STORIEMONSTER – Die slot

Die skoolsaal is heeltemal te groot. Die luidspreker sisteem is egter uitstekend. Dirk sit dit af. Hy roep die groepies opgewonde manne nader, en beveel hulle om die skoolbanke wat spesiaal vir hulle uitgesit is, teenmekaar te skuif. Dirk het vroeër die middag ‘n los tru-projektor skerm georganiseer, en hy laat die groot een voor in die saal, weer wegtrek in die dak in. Hy wil hierdie vergadering so knus as moonlik hou. Die manne leer ken, en so min as moontlik van wat gesê word hier binne, laat uitlek na nuuskierige oortjies buite.

Hy merk Speurder Sersant Marx op in die geledere. Hy knik ‘n groet uit.

Renier van der Berg en Brigadier Milla Keyter kom die groot saal saam ingestap. Daar is ‘n murmurering onder die manne. Renier stap dadelik na die tru-projektor skerm toe, en hy groet die manne met’n eenvoudige: ‘Naand kerels, ek is Renier van der Berg.’

Daar is ‘n oomblik stilte, dan staan ‘n bonkige kort rooikop kereltjie op. Sy gesig oortrek met sproete. Hy kyk na sy maats om hom.

‘Generaal Renier van der Berg.’ sê hy eenvoudig.

Elke man staan op. Soos een man, hulle strek, en salueer. Dirk sien die vlam ontbrand agter die Generaal se oë. In sy binneste brand daar ook ‘n trots. Niemand kan Renier van der Berg sy plek in die geskiedenis van hierdie land ontneem nie. Dan lig die ou man beide hande, en almal gaan sit.

‘Dankie kerels. Ek gaan julle nie verveel met snert nie.’ Hy beduie vir Dirk om die projektor aan te skakel. Die mans kyk na die afdruk van ‘n perfekte lugfoto. Die detail versterk met ‘n dik swart pen. Renier trek die lang wystok uit die skede langs die skerm, en hy tik op die huis wat reg in die middel van die foto sit.

‘Net vir skaaldoeeleindes, sodat julle afstande kan skat, die opstal is tweehonderd en vyftig vierkante meter. Twaalf meter by veertien. Voordat ons by die uitleg kom, wil ek julle verdeel in groepe. Kerels, moet nou nie vir my kwaad wees nie, ons is nie meer almal jonk nie.’

Renier kyk na die mans voor hom. Dan kies hy agt van hulle. Die bonkige rooikop is deel van die groep. Almal jong manne. Almal in goeie fisiese toestand. Hy laat hulle eenkant staan.

‘Julle is Alpha groep.’

Hy kies ‘n verdere agt persone. Manne met groot lywe.

‘Julle is Bravo groep’

Die manne deel in twee groepe sonder teestribbeling.

‘Brigadier, Alpha groep sal met die deursnit sagtesool polisieskoen toegerus moet word.’

Hy tik op die lugfoto.

‘Daar is agt torings om die huis. Almal honderd meter uitmekaar uit. Daar is ‘n bietjie geluk en bietjie ongeluk hier betrokke. Daar is geen muur nie. Dit beteken ons sal nie hoef te klim nie, wat goed is. Dit beteken ook dat daar geen skuiling is vir Alpha om die torings buite aksie te stel nie. Julle sal fisies deur die spreiligte onder die torings moet sluip. Die lere op na die torings is presies in die middel van die struktuur. Elkeen van Alpha se lede, sal toegerus word met ‘n 9mm Taurus, toegerus met knaldempers en kort patrone. Kerels, dit beteken kopskote. Julle klim op, en neutraliseer die wagte in die torings. Is daar enigeen van julle wat nie daardie sneller sal kan trek nie?’

Renier kyk indringend na Alpha groep. Hulle almal bly staan. Kenne uitgestoot. Skouers vierkantig.

‘Reg, hierdie hele uitrusting word militaristies bedryf. Kotwal bly ‘n parabat. Presies middernag ruil die wagte in die torings om. Hulle doen twaalf uur skofte. So die manne in die torings gaan nie te moeilik wees nie. Hulle sal moeg wees. Alpha sal klaar die torings betrek het. Teen tien voor middernag wil ek almal in die torings in posisie hê.’

Alpha-groep skud beamend hul koppe.

‘Bravo gaan toegerus wees met die deursnit weermag khaki uniform. Dit is wat Kotwal se manne dra.’

Renier beduie op die kaart na ‘n struktuur omtrent tweekeer die grootte van die huis. Dit is langwerpig gebou en strek oor die hele westelike grens van die foto. Die torings op daardie kant is reg agter die struktuur.

‘Bravo se agt lede, gaan nadat Alpha die wagte neutraliseer het, elke toring se basis dek. Julle sal dieselfde 9mm knaldemper wapens hê. Julle neutraliseer die aflos wagte. Kerels, sal julle die snellers trek?’

Die uitslag is dieselfde as wat Alpha groep se antwoord was.

‘Goed…. nou moet julle mooi luister.’ Renier soek deur die menigte voor hom, hy kies ‘n ouer man uit.

‘Wat is jou naam?’

‘Ek is kaptein De Vries’ antwoord die man.

‘Goed kaptein. Alpha….. in elke toring, is daar ‘n skakelaar teen die muur wat die spreilig onder die toring beheer. Kerels, julle sal moet kommunikeer, sodra Bravo die aflos neutraliseer het, flikker elke toring sy lig een keer. Kaptein de Vries, as jy tevrede is dat al die torings onder beheer is, skiet jy die flare waarmee ons jou sal toerus. Bravo, en dit is belangrik, as daardie fokken flare waai, trek elkeen van julle die reflekteerbaadjie wat ons julle ook mee sal toerus aan. Is dit duidelik?’

Die manne knik.

‘Ok, elke toring het ‘n 7.62 masjiengeweer met ‘n 120 grade radius. Alpha, julle beman die gewere en wag.’

‘Goed, die res van julle, gaan ek opdeel in vier groepe van ses. Julle is Charlie een tot vier. Julle manne gaan in die Casspirs wees.’

Hy beduie vir Dirk, en Dirk skuif ‘n nuwe foto oor die projektor. Dit is dieselfde lugfoto, net kleiner met meer detail van die paaie om dit.

‘Charlie, ek soek in elke luik ‘n man met ‘n nagvisie verkyker. As julle hier van die hoofpad afklim, is dit ligte af. Die man in die luik gaan die drywer se oë wees. Julle gaan hier,hier en hier, uit al vier windrigtings deur die mielielande kom. In totale duisternis. Die ander vier lede van elke voertuig sal in die dienooreenkomstige skietgate gereed sit met elkeen ‘n R5. Is dit duidelik?’

Die manne knik.

‘Julle sal teen tien voor middernag posisies inneem wat ek, Charl Steyn, Marius van der Berg en Martin Marx vir julle te voet sal uitwys. Julle sal ongeveer ‘n kilometer weg wees van die opstal. As Kaptein de Vries die flare laat loop, storm julle die opstal. Verstaan julle?’

Almal knik.

‘Goed, dan, die belangrikste deel van die operasie. Charlie gaan verdeel in twee groepe. Twee Casspirs met vier manne elk in die skietgate, gaan die barakke dek. Skiet alles wat nie reflekteerbaadjies aan het nie. Kerels, gaan julle die snellers kan trek?’

Hierdie keer antwoord die manne luidkeels. Die moraal is hoog.

‘Goed, die 7.62’s uit die torings sal julle dek. Die 7.62’s op die torings oorkant die barakke, sal die tweede afdeling van Charlie moet dek. Kerels, hier…’ Renier wys na ‘n klein vierkant op die lugfoto ‘hier is ‘ vierkantige gat in die grond. Niks wat dit vir julle sal laat uitstaan nie. Die manne in die luike behoort dit te kan sien. Dit is ongeveer honderd meter weg van die opstal. Kerels, maak julself bekend met die ligging, alle ligte op die voertuie aan. Dit is die ingang na die bunker onder die huis. Dit is hier waar ons teiken sal wees, en dit is hier waar die dwelms verpak word.’

Renier kyk na die groepie van vyf mans wat nog stil eenkant sit.

‘Dra enigeen van julle kennis van plofstof?’

Hulle skud hul koppe. ‘n Klein maer mannetjie in Charlie- een steek sy hand op.

‘Ek is ‘n plofstofdeskundige.’

Renier ruil die twee manne om en vra die maer mannetjie sy naam.

‘Ek is sersant Daveys, generaal.’

‘Sersant, jy sal toegerus wees met ‘n valhelm met ‘n lig. In jou besit sal vyftien kilogram Semtex wees, met slagdoppies. Daar is twee en twintig trappe af in hierdie ingang, en die deur is 6mm pantser. Jy stel, en jy kom ‘n fok weg daar. Charlie twee sal retireer sodra jy weer bogronds verskyn. Slaan dekking en blaas die deur. Verstaan julle?’

Weereens die luide antwoord.

‘Goed, as die deure oop is sal Bravo instorm en beide Charlie een en twee sal die Casspirs verlaat en die opruimings werk doen. Kerels, sal julle die snellers trek?’

Daar is ‘n luide beaming wat deur die skoolsaal eggo. Die manne is lus.

‘Goed, waar is die loodse van die twee helikopters?’

Teen die agterste muur van die saal, tree twee manne na vore.

‘Goed, julle twee sal die voëls uit die prentjie hou.’

Renier beduie weer op die kaart na ‘n oopte ongeveer tien kilometer weg van die Kotwal woning.

‘Sodra die operasie uitgevoer is, sal ons julle per radio kontak. Sit altwee helikopters hier neer.’

Renier wys na die oopte voor die opstal.

‘Charlie een en twee, maak seker julle voertuie is uit die pad, gee die voëls spasie.’

Hy beduie na die twee loodse…

‘Julle is Delta groep.’

Hulle knik.

‘Delta een sal land en agterbly om die teiken te vervoer na Pretoria sentraal, waar ons vir hom ‘n heerlike kamertjie geboek het.’

Die manne lag.

‘Delta Twee sal land, en Alpha sal Charlie Een se wapens oorvat, en julle sal uitgevlieg word na die Kamfer-nes toe in Johannesburg. Verstaan julle?’

Hulle knik.

‘Ek en Marius van der Berg, my seun, sal julle vergesel.’

Die vier mans wat nog sit, word aangespreek.

‘Julle manne sal ‘n halfuur na middernag die perseel in Randfontein waar die dwelms vervaardig word betree. Ons het ‘n Nyala in die hande gekry. Haal die hek uit kerels. Daar is net sewe persone op die terrein. Ons soek hulle lewendig. Almal is vroue.’

Renier kyk na die menigte om hom.

‘Sit kerels….. relax, ons gaan gou weer hierdeur.Het julle enige vrae?’

Die loods in beheer van Delta Twee steek sy hand op.

‘Ek neem aan ons tydsberekening sal moet perfek wees by die Kamfer teiken?’

‘Korrek, ons sal eers land by Oliver Tambo lughawe. Dit is gereël. Dirk Dhooge sal by die Kamfer kompleks wees. Ons sal wag vir sy teken. Soos ek gesê het, hierdie operasie geskied militaristies. Alhoewel daar gewoonlik ‘n vyftien minute speling kan wees in die tyd wat die dwelms die Kotwal perseel kan verlaat, het dit selde later as 23:15 gebeur. Die voertuie ry meer as ‘n uur en ‘n half na Kamfer toe. So ons het heelwat tyd. Dirk sal eers seker maak die voertuie het hulle bose inhoud afgelaai, voordat ons sal toeslaan. Dit is van kardinale belang dat die voertuie die dwelms klaar afgelaai het.’

‘Ek het daardie deel onder die knieg.’ verseker Dirk Dhooge hulle.

‘Goed menere, laat ons die hele operasie gou weer deurgaan.’

Woensdag 5 Januarie 2011, stop Charl Steyn se glanslose weermagmotortjie agter Martin Marx se huis. Charl stap haastig by die agterdeur in. Dirk en Marius wag hom in.

‘Môre menere. Ek het nuus. Is hier koffie?’

Hulle sit met die stomende bekers voor hulle..

‘Kamfer kry môre-aand ‘n moerse besending. Die rede hoekom dinge gesloer het, is dat die Maatskappy ‘n transaksie beklink het met die Chinese wat die hele donnerse Johannesburg van Crystal Meth voorsien. Dit verklaar die massiewe hoeveelheid dwelms op die Kotwal perseel.’

Hy vat opgewonde ‘n sluk te warm koffie.

‘Dit lyk vir my ons gaan twee reuse voëls met een klap doodslaan. Die top brass van die Chinese dwelmsirkel gaan ‘n moerse knock vat hier. So môre is D-dag. Is die hele taakmag op gereedheidsgrondslag?’

‘Hel Charl, ons wag al ses weke. Ons sal hulle sommer vanmiddag weer bymekaar kry. Ons sal reg wees môre-aand. Moenie worry nie.’

//

Renier van der Berg het die operasie, Operasie Maanskyn gedoop. Vrydagmôre 6 Januarie 2011 om kwart oor twaalf, verf Kaptein de Vries se flare die naglug helder rooi. Die Casspirs storm. Renier van der Berg swaai die reuse flitslig waarmee hy die gepantserde voertuig begelei het na links, en begin in die donker te soek na sy seun. Hy hardloop oor die platgedrukte mielieplante, en hy roep gedemp na Marius.

‘Ek’s hier!’ kom die antwoord, en dan staan pa en seun regoor mekaar in die baan wat die groot voertuig deur die land getrap het.

Renier praat vinnig, hortend. Hy is nie meer jonk nie.

‘Marius, daar is iets wat ek hulle nie vertel het nie. Kom!’

Hulle hardloop halsoorkop deur die heuphoogte plante wat nie slagoffers van Operasie Maanskyn was nie. Die wit Landcruiser doem uit die duisternis op, en die twee mans klim haastig in. Renier stamp die voertuig in rat, en gooi die hoofligte op skerp. Hy jaag roekeloos in die stofpad in, en draai die bakkie se neus in die rigting van die Kotwal opstal.

‘Daar is ‘n ander uitgang uit daai fokken bunker uit, Marius. Noem dit ‘n nooduitgang. Ons het tyd. Die opening waar dit uitkom is ongebruik. Was seker nog nooit gebruik nie, ek het gaan kyk, dit is toegegroei met gras. Hulle gaan nie net daar uitstap nie.’

Renier leun agtertoe, en krap vir ‘n oomblik agter die sitplek, terwyl hy nie sy oë van die slegte stuk grondpad afhaal nie. Hy ruk ‘n koelvaste baadjie uit.

‘Trek aan, en maak gou!’ gebied hy Marius.

‘Wat is die plan?’ vra Marius terwyl hy sukkel om die stywe versterkte materiaal om sy lyf te wikkel.

‘Vergelding…. Kotwal is ‘n lafaard. Hy sal ‘n klein gewapende groepie bymekaar skraap, sy manskappe en gewondes net so los, en probeer ontsnap deur sy geheime roete. Marius, jy gaan nou jou oomblik hê.’

Hy bly vir ‘n oomblik stil…

‘Gebruik dit wys, my seun. ‘n Koeël in die kop is dalk vinnige water op die vlamme van haat, MAAR…. jy kan dat daardie monster uiteindelik sy straf kry. Die een wat hy verdien in ‘n koue sel…. vir die res van sy lewe.’

Die “my seun” opmerking laat vir ‘n oomblik ‘n emosie deur Marius vloei wat hy nie verstaan nie. Hy onderdruk dit, en hy maak seker sy 9mm glock is gelaai en reg vir aksie. Die Cruiser skuif skeef in die pad as Renier die rem met mening trap. Renier klim haastig uit, en hy strek oor die kant van die voertuig se laaibak. Hy bring die dofbruin R4 masjiengeweer te voorskyn, en hy stamp ‘n vol vyf en dertig rondte magasyn in plek, en druk die armpie van die dood in die automatiese posisie.

Hy beduie vir Marius om hom te volg, en hulle hardloop deur ruie skouerhoogte gras, en skielik hou die ouer man sy hand op.

‘Daar’ en hy beduie in ‘n effense oopte waar die gras minder ruig is in. Marius sien die donker vierkant wat die eentonigheid van die plantegroei om dit breek. Renier beduie vir hom om plat te lê.

‘Los die lyfwagte vir my. Hulle sal ook koeëlvaste baadjies hê. Jou wapen sal nutteloos wees. Jy sal Kotwal dadelik herken. Hy sal die drol wees wat heelagter wegkruip.’

In die verte hoor hulle nog sporadies sarsies geweervuur. Die handtekening van oorwinning. Die opruiming…. die doodskote.

Dan, krakend en met verskeie kragtige stote van binne, swaai die luik in die grond oop. Marius voel Renier se hand op sy arm…. hy blaas sy asem uit en wag. Die kop wat stadig deur die opening kom, verwag nie teëstand nie. Die luik word oopgegooi, en die Uzzi in sy vuis word argeloos neergegooi voordat hy uit die gat wriemel. Die man draai om en steek sy arm uit. Die gemanikuurde sonbed bruin hand vat dit vat, is sterk, en die stem agter dit gesaghebbend. Kwaad…

‘Trek, idioot, hier is nie trappe nie!’

Die man trek Simon Kotwal uit die luik, en Marius verstyf. Renier druk weer sy arm, hou hom terug. ‘n Tweede wapen word aangegee, en dan verskyn nog ‘n kop in die opening. Die laaste man is ratser, en hy wip uit en draai om sodat hy die versteekte deur kan toegooi.

Die R4 hoes vinnig ‘n doodsrammel. Die kleiner man val rukkend neer langs die half verligte oop gat. Die grote swaai sy makker se wapen op, maar die R4 bulder weer. Langer, meer dringend, en die groot man word skielik met die helfte korter as veertien 5.62 Nato rondes sy bene onder hom uitruk. Hy val gesig eerste in die grond voor Marius. Dit ruk die jong man oor tot aksie. Kotwal gryp na die skede onder sy arm, waar Renier die bonkige silinder van ‘n .357 Magnum in die skielike helder lig van sy flits kan sien.

Kotwal is heeltemal te stadig. Marius duik hom met ‘n sierlike boog, en Renier hoor hoe die man se asem hom verlaat. Renier kom orent, en dan gaan staan hy stil. Dit is sy seun se eer om die geveg klaar te maak. ‘n Leeftyd. Weggegooi agter hierdie man wat nie ‘n hand lig om terug te veg nie. ‘n Man wat lê en smeek vir sy lewe. Wat skandalige bedrae geld aanbied in ‘n stem wat klink soos die van ‘n vrou.

Marius het sy knieë oor Simon Kotwal se arms geanker, en die man vasgepen. Hy ruk die .357 uit die skede onder Kotwal se arm…. hy trek die massiewe rewolwer se haan terug, en die silinder kliek luid oor na die volgende rondte.

‘Jou fokken drek. Jou geld gaan jou nie nou red nie. Jy is myne, en ek gaan jou vermorsel.’

Kotwal huil nou. Sy lyf ruk, en die trane loop vryelik. Hy wil nie doodgaan nie. Marius trek die sneller, en Renier maak sy oë toe. Hy het gehoop dit kon anders wees. Haat is ‘n bliksem. ‘n Tweede skoot klap, en ‘n derde, en dit is die roggelskree van Simon Kotwal, wat Renier sy oë weer laat oopmaak. Marius trek die oorblywende drie skote reg langs die monster se kop af. Stukkies sand en gras meng met die trane op die gesig wat nou verwronge is van naakte vrees. Marius gooi die wapen in die lang gras, en dan gryp hy Kotwal aan sy kuif.

‘Vir my ma!’ skree hy, en slaan sy vuis diep in die man se oop mond in.

‘Vir Heleen Bosch!’ die tweede hou breek sy neus.

‘Vir Koert de Jager en Hugh Nicoletts!’ hy slaan nou blindelings, waar hy plek kry. Waar hy dink dit is nog ongeskonde.

Dan sagter….

‘Vir my pa….’ Die laaste vuishou laat die man net sug as hy sy bewussyn verloor. Die reuk van uriene vul die lug. Dan beur die luik weer oop, en is die taakmag daar.

In die verte word die klop-klop van ‘n helikopter hoorbaar.

Marius en sy pa ry terug om die rondevouz met Charlie Een na te kom.

‘Ek moes hom geskiet het. Het pa gehoor watter bedrae geld bied hy aan? Hy gaan homself iewers kan uitkoop.’

‘Seun’ en die toon in Renier van der Berg se stem laat Marius vinnig en skerp vir hom kyk. Die ou man se kaakspiere bult, en daar is ‘n uitdrukking van amper vrees op die geplooide gesig….

‘Daardie man gaan nie die einde van hierdie naweek sien nie.’

//

Dirk parkeer Roelien se Getz in die stowwerige parkeerarea van Pomonaweg Slaghuis. Reg oorkant, versprei oor twee vyf akker plotte, is die Kamfer nes. Die vier gepantserde voertuie arriveer twintig oor een. Die voorste voertuig toet ‘n enkel skerp loei, en dan skuif die hek stadig en rukkend oop. Hulle beweeg deur, en die sekuriteitswag lê teen ‘n koddige hoek om die massiewe hek weer toe te stoot.

Dirk hardloop oor die straat. Die omheining is agt voet hoog. Op die hoek van die perseel, staan ‘n groot groen transformerkas. Dirk klim op. Die styfheid in sy arm hinder hom nog. Hy loer oor die muur. Die stoor wat hier in die stof staan, is in sterk kontras met die luukse blink motors, palmbome en ritselende fonteine wat hy dof in die agtergrond kan uitmaak. Die vooraansig van die stoor word gespan deur ‘n enorme laaibank. Die gepiep-piep van die pantservoertuie soos hulle teen die struktuur terugstoot, weergalm deur die res van die perseel voor hom. Dan…. flikker-flikker ‘n magdom buisligte, en begin verskeie deure in die stoor gelyk opskuif.

Dirk sien ‘n tiental netjies geklede manne, drankies in die hand, staan en kyk vir die verrigtinge. Die minder netjiese manne…. dié in die oorpakke, begin te skarrel. Die erste geel sak word ingedra.

Dirk spring af, en stap doodluiters weer oor die pad. Hy leun in die klein Koreaanse karretjie in, en as hy regopkom, druk hy die knoppie op die Motorola twee-rigting radio.

Op die heli-pad by Oliver Tambo lughawe, begin Delta Twee se skroewe lui te draai.

Damian Killian was so goed soos sy woord. Die groot MBB BK117 helikopter swaai enkele meters bo die grond om, sodat die gewapende Alpha kan ontplooi. Sonder teenstand, sit die manne in die oorpakke hul sakke neer, en hou hulle hande op sodat die stormende Alpha lede kan sien hulle is nie aggressief nie.

Die netjies geklede Chinese besigheidsmanne was natuurlik nie ingelig nie. Een van die meer dapperes sak af, en gryp na ‘n wapen wat in ‘n enkelholster versteek was. Sersant de Klerk skiet hom twee skote in die kop met een van die stil 9mm Taurus pistole. Die res van die Chinese sak neer op hul knieë, en vyf minute later, is die stoor in die hande van die SAPD.

Dirk storm nader, Marius en Renier ontmoet hom op die reuse perron van die stoor.

‘Kom ons gaan haal Kamfer uit sy nes uit!’ skree Dirk en die drietal maak haastig vier lede van Alpha bymekaar. Langs die stoor, vernou die perseel in ‘n grondpad in, wat deur ‘n enkelwydte motorhek toegang verleen na die wuifende palmbome en neonligte wat seks en geld belowe. Dirk draf saam met Renier, en die lede van Alpha het klaar die motorhek van die spoor afgestoot as hulle deur die opening tussen die rye blink motors inhardloop. Die manne van Alpha is al verby die fonteine, en besig om die trappe van die groot gebou op te storm. Hulle pas neem nie af nie, en die groot glasdeur bars in duisende stukke as die testosteroon gevulde polisiemanne deur dit hardloop. Kliente in die voorportaal besluit onmiddelik dat ‘n aand saam met hulle families, soos die bybel adverteer, dalk ‘n beter idee is. Dirk en Renier moet verskeie verskrikte manne uit die pad skouer om die trappe op te kan klim.

Dirk is net betyds om te sien hoe Sersant Karstens met ‘n bloeiende neus en ‘n verdwaasde uitdrukking op sy gesig, op die grond neerslaan. ‘n Tweede Alpha man gee ‘n uitroep, en volg Karstens grond toe.

Die groot uitsmyter klap Alpha met sy oop hand. Hy het nog nie eers ‘n vuis gemaak nie, en twee manne is plat. Dirk herken hom dadelik as Benoni se legendariese vuisslaner… Chris Le Roux. Hy is massief. Amper Dirk se lengte, en net effens skraler in die bors. Dirk is nie lus vir ‘n vreeslike skermutseling nie. Sy skouer is nog te seer.Die man is stadig en behalwe vir sy enorme krag, ‘n amateur. Dirk druk die twee oorblywende Alpha lede uit die pad, en dan keer hy behendig ‘n reuse swaaihou van Le Roux af. Die uitsmyter is heeltemal van balans af, en Dirk slaan hom met ‘n vuishou, en al die krag is sy magtige liggaam, reg bokant sy regter-oor. Die reus swik en slaan neer.

‘Meisies klap met oop handjies!’ skerts Dirk, en hy skop die groot man plat in die gesig, en die geveg is oor. Dirk kniel oor die steunende reus.

‘Waar is Kamfer se nes?’ vra hy.

‘Fok jou!’ snou die gevalle ridder hom toe.

Dirk slaan hom weer.

‘Waar is Kamfer se nes?’ vra hy minder vriendelik. Hy slaan Le Roux weer, voordat die man kan antwoord. Dirk is nie lus vir die man se bravado nie. Die groot arm beduie swak in die rigting van ‘n gang wat weglei van die dansvloer af. ‘n Helderrooi deur aan die einde daarvan.

Dirk maak weer die beseerde lede van Alpha bymekaar, en saam storm die mans in die gang af. Marius is eerste deur die deur, en dan bevind hulle hulself in ‘n hysbak. Op die paneel is aanwysings vir drie verdiepings. Die boonste een in goud, met ‘n fyn gekartelde nommer 3 daarop.

‘Ek sal geld wed dat dit ons gasheer se nessie is.’ sê Marius droog, en druk die vergulde knoppie.

Buite hoor hulle ‘n magdom sirenes soos die versterkings opdaag. Dan skuif die hysbakdeur geruisloos toe, en beweeg hulle op in die baarmoeder van die bose.

As die deur oopskuif, staan vyf mans met hylle hande bokant hulle koppe. Die rye monitors teen die muur het hulle verwittig van die koms van die gereg. Dirk beduie hulle in die hysbak in. Damian se manne.

‘Maak dat julle wegkom’ sis hy, en dan is die sewetal mans alleen in die vertrek. Skielik flikker ‘n helder lig, en hulle hoor ‘n man wat hard lag. Siegfried Kamfer lê op sy bed. Hy druk lui druiwekorrels in sy mond, en sy oë gaan toe as die sultanas hom bekoor.

‘Naand mense.’ Groet hy gemaak vriendelik. Hy kyk geamuseerd na hulle vanuit sy skuiling. In die middel van die reuse vertrek is ‘n glaskoepel. Die grondoppervlakte daarvan seker honderd vierkante meter. Die bokant van die glas struktuur buite iewers. Hulle kan vaagweg sterre sien, en ‘n passasiersvliegtuig wat lui oor die uitsig beweeg.

‘Wat sou julle sê is die raklewe van gevriesde hoender?’ vra Kamfer as hy opstaan en na ‘n kombuis in die verste hoek van die koepel stap. Hy begin potte en panne uitruk.

Sersant Karstens het nog wrewel in hom oor die pakslae wat hy gekry het by die uitsmyter, en hy ruk die R5 in sy skouer in en vuur ‘n kort sarsie in die rigting van die koepel. Die patrone huil en suis deur die vertrek, en almal slaan dekking. Vir die tweede keer in tien minute kry Karstens ‘n oorveeg. Marius slaan die man uit die skouer uit.

‘Is jy mal!’ skree hy, en gryp die wapen uit die polisieman se verdwaasde greep.

Kamfer gooi sy kop terug, en lag weer.

‘Tipies fokken dom polisieman. Wat dink jy doos? Dat ek hier in ‘n plexiglas geboutjie gaan sit. Jy….. is ‘n fokken idioot!’ Hy skud soos hy lag. Hy stap nader aan die rand van die koepel. Siegfried Kamfer is ‘n kort vet mannetjie. Die dubbelken sidder soos die lagbui deur hom trek. Hy is kaal geskeer. Hy lyk soos ‘n kort vet Telly Savalas.

‘Maak julle self tuis menere. Dit gaan ‘n lang wag wees.’

Dirk kyk na die koepel. Die lugversorging lyk asof dit in die vloer sit. Die kombuis het twee reuse vrieskaste en ‘n yskas. In die verste hoek is ‘n geseelde kamertjie. Kragopwekker, dink Dirk. Selfs al sluit hulle die lugversorging af, het hy genoeg voorraad vir ten minste twee maande. Dirk gaan nie solank wag nie.

Kamfer kyk na die groot man.

‘Jy is slim. Gaan gerus voort. As julle die lugversorger afskakel, kan hierdie baba hier,’ en hy beduie na die geseelde kamertjie, ‘my vir drie maande aan die gang hou. Sonder enige bystand van buite af.’

Hy streel amper liefderyk oor die glas waar sersant Karstens se sarsie patrone ‘n dowwe swart vlek gelos het….

‘En hierdie is 50mm pantserglas. Niks wat julle daaraan kan doen nie.’ Hy vat ‘n afstandbeheer van die tafel agter hom af, en skakel die reuse TV bokant sy bed aan.

‘Dit is al verby my slaaptyd, menere. Sal julle my verskoon?’ Weereens bulder hy van die lag.

Hy druk nog ‘n knoppie, en skielik kan hulle niks hoor wat in die struktuur gebeur nie, en die glas verdonker. Hulle staan oorbluf en kyk na ‘n halfronde swart bal voor hulle.

‘Fok my!’ sê een van die Alpha lede, en staan oorbluf op. Hy streel oor die koepel. ‘Hoekom kan ons hom nie nou hoor nie, en hoe de fok kom ons daar binne?’

‘Daar is ‘n luidspreker sisteem.’ sê Dirk, en wys na die rye klein luidsprekertjies wat onder die monitors geinstaleer is.

‘Funky,’ sê die man weer, ‘hoe kom ons daarbinne ?’

Dirk het nie ‘n antwoord nie. Dan kom die vrolike hoë stemmetjie van die enigste ander deur in die vertrek af.

‘Then you need an insider!’ Damian Killian kom deur die deur gestap, en as Sersant Karstens nog sy wapen gehad het, sou hy Damian op die plek dood geskiet het. Die skielike toetrede van die maer blonde man, laat die hele vertrek skrik.

Skielik verander diee donker bal weer in ‘n kristalbal. Kamfer glimlag nie meer nie. Hy staan op van die bed af.

‘Jy sal dit nie waag nie, Killian!’ skree hy. ‘Jy word goed betaal.’

‘Shhh, Siegfried. Jy betaal my ja, maar onthou altyd. Niemand kan Damian Killian koop nie.’

‘Fok jou. Ek sal seker maak dat jou fokken moffie gat afsak tot op die diepste fokken bodem wat ek kan kry. Jou fo..’

Kamfer maak nie sy sin klaar nie. Damian se vingers het oor die klawerbord van die rekenaar naaste aan hom gevlieg.

‘Dirk, kry jouself reg.’ waarsku hy vinnig, en dan skuif die hele een kant van die koepel oop. Siegfried Kamfer laat val die druiwe.

Vrydag 6 Januarie 2011 sou opgeteken word in die geskiedenisboeke van die Republiek van Suid-Afrika, as “Black Friday”. Brigadier Keyter se oproep na die rooi foon in die Uniegeboue, veroorsaak die ontslag van twee en twintig vooraanstaande kabinetslede. Teen middagete, is hulle vervangings aangekondig.

Eenhonderd sewe en dertig lede van die polisie en weermag se loopbane eindig in die snippermandjie….immediate effect.

Een lid word onmiddelik bevorder na Brigadier Charl Steyn.

‘Brigadier Keyter, you have today built a foundation for the future corruptless South-Africa. We will not forget this. I would like to see you in my cabinet….’ die President se stem was swaar en meëdoenloos.

Milla sit die foon saggies neer. Sy maak haar oë toe…. oorwinning is soet.

Simon Kotwal lê in saal ses van Een Militêre Hospitaal, Pretoria. Die woede in Marius van der Berg het sy neus en kakebeen gebreek, en sy wangbene gekraak. Voor sy deur staan twee konstabels. Haar rang laat beide van hulle wegskarrel, en sy stap doodluiters in Kotwal se kamer in. Sy gesig is vreeslik geswel, en as sy stil langs die bed gaan staan, is sy asemhaling reëlmatig. Hy slaap.

Sy streel oor sy gesig met haar lang nael. Dan druk sy harder, en as die nael dié keer oor sy wang trek, los dit ‘n fyn bloedspoor. Kotwal se oë ruk oop.

‘Hallo oom Simon…. ‘ Haar stem is dik met emosie. Sy begin sing.

“Here we come a piping

In springtime and in May

Green fruit aripening

And Winter fled away

The Queen sits upon the strand

Fair as a lilly, white as wand

Seven billows on the sea

Horses riding, fast and free

And bells beyond the sand.”

Sy oë rek groot. Sy oomblik het aangebreek. Hy wil skree, maar sy druk ‘n suurstofmasker oor sy gesig.

‘Onthou jy oom Simon. Jy behoort, want jy het daar gestaan en kyk terwyl die diere met my gemaak het net wat hulle wil.’’

Sy oë rek wyd. Hy onthou.

‘Jy het daar gestaan en speel met jouself. Jy het seker gemaak ek sien…. wel oom Simon. Ek het gesien. Dit het in my geheue ingebrand vir altyd.’

Sy beweeg blitsig. Die vlymskerp skalpel verskyn in haar hand asof dit ‘n verlenging van haar arm is, en sy ruk die hospitaalkombers van hom af. Die skalpel swiep deur die lug, en selfs deur die masker kan jy die man hoor skree. Die bloed spuit ‘n boog, en sy gooi die kombers terug. Sy druk die afgesnyde orgaan in sy hand.

Sy kyk af na die sterwende man, en sy gooi haar kop terug en lag. Dit is ‘n diep grom uit haar binneste, en vir ‘n oomblik herken Simon Kotwal nie die wese langs sy bed nie. As sy kalmeer en haar kop weer draai in sy rigting, is sy weer wie sy was toe sy oomblikke gelede by die deur ingestap het. Die haat vertrek die mooi gesig.

‘Totsiens oom Simon.’

Simon Kotwal bloei sy laaste lewensvog uit voordat die mooi vrou die rooi Murano oopsluit.

Wilma Kotwal sit op haar bed in die vuil sel van die vroueafdeling by Modderbee Gevangenis. Haar hele lyf ruk. Wilma Kotwal het nie net TIK vervaardig nie, sy het dit gebruik ook. Die ontrekking laat haar vooroor buk, en sy braak weer tussen haar voete. Die keer is dit slegs konvulsies en speeksel. As sy regop kom, staan die wese voor haar.

‘Hallo Tannie Wilma.’

Die herkenning is onmiddelik. Die vrou beur eers weg, maar ‘n sterk arm ruk haar nader.

‘Ek het al my vertroue in tannie gesit. Alles.’

Die wese hou ‘n groot inspuiting voor haar.

‘Nou is dit jou beurt tannie Wilma. Ek sal jou beter maak.’

Die vrou spring soos ‘n veer op van die bed af. Sy val op die grond en sy begin onbeskaamd te pleit vir die inhoud van die inspuiting. Die wese streel deur haar hare.

‘Alles is ok. Kom, sit hier op die bed.’

Wilma Kotwal gaan sit op die rand van die bed… haar liggaam skree vir die spuitnaald. Die pragtige jong vrou buk voor haar, en druk behendig die spuitnaald in die aar. Wilma kwyl onbeskaamd.

Weereens die grom deur die wese van die jong vrou, en dan stamp sy die inhoud van die inspuiting in die aar in. 30cc skoon lug….

Wilma verstar, sy verstaan nie dadelik nie.

‘Stoot haar, stoot haar, STOOT HAAR!!!’ koggel die wese voor haar.

Dan dring die besef deur.

‘Onthou jy tannie Wilma…. onthou jy hoe jy hulle aangehits het?’

Trane loop oor Wilma Kotwal se wange, en dan tref die reuse embolus haar hart. Die pyn as haar hartkamer tevergeefs probeer om die pakkie lug saam te pers, ruk deur haar bors, en sy slaan reg agteroor.

Weereens ruk die grom van genot deur die jong vrou se wese. Dan draai sy om en loop by die koue sel uit.

Die jong konstabel onder in die gang, strek en salueer haar. Wilma Kotwal sterf.

Siegfried Kamfer word in die laaste doodsnikke van “Black Friday” uit sy tronkbed by Pretoria Sentraal Gevangenis geruk.

‘Wat de fok!’ is al wat hy uitkry, voor die groot swart man hom op die vloer van die sel vaspen, en ‘n ander man honger sy klere begin uitruk. Hy lê kaal op die harde semetvloer, en hy verstaan nie.

‘Ek gee elkeen van julle ‘n miljoen rand… los my net uit…. asseblief… asseblief.’ smeek hy.

Die eerste man skop sy bene oop, en sak tussen hulle in. Kamfer gil van pyn as die man in hom ingaan. Hy wriemel maar twee paar arms hou hom vasgepen. Dan is sy daar. Sy hurk voor hom.

‘Naand oom Siegfried.’

Sy kop ruk op. Hy herken dadelik die stem. Sy vergelding…Lilith…. hy begin huil.

‘Jy kon nie ophou nie oom Siegfried. Jy moes voor jou waansinnige vriende ‘n vertoning lewer. Vir hulle wys hoeveel beheer en stamina jy het…. ek was sewentien oom… sewentien. Jy sal nou die pyn voel wat ek gevoel het.’

Die eerste man maak hortend klaar, en ‘n tweede vat oor, en ‘n derde en ‘n vierde. Die bloed loop af teen Kamfer se bobene. Dan vat die groot swart man oor. Sy sit net daar. Sy kyk, elke nou en dan skeur ‘n gromlag uit haar. Tien minute later versnel die groot swart man sy pas, en kreun. Die vrou tel Kamfer se ken van die grond af op, en die oë waarin Kamfer kyk herken hy nie. Dit is swart poele van haat.

Die skalpel swiep, en Milla Keyter sny sy keel van oor tot oor oop.

Die swart man sidder, en terselftertyd blaas Siegfried Kamfer sy laaste asem uit.

Sersant Jakkie Cornelius is aan diens. Die rumoer in die gange agter hom, trek sy aandag. Hy is net betyds om te sien hoe ‘n vrou iets in die hand van Mike Tokanya druk, en sy seldeur agter hom sluit.

Die vrou beweeg doodluiters na sy toonbank en sy sit die sleutels rustig daarop neer. Sy trek haar swart oorjas uit, en dan sien Jakkie die rang.

‘O, goeienaand Brigadier, en hy verstyf. Sy sit haar arm gerustend op sy skouer.

‘Naand Sersant, ek is oppad.’ sê sy eenvoudig.

Sy stap verby en teen Jakkie se grein in volg hy haar. Haar hande is vol bloed, en fyn spatsels drup op die vloer. Bloed wat drup uit die oorjas.

Die groot glasdeur skuif oop, en sy stap uit in die binneplein. Die deur skuif weer toe. Deur die glas sien Jakkie hoe die Brigadier stop, en haar arms stadig bokant haar kop uithys. Die hande oop. Die vingers gestrek.

Dan gil sy…. hartverskeurend. ‘n Angsgil, en dan verander dit in ‘n bomenslike grom. Jakkie is by die deur. Die grom verander in ‘n loei, die intensiteit daarvan so hoog, dat die glas voor hom in ‘n miljoen stukke spat. Hy voel hoe van die skerwe in sy gesig insny. Hy deins terug. Die groot akkerboom daarnaby gooi al sy blare af in ‘n oogwink. Voëls vlieg vervaard en angstig weg. In die parkeerarea begin verskeie kar-alarms loei. Dan tref die reuk hom. Die reuk van rou vleis… en bloed, en dan die onmiskenbare stank van verotte vlees. Die bloed uit Jakkie se gesigswonde loop in sy oë, maar hy verbeel hom hy sien ‘n swerm vlermuise uit sy Brigadier trek. Die swart wolk maak ‘n wye draai oor die plein. Stof en papiere warrel agter dit. Die stank……..

Dan trek dit weer in Milla Keyter in, en sy val op haar knieë. Jakkie ignoreer sy eie pyn en vrees . Hy storm haar tegemoet. As hy haar ophelp, voel hy die absolute afwesigheid van temperatuur in haar vel. Sy kyk op na hom toe, en vir ‘n oomblik ken hy nie die vrou nie.

Dan vloei die groen terug in die poele swart, en versag haar gesig. Sy Brigadier.

Sy lag amper skaam vir hom.

‘Lilith sal my nooit laat gaan nie…. sersant.’

Met ongekende krag, ruk sy in een vloeiende beweging Jakkie se heupskede af. Die knippie wat die 9mm Taurus in posisie hou tinkel luidrugtig oor die grond.

Voor hy sy hand kan lig, druk Milla Keyter die wapen in haar mond en trek die sneller.

TWEE WEKE LATER.

Roelien sit in die sonkamer van die huis in Kensington. Haar bene opgetrek onder haar. Sy kyk na Marius wat deur die artikel wat sy vir die koerant geskryf het, blaai. Renier van der Berg staan en uitkyk oor Eastgate en Bruma.

‘Sooooo, wat dink jy? Gaan ek beroemd wees?’

Marius kyk haar indringend aan.

‘Ek dink jy gaan joboffers kry dat dit by jou ore uitkom!’ hy lag vir haar.

Renier tree vorentoe. Hy vat die klein meisietjie aan die skouer.

‘Dankie dat jy Milla Keyter en Lilith hier uitgehou het, Roelientjie.’

‘Hoe anders?’ vra sy. ‘Ek kan nie oor iets skryf wat ek nie verstaan nie. En…. om die waarheid te sê, is dit so vergesog, dat ek bang was dit kelder die res van my storie…. I mean, lets face it….’

Renier stap deur toe. Hy kyk vlietend na die twee jongmense. Hy knik sy kop.

‘Dankie.’ Hy druk die deur agter hom toe.

Roelien kyk na Marius. Sy staan op en kom sit langs hom.

‘En…. ek het klaar gepak. My goedjies staan reg. Jy sal dalk vir jou ‘n kar moet gaan koop….’

Sy glimlag braaf vir hom, maar die trane lê vlak.

‘Jy hoef nie te gaan nie, weet jy..’ Marius se stem is onoortuigend.

‘Jy weet so goed soos ek dat ek moet waai, Marius. Ek is ‘n reinkarnasie. Niks meer nie. Jou oë sien Roelien, en jou hart antwoord Heleen. Verknog soos ek aan jou geraak het hierdie laaste paar weke, dit sal nie so kan werk nie. Ek gaan huis toe.’

Marius druk haar hand, en ‘n traan rol oor sy wang.

‘Ek is jammer.’

‘Jy het niks om voor jammer te wees nie. Jy het ‘n klomp skerwe van ‘n lewe wat jy moet optel.’

Sy staan op. Sy trek haar rug reguit, en stap uit Marius se lewe uit.

EEN MAAND LATER.

Dit is bloedwarm in die Noord-Kaap. Dirk Dhooge hoor die voertuig, voor hy dit sien. Hy stap uit op die stoep, en die wit Landcruiser kom stowwerig die grondpad op. Hy skuif solank twee stoele reg.

Renier van der Berg klim uit, en hy steek sy hand uit na Dirk.

‘Granaatboskolk… wat ‘n mooi naam. Dirk. Hoe gaan dit?’

Dirk skud die ou man se blad.

‘Nee wat Renier, goed. Kom in, bier?’

Hulle sit op die stoep. Twee yskoue Heinekens in hul vuiste. Die eerste teue geskied sonder dat enigeen van hulle die geselskap aanknoop. Dirk weet die man voor hom het al die antwoorde…. hy weet net nie of hy dit wil hoor nie.

Hy begin met ditjies en datjies.

‘Hoe gaan dit met Marius, Renier?’

Die ou man lag.

‘Goed, onder omstandighede. Ek het hom help trek verlede naweek.’

‘Kensington toe?’ vra Dirk

‘Jip, en ek is bly. Hy het my genooi om daar te kom bly, maar ek het die plek in Westdene verkoop. Ek gaan Namibia toe. Ek moet dinge gaan regmaak met Petros…. en sy mense.

Weereens die stilte.

‘Marius sal my nooit vergewe vir sy ma en vir Heleen nie.’ Die ou man se kaakspiere bult. ‘Ek sal myself nooit vergewe nie. Elke aand as ek die lig afsit, sit ek met die skuldgevoel. Ek het my familie weggegooi toe ek in hierdie oorlog ingestap het, en ek het hulle vermoor en vervreem toe ek probeer uit dit uitwriemel het. Ek wonder soms of daar ooit ‘n groter mislukking van ‘n lewe kan wees as wat myne was.’

‘Generaal’ besluit Dirk om dit professioneel te hou ‘jou privaatlewe was dalk nie besaai met die regte besluite nie, maar jy het ‘n land die respek van die buitewereld laat verdien, e…’

‘Wat apartheid in ‘n oogwink weer uitgevee het.’ val hy Dirk in die rede. ‘Nee wat, ‘n gejaag na wind. Feit bly staan, ek het nog altyd ‘n pad besaai met verwoesting agter my gelaat. Dit hou nooit op nie.’

Dirk bly stil. Die ou man skuif op sy stoel en kyk na Dirk.

‘Dirk, die aand na Li…ummm… Milla se dood, het jy vir my gesê dat alles nou sin maak. Wat het jy bedoel?’

Dirk vat ‘n lang teug.

‘Ek het baie hooi op my vurk gehad. Daar was ‘n Majoor Makoena. Hy het gepeuter met bewyse in ‘n moordsaak. Hy was egter nie op die Maatskappy lys nie. Ek kon nie verstaan hoekom hy so-iets sou doen nie. Milla het hom ook taamlik skerp verdedig toe ek aantuigings teen hom gemaak het. Ek het eers later die kloutjie by die oor gesit.’

‘En dit was?’

‘Milla het vir Cartwright en Strydom en Mathyssen vermoor….’ hy glimlag wrang ‘en pardon the pun, maar gee die duiwel wat hom toekom, sy het drie absolute stukke drek in die proses netjies geframe, en hulle laat toesluit. Ek dink nie enigiemand sal ooit weet nie. Dié wat weet, soos Martin Marx en Krys Wessels, sal hulle bekke hou. Die speurder in Nelspruit is totaal oortuig die regte man sit agter tralies. Niemand gaan hom anders laat besluit nie.’

‘Dirk, ek het geweet Lilith is nie net in my verbeelding gewees nie.’

Renier skuif ‘n klein pienk dagboekie oor na Dirk toe.

‘Ek het hierdie uit haar woonstel gaan steel na die hele affêre. Dit is beter om die ding te begrawe en klaar te kry. Die Roelien meisietjie het uitstekende werk gedoen om die hele Milla Keyter streep Lilith ding uit die pers te hou. Die moorde van die twee Kotwals en Siegfried Kamfer is toegesmeer as selfmoord. Dis dit.’

Hy teug. Dirk maak die boekie oop. Dit is die dagboek van ‘n tiener. ‘n Tienermeisie. Die laaste inskrywing is ‘n enkele woord.

“PYN”.

Die bladsy het verskeie wollerige gekreukelde kolle. Trane. Die pen wat die woord geskryf het, het dwarsdeur die bladsy gedruk. Die lyne van die letters… bewerig.

‘Ek was daar Dirk. Beltaan. Die lentefees van die Wiccans. April 1998. Dit het buite beheer geraak. Hulle het haar verkrag, Dirk. Ek kon nie ‘n fokken dooie ding doen nie. My oorlog was te belangrik.’

Hy sit die bier driftig op die tafel neer. Die skuim borrel op.

‘Net soos my familie, was die verkragting van Milla Keyeter, ‘n bogmeisie van sewntien, vir my minder belangrik as my oorlog.’ Daar rol ‘n traan oor die ou man se wang.

‘Renier, jy hoef nie. E…’

‘Sy het hulle doodgemaak. Elkeen laat betaal soos hulle die daad gedoen het. Strydom wat nie haar mond kon uitlos nie. Mathyssen wat haar privaatste plek geplunder het…. Cartwright met die kamera…’

‘Los dit Renier, ek het twee en twee bymekaar gesit.’

‘Is jy ok?’ vra Renier.

Dirk kyk vir ‘n oomblik in die verte in.

‘Ek het net ongelooflike kak luck as dit by vrouens kom.’ Hy glimlag en hulle drink die bier klaar.

‘Jy weet Renier, ek was regtig aangetrokke tot haar. Ek kan nou haar houding jeens my verstaan, ek het nie toé nie. Daar is egter ‘n deel van my wat nie kan vrede maak met haar wreedheid nie. Sy was niks meer as ‘n dier nie. Sy was niks beter as Kotwal en sy vennote nie…. Inteendeel!’

‘Jy weet, ek het daardie dagboek uit haar woonplek gaan steel. Cartwright was ook ‘n vieslike stukkie werk. Daardie video wat hy gemaak het toe hy en sy trawante haar verkrag het, was jare gelede op die internet. Een of ander pornografiese webblad. Ek dink dit was die finale strooi. Sy het geknak daar.’ sê Renier

Renier staan op en stap na sy bakkie toe. Hy haal twee rekenaarkaste agter onder die seiltjie uit. Dirk gaan help hom dra. Hy kyk vraend na die ou man.

‘Ek het deur die verslae van die moorde gegaan, en beide Martin Marx en Jacob Mafudi het in hulle verslae genoem dat die persoonlike rekenaars van beide Mathyssen en Cartwright vermis was. Hierdie twee kaste het in Milla se kantoor by haar huis gestaan. Jy sal daardie video op hierdie hardeskywe kry. Dirk, jy sal dan verstaan.’

‘Miskien, maar ek dink nog steeds sy was kranksinnig. Daar is nie ‘n beter woord nie.’

‘Nee Dirk, alles behalwe. Ek weet jy is ‘n realis, en ek weet jy gaan my skeef aankyk. Ek het haar sien beweeg op twee geleenthede. Eerste keer vroeg in 2000. Dit was waar ek besef het dat sy besete is Dirk.’

Dirk slaan sy oë op hemel toe.

‘Ek kan dit nie aanvaar nie, Renier.’

‘Jy moet dalk hierna kyk.’

Renier druk ‘n kompakskyf in Dirk se hand.

‘ Al daardie boeke, Dirk. Al die jare om deur eeue se navorsing oor hierdie onderwerp te sif. Die soek na antwoorde. Asof ek tussen die omslagte van daardie geskrifte, my eie geestelike gesondheid wou bewys. Ek moet ook skoon kom. Daardie aand wat die Roelien meisietjie haar teorie voor ons gegooi het, het ek besluit om saam te speel. Om Lilith te beskerm. Toe ek jou brigadier herken, het ek selfsugtig geweet sy gaan my oorlog klaarmaak. Wreedaardig. Dirk, dit maak my net so waansinnig soos die res.’

Renier beduie weer na die klein blink skyf in Dirk se hand.

‘Jy sal jou eie mind moet opmaak.’

Generaal Renier van der Berg staan op. Hy kyk vir ‘n oomblik na Dirk. Dan stap hy na sy bakkie toe, en sonder om ‘n woord verder te sê, ry hy.

Blikbrein neem ‘n skamele vyf minute om die video op te spoor op Cartwright, die bleeksiel, se hardeskyf. Dirk kyk twee minute daarna, en skakel dit af. Hy het genoeg gesien. Miskien het Milla Keyter tog ‘n punt gehad. Hulle was diere.

Dirk sit ‘n oomblik en laat die woede in hom afsak. Wanneer sy gebalde vuiste weer ontspan, druk hy die kompakskyf wat Renier hom gegee het, in Blikbrein se ingewande in.

Windows maak dit oop in VLC.

Dirk herken dadelik die Kotwal woning. Die kamera wat die filmwerk doen is hoog gemonteer. Iewers op ‘n dak. Dit wys die voorkant van die perseel. Dirk sien die massiewe staalhekke. Dit is laatnag. Die kamerabeeld het ‘n groen skynsel. Nagvisie….

Dirk sien die beweging, maar hy kan skaars sy oë glo. Hy stop die film, en gaan sekonde vir sekonde deur elke raam terug in die beeld.

Die figuur kom onder die skadu van ‘n boom uit. Dirk stop en noteer die tyd op die film. Dan is die figuur aan die ander kant van die pad. In presies twee sekondes. Onmoontlik!!!

Die persoon kyk vinnig rond, en dan sonder inspanning spring die wese oor die massiewe muur.

Dirk hoor hoe die operateur agter die kamera se asem intrek. Dan sak die kamera, en in ‘n motorvenster kan Dirk Duncan’s Liquor se neon-naam sien flikker. Dirk speel die film tien keer oor. Hy sit die skyf in Blikbrein se databanke, en hy ondersoek dit vir manipulering. Niks. Daar is nie gepeuter met die film nie.

Die realis in Dirk Dhooge kry ‘n massiewe knou. Hy is yskoud. Hy staan op en stap uit op sy stoep. Sy bene het ‘n bewerigheid. Buite is die Noord-Kaap ‘n toonbeeld van realisme. Dan ruik hy seewier en kruisement. Die klein bruin voëltjie sit bewegingloos op sy stoepmuur. Die blink kraalogies indringend op hom gerig. Dit gee ‘n fyn tjirp en spring rats nader. Die koppie draai skuins. Dan vlieg dit op, en vat haar reuk saam. Dirk stap uit op sy grasperk, en hy kyk na die helderblou lug om hom. Die diertjie is nerens te sien nie.

Die hitte vloei stadig terug in Dirk Dhooge. Hy glimlag.

Milla Keyter het haar rus gevind.

1 Response so far »


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: