STORIEMONSTER – Episode 23

Dirk besluit om die yster te smee terwyl dit warm is. Hy kyk na die nota wat Martin hom gegee het, en draai in Twaalfde Laan Northmead in. Jonathan Cohen se huis is ‘n tipiese ou Northmead huis. Iemand het tyd daaraan bestee. Om die stoep is fraai traliewerk en die houtrame is blink gepolieer.

Dirk stop voor die hek, en druk die Trooper se toeter. ‘n Jong seun loer by die voordeur uit, en rig ‘n afstandbeheer op die hek, en dit begin ooprol.
Dirk slaan sy skouers op, en ry die erf binne. Hy klop aan die voordeur. Binne iewers word die seuntjie ordentlik gegesel met die tong. Hoekom maak hy sommer net die hek oop? Dirk glimlag.

Die vrou is klein en petite gebou. Mooi, haar vel glad en gesond. Sy kyk amper verskonend na Dirk as sy hom in die voordeur sien staan.

‘Jammer u moes nou hoor dat ek hom skel oor hy die hek sommer net oopmaak. Is daar enigiets waarmee ek u kan help?’

Dirk steek sy hand uit.

‘ Dirk Dhooge, mevrou, jammer om te pla, maar ek is eintlik opsoek na Jonathan. Ek neem aan hy is u man?’

‘Hy is, kom gerus binne, hy is in die studeerkamer.’

Sy lei hom deur die huis. Alles is pynlik netjies. In die lang gang, klop sy saggies aan ‘n deur, en maak dit oop.

‘Liefie, hier is iemand wat jou wil sien.’

Dirk hoor ‘n stoel terugskuif oor die houtvloer, en dan staan Jonathan Cohen voor hom.
Hy is kort en stewig gebou. Oop vriendelike gesig. Hy kyk vraend na Dirk, en intuisie vertel hom dat die gesprek privaat sal moet wees. Hy knik sy kop vir sy vrou, en sy trek die deur agter Dirk toe.

‘Kan ek van hulp wees, meneer…..’

‘Dirk’

‘Dirk, enigiets waarmee ek kan help?’

‘Ek wil hierdie gesprek so min as moontlik onaangenaam maak, meneer Cohen, ek is hier oor die James Hippert saak.’

Dirk sien hoe die man ongemaklik rondskuif, en dan beduie hy vir Dirk om te sit.

‘Wat wil jy weet?’ vra hy.

‘Ek wil weet hoe n gesoute krimineel, dwarsdeur plastiekhandskoene, kan vingerafdrukke los op ‘n wapen…’

Cohen kug, en haal ‘n pakkie sigarette uit die lessenaar laai. Dirk sien ‘n effense bewing in die hand.

‘Dirk, ek het geen rede om met jou te praat nie. Ek ken jou nie, weet nie waar jy vandaan kom nie, en ek soek nie moeilikheid in my huis nie. Daar was afdrukke op die wapens, ek kan dit, en hoef dit nie te verduidelik nie. Dit is alles in my verslag.’

‘En, ék het rede om te dink iemand het dit gekook,’ antwoord Dirk. ‘ek wil ook nie hier voor jou familie die waarheid uit jou dwing nie..’

‘Ek word nie sommer gedwing nie Di…’

Hy maak nie sy sin klaar nie. Dirk ruk hom uit sy stoel. Die sigaret val op die grond, en Dirk raap dit op. Hy gooi die mannetjie op die vloer, en blaas die kooltjie van die sigaret dat dit rooi gloei. Hy bring dit nader aan die kleiner man se oog.

‘Dinge gaan nou onsmaaklik raak, meneer Cohen. Ek was agter in die queue toe geduld uitgedeel was. Vertel my van die fokken afdrukke.’

‘Jissis, ok, ok..’

Dirk kom orent en laat sy greep vaar, en die kleiner man strompel terug op sy voete. Hy kyk senuweeagtig na die deur van die studeerkamer. Dan skud hy homself reg en skuif terug agter sy lessenaar in. Dirk leun oor, en gee die man se sigaret terug. Cohen suig naarstigtelik daaraan.
‘Eks die ene ôre.’ por Dirk hom aan.
‘Ok, maar my job is in gedrang hier, en wat ek jou nou sê, kan jy maak mee net wat jy wil, maar as enigiets na my toe terug verwys, ontken ek dit…… onder eed as dit moet. So, whatever jy gehoor het, het jy nie by my gehoor nie.’

Dirk knik net. Vir ‘n man wat nie veel keuses het op hierdie stadium nie, is die mannetjie darem vol vereistes, dink hy geirriteerd.

‘En, asseblief, jy moet verstaan. Hierdie was nie regtig korrupsie van my kant af nie. Dit was ‘n straightforward opdrag. Foonoproep, en die blaf van ‘n bevel, en ek sien vingerafdrukke wat nie daar is nie.’

‘Wie het die bevel gegee?’ Vir ‘n vlietende sekonde, hoop Dirk dat die man voor hom nie die mooi brigadier in die vieslike storie betrek nie.

‘Majoor Makoena….. my baas’

Verligting.

‘Ok, meneer Cohen, nou is jou kans. Vertel my hoekom jy dink dit was van jou verwag, en vertel my wat jy nog op die toneel opgemerk het.’

Die mannetjie skuif ongemaklik rond.

‘Jimmy Hippert is gemors. Ek reken as enige ander verdagte betrokke was, ek verseker n lawaai sou gemaak het. Om die waarheid te sê, ek dink my baas het met dieselfde dilemma gesit. Om vir Hippert te kon nail, was stroopsoet wraak vir al daardie vorige kere wat hy smalend uit die hof gestap het. Ek moet bieg, ek het nie ‘n enkele nag wakker gelê nie. Die man is drek.’

‘Goed en wel, my maatjie’ sê Dirk ‘dit het seker nooit by either jou of jou baas se korrupte breintjies opgekom dat die regte moordenaar nog daarbuite rondloop nie, het dit?’

Jonathan Cohen bloos.

‘Dit het ja….. ‘

‘Like hell’ snou Dirk hom toe. ‘wat was nog out of the ordinary op die toneel?’

‘Ummmm, die feit dat die goed los in sy bakkie gestaan het. Goed soos enige bottel onder pressure….. mens maak gewoonlik daai tipe goed vas. Jy wil nie hê dit moet rondrol nie. Alles in daardie bakkie het net so los gestaan. Asof dit daar op die spot gelaai was.’

‘So, dit was geplant?’

Hy druk die sigaret dood, en hy vermy Dirk se blik, en knik net.

Dirk staan op.
‘Dis dit Cohen. Ek het fokkol respek vir mense soos jy nie. Gaan op jou knieë, en bid dat die regte skuldige nie weer moor nie. Daai lewe is op jou en jou baas se tab. As drolle soos julle natuurlik in staat is tot enigiets wat met ‘n gewete uit te waai het.’

Daarmee draai Dirk om en ruk die studeerkamer deur oop. Die klein vroutjie steier in die gang af. Laat sy hom dan rev, dink Dirk met ‘n bietjie genoegdoening.
Dit is half agt as Dirk die Trooper op die Witbank snelweg, Kensington se kant toe draai.

//

Dirk val oor die eerste katjie as hy die voordeur van die ou huis oopsluit. Die diertjie blyk nie vreeslik verskrik te wees as die groot man uiteindelik weer sy voete onder beheer kry nie.

‘Sorry, sy is nuuskierig!’ hoor Dirk Roelien se stem uit die eetkamer. Hy stap soontoe.
Roelien en Marius sit langs mekaar by die groot tafel. Beide met hul neuse in Heleen se skootrekenaar.

‘Moes n bedrywige daggie gewees het as jy nou eers hier aankom’ groet Marius.

‘Hallo Dirk’ groet Roelien. Haar vingers vlieg weer oor die klawers.

‘Is hier iets om te eet?’ vra Dirk.

‘Steers in die yskas’ sê Marius onbeduidend. Sy neus weer in die rekenaar.

‘Wat maak julle? Nog nie een van julle twee het julle donnerse oë geknip vandat ek hier ingestap het nie.’

‘Jong, ons krap hier deur Heleen se speurwerk.’ Marius beduie na die skerm voor hulle.

‘Het jy geweet, dat sy gedink het die nommers op die teken hier bo in my pa se kamer, is coordinate?’

‘Nee, en het julle opgevolg?’

‘Ons is besig. By the way, nog ‘n ding, het jy die password vir jou network op die plaas?’

‘Natuurlik, Heleen het dit opgesit. Wat wil jy daarmee maak?’ vra Dirk.

‘Heleen was nie stupid nie. Die rekenaar is gelink met jou network op die plaas. Al wat ons soek is die password, dan kan ons daar in.’ mompel Roelien.
Dirk glimlag. Heleen was beslis nie stupid nie.

‘Tinktinkie’ se Dirk. ‘Die password is tinktinkie. Caplocks aan.’

Dirk sit die burger in die mikrogolf, en hy skakel Martin Marx se nommer terwyl hy vir die oond wag. Dit lui net twee keer. Dirk sit die foon op speaker, sodat Maruis en Roelien kan hoor.

‘Marx’

‘Martin, Dirk.’

‘Yes, het jy iets uitgevind?’

‘Jip, julle het die verkeerde ou toegesluit.’

Daar hang ‘n oomblik se swanger stilte.

‘Ekt gefokken weet. Ek’t gefokken WEET!’

‘Ek was by Cohen. Hyt gefluit soos ‘n voëltjie. Die afdrukke was geplant. Ek verstaan egter nog ‘n klomp goed nié, Martin. Jy kan tog nie ‘n ou bere as daar nie duidelike motief was nie. Wa..’

‘Broer, dit was die deel wat my laat vermoed het daar is groot mense hier betrokke. Mense wat ingelig is. Matthyssen se vrou het getuig dat hy seksuele afwykings begin toon het. Skielik ‘n moerse liking gevang in anale seks. Daar was drie verskriklike bedenklike ooggetuies wat Matthyssen se luukse motor in Hippert se straat geplaas het. Hippert se homoseksuele wandade, en die feit dat die aand wat ons hom betrap het, hy hoeka ‘n minderjarige seun in sy kloue gehad het, het sy doppie geklink.’

‘En die ooggetuies?’

‘Hoere…. En n straatsmous’ Martin snork minagtend.

‘Jissis, maar ek verneem Hippert se prokureur is ‘n glibberige vent. Hy sou mos daai getuies in vlamme afgeskiet het.’ peins Dirk.

‘Daai gemors verkoop aan die hoogste bieër. Sy verweer was verkak om die minste te sê. Hy was klaar omgekoop as jy my vra.’

‘Jissis, wat ‘n miernes. Luister, ek het my inligting. Ek gaan nie verder krap nie, want dit kan dinge vir jou moeilik maak. Al wat ek sê, is dat daar ‘n moordenaar vry rondloop. Use it, don’t use it.’ vervolg Dirk.

‘Ouboet, soos my girlfriend gesê het, dinge is nou gemaklik, maar ek bly polisieman. Ek is agter jou. Enigiets wat jy wil hê, en ek sal help. Al is dit net om my gewete te sus. Ek het geweet hier is kak aan die gang.’

‘Ok, Majoor Makoena het die opdrag aan Cohen gegee. So hy is ‘n vrot vissie, that is a given. In plaas daarvan dat ek hom rev, en dinge vir jou moeilik maak, wil ek hom heeltemal bypass, en reguit na die brigadier toe gaan….’
Daar is ‘n oomblik stilte.
‘Hier is haar selnommer.’ sê Martin net.
‘Dankie Martin. Die kak gaan spat. Hou jou oë oop.’ Dirk lui af. Hy tik die brigadier se selnommer in sy kontakte in, en save dit onder Seewier.
//

Marius en Roelien sit Dirk en aangaap.

‘Ouuukeeei,’ sê Roelien. ‘Jy was besig!’

‘Jip, die eerste een van die fantastiese vier….. se saak is so vol gate soos die oppervlak van die maan. Ek dink ons geheimsinnige kliek het hom geknock. Ek dink die fantastiese vier, gaan ons reguit na ons triggerhappy pêl toe vat. Gaan gou in by daardie folder. Wie was die volgende slagoffer?’

Marius skuif die rekenaar reg voor hom, en sy vinngers speel oor die klawers.

‘Jy gaan bietjie verder moet ry ouboet. Deon Strydom…… Carletonville. Wag bietjie. Kaptein
Krys Wessels. Hy staan net so voor aftree. Hy gaan nie maklik saamwerk nie. Pensioen en al daai….’ Marius se stem kwyn weg.

‘Goed, eers wil ek bietjie leun op die gereg daar aan die Oosrand. Ek gaan more hierdie brigadier sien, en as ek terugkom, dan skraap ek en jy hierdie Wessels knaap.’

‘Klink goed!’ beaam Marius.

‘Raait, nou, wat is hierdie koordinate storie?’ vra Dirk.

‘Ek maak nie kop of gat van dit uit nie’ Roelien se neus is opgefrommel soos sy konsentreer.
Dirk sien ‘n ry nommers geskribbel op ‘n stuk papier. Tussen die eerste ry en die tweede ry is ‘n koppelteken. Hy glimlag.

‘Het julle nie Aadrykskunde gehad op skool nie?’ skerts hy.
‘ummmm,’ kom dit in ‘n koor.
‘Daai, is nie ‘n koppelteken nie,’ en hy wys na die koppel tussen die twee getalle.
‘Dis lengte en breedtegraad. Daai is lentegraad en die negatief breedtegraad. Like so.’
Dirk skei die nommers.
‘Gaan gou in by Googlemaps.’ gebied hy Roelien
‘Roelien maak die applikasie oop, en tik die koördinate in. Die teiken is iewers in Suid Amerika.
Dirk frons.

‘Dit maak nie sin nie. Wag draai die lengte en breedtegraad om.’

Roelien tik weer haastig die koördinate in.

‘Dit werk ook nie, dit is in die fokken see!’ kreun sy.
Dirk frons, en maak die kaart groter.

‘Nee skattebol, kyk mooi…. Dis net bitter naby aan die see. Check hier -29.886197 en 31.060410….’

‘Cave Rock… Durban Bluff. Somehow dink ek nie Marius se pa was ‘n surfer nie. Di…’ begin Roelien.

‘Durban Bluff…’ Dirk kyk triomfantelik na hulle. Hulle staar komies terug.

‘Dit was vir jare die kern van die Recces. Jou pa, Marius, het daardie hele basis opgebou. Stukkie vir stukkie. Die dagboek, en ek sal geld daarop sit…… is versteek in die ou basis.’ Dirk kom lighoofdig orent.
‘En dit beteken net een ding….. ‘
Weereens twee leë uitdrukkings

‘Dit gaan neuk om by dit uit te kom. Jirre, gee die Generaal wat hom toekom. Jan Rap en sy maat gaan nie sommer daai dagboekie daar uithaal nie.’ Dirk glimlag. ‘Dit gaan ‘n man op ‘n perd vat!’

‘Hoe so?’ vra Marius

‘Jyt gesien hoe lyk die stoor waar hy die boeke gebere het. Wel, in ruie bos, kan jy dink hoe hy daai lot beboobytrap het?’
Marius sak terug in sy stoel, ‘n vonkel in sy oog.

‘Ek kan nie wag nie’

Dirk lag.

‘Laat ons net gou die laaste paar gate hier toestop. Ek wil bitter graag met hierdie Wessels vent gaan praat.’ sê Dirk

‘En die brigadier. Ek wonder hoeveel weet hy van wat hier aangaan?’ sê-vra Marius.

‘Sy….. die brigadier is ‘n sy’

//

Maart 1978
Renier sit en wag vir die rooi liggie op die kamera om af te skakel. Hy sak moeg terug teen die muur. Vier maande…… Vier lang maande.
Hy moet dit toegeë aan Kotwal. Die man ken sy storie. Die dieët in hierdie hool. Hulle hou jou net-net aan die lewe. Gekoppel aan die aanhoudende gereelde breinspoeling en indoktronasie, eis dit uiteindelik sy tol. Selfs al ontglip jy die medikasie. Hy vryf oor sy oë.
Hy vou vir die hoeveelste keer die verimpelde rolletjie papier oop. Die vloerplan van die Kotwal woning, en die spinnerak van die rioolgange onder dit. Onder sy bed, versteek onder ‘n klein matjie, is die gat. So groot, dat hy met moeite sy skouers daarin kan afwikkel. Die amper halfmeter wat hy elke nag aftonnel na sy vryheid toe.

Hy sien die liggie flikker, en dan doodgaan. Hy wag. Petros bring vannaand nuwe gereedskap. Sy huidige beitel is stomp. Na raming, is hy minder as twee meter bokant die rioolgang.
Teen hierdie tyd volgende week, is hy en Petros vry. Dit is al waaroor dit nou vir hom gaan. Sy vryheid. Diep onder in die ontsnappingsroete, is ‘n waterdigte sakkie, met genoeg afskrifte van dokumente om Kotwal vir ewig weg te sit.

Die ontnugtering het gekom, toe Petros die lys name gebring het van lede van die SAP en die regering van hierdie pragtige land, wat almal betrokke is in hierdie gemors.
Kotwal sal wegstap voordat die ink op die stempel van die hof droog is. Die man se invloed in hoë kringe is amper ongelooflik.

So, vir nou, wil Renier net wegkom hier. Hy sal wel met Kotwal op sy manier afreken.
Die knars van die sleutel in die slot, ruk hom terug na die hede. Petros beweeg soos ‘n skaduwee sy sel binne.
‘This isnt as good quality as the previous chisel. But it will do.’ sê hy eenvoudig, en druk die blink stuk gereedskap in Renier se hand. Hy beweeg vinnig terug na die deur, en die sleutel knars weer. Renier bly sit, en presies driehonderd tellings later, flits die rooi liggie op die kamera weer aan. Hy skuifel oor na die bed toe, en hy seil ongemaklik onder dit in.
Sy nag kan begin.
//

Die klein flitsie het vars batterye, met komplimente van die lang swart man. Renier haal diep asem voordat hy die hamer optel. Soos elke ander nag, kom sy krag van binne. Daardie nuwe bron wat hy nie verstaan nie. Iets wat oor die laaste vier maande, van ‘n netelige saadjie, gegroei het tot ‘n magtige teenwoordigheid in hom. ‘n Dryfkrag. ‘n Energie wat hom soms verbaas.
Hy slaan sekuur die bokant van die nuwe beitel raak. Nog ‘n stukkie grond en sement gee pad. Nog ‘n sentimeter nader aan sy vryheid.

//

Dirk en Marius se voetval is in pas op die gladde teer. As hulle by Darras Centre verbydraf vra Marius:

‘Goed, modus operandi. Jy is doodseker die hele Matthyssen moord is gekook?’ vra Marius.

‘Doodseker’

‘En jy gaan hierdie Brigadier dame bel, en sy gaan sommer net omrol, en al die jakkalsies uitrook ?’
Dirk lag.

‘Sy is nie die bel-tipe nie, pêl. Ek sal sommer net daar by haar inval. Dit is al manier waarop ek met haar sal kan praat. Jy weet hoe dit is met die polisie en ons ouens in die privaat sektor.’

‘Ok, en dan kap ons vir Kaptein Wessels, en dan die speurdertjie daar in die laeveld?’
‘Dis die plan, en dan ry ons Durban toe. Die res van die antwoorde is daar.’

//

Net na ontbyt bel Dirk vir Anton Opperman. Nadat die familiariteite uit die weg geruim is, val Dirk met die deur in die huis.
‘Anton, is die brigadier op kantoor?’
Daar is ‘n effense aarseling.

‘Is jy doodseker jy wil daardie perd opsaal? Ek neem aan daar was ongeruimdhede met die….’

‘Verseker’ val Dirk hom in die rede ‘Anton, sy moet weet wat onder haar neus aangaan. As ek die skuldiges self gaan aantree, gaan dit ‘n vieslike affere afgee. Ek kan dit nie nou bekostig nie. Sy sal maar self die kraaines in die drade moet uitsort.’

‘Jirre Dirk, sy is nie die maklikste mens nie. Sy gaan jou wragtag nie om die hals val nie’

‘Wel, Anton, sy gaan nie n keuse he nie. Sooooo, is sy daar?’

‘Sy is hier’

‘Dan sien ek julle so oor ‘n uur’

Hy hoor die mismoedige sug as Anton die foon neersit. Dirk glimlag.

//

Dirk stop die swart BMW weereens langs die rooi Murano. Anton staan in die voorportaal. Hy leun vertroulik oor die toonbank, en die ontvangsdame is klei in sy hande.
Dirk maak keelskoon.

‘Sorry boet, en ek wil sommer die bul by die horings pak. Waar is haar kantoor, en is sy alleen?’

‘Af in die gang. Reguit oor in haar kantoor in,’ Anton kyk ernstig na Dirk. ‘en sterkte’ voeg hy by, en draai weer terug na die trekpleister toe.

Dirk stap in die gang af, en hy tik net vinnig teen haar deur, en stap in. Sy sit agter haar lessenaar. Dirk druk die deur agter hom toe…. en hy staan net daar. Sy kyk op, en vir ‘n ewigheid, staar hulle net vir mekaar.
‘Dirk Dhooge, en as ons gaan verkeerd afskop, kan ons dit netsowel dadelik doen. Ek is ‘n privaatspeurder.’
Sy is nie in uniform nie. Sy het ‘n roomkleurige onvleiende broekpak aan. En sy is absoluut fokken gorgeous. Die vlamrooi hare, die deurskynende groen oë en die breë skouers.
Sy kan daar sit in ‘n ou meelsak, en nog steeds die voorblad van Cosmo maak. Jirre, dink Dirk, hy hoop sy baklei. Want as hierdie vrou hom ‘n halwe kans gee, val hy halsoorkop vir haar. En sy wonde is nog rou van sy vorige onderonsie met ‘n vrou wat hom ‘n halwe kans gegee het.. Hy skud sigbaar sy skouers.

‘Ek’s besig, meneer Dhooge. En ek praat nie met privaatspeurders nie,’ sy aarsel ‘n oomblik ‘tensy hulle natuurlik in my kantoor inbars….’
Weereens staar hulle net vir mekaar.

‘Goed, jy is besig. Kan ek jou uitvat vir ete vannaand? Dit is belangrik’ sê Dirk eenvoudig.
Sy kyk hom geamuseerd aan.

‘So jy neem sommer aan dat ek ‘n losloper is.’

‘Dit is irrellevant. Ek eet by Ocean Basket in East Rand Mall vannaand. Seweuur.’ Dirk draai om en stap by haar deur uit. Die fokken vroumens gaan sy hormone deurmekaar krap…..

//

Dirk soek ‘n tafel waar hy die deur kan sien. Die jong blonde kelnerin kloek om hom, en hy bestel ‘n bottel Two Oceans Cabernet en hy vra vir twee glase.

‘Ek verwag iemand. Gee my so ‘n gap met die kosorder, ok.’ Dirk flits sy seuntjieglimlag vir haar en sy fladder weg.
Dirk kyk na die besige restaurant om hom. By die tafel langs hom, word ‘n hoop garnale neergesit, en Dirk weet wat hy gaan eet. Hy kyk op sy horlosie. Tien oor sewe.

Tien minute later, stap sy in. Dirk lig sy hand en sy kom doelgerig na sy tafel toe aangestap. Dirk skink haar glas halfvol, staan op en trek haar stoel uit as sy by die tafel kom.

‘Meneer Dhooge,’ groet sy stug.

‘Ons is op ‘n date’ skerts Dirk ‘noem my Dirk…. asseblief.’

Sy kyk hom reguit in die oë, en dit lyk asof sy haar wil teësit, maar dan sê sy:

‘Milla’

‘Kyk daar Milla’ Dirk wys na die hoop garnale op die bord langsaan. Dit is vinnig besig om te verdwyn.

‘Ek’s in. Hulle is my favourite seekos. Hulle lyk gorgeous.’

‘Jirre, eks dood van die honger!’ Dirk steek sy hand op vir die kelnerin.
Hulle bestel ‘n magdom garnale, en Dirk sien sy ontspan effens. Die groen oë bly egter hard en beredenerend. Die peperment en seewier reuk is haar sjampoe. Dit vul Dirk soos suurstof.

‘Dit is baie cosy dié,’ sy wys in die algemene rigting om haar ‘maar jy wil praat?’ sê-vra sy. Sy vat ‘n slukkie wyn.

‘Jyt ‘n korrupte mag onder jou. Ek dink jy moet dit weet. Majoor Makoena het daadwerklik met leidrade en forensiese uitslae geneuk. Dít kan ek bewys.’

Sy verstar. Dirk dink vir ‘n oomblik dat sy gaan opstaan en uitstap.

‘Groot aantuigings, meneer Dhooge. Majoor Makoena is ‘n goeie polisieman. Di…’

‘Like hell, Milla. En as jy so vinnig op jou agtervoet is, en weer die “meneer” in my rigting slinger, kan ek netsowel jou die hele storie vertel, voor jy hier uitstorm soos ‘n stout tiener, en my los met ‘n halfton seekos’

Sy vererg haar uit haar heupe uit. Sy leun vooroor.

‘Wie de duiwel dink jy is jy? Wat laat jou dink ek stel belang in jou storie. Ek la..’

‘Wag, fok!’ Dirk se blik deurboor haar, en sy sak terug in haar stoel.

‘Milla, ek het ‘n groot probleem. Mense om my gaan dood. Hulle word daadwerklik afgemaai. Ek weet nie wie agter dit is nie, en ek weet nie heeltemal hoekom nie. Al wat jou hierby betrek, is dat daar ‘n moordenaar nog vry rondloop, en dat jou polisiemag korrup is. Dit is al hoekom jy hier is. Ek dink jy moet weet. As jy my storie wil hoor, sal ek jou vertel, want ek is desperaat, MAAR, dit is my probleem.’

‘Goed’ sê sy stug ‘dankie, ek sal dit opvolg. My eetlus is skielik daarmee heen.’ Sy skuif haar stoel terug.
Op die ingewing van die oomblik, sit Dirk sy hand op hare. Haar reaksie is heeltemal die teenoorgestelde van wat Dirk verwag het. Sy word doodsbleek. Haar gesig verander in ‘n masker van graniet. Sy ruk haar hand weg.

‘Jy vat nie aan my nie!’ sis sy. Sy staan so vinnig op dat haar stoel omval. Verskeie oë draai in hulle rigting. Vir ‘n oomblik lyk dit of sy vir Dirk gaan aanval. Dan vat sy stadig haar handsak, en sy draai om en hardloop uitgang toe. Dirk oorweeg vir ‘n sekonde om haar te volg, maar hy sak terug in sy stoel. Die blonde kelnerin is skielik daar.

‘Ek kan nog haar order kanselleer meneer’ sê sy simpatiek.

‘Kanselleer alles juffrou, kan jy asseblief vir my die rekening vir die wyn bring?’

//

Dirk rol rond. Slaap wil nie kom nie. Selfs die reuse kamer in die ou huis is te klein. Hy staan op, en haal sy sakboekie uit. Hy tik Brigadier Milla Keyter se nommer in sy foon in. Na twintig minute, waarin hy amper tien keer die skakelknoppie gedruk het, en dadelik weer doodgedruk het, tik hy vir haar ‘n sms.

‘Ek’s jammer’

//

‘Goeie môre’ kloek Marius ingedagte van agter die skootrekenaar se skerm uit. Dirk sit aan by die ontbyttafel.

‘Daars fokkol vreeslik goed aan vanmôre nie.’ mompel Dirk en sit agteroor in sy stoel. Marius kyk met ‘n opgetrekde wenkbrou na hom.

‘Moenie jou mooi koppie daaroor breek nie,’ gaan Dirk beneuk aan ‘lig my bietjie in oor die Carletonville debakel.’

Marius besluit om Dirk se bui te ignoreer.

‘Ek dink ons mors ons tyd met die Carletonville storie. Die verdagte het homself geskiet. Ene Eben Barnard. Rykmanseun, haan onder die henne, het homself heelwat taaier voorgegee as wat hy was, het ‘n rekord en verskeie onderonsies met die mag gehad, maar pappa se geld het sy gat elke keer gered…bla bla bla.’

‘Ok, enigiets vreemd?’

‘Ummm, daar is ‘n paar ooreenkomste met die Matthyssen moord. Deon Strydom se geslagsdeel is verwyder….. lewend by the way, en in sy keel afgedruk. Die moord smack ook van seksuele vergelding…. dieselfde as Matthyssen. Ek..’

‘Wag ‘n bietjie’ val Dirk hom in die rede. ‘enige inligting daar oor die moordtoneel. Watter metode is gebruik om die ou te kry dat hy stil lê sodat sy lat afgesny kan word….. daai tipe van goed?’

Marius skud sy kop.

‘Niks, ek het net die breë trekke hier , uit koerantberigte. Niks detail nie.’

‘Goed, gaan aan, jy het gepraat van meer as een ooreenkoms.’

‘Ja, die ander duistere aspek, en dieselfde een wat my gepla het van die Matthyssen moord, is dat hierdie Eben Barnard tien dae na die moord op Strydom, in ‘n barfight was, en die polisiemannetjie wat dit opgevolg het, het die moordwapen, en al die leidrade om die misdaad netjies op te los, in sy kar gekry….’

‘Tien dae na die moord?’ vra Dirk.

‘Jip, hoe stupid moet jy wees om met verdoemende getuienis in jou kar rond te ry. Dit moes vir Heleen ook gepla het, want sy het ‘n wereldwye ondersoek gedoen na soortgelyke tipe misdade, en soortgelyke oplossings daarvoor. Kan jy raai hoeveel moordenaars ry met die moordwapens in hul voertuie rond?’

Dirk skud sy kop.

‘Nul komma nul drie persent wereldwyd. En al daardie gevalle was kort na die moord. Jy weet, soos hulle is amper op heterdaad betrap.’
Dirk fluit deur sy tande.

‘Whats the odds? Weereens, Marius, was daar motief?’

‘Niks in die verslae nie, maar die Eben Barnard was blykbaar ‘n regte kaksoeker.’

Dirk snork… ‘Ek gee nie om hoe groot kaksoeker jy was nie, om iemand se tril af te sny en in sy keel af te druk…. moet jy fokken special wees.’

Marius knik.

‘Twee dae na Barnard se dood, is die saak deur Wessels toegemaak.’

‘Handig, baie handig.’

‘ Het jy enige info oor die derde moord?’

‘Jip, alles hier. Dirk, net met ‘n ander draai, maar kom op dieselfde neer.’ antwoord Marius.

‘Dat die stomme ouens wat nou in die tronk sit, taamlik amateuragtig geframe is?’

‘Jip, en met ‘n bietjie hulp van die mag, soos ons nou al agter gekom het, en jy het drie pragtige gekamoefleerde moorde!’ Marius sit terug. ‘Slim gedoen ook, want ons liefies wat in die tronk sit, was nou nie regtig engeltjies nie. Baie slim, en baie ingelig…… hierdie mannetjie wat ons soek…’

‘Million dollar question…. as dit ons geheimsinnige man is, hoekom maak hy die fantastiese vier dood, en meer belangrik, hoe gebruik ons hierdie informasie om hom op te spoor?’ peins Dirk.

‘Ek dink ons kry eers ons gatte in Durban. Kry my pa se dagboek, kry meer duidelikheid, en dan vat ons die ding verder.’

‘Nou maar goed. Dit maak sin. Wessels gaan ons net meer vertel van wat ons reeds weet. Ons kan hom later corner.’

Roelien warrel die kombuis in. Sy hoor net die laaste deel van die gesprek.

‘Daar is natuurlik nog een ander alternatief’ voeg sy by. ‘Siegfried Kamfer lewe nog. As mens net by hom kan uitkom, is ek seker hy sal ook kan lig op die onderwerp gooi.’

Dirk en Marius kyk vir mekaar.

‘Ons kry eers die dagboek’ stel Dirk voor.

‘Ek stem. Immers is die dagboek ‘n veranderlike. My skouer is beter, maar ek is nie regtig lus vir konfrontasie nie. Nog ‘n week, dan is ek perdfris.’

‘Hoe het die ding met die brigadier toe afgeloop?’ sluit Marius aan.

‘Jy wil nie fokken weet nie.’ mompel Dirk, en stuur die gesprek in ‘n ander rigting.

‘Ek het verder gedink aan die Bluff storie…. wys my weer die Googlemap van die area asseblief?’ Dirk wys na die skootrekenaar, en Marius raak besig met die klawers. Die kaart verskyn op die skerm, en Dirk kyk aandagtig daarna.

‘Ek weet nie in watter toestand die basis is nie. Ek was jare gelede daar, toe was dit makliker om by Fort Knox in te kom, maar die nuwe Suid-Afrika was maar hard op die strukture van die ou bedeling. Regardless, ek wil nie onnodige vere omkrap nie, en as die koördinate presies is, gaan dit makliker wees om van die see se kant af in te kom.’

‘En ek neem aan jy het die nodige kontakte om vir ons ‘n duikboot te kan reel daar.’ skerts Marius.

Dirk glimlag, en trek sy selfoon nader. Voor hy skakel, kyk hy eers na die skermpie…… daar is geen boodskappe nie.

Word vervolg … 

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: