DRUIWEGRIEP

Ek plaas die volgende episode van Storiemonster so gou as wat ek kan. Geniet intussen hierdie kortetjie uit sy pen 😉 

Sogenaamde ‘express’ vragte was altyd ‘n tameletjie. Die geld was uitstekend, maar die slaap was non-excistent. Jy moes ry, pappie. Daar was nie tyd vir luukshede soos eet en piepie nie. Gewoonlik het ek so net na nege die oggend uit die Kaap uit weg gekom, en die spertyd in Johannesburg was sesuur die volgende oggend.

So trek ek en die Sinkhuis met spoed uit die Kaap uit weg. Rigting Johannesburg. Die sinkhuis was ‘n 1992 International Eagle. Groot perdekrag…. lang bene. Vergeet van die spoed waarmee jy gerieflik is. Jy trap die stomme lorrie so hard as wat hy kan hardloop. Ek gooi vinnig diesel by Joostenbergvlakte, en druk ‘n goedkoop skrikwekkende pasteitjie in my keel af, koop ‘n liter melk vir die sooibrand, en daar gaat ons. Ek was laat. Dit was al oor elf.

Nou kyk, daar is ‘n paar goed waarvoor ek sagteplekke het, maar ek kan obviously nie nou daaroor uitbrei nie. Ver op teen die lys, is druiwe. Ek vrek oor druiwe. Ek kan ‘n hele 2kg Boks deur my nek ruk sonder dat hulle kante raak. Effortless.

So stoom ek en Sinkhuis deur Worcester. Net na die laaste knap trekkie voor De Doorns, staan ‘n strategies geplaaste engel. As ‘n ou daar oor die knop kom, is jou spoed van so aard dat jy maklik kan stop. Onse engel hardloop dat hy so bars in die geelstreep, op sy skouers vars gesteelde druiwe hier uit die boorde om ons. Ek kyk, en my sin vir reg en geregtigheid verdamp soos mis voor die son as ek die blink korrels uitartend sien Wink vir my.

Ek skop die rem, en ek stop so honderd meter voor hom in ‘n geniepsige bol stof. Ons man laat Carl Lewis lyk soos ‘n amateur.

‘Is die goed gewas, my broer?’ vra ek hom heeltemal polities korrek.

‘My laarney, die goed is skoner as my gewete.’ stel hy my glad nie gerus nie.

So koop ek sommer beide bokse. Ek gooi die een agter in die slaapkajuit. As hy dit deur die nag maak, sal ek hom vir die mense by die huis gee. Ek posissioneer die een wat die korste loot getrek het netjies op die dashboard waar ek vir hom kan bykom, en dan is ek fort.

So gooi ek hierdie pragtige soet swart korrels die een na die ander in my keelgat af. En dis lekker. Moer, dit is lekker. Nee wat, Laingsburg, toe is die Boks leeg, en ek sit sterk en oorweeg om die ander een nader te skuif. Ek bedwing my lus, en Steek ‘n sigaret op.

Daar waar ‘n man oor die Dwyka begin klim, vermoed ek onraad. Lorriedrywers het oor die algemeen mae wat swembadsuur gerieflik kan hanteer. Jy eet nie waarvoor jy lus is op die pad nie, jy eet wat jy in die hande kan kry.

My maag slaan bollemakiesie. Sekondes later hoor ek diep binne in my core iets wat klink soos daai enkel silinder konstruksie laaigrawe. CHUCK…. CHUCK…. en ek weet, hier gaan darem nou kak kom. Letterlik en figuurlik. Maar, dis ‘express’ en minute later besluit ek, die maag besigheid gaan goed wees vir rytyd. Ek moet my bene styf skop, anders gaan ek ‘n glips he. As jou bene styf is, is die pedaal op die vloer. Sinkhuis respond en ons LOOP. Ek gaan met die spoed van wit lig verby Prins Albert.

Dinge raak progressief slegter. Ek los ‘n windjie wat my dokumente se hoeke laat omkrul. Ek voel iets solied agter die windjie, en skop weer die bene styf. My hele lyf slaan skielik hoendervleis uit, en die feit dat ek gaan moet stop, begin stadig deur my benewelde brein dring.

Ek begin my strategie. Ek vroetel rond in die paneelkissie, en ruk solank ‘n rol toiletpapier uit. Ek weet, net daar voor Leeu Gamka is ‘n groot aftrekplek op regterkant. ‘n Lekker Ry bome so voor dit, so ‘n man sal ‘n noodgeval in taamlike privaatheid kan uitsorteer. Ek kry my eende in n ry, en minute later, sien ek die Ry bome. Dit is nie ‘n fokken oomblik te vroeg nie.

Ek jaag die plek in teen ‘n onverskillige snelheid, en dan maak ek vas. Dit is stof en klippe en tolle gras, en skreeuende remme en algemene chaos.

Nou voor ek verder met die storie kan gaan, is daar iets wat ek moet verduidelik. As die Amerikaners ‘n lorrie bou, sit hulle so ‘n edele idee in die deur meganisme. As jy die sluitknoppie van binne af indruk, en jy trek die handvatsel oop, dan spring die knoppie uit. Ek het nog geen Amerikaanse lorrie gesien, waar die meganisme langer as ‘n week werk nie. Die Eagle was geen uitsondering nie. As die knoppie binne ingedruk was, kan jy maak wat jy wil, as jy hom nie fisies uittrek nie, is jy effektief uitgesluit.

Tweedens, ek weet nie wie het die lorrie ontwerp nie, maar hy was definitief uit ‘n familie van akrobate of hy was ‘n cagefighting kampioen. Die lorrie was linkerstuur. Die trappies om in te klim, was van so aard dat jy aan die lang reling in die kant van die kajuit moes hang, en dan so soek-soek moes grond toe. Dit was moeilik genoeg as jy nie n pending donnerse katastrofe op jou hande het nie.

Goed, so hou bogenoemde in gedagte. Vandag, hier, pen in die hand, het ek die benefit van hindsight. Ek moes seker die knoppie wat die deur sluit, ingedruk het met my stuiptrekkings daar binne. Dieselfde oomblik wat die laaste stofwolke in die aggresiewe windjie wat buite waai, verby kom, ruk ek die deur oop.

In die vlietende oomblikke voor ek besef dat ek notafok by die lorrie gaan uitkom met stywe bene nie, ruk ‘n volgende konvulsie my, en daar is nie tyd nie. Dis te hoog, ek kan nie spring nie, want my bene is so styf, ek sal ribbes breek.

Die noodlot werk nie saam nie, met die wat ek nog aan die deur vashou, en mik- mik grond toe, gryp die wind die deur, en ruk dit wawyd oop, ek het geen ander opsie nie, ek hou vas. Ons swaai so saam saam oop, en dieselfde oomblik ruk ek my broek oor my kniee. Noem dit oorlewing as jy wil, dit was net op daardie stadium die regte ding om te doen. Ek verloor alle beheer, en so met die oopswaai, kak ek ‘n pragtige koelronde konsentriese halfsirkel in die karoostof.

Die deur slaan was teen die stopper met geweld, en swaai terug. Nou het dit net momentum van my gewig wat aan dit hang. Dit moet ook baklei teen die briesie. So die return trip was heelwat stadiger as die soontoe een. Natuurlik was my aanval op die terugswaai in volle swang, en die tweede sirkel lê netjies so halfmeter buite die eerste een. Soos jy vir hulle nie met ‘n passer kan trek nie.

Dan donner die deur my vingers vas, en dis seer, en as ek seer het, dan los ek. Ek val die nege of wat voet grond toe, en die windjie waai die deur netjies toe. Ek land netjies tussen die sirkels, en die skade is nie bloedstollend nie. Voor ek nog regop strompel, het ek ‘n vieslike voorgevoel gehad daai deur gaan gesluit wees. En so was dit. My broek is nog knieghoogte en ek klim die trappies ongemaklik op, terwyl ek aan die handvatsel pluk. Ek kyk verlangend na die rol toiletpapier wat uittartend langs die rathefboom lê en lag vir my. Ek sou regtig daarvan gehou het om my storie hier af te sluit. Ek het egter oor die jare besef, dat whenever ek my naam met ‘n plank slaan, ek dit ordentlik doen. Soos ek dan nou terug grond toe klouter, kry ek ‘n gevoel in my water. Daardie gevoel wat jy gekry het as jy skelm sit en rook, en jou pa het ‘n nuwe verkyker gekoop, en sit jou en dophou van die stoep af. Jy WEET nie, maar jy vermoed iemand hou jou dop. Daardie aaklige ongemaklikheid wat so aan jou binneste kou. Ek kyk instinktief om….. en daar onder die middelste boom, heerlik in die koelte, staan ‘n rooi Honda karretjie. Die kattebak uitnodigend oop, ‘n pragtige geblomde tafeldoekie oor die wit geverfde konkryt tafeltjie, en ‘n ou oom en Tannie wat met uitdrukkings van ongeloof, gemeng met rou afsku en ‘n tikkie ongeloof daar sit. Heerlike lekkernye (wat ek van hier af kon sien het nou ‘n vaal lagie stof op) strategies op die doekie uitgepak. Ek dink wat my die meeste opgeval het was die omie. Hy het gesit met ‘n aantreklike toebroodjie,die ene blare en rooi lekkernye, so tien sentimeter van sy lippe af. Konsternasie. Wat is die odds? In die hele karoo moet ek reg voor oom Jan en tant San ‘n massiewe fokkop hê. Ek wou nog die hele ding diplomaties benader het. Ek het ‘n lekker lang skroewedraaier in die toolbox op die sleepwa gehad. Dit was maklik, wriemel die klein kantvenstertjie op die passasiersdeur uit, druk jou hand in, en maak die deur oop. Ons het dit al honderde kere gedoen. Maar, dit vat tyd. Tyd is die een ding wat ek nie langer daar wou bestee nie. Ek het ‘n lekker groot klip daar opgetel, die kantvenster in een vloeiende beweging uitgedonner, my deur oopgemaak, my gat afgevee, my hande by die kan onder die sleepwa gewas, en skaapagtig agter die groot stuurwiel ingeskuif. Beaufort was ‘n skamele tagtig kilometer weg. Ek het besluit om die afrondings skoonmaak werk maar daar te gaan doen. Soos ek die aftrekplek met ‘n stukkende ego verlaat, kyk ek sydelings na die ou egpaar. Hulle sit nog net so. Wat my opgeval het, was dat die omie nog nie die happie gevat het nie.

2 Responses so far »


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar