STORIEMONSTER – Episode 21

September 1977

Renier skuif vorentoe, en begin sy snytjie brood eet. Met sy kop laag oor die bord, kyk hy sydelings na die rye manne aan tafel om hom.

Hulle eet. Meganies, amper soos robotte, dink Renier. Wat de duiwel gaan hier aan? Hulle het almal daardie kapsule soos een man, en amper in pas met mekaar in hulle kele afgegooi. Monikke, in linies, dink Renier droog, en vat nog ‘n hap van die broodjie.

Oorkant die tafel, bars ‘n groot dubbel houtdeur oop. ‘n Massiewe swart man in ‘n helder wit uniform, stap daadwerklik die eetsaal binne. Renier merk op hoe sekere van die mans om hom inmekaar trek van vrees. Hierdie is die opsigter. Die hoofman oor duisend. Renier hou hom onderlangs dop as hy om die tafel stap.

Onverwags, sluit ‘n greep van staal om Renier se skouers, en hy word regop geruk. Instinktief staal hy homself teen die greep. As sy voete grond raak, trap hy vas, en met elke greintjie krag in hom stamp hy sy kop agteroor. Hy voel hoe hy kontak maak met sy aanvaller se gesig, en die greep om sy skouers verslap.

Hy ruk los, en swaai om. Die groot man se neus bloei, en sy oë is besig om op te swel. Vir ‘n flietende oomblik, is daar erkenning tussen hulle. Renier kan nie die gesig plaas nie, maar hy weet hy ken die man. Die sentiment word weerspieël in die groot swart gesig oorkant hom. Dit laat beide van hulle vir ‘n sekonde huiwer, dan storm die swart man vorentoe. Renier retireer, en ontwyk die gespierde arm, hy slaan die man met alles wat hy het in die gesig. Weereens steier die kolos terug.

Jissis, geen man kan staan na daardie hou nie, dink Renier grimmig. Tog, daar kom ‘n diep grom uit die man voor hom. Renier val weer aan. Sy opponent het egter besef dat hy nie met ‘n leek te doen het nie. Die groot man se hele houding verander, en Renier herken die posisie wat hy inneem. Die blok van houe, die toeslaan wanneer jou opponent van balans af is…. die hele dodelike dans van hand tot hand oorlogvoering….. hierdie is een van sy mense, besef Renier.

Hulle weer af, en val aan, en sirkel mekaar. Elkeen weet wat om volgende te verwag. Renier vou skielik sy bene onder hom in, en val grond toe. Dit het die groot man nie verwag nie. Jy sal ook nie, dink Renier, want hierdie een is nie in die donnerse handleiding nie. Renier stamp sy hand palm na bo in die man se privaatdele in.

Die reus vou dubbel. Die geveg gaan nie verder gaan nie. Renier herstel haastig, en kom regop., Hy sien die engel heeltemal te laat. Eers as die spuitnaald diep in sy boarm wegsak, en hy met soveel geweld omvlieg dat die naald in sy arm agterbly, en die warm vlaag onmiddelik oor hom kom, sien hy haar daar staan.

Hy is oorbluf vir ‘n oomblik. Sy steek haar hand na hom toe uit. Sy is so pragtig. Hy vat die koel hand, en sy lei hom terug na sy stoel toe.

‘Eet gou klaar.’ beveel sy sag.

Renier kyk af na die bordjie voor hom. Sy is reg. Daar lê sy snytjie brood nog net so half geëet.

Hy skuif agter die bord in, en met die oorblywende stukkie brood, vee hy die sopbordjie skoon.

//

Daar is vier houtdeure in die muur. Agter elke deur, skuil ‘n kwart van die hel. Die donker koue saaltjies, het twintig sitplekke elk. Voor teen elke muur, is ‘n reuse rolprentdoek.

Elke stoel het gespes, waarmee jou bene en arms vasgemaak word. Dan is daar die beelde.

Tussen ontbyt, en aandete, word jy blootgestel aan die beelde. Dit flits oor die skerm, herhaaldelik, dit brand….. eers in jou brein in, dan in jou grein in. Dag in, en dag uit. Ure op ‘n slag, sit jy en staar na die beelde. Eers is jy nie seker waarna jy kyk nie later is jy nie seker wie kyk nie, later is dit net ‘n see wat informasie, wat in jou inbrand. Jy dink dit is jy, later is jy nie meer seker nie. Jy droom, nagmerries van bloed en waansin. Skielik verander die beelde. Euforie. Dit is wie jy is. Jy is ‘n engel. Deel van ‘n groter mag. Deel van die groot magtige masjien wat die heelal bedryf. Sonder jou, kan dit nie werk nie. Jy IS god.

Elke oggend na ontbyt, word die vloeistof van die lewe in jou are ingespuit.

//

Deur die walms van waansin, stadig, en met lang tussenposes waarin Renier eufories deur die heelal sweef, flits daar beelde van sy ou lewe terug.

Petrus, die groot swart man, dien elke oggend, en elke aand sy inspuitings toe. Die groot gesig wat soekend oor Renier se gelaat beweeg. Renier verstaan nie. Soms, deur die newels, ruk-ruk die werklikheid aan hom.

Vier weke later, sit Renier in die klein kamertjie. Die klein rooi liggie op die kamera teen die oorkantse muur, gee ‘n laaste flikker, en gaan dood. Renier voel ‘n vreemde verlies. Daardie rooi liggie is sy enigste skakel met die werklikheid. Daardie rooi liggie verteenwoordig die wêreld buite hierdie hel.

Die deur skuif oop. Petrus se reuse profiel vul die gaping, en hy tree oor die drempel. Renier skuif solank sy mou op. Die swart man hurk voor hom.

‘Ek ken jou van iewers af.’ mompel Renier. ‘n Effense glimlag kom oor die blink gesig.

‘Its been almost a week, that I have been injecting you with nothing but glucose. Your capsules are empty too. Its been awhile, General.’

Renier kyk verdwaas na die man.

‘Petros Shikandano, sir. Corporal…. 5 Recce. I used to serve under Bravo company. You gave me a life here when I got wounded.’

Die man trek sy broekspyp op. Waar sy kuit moet wees, is daar net ‘n dun been, en ‘n vreeslike letsel.

‘You evacuated us, with our families to South West Africa. I will always be in your debt.’

‘How did you end up here, Corporal?’

‘Same reason as you, General. I want to destroy the coward. However, look around you. Its an operation now. I could not deal with anything of this magnitude.’

Renier herken die kenmerkende portugese aksent van die man.

‘You lost someone?’

‘Ribierro was my half brother, general. He got left behind to die like a dog. He needs to be…..’ die man soek na woorde.

Daar is ‘n geritsel in die gang. Petrus ruk Renier se mou op, en druk die naald in sy aar. In die deur staan Wilma Kotwal.

‘Why is the camera dead?’ vra sy ysig.

‘I have no idea, so is the one next door, and the one at the end of the passage.’

Sy verdwyn om sy bewering te gaan ondersoek.

‘Public enemy number one,’ se Petrus en knipoog vir hom. ‘Get your strength back, General, we would need to move fast.’

Hy staan op, en trek die deur agter hom toe. In Renier se skoot lê ‘n rolletjie opgevoude papier.

//

Huidig

Dirk soek in die donker na Marius se selfoon. Hy druk Marius weg van hom af, sodat hy teen die deur van die BMW rus. Die selfoon lê tussen die sitplekke. Hy soek deur die oproeplys en bel Heleen se nommer.

‘Hallo,’ kom die stem, skor van slaap.

‘Heleen, Dirk. Ons het ‘n probleem. Marius het ‘n skietwond. Ek is oppad soontoe. Kry vir my ‘n dokter daar by julle. Laat Hugh jou help. Hospitale is nie ‘n opsie nie.’

Voordat sy kan antwoord, lui hy af. Marius kreun, en dan sit hy regop.

‘Dit kan nie net ‘n vleiswondjie wees as jy sommer net uitpass nie. Waar is jy getref?’ val Dirk met die deur in die huis.

‘Eks fine. Hoog deur my skouer. Jy het my reg op die wond geslaan, jou poepol. Ons los vir eers die kameraderie…. ok’ kreun Marius met ‘n grynslag om sy mondhoeke.

Dirk gooi die BMW se verwarmer vol oop. Trek uit jou hemp solank. Laat ek sien.’ beveel Dirk.

‘Ek kan die arm optel, so dit kan nie te erg wees nie. Ek kry moer koud.’

‘Trek jou fokken hemp uit laat ek sien!’ skree Dirk.

Marius wriemel moeisaam uit sy baadjie, en dan die gevlekte hemp. Hy het al heelwat bloed verloor.

Dirk sien die gaatjie, net onder sy sleutelbeen.

‘Sit vooroor!’ gebied Dirk weer.

Daar is geen uitgangswond nie. Dirk trap die BMW se petrolpedaal weg.

‘Daai patroon sit nog in jou lyf, stadig besig om jou te vergiftig. Ek het Heleen gebel. Hulle sal ‘n dokter daar kry. Hier, druk jou hemp oor die wond. Stop die bloeding. Wat is jou bloedgroep?’

‘Hoe de moer moet ek dit weet.’ kerm Marius.

‘Reel nommer tweehonderd. Maak ‘n nota. Tatoeeer jou donnerse bloedgroep op jou voorkop as jy dit nie kan onthou nie.’ Dirk vat weer die selfoon.

‘Jissis Dirk, wat gaan daar aan?’ kom Heleen se bekommerde stem.

‘Luister, kry Marius se bloedgroep, en laat die dokter bloed saambring. Hy het heelwat verloor’
‘Ek wil met hom praat’ hou Heleen vol.

‘Daar’s nie tyd nie, Heleen. Ons is oor twintig minute daar. Kry alles reg, asseblief.’

//

Dokter Leroy Grisham is stokoud en bewerig. En moeilik. In die hoeke van die amper deuskynende uitpeul oë, skuil fyn stukkies wit slaap nog in die verimpelde vel.

‘Dit is vieruur in die oggend. Heleen, ek het ‘n helse respek vir jou pa, hierdie beter die moeite werd wees.’ kerm hy nasaal.

Hierdie tyd van die oggend, vat jy wat jy kan kry, dink Heleen geirriteerd as sy die ou man die huis binnetrek, en die deur agter hom toemaak.

Marius lê en kreun op die bed in die hoofslaapkamer. Die metamorfose in die ou man, is uitsonderlik. In ‘n oogwink verander hy van ‘n bewerige ou man, na ‘n dokter toe. Skielik is die hande stil, en sekuur. Hy klap met sy tong as hy na die wond kyk.

‘Hierdie wond is nie gemaak deur ‘n veerpyltjie nie, Heleen. Wat het hier gebeur?’ En voordat Heleen kan antwoord ‘Ek sal seker nooit weet nie’ en daarmee maak hy die ou leertas langs hom oop.

Versigtig gaan hy deur die ritueel om sy instrumente te ontsmet.

‘Kookwater asseblief, en baie daarvan!’ gebied hy.

//

Twintig minute later, en met Marius wat nou rustig is nadat die ou man hom vol verdowingsmiddel gejaag het, sit die dokter die klein stukkie metaal versigtig met ‘n knyptangetjie op die bedkassie neer.

Dirk kyk daarna.

‘Die ou kon meer skade aangerig het, as hy Marius met ‘n donnerse klip gegooi het.’ sê hy.

‘Nietemin, klein kaliber, ek ken nie wapens nie meneer,’ prewel die dokter ‘hy was baie gelukkig. Die wond is skoon, geen bene is getref nie, geen spiere is té erg beseer nie. Twee weke van nou af gaan hy al vergeet het hiervan.’

‘Dankie dok’ sê Dirk eenvoudig. ‘Baby Browning. Een van daardie wapentjies wat jy in jou handpalm kan vashou, en niemand sal weet nie. Sulke wapens het hulle plekke. In handsakke van ou vrouens byvoorbeeld.’

‘Ek vat jou woord daarvoor’ sê die ou man sonder om regtig notisie te neem.

‘Gehuurde hande, amateurs,’ mompel Dirk ingedagte.

‘Kyk, dis nie nodig vir ‘n bloedoortapping nie. Hy het nie soveel verloor nie. Hy gaan moeg wees more, maar hy sal dit maak. Hy is jonk en sterk.

Heleen hou Dirk met valkoë dop.

‘Ons sal moet wegkom hier, Heleen’ sê Dirk as hy haar blik ontmoet. ‘Ons het taamlik vere geruffle vannag. Hulle weet waar ons is, en ek is seker hulle hou nog die huis dop.’

Vir die eerste keer praat Hugh Nicholetts.

‘Like hell, they are. I have destroyed all the cameras, and by the time I got to the surveilance post, they were gone. Left in a hurry.’ Hy glimlag vir Heleen wat hom ongelowig aankyk.

‘Where was the surveilance post?’ vra sy, en verwag klaar die ergste.

‘Number 47, three houses up, opposite side of the road’ antwoord hy en glimlag weer soet.

‘OOOOKEEEI’ sê sy net.

‘I did some homework. House was rented out to a company. GUIDO enterprises. Does that ring a bell?’ hy kyk vir Dirk as hy die vraag vra.

‘None whatsoever, Hugh. But good work, we need to start somewhere.’ mompel Dirk ingedagte.

‘I am with you however. We need to get the fuck out of here. All the houses here….. packed like sardines, they can get in here with utmost ease. They might even have set up somewhere else. We wouldnt be any the wiser. I suggest we move to the house in Kensington.’ Hy kyk ondeund vir Heleen. ‘She wouldnt mind a single bit.’

‘Now there is a brilliant idea.’ koer Heleen.

Dirk neem die besluit instinktief.

‘Raait, pak alles wat julle nodig het. Heleen, ons sal jou kar ook moet vat.’

‘Jis, ek hoop sy start, die laaste twee maande het ons maar in Hugh se trokkie rond gerits. Ok, laat ons begin.’

Die dokter lyk skielik haastig om sy verlore slaap te gaan inhaal.

‘Ek is oppad dan. Hier, hier is ‘n paar kapsules as hy baie pyn het. Ek hoop julle kom reg.’

Heleen vergesel die ou man voordeur toe, en dan haas sy haarself terug na die slaapkamer.

‘Laat ons aan die gang kom.’ beveel sy

Hulle pak al die linne en beddegoed in Heleen se klein Suzuki.

Klein stukkies meubels pak hulle in Hugh se Trooper, laptops en Marius se PC pak hulle in die BMW.

‘Moenie worry oor die ander goed nie, fok,’ jaag Dirk hulle aan. ‘Ons kan ‘n lorrie stuur om dit later te kom haal. Pak net die nodigste.’

Marius kom dronkerig die eetkamer in gewaggel.

‘Wat gaan aan?’ vra hy.

‘Ons moet waai hier, pêl. Ons gaan Kensington toe. Daar is meer plek om te maneuver daar, en dit sal vir ons tyd koop om ons ducks in a row te kry. Klim solank in die kar.’

‘Daar is genoeg beddens by jou pa se ou huis om ons almal slaapplek te gee. Dit maak net meer sin.’ val Heleen ook in.

Marius gee ‘n flou glimlag as hy haar entoesiasme opmerk.

‘Niemand hoef seker jou rubber arm te gedraai het nie.’ skerts hy flouerig.

‘Kar toe met jou. Relax solank, ons is nou klaar.’ gebied sy en gee hom versigtig ‘n drukkie. Marius skuifel uit na die kar toe.

‘Hugh, you know where the place is?’ sê-vra Dirk die lang man.

Hugh knik.

‘Well, we are leaving then. I need to get Marius in bed, so he can rest.’

‘Go, my brother. We will see you there shortly.’

‘Thanks again,’ sê Dirk en druk Hugh op die skouer. Oomblikke later druk Dirk die BMW se neus in Kensington se rigting.

//

Heleen krap naarstigtelik deur die kombuiskaste. In ‘n groterige trommel, gooi sy die nodigste kruideniersware.

‘You’ve got everything from toiletpaper to pasta in here!’ skerts Hugh as hy in die trommel inkyk.

‘Just enough stuff to keep us fed and happy, until we can go shop.’ Sy gooi drie blikke kondensmelk bo op en klap die deksel toe.

‘Come Rambo, help me carry this. Lets get out of here.’ Hulle dra die trommel garage toe, en Heleen slaan die klein Suzuki SX4 se agtersitplek vorentoe. Hulle wriemel die trommel in, en Heleen druk solank die afstandbeheer vir die garagedeur. Hugh is klaar oppad na die Trooper toe.

Heleen skuif reg agter die stuur, en as sy die sleutel draai, kerm die aansitter, maar die motortjie vat nie dadelik nie. Shame, dink sy haar laaste gedagte op moederaarde…. sy het so lanklaas geloop. Sy draai weer die sleutel. Net vlietig, was sy bewus van ‘n effense hitte om haar bene, en ‘n helder flits……

//

Cindy Penske is ‘n pensioenaris. En ‘n vroeë voeltjie. Soos dit is met pensioenarisse, gebeur daar niks in die straat, waarvan Cindy nie weet nie. Sy staan voor haar wasbak in nommer 43, en sy hou die huis oorkant die pad dop, amper sonder om haar oë te knip.

Die mense skuld geld, dink sy minagtend by haarself. Daar is geen rede waarom ‘n mens halfses in die oggend jou goed so haastig pak, behalwe as jy aan’t hardlope is nie.

Haar mondhoeke trek af. Dit is tipies. Ry BMWs en fancy nuwe karre, maar hulle is vrot van die skuld. Sy druk weer haar hande diep in die warm skottelgoedwater in. Sy sien die lang lenige man na sy voertuig toe stap. Seker die klein vroutjie se lo….

Die huis oorkant die pad verdwyn in ‘n vuurbal. So ook haar tuinmuur. Die venster voor haar bars in ‘n miljoen stukke. Sy is vaagweg bewus daarvan dat sy deur die lug trek. Sy tref die yskas agter haar met soveel geweld dat sy voel hoe haar ribbes knak. Deur skrefies oë sien sy waasig hoe die kombuisvenster se raam, en haar voordeur op dieselfde oomblik die kombuisvloer tref.

Deur die gat in die muur, sien sy duisende fladderende stukkies rommel, terugsweef aarde toe. Sy kom met moeite tot op haar knieë. Deur die opening waar die deur was, sien sy net die voertuig waarheen die lang man oppad was, maar van hom self, is daar geen teken nie. Die straat lyk soos ‘n ashoop. Sy kan vlamme sien uitborrel by die huis langsaan. Sy hoor skielik stemme, en stadig begin honde verder op in die pad histeries te blaf. Sy kruip oor die vloer. Te oorbluf om te voel hoe die glas haar sny.

Haar krag begewe haar op die klein stoepie. Sy sak af op haar maag, want dit laat die pyn binne in haar effens vervaag. Teen die reling van die stoepie, lê ‘n vrou se sandaal. Sy verstaan nie. Die vrou se voet en deel van haar been is nog in die sandaal.

Net voor Cindy Penske haar laaste asem uitblaas, wonder sy waarom die pragtige helder vlinder op die vrou se enkel nie wegvlieg uit hierdie fokken chaos nie…..

//

DAGBOEK VAN N TIENER

Ek vra ‘n vraag, en oom Simon antwoord dit so mooi, dat ek hoendervleis uitslaan. Hoekom kan NG kerk dominees nie só wees nie ?

Alles is vreeslik nuut. Ek verstaan soms nie waarin dit presies is wat ek moet glo nie. Sonder dat ek werklik wou praat daaroor, het oom Simon my twyfel gevoel. Toe hy my uitvra, het ek spontaan net begin praat.

Is daar ‘n God? Sewentien jaar van my lewe is dit in my ingedril. Hoe kan al daardie mense wat die bybel geskryf het, verkeerd wees?

Sy antwoord het my totaal verbaas. Hy dink dat daar wel ‘n God is. Hy dink dat waarin ons glo, presies dieselfde is as al die miljoene christene daarbuite. Hy dink hulle word van die totale suiwer pad van geloof af weggelei deur mensgemaakte dogma.

Hy dink God is meer ingewikkeld as wat die bybel dit beskryf. Hy dink nie dat God, en die twee-eenheid, die Horinggod en Die Godin waarin ons glo, enigsins verskil nie. Dit is net die manier waarop hulle aanbid word, wat verskil.

En ek vra hom of hy dan nie glo dat hierdie gode ‘real ‘ is nie, en hy gee my die antwoord waarna ek nog altyd soek.

Met sy sagte diep stem verduidelik hy my dat gode definitief ‘real’ is. Nie as ‘persone’ nie, maar as hoofweë vir energie. Dat as ons ‘n kosmiese bol energie personifiseer in die vorm van ‘n god, of godin, of beide en dat ons aanbidding daarvan oor miljoene jare daardie bol energie verander in so ‘n kragtige realiteit, dat ons dit kan kontak, en van die energie kan kanaliseer.

Hy verduidelik vir my dat realiteit buigbaar is. Dat jy hierdie energie kan gebruik om realiteit te buig dat dit jou pas.

Ek vra hom of ek iemand kan doodmaak of seermaak, en hy verduidelik dat ek kan. Dit is negatiewe energie. Dit is gevaarlik, want die beheer daarvan kan so maklik draai, en jou dalk beinvloed. Hy gebruik ‘n werksonderhoud as voorbeeld vir positiewe energie. As jy voor die tyd die onderhoud deur jou kop speel, en al jou energie daarna kanaliseer, dit wel die persoon wat die onderhoud voer, kan beinvloed.

Dit is fantasties. Daar is verskeie rituele in ons geloof. Tannie Wilma het die vier van die oorspronklike agt sabbatte aan my verduidelik. Die eerste keer in my lewe, is n ritueel daar om dankie te sê. Te waardeer wat ons het. Ek…. ek kan nie wag nie!!!!!!

//

Marius en Dirk ry sonder om te praat terug Kensington toe. Dirk kyk sydelings na die jonger man. Die begrafnis was ‘n nagmerrie. Marius het nie gehuil nie. Tót hulle die kis in die kerk opgetel het. Hy het omgekyk na Dirk, en die trane het vryelik geloop.

‘Dit is te lig. Ons begrawe niks nie… niks!’ het hy oor die kerk geskree, uit die stoet getree, en Dirk het hom na die seremonie by die kerkgebou gekry, waar hy stil op ‘n houtbankie gesit en staar het na niks.

Nóu is die spiere in sy kaak dik geswel, en daar brand ‘n diep haat in sy oë.

‘Sy was reg, weet jy,’ sê hy skielik. ‘sy het nie hiervoor gevra nie. My kamstige pa het ons in hierdie kak betrek. Mag sy siel in die hel brand!’ Anders as die eerste keer wat hy die ‘generaal’ sleg gepraat het, doen hy dit dié keer uitdagend. Asof hy wil hê Dirk moet uitlash na hom toe. Sodat hy kan reageer, en van sy woede ontslae raak.

Dirk ignoreer die opmerking. Diep binne hom verstaan hy. Diep binne in hom, is daar ‘n deel wat die generaal verwyt. Hierdie mense het niks hiervan verdien nie.

‘Ons gaan hierdie ding uitsorteer, Marius. Dit is te laat vir jou ma en vir Heleen, en ek lê daardie blaam voor my eie deur. Maar die wraak gaan soet wees.’ Dirk het ‘n trilling in sy stem. Hy wil bloed laat vloei. Hy wil mense hoor kerm dat hulle jammer is. Hy wil mense sien smeek vir hul lewens, en hy wil die sneller trek.

Marius gee ‘n snork.

‘Ons het nog nie ‘n dooie donnerse tree in die regte rigting gegee nie, Dirk. Ons weet nie wie ons soek nie, en ons weet nie waar om te soek nie.’

‘Ons begin in Randfontein. As jou skouer beter is, dan gaan ruk ons Randfontein onderstebo. Daardie vrou in die kroeg weet wat aangaan. Ek sal my kop op ‘n blok sit. Ons begin daar. Koert het net voor sy dood vir my laat weet van ‘n plek in die dorp wat ou weermag voertuie herstel en verkoop. Daardie helikopter wat ons op Gideon se plaas geklits het, se enjin het daar gelê. Ek sê jou nou, ons man is in Randfontein. Ons moet hom net uitflush.’

Marius kyk hom ongelowig aan.

‘My skouer gaan my nie pla nie, Dirk. Ek trek nie ‘n fokken sneller met my skouer nie.’

Dirk ry ingedagte.

‘Hoeveel ammunisie het ons nog?’ vra hy.

‘Ek is nie seker nie, ons sal moet check.’ antwoord Marius. Die lig in sy oë brand onmoontlik helder.

‘Dit maak nie saak nie. Hugh het ‘n arsenaal gehad. Ons kan daar gaan opstock. Dit is wat hy sou wou gehad het.’

Hulle sal sommer Hugh se score ook settle.

//

Daar is ses magasyne oor vir die R5. Marius het twee op die plot in Randfontein verloor. Daar is genoeg rondtes om die magasyne te vul. Daar is agt en dertig SG rondtes vir die haelgeweer. Twee kartonne 9mm vir Dirk se Glock en Marius se Taurus 9mm pistole.

‘Twee donderbusse….. ons is heeltemal instaat om ‘n klein oorloggie te voer.’ Dirk begin die ammunisie terug te pak.

‘Waar begin ons?’ vra Marius.

‘Ek dink Solly’s is ons beste bet’ antwoord Dirk en trek die balsak se ritsluiter toe.

//

Alles lyk anders in daglig. Weereens ry hulle twee keer verby Solly’s, voordat hulle die absolute verwoesting sien uitsteek agter swart geskroeide populierbome.

Marius en Dirk ry stil tot voor die eertydse kroeg.

‘Hierdie mense het dramatiese maniere om hulle spore dood te vee.’ merk Dirk droog op.

Solly’s het tot op die grond afgebrand. Skuins agter die ruines het ‘n tweede gebou se mure nog gestaan, maar die swart residu om die gate waar eers vensters was, verklap dat dit ook vernietig is.

Hulle klim styf uit die BMW en kyk na die murasies. ‘n Maer swart man sit onder ‘n groot eikeboom op ‘n seilstoeltjie. Hy staan op en kom versigtig nader geskuifel. Dirk knik sy kop vir hom.

‘Hallo babba, wat het hier gebeur?’ vra hy.

Die man kyk hom agterdogtig aan. In sy hand het hy ‘n knopkierie. Hy druk dit in die grond en leun daarop.

‘Meester, ek weet nie. Ekke, ek werk al twintig jare hier. Baie jare vir mies Alet se pa, en nadat hy gedood het, die laaste vyf jare vir mies Alet. Nou, ek het fokkol.’

“So die plek het behoort aan mies Alet?’ vra Dirk.

‘Yebo, en sy het daaar gebly.’ Hy beduie in die rigting van die verskroeide struktuur agter die hotel.

‘Hier was ‘n vrou met rooi hare, sy het by die bar gewerk, ek wil met haar praat eintlik babba.’ gaan Dirk aan.

‘Eish, meester, daardie was mies Alet.’

Dirk en Marius kyk vir mekaar.

‘Nou wat het gebeur?’ vra Dirk

‘Meester, die polieste se die lectrics het gebrand.’ Hy leun harder op die kierie.

‘Wat dink JY het gebeur?’ vra Dirk.

‘Die polieste weet fokkol, meester. Of hulle wil nie mooi kyk nie.’ Hy kom orent, en begin in die rigting van die bouval stap.

‘Daar, my kroon, en daar, en daar.’ Hy beduie met die kierie deur die chaos op die grond om hulle. Dirk stap nader, en tel ‘n gebreekte bottelnek op. In die nek is verskroeide materiaal. Om hulle tel hulle nog vyf op.

‘Petrolbomme,’ sê Dirk as hy aan die verskroeide materiaal ruik.

‘En die polieste, hulle kyk, maar hulle sien nie.’ Hy stap in die rigting van die huis. Tien meter voor die gat wat die voordeur moes gewees het, is ‘n ronde kol verskroeide gras, seker drie meter in deursnee. Weereens stop die swart man, en beduie met die kierie.

‘Hieso het mies Alet gebrand, my kroon’ Die hartseer is vlak op sy gesig. ‘Sy het geskree, meester, ons het haar gehoor daar onner, maar toe ons het hier gekom, sy was klaar gebrand.’ Hy leun weer op die kierie en staar na die kol in die gras.

‘Babba, hier was baie keer hier so groot man. Met die baie hare en die groot baard. Ken jy vir hom?’

Die swartman se mondhoeke trek af.

‘Ek ken vir hom, meester. Hy is die gemors van ‘n witman’ sy stem bewerig van haat.

‘Wat is sy naam, en waar kan ek hom kry?’

‘Eish, my kroon, ek wil fokkol sê van daardie man nie. Hy sal vir my ok brand.’

Dirk kyk weer na Marius.

‘Babba, dink jy daardie man het die plek gebrand?’ vra Dirk

‘Miskien meester, maar hy sal weet wie het die plek gebrand.’

‘Waar kry ek hom, oubaas?’ vra Dirk.

Die ouman kom regop, en kyk om hom rond, asof hy bang is iemand spioeneer op hulle. Hy kug en krap krap met die kierie op die grond.

‘Jy sal vir hom kry by die caravan park. Die een daar by die pad van Westonaria. Hulle roep hom Kees. Sy surname ek ken hom nie.’ Daarmee draai die ou man om, en skuifel weg.

//

Fairwind Caravan Park is ‘n hool.Hulle stop voor die lendelam tydelike asbesgebou, wat net dit lyk… tydelik.

Dit het ‘n dubbeldeur, en oor die verbleikte onderdeur hang ‘n groot vet vrou. Krullers in haar hare, en ‘n sigaret wat lui uit haar mondhoek hang.

‘Kan ek julle help?’ kraak die stem. Die sigaret wip op en af, die as val voor by haar rok in. Dit is seker die skoonste ding wat sy tussen haar tiete gehad het hierdie jaar, dink Marius grimmig. Dit lyk nie asof dit haar pla nie.

‘Ons is opsoek na Kees!’ skiet Dirk ‘n skoot in die donker.

‘Julle ouens lyk na moeilikheid. Wat het hy nou weer gedoen?’ vra sy, die sigaret nog steeds stewig geplant in die mondhoek.

‘Nee, hy kan ons dalk help met parte vir ‘n voertuig wat ons bou…’ tas Dirk verder in die donker.

‘Goed dan’ stem sy in, en skuif die slot op die deur oop. Die geheel prentjie is nog meer ontstellend. Haar bene kan ‘n sirkustent regop hou. Sy sak met ‘n kreun die twee trappe grond toe af, en as sy voor hulle verby waggel, ruik sy soos ou mieliepap. Sy beduie in die stowwerige tweespoor paadjie af.

‘Julle ry nou hier af, dan maak die pad ‘n T, dan draai julle links, totdat die pad weer ‘n skerp regs maak. Op die hoek. ‘n Groot Jurgens. Hy sal seker sit en suip voor onder die tent, julle kan hom nie mis nie. Hy hou by homself.’ Sy draai om en waggel weer moeisaam die trappies op.

‘Charming,’ fluister Dirk vir Marius.

//

Die Jurgens staan op sementblokke. Onder ‘n Black Wattle en dit lyk asof niemand tuis is nie. Marius en Dirk druk elk ‘n 9mm in hulle gordels, en klim uit die kar. Dirk steek vas.

‘Ons is te laat,’ sêhy eenvoudig. Marius trek ‘n wenkbrou op.

‘Hy is dood, check die vlieë.’ Dirk beduie na die venstertjie links van die deur. Die vlieë sit swart teen die geskeurde kantgordyn. ‘Ek kan die dood ruik.’ voeg Dirk droog by.

Die deur is nie gesluit nie. Dirk druk dit oop, en skielik is die reuk oorweldigend. Hy lê uitgestrek op die bed. Arms wyd uit gestrek, asof hy wag vir ‘n kruisiging. Tussen sy oë is die klein vlekkie al swart. Die oë weg uit hul kaste. Beide mans draai om en stap terug kar toe.

By die asbes kantoor, klim Dirk uit, en as die gesette vrou oor die deur leun, sê Dirk:

‘Jy beter die polisie bel. Hy is dood. Al ‘n paar dae.’ Dirk slaan die deur toe, en ry uit in die pad.

//

‘Jirre, elke leidraad is daadwerklik uitgewis. Asof hulle bleddie weet waar ons gaan soek. Ons is besig om uit opsies te hardloop. Wat bly oor?’ Marius kyk mismoedig by die kantvenster uit.

‘Hulle vee hulle spore dood, en dit beteken hulle weet ons gaan na hulle soek. Hulle is op die agtervoet. Iewers gaan hulle glip, en ons gaan ons man hê, mark my words.’ antwoord Dirk.

‘Wel, Randfontein is die nes. Ons het ‘n blank getrek hier. Ek kan nie sien dat dit elders gaan beter gaan nie!’ Marius is nie lus om vals hoop ingepraat te word nie.

‘Nog nie heeltemal ‘n blank nie, boet. Daar is nog twee ou leidraadjies wat ek wil opvolg.’

‘Die workshop. Wat nog?’

‘Ek dink ons gaan gee sommer die hele Kees debakel self aan. Ek brand om met ene Kaptein Benecke te praat. Ek het ‘n gevoel in my water dat hy tot by sy oogballe betrokke is hier. Om die waarheid te sê, sal ek nie verbaas wees as ons ontwykende geheimsinnige man, nie self in die mag is nie. Dalk selfs hoër op. Dalk regering. Die hele opruimings operasie wat hy hier afgetrek het, smack van die militêr. Ons was dit eens dat dit gevaarlike mense is dié. Ek dink tot dusver het ons hulle te vlak gekyk.’ Dirk byt sy onderlip. Hy stuur die BMW in die rigting van die hoofstraat.

//

Agter die bekende lang toonbank, staan die keer ‘n wakker jong polisievrou. Haar oë flits tussen Dirk en Marius. Verder is sy vlot in afrikaans.

‘Twee dinge, dame,’ begin Dirk. ‘Ons kom nou net van Fairwind karavaanpark af, waar ons op ‘n man se lyk in ‘n woonwa afgekom het. Ons het die bestuur in kennis gestel, het hulle u al verwittig.’

‘Ons het ‘n voertuig oppad soontoe meneer. Ek sal graag ‘n verklaring wil neem van u af ook.’ Sy begin solank klaar die nodige dokumente reg te kry.

‘Is kaptein Benecke in?’ vra Marius onverhoeds.

‘Kaptein Benecke het dringende besigheid met Duitsland gehad. Hy is al meer as ‘n week gelede weg. Kaptein Meintjies staan in vir hom. U kan hom spreek.’

Dirk en Marius kyk betekenisvol vir mekaar. Nog ‘n doodloopstraat.

‘Wie is die bevelvoerder hier?’

‘Hoeka kaptein Benecke, meneer.’

‘n Doodloopstraat met ‘n hoofletter “D”.

Dirk lê die verklaring af.

‘Kan ek met dié kaptein Meintjies praat, dame?’ vra hy.

Sy knik haar kop, en tel ‘n vuilgroen gehoorbuis op. Sy praat gedemp, en as sy dit neersit, beduie sy vir hulle om haar te volg.

//

Kaptein Meintjies is ‘n groot bruin man. Hy het sakke onder sy oë, en hy lyk asof hy die wereld se probleme op sy breë skouers moet dra. As Dirk en Marius in sy kantoor instap, bly hy sit, en kyk met opgetrekde wenkbroue na hulle.

‘Waarmee kan ek help, menere?’ die stem oordadig behulpsaam. Dirk weet hy het hier met ‘n controlfreak te doen. Hulle sal moet lig trap.

‘Ons was eintlik opsoek na Kaptein Benecke.’

‘Besigheid,’ mompel die man en vee sy hand deur die lug. ‘Julle kan met my praat.’ Hy ry sy stoel.

‘Probleem is’ sê Dirk beleefd ‘ ek het ‘n moord, of poging tot moord direk aangemeld aan Kaptein Benecke, en ek dink nie dit het verder as sy kantoor gegaan nie. Ek wil weet hoekom?’

Die man se oë vernou.

‘Ek het geen idee waarvan u praat nie.’

‘Ek praat van Anette Tait, kaptein. Om alles te kroon, is daar op ons geskiet, ek wi….’

‘Het julle dit aangemeld?’

‘Wat? Die skietery. Ons het nie eers ons tyd gemors nie, kaptein. Die res het op dowe ore geval, waarom sal ons verder bodder?’

Dirk stap ‘n dun lyn.

‘Daar lê n streep lyke in hierdie dorp, Kaptein. Alles gekoppel aan ‘n enkele persoon. Ek soek daardie persoon, Kaptein!’

Hy spring so vinnig regop, dat sy stoel omval.

‘So julle twee stap hier in, beskuldig my daarvan dat ek nie my job doen nie, en julle weet van lyke waarvan ek nie weet nie. Wie de fok dink julle is julle? Ek kan julle gatte agter tralies hê in twee minute… flat.’

Dirk besef hy het te ver gegaan. Hy besluit om meer taktvol te wees.

‘Kaptein, ons wi…’

Dirk het Marius net vinnig uit die hoek van sy oog sien beweeg. Die groot kaptein steier terug, sy hand oor sy mond. Marius duik bo-oor die man se lessenaar, en as beide mans op die grond val, druk Marius die kaptein se eie dienspistool in sy gesig.

‘Maak oop jou bek!’ beveel Marius, sy stem yskoud. Hy druk die pistool diep in die polisieman se mond, en trek die klein haantjie oor.

‘Ek het gister my toekomstige vrou begrawe. Vier maande gelede het ek my ma begrawe, en kort voor dit is my pa dood. So verskoon my as ek nie vreeslik geimponeer is met jou bravado nie. Luister nou baie mooi vir my.’

Die polisieman se oë is groot en verwilderd. Dirk vryf tussen sy oë. Dit is nie heeltemal wat hy ingedagte gehad het nie.

Marius staan op, hy haal sy beursie uit sy sak. Uit ‘n kantsakkie, vryf hy behendig ‘n klein paspoort fototjie uit. Met sy seer arm hou hy die groot polisieman se wapen op hom gerig.
Blitsig is hy weer op die polisieman.

‘Hier is ‘n mooi fototjie van my, jou stuk drek. As Benecke terugkom, dan vat julle tweetjies die foto vir die man wat julle toutjies trek. Dan vertel julle hom, dat ek,’ en Marius gooi die foto op die kaptein se bors ‘hom gaan doodmaak. Hy het my mense se bloed op sy hande, en as jy en jou plaaslike clowns in my pad kom, stel ek voor julle bestel solank ekstra bodybags.’

Marius staan op, Dirk kan die rou woede op die gesig sien. Die eerste keer sien hy die generaal in die jong man. Die intensiteit van die haat op die jong gesig. Dit is die begin van die kak, dink Dirk. Hulle het die verkeerde perd opgesaal.

//

‘Ek kan nie glo ons het net daar uitgestap nie’ Dirk giggel. ‘Die uitdrukking op die stomme vrou se gesig toe jy by die toonbank vir haar haar bevelvoerder se wapen gee, was ummmmm… priceless.’

‘Eks moeg vir dié kak, Dirk’. Die woede nog vlak in hom. ‘Hulle moet my kom vertel Kaptein Benecke het besigheid MET Duitsland. Jissis, hy is ‘n stomme polisiekaptein. Sy enigste besigheid met Duitsland, is as hy sy fokken Citigolf laat diens by die agente…. Waarheen gaan jy nou?’

‘Nog net die 4×4 plek, ek weet nie waar dit is nie, maar ons sal gou genoeg uitvind.’

Dirk swaai by ‘n vulstasie in. Hy ry verby die pompe, om na die werkswinkeltjie toe.

‘n Klein vuil mannetjie kyk oor ‘n dikraambril na hulle.

‘Kan ek julle help? Ek het ‘n special op timingchains vir daai goed’ Hy beduie met ‘n vuil vingernael na die BMW toe.

‘Nee wat pêl, dankie’ sê Dirk. ‘eintlik soek ek ‘n plek wat ou weermagvoertuie se parte sal aanhou. Ek kom van Johannesburg af, ek hoor hier is so ‘n plek hier.’

‘Jy soek na McIntosh vierwieltrek. Hulle is net reguit op in hierdie pad…. sirkel drie-uur uit, so drie kilometer, op linkerhand.’

‘Dankie maat.’ Dirk klim terug in die kar.

//

Soos dit nou al gewoonte is, ry hulle eers wéér verby die plek. Heeltemal anders as wat Dirk verwag het, staan daar slegs ‘n paar ou onderstelle rond, en ‘n ou Bedford kajuit lê geroes in die lang gras. Die plek lyk verlate. Die hek is toe met ‘n slot en ‘n dik ketting.

Dirk stop voor die groot hek, en as hy uitklim, vroetel hy in sy broek se sak, en bring ‘n klein leersakkie te voorskyn. Hy grawe in die verroeste slot se binnegoed met ‘n dun metaalskyfie, wat hy nadat die slot protesterend oopspring, weer versigtig op sy plek in die sakkie sit.

‘Ek sien daar is nog moerse gapings in my opleiding.’ merk Marius droog op.

Dirk glimlag net.

‘Maak maar notas soos ons aangaan.’ Hy wys na die groot sinkstoor.

‘Lyk soos nog ‘n doodloop straat.’

‘Ek sal nie verbaas wees nie…’

Die groot stoor se massiewe sinkdeur is toe getrek, maar nie gesluit nie. Dirk druk dit oop, en hulle haal die 9mm pistole uit hul gordels.

Binne lê daar hier en daar nog ‘n verdwaalde part rond. Etlike waaierbande lê verstrooid oor die sementvloer. Die hele sementvloer is oortrek met die spore van verskeie vurkhysers. Hulle beweeg in die rigting van die trappe wat lei na drie asbes kantore wat seker vier meter bokant grondvlak staan.

Die leersakkie spoeg weereens gereedskap uit, en een vir een, sluit Dirk die deure oop.

‘Hulle is bitter haastig hier weg. Kyk, al die kabinette en kantoor toerusting staan nog net so. Hier is nie ‘n dokument in sig nie.’

Hulle klim weer grond toe. Die groot toegeboude werkswinkel is gesluit. Dirk is nie lus vir sukkel nie, en met een kragtige skop, val die deur uit sy raam. Tot hul verbasing gaan die massiewe oorhoofse ligte aan as Marius die skakelaar druk.

Hulle kyk rond. Onder die groot werksbank, trek Dirk ‘n reuse rol draad uit. Hy strek dit oop uit op die werkswinkel vloer, en as hy regop kom, kyk hy Marius in die oë.

‘Hierdie my vriend, is die wiring harness…. of deel daarvan, van ‘n Alouiette helikopter se enjin. Ons is op die regte plek.’

‘Eks jammer ek is altyd die ewige pessimis’ sê Marius ‘maar weereens is hier fokkol. Weereens is die spoor dood.’ Hy gaan sit op die punt van die werksblad.

‘Ons het nog steeds presies fokkol.’

Word vervolg … 

7 Responses so far »

  1. 1

    monster134 said,

    As alles goed gaan. maak ons teen volgende week hierdie tyd klaar. Daar is nog so 80 Word bladsye oor.

    Is julle nog by?

  2. 3

    monster134 said,

    Lol….goed so. Die kak gaan taamlik spat van hier af.

    Later julle. Ek moet gaan werk.

  3. 4

    Charms said,

    Ek kan nie wag nie!!!!

  4. 5

    jagternw1976 said,

    Waar is episode 22….. Dit is al 09:35 ….. my Tee raak koud.

  5. 7

    raldutoit said,

    Monster 134, kontak my asb natmed@mweb.co.za
    Ek het ‘n kontak wat kan help om jou stories in boekvorm uit te gee, met klein veranderings.
    Groete, Renier.


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: