes’

‘Ek soek koffie, my bloed is dun’ kerm ek.

‘Ek kak ok darem self nou’ beaam Frits.

‘Goed, ou plek?’ vra ek.

‘Maak so’

Ou plek was die laaste kafeetjie in Beaufort. Op linkerhand nes jy amper die dorp uitgaan. Net voor die pad wat na die karavaanpark toe gaan. So dreun ons twee die dorp binne. Daardie jare was die paaie stil. Ons stop sommer so lank in die hoofstraat, teen die sypaadjie, sodat die odd poepol wat nog braaf genoeg is om die tyd van die aand te wil ry, darem sy pad kan verby kry.

Dit is die eerste keer in agt ure wat ek en Frits mekaar inderdaad sien. Ons skud blad en stap die kafeetjie in. Voor die kafee was van daardie skuins parkerings, en ek het my vragmotor se neus gestop net so voor die eerste een. Laat n ou darem nou nie laatnag kliente se parkering vat nie. As ek reg onthou, was daar seker so die beste stuk van tien parkerings daar. So amper in die middel van die lot, en sommer so slordig wydsbeen oor twee van die kosbare parkings, staan n wit 2.5 Mikrobus. Hulle was nog splinternuut daardie jare.

Venstertjies netjies donker getint, nudgebartjie voor.. pragtige voertuig. So stap ek en Frits die kafee binne. Normaalweg daardie tyd van die nag, was die ou plek maar stil. Hannetjie, die gesette kleurlingvrou agter die toonbank was altyd vir ons n tweede ma. Vroeer jare, toe haar man nog gelewe het, het die ou n CB radio gehad, dan roep jy sommer al klaar jou orders in van so dertig, veertig kilometers buite die dorp. Daardie luuksheid is ons ontneem. Hannetjie se hande kon koffie en skons maak. Moet haar nie met tegnologie kom oordonder nie. Syt die radio verkoop en nog n microwave gekoop….

Hannetjie vat die spesifieke aand net hier en daar grond. Die kafeetjie staan driekwart vol uitlanders. Almal lyk soos Bruce Lee. Dit WHATAA en TJINGTJONGTJAA iets vreesliks. Seker n goeie stuk of dertien van hulle. Jonges en oues. Mans en vrouens. En dit buig en knik koppe, en beduie en Hannetjie skuif die groot polistireen koppies een vir een onder die traliewerk deur.

Ek en Frits wag geduldig, en toe die lot hulle koffie en tee het, maak hulle n netjiese ry, buig vooroor en Hannetjie kyk hulle aan asof hulle van mars afkom. En so is hulle dan nou by die deur uit. Ek en Frits kyk nog die laaste enetjie, so jong meisietjie, te pragtig, en ons wonder stil en byonselwers of die dwars storie waar is, agterna, en dan order ons.

Hannetjie is op haar stukke nou, en in n oogwink het ons koffie, en n karringmelk beskuitjie, en ek en Frits stap uit.

Die dertiental Japanese is op die stadium toe nou net almal mooi in die bussie. Die bestuurder was die ou man met die grysbaard wat amper gelyk het soos die onderwyser in Karate kid.

Nou, daar is een ding wat julle mooi moet verstaan. Dit het ons almal al oorgekom. Elkeen van ons het net n ander manier om met dit te deel. Daardie oomblik van totaal oorbluf wees, as jy jou kar start, en die donnerse ding rev in die rooilyn in. Jip, die gevreesde vloermat/petrolpedaal interaksie.

Met die geskuifel agter die stuurwiel in, koffie in die een hand, waardevolle bruin sak in die ander, het ons karate vriend heel moontlik die vloermat oor die pedaal laat gly. Ek en Frits was net so rapsie verby die mikrobus, toe die man die sleutel draai.

Alle hel bars los. Beaufort Wes was maar n stil dorp. Die 2.5 vyfsilinder was n raunchy enjin. Glo my, hier teen die rooilyn, met die toerebeperker wat naarstigtelik probeer om te keer dat suierstange nie vensters in die enjinblok maak nie, is dit n helse bohaai. Ek en Frits ruk dood in ons spore, en soos ons vir die bestuurder kyk, sien ons hoe bult sy kaakspiere skielik, en hy moer die kombi daadwerklik, met n geweldige knars in trurat. Moes een of ander Oosterse gevegkuns onder die knie gehad het, want ek het etlike jare later probeer om n ander motor in trurat te druk teen top revs, en ek moes gaan vir n murgoorplanting….

‘Hier kom kak’ se Frits, en vat n sluk koffie.

Wat die stomme man besiel het om die koppelaar te los, sal ek nie vir julle kan se nie. Maar hy drop die clutch, en daai Kombi ruk homself op n knop, en met rook op die bande vlieg dit agteruit uit die parkeerplek. Die laaste wat ek van hom sien soos hy oor die hoofpad trek, is n paar gekreukelde handpalmpies wat koorsagtig probeer om die Kombi te stuur.

So donner hy oor die pad, tref die oorkanste randsteen, en dit laat ons held besluit om nou drasties van rigting te verander. Hy DRAAI. Die kombi protesteer met een wiel wat nog nie n oomblik ophou tol het nie, en dan draai dit. En draai. En draai. So maak die voertuig n sierlike agteruit U-draai, tref niks verder nie, en dan neuk hy onseremonieel in my vragmotor vas. Gee nog so laaste bokspring stuiptrekking, en dan is daar n graf stilte. Die laaste verwarde bolletjies blou tyrerook warrel in die hoofstraat af. Vlug vir hul lewens.

Nou kyk, my lorrie was my trots. Ek gee nie om of jy n swartbelt in Aikido, Kung Fu of n fokken Ford Fanbelt in streetfighting het nie. As jy aan my goed stamp, gaan jy met toegebliksemde ogies by die huis kom.

Ek swets. Frits swets, en ons storm nader. Eerste ding wat ons sien, is relatiewe goeie nuus. Hy het in die bande vasgery, met slegs n effense duik in my dieseltenk. Niks wat nie kan uitpolish nie. Die tweede opmerking is dat daar uit die skielike stilte n ondraaglike geklaag, en n geween en n vreeslike gekners van tande kom.

Frits was n ou wat n ding verskriklik vinnig kon raakpraat, met die minimum woorde.

‘Nou vir wat kerm die lot so. Niemand kan dood wees van die stampie nie’ en so maak hy sy weg voor om die Kombi met my kort op sy hakke.

Frits loer nog vir skade, toe ruk ek al die groot kantdeur oop.

So de moer in as wat ek was, en so tragies as wat die hele affere was, kon ek myself nie keer nie. Ek lag myself wawyd wakker. Frits loop fronsend nader, en as hy inkyk, bulk hy soos n donkie.

Kyk, Hannetjie het jou waarde vir geld gegee. Daar was nie hierdie verpoepte ou kitskos bekertjies in haar plek nie. Nee pappie. As ek moet skat, was daai groot polistireen koppies heeltemal instaat om n halfliter te hou. Maal met dertien, en jy sit met oor die sewe liter warm koffie.

Ek wil nie hierdie storie te drasties skilder nie, want netnou glo julle my nie. Maar, daar was nie een vierkante sentimeter in daardie voertuig wat nie toe was onder koffie nie. Of tee, of whatever hulle wou drink nie.

Natuurlik, so het hulle mekaar dan nou ook verskriklik gegooi met warm goed. Daar was n mini Augrabies valletjie wat oor die drempel van die groot deur gevloei het, en ek vat haastig my voete weg. Toe dop hulle uit. En dit lyk soos iets uit n Hollywood riller. Elke ou wat uitkom, stoom. Hoe dieper hy gesit het, hoe meer stoom hy. Of sy. Dit is n babelse verwarring, en ons kan nie verstaan wat gese word nie. Maar die toon is vreeslik die moer in. Die vrouens gee kort kwaai blaffies, wat seker Japanees moet wees vir “poepolle” en die mans vloek mekaar, én die vrouens met klein sarsies woorde, en toe breek daar n bakleiery uit.

Dit gryp en skree, en slaan blinde houe. So retireer die swakkeres, en die hele trop foeter in die pad af. Later is hulle al daar agter by Frits se lorrie.

‘Help my, dan stoot ons die besigheid uit die pad uit, ek sien ons moet fokkof hier. Pearl Harbour was n lammetjie’ vat Frits weer die situasie raak.

Ons skuif die Kombi, en ek skryf gou die nommer af.

Hulle is nou al anderkant van die pad, en die laaste wat ek sien is n ou man wat n Chuck Norris roundhouse kick heeltemal opfok, en op die naat van sy rug neerslaan.

Ek stem volkome saam. Hier moet ons wegkom.

//

Ek bel die volgende dag die saak in. So twee weke later bel AVIS my.

Dit was hulle kombi.

Die dametjie aan die ander kant in die Avis kantoor is vriendelik en professioneel…. tot op ‘n punt.

‘Jissie meneer, net so tussen ons. WAT DE FOK HET MET ONS KOMBI GEBEUR?’

Advertisements

5 Responses so far »

  1. 1

    jagternw1976 said,

    HA HA HA, hel dis funny.

    Waar is Episode 19 ……. 🙂

  2. 3

    jagternw1976 said,

    Jy moet my Monster se nommer of iets gee… la ek met die man gesels. My hele dag is nou in sy kanon in, … Moet egter sê die 2 kort storietjies was uiters goed !!! Dankie. 🙂

  3. 4

    Kokkewiet said,

    Ek stem, die kortetjies was baie goed!! Maar kan ook nie wag vir episode 19 nie….

  4. 5

    Ek het lekker hier gelees Dankie


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: