STORIEMONSTER – Episode 25

Die Hollander drink al die bier in die kroegyskas. Die alkohol voed sy humeur soos olie ‘n latern voed. Dit was nog altyd so. Teen tienuur is hy dronk en kwaad genoeg om sy boot te gaan soek. Hy klouter op ‘n vurkhyser, en sonder om tweekeer te dink, druk hy die groot masjien in rat, en kruie hy in die rigting van die vragskepe in die verte.

Die Buccaneer dobber rustig tussen die vragskip Thor’s Wave en ‘n reuse MAERSK houerskip. Die Hollander los die Hyster onseremonieel op die kaai, en sonder om links of regs te kyk, spring hy oor die rand in die dieptes in.

Die twintig meter val en die koue water van die hawe, doen absoluut niks vir die Hollander se gemoedstoestand nie. Hy hou nie daarvan om gejaag te word nie, en nog minder daarvan om dopgehou te word. Wie dink hierdie fokkers is hulle?

Die twee Yamaha’s spring rats aan die lewe. Die Hollander los hulle dat hulle luier. Hy gaan elke perdekrag wat hulle kan bied, nodig hê. Laat hulle bietjie hitte in hulle kry. Hy hou homself besig met die masjiengeweer.

Hy koppel die batterypakke, en maak seker die ekstra pak op die vloer van die boot is gekoppel. Hy toets die krag van die onderskeie batterye… Hy sal sesduisend rondtes deur die geweer se nek kan ruk. Die twee ammunisie houers bevat vyfhonderd rondtes elk. Die Hollander lag waansinnig, en onder die basis van die wapen, ruk hy ‘n verdere vier houers uit. Drieduisend rondtes…. kak gaan hulle kak.

Die staalskroewe gryp gulsig na die vuil hawewater om dit. Die Buccaneer se neus lig. Die Hollander laat die twee buiteboord masjiene skree. Hy raak-raak net so aan vyftig knope wanneer die Yacht Club se geboue sigbaar word. Hy maak eers ‘n swierige draai voor die landingsplek by sy buitegebou. Daar is nie ‘n siel in sig nie.

Hy draai weer. Laat hy hulle dan bietjie uitlok. Die boot se neus skeur weer voor die klub verby. Daar is beweging op die stoep. Dan sien hy hulle. Outomatiese wapens skielik in hulle vuiste. ‘n Vrou met twee kinders wat langs die swembad besig was om son te steel, staan haastig op. Sy kloek-kloek die kinders teen die trap voor die stoep op. Slim vrou.

Die eerste man draai, en lig sy wapen. Die Hollander druk die brandstoftoevoer toe, en die Buccaneer se neus sak. Hy spring op en draai die XM 214 se ses lope in die algemene rigting van sy aanvallers. Die wapen in die man op land se hande blaf, maar dit is hoog. Die Hollander hoor verskeie patrone bo-oor hom swiep. Dan gooi hy die skakelaar oor, en trek die snellers.

Die lope begin manies draai. Die elektriese motor wat hulle aandryf loei vreesaanjaend. Dan klink dit soos verskeie bybels wat skeur. Die eerste sekonde gee geboorte aan dertig .223 kaliber patrone. Die wateroppervlak voor die klein strandjie kook vlietig, en die Hollander trek die wapen effens op.

Twee van die manne op die groen graspek voor die klub, ontvang elkeen dertig rondtes. Hulle disintegreer in ‘n ontploffing maroenrooi. Stukkies materiaal wat grond toe wapper is die eindresultaat.

Die derde man vlieg om, en begin terug hardloop na die klubhuis. Die Hollander trek effens regs, en druk die snellers. Die gras verander in ‘n stowwerige sloot sand agter die hardlopende man. Dan haal die eerste lood hom in. Sy bene verdwyn. Stukkies been en vleis pleister die muur voor die stoep. Die momentum van die patrone gooi die deel van sy bolyf wat ongeskonde gebly het, hardhandig teen die trappe. Die stukkie liggaam val ruk-ruk af tot op die onderste trap…. en bly leweloos lê. Iewers gil ‘n vrou histeries.

Die vierde man hardloop in die rigting van Jens se stoorkamer. Hy vuur sporadies van sy heup af skote in die rigting van die water. Haastig, slordig… bang. Jens draai die geweer. Die elektriese motor loei. Agter die hardlopende man verbrysel die patrone verskeie blokke asbesmuur. Die bol stof volg die hardlopende man…. en wen die wedloop. Die lood tref hom bokant sy middelyf, en sy bene en torso gly oor die bebloede gras as hulle aan niks meer vas is nie. Iewers in die parkeerarea agter die muur, breek ‘n motorvenster, as die man se wapen deur dit val….. die hand nog om die kolf.

By die boonste parkeer area, sien Jens die wit Hilux haastig beweeg na die uitgang toe. Hy draai blitsig die wapen, maar verskeie vlugtende mense, laat rede terugkeer na die Hollander. Hy laat sak die lope. Hy klik die twee ammunisie houers uit, en sit die varses in. Vir nou moet hy skuiling soek.

Hy jaag die boot uit op die klein strandjie. Hy ruk die twee Yamahas betyds uit die water, en hy laat die boot lê. Hy hardloop voor die klubhuis verby. Daar is nie ‘n siel in sig nie. Hy gly-gly deur die bloed op die vernielde grasperk en dan is hy by sy stoor. Die fokken sleutel vir die hoofdeur lê nog in die boot. Fok. Hy storm die klein kantdeurtjie uit sy kosyne, en in een vloeiende beweging spring hy agter die Landrover se stuur in. Die V8 brom ongeduldig met die eerste draai van die sleutel. Jens druk die voertuig in trurat. Die agterdeur in die parkeerarea bars oop. ‘n Onwettig geparkeerde Honda motortjie word die slagoffer van die Landrover se bosbreker. ‘n Slagoffer van die Hollander se humeur. Hy stoot die karretjie met geweld uit die pad, dan is die Landrover vry.

Jens jaag op met die stuwal. Hy bars deur ‘n omheining. Die wal strek amper seshonderd meter die hawe in. Weg van die publiek, en daar voor sal hy ‘n driehonderd en sestig grade uitsig hê om hom. Hy ruk die seil van die Browning af, en ruk die eerste armor-piercing Barnes patrone in die wapen se keel in.

Laat hulle daai fokken helikopter bring.

Die Hollander hoef nie lank te wag nie. ‘n Magtige doef-doef kom oor die hawe van die punt se kant af aan. Jens herken dit dadelik. Jissis, waar kom die mense aan hulle wapens?

Die groot Puma AS332 kom laag oor die water aan. Die twee Turbomeca Turboshafts laat die rotor die wateroppervlak kap en kabbel. Die helikopter is nie bewus van sy posisie nie. Dit vlieg verby die sperwal…. in die rigting van die klub. Jens slaak ‘n sug van verligting. Hy kan die kantluike sien, en die .50 cal soortgelyk aan die een in sy hande sien skitter in die opening.

‘n Fokken Puma! Om daai ding te laat neerbliksem, sal hy beide enjins moet uitskiet. En oortuigend! Dit is ‘n berugte helikopter. Nie jou maat nie. Hy swaai die groot M2HB in die rigting van die vaal helikopter. Die groot geweer bulder. DOE-DOE-DOE-DOE…. die Landrover ruk onder die skop van die wapen. Jens is te laag. Etlike stofwolke slaan onder die landingswiele van die helikopter uit. Die soldaat in die luik is blitsig agter die Browning. Hy weet nie waar om te mik nie. Jens bulder van die lag, en lig die geweer.

DOE-DOE-DOE-DOE…. rook borrel skielik by die Turboshaft op die regterkant uit, en onmiddelik sien Jens hoe die loods die inlaat aanpas na die ander masjien toe. Die toon van die groot voël verander, en dan draai dit.

Jens mik weer hoog. Die Browning blaf, maar dié keer is die skote te hoog. Hy laat sak die geweer effens, en jaag vyftien 12,95mm patrone in die kajuit van die helikopter in. Die neus sak en die oorblywende motor loei histeries. Dan lig die stert koddig, en die vier lem rotor kap die hawe se vuil water raak. Die see trek die groot helikopter soos ‘n magneet. Daar is ‘n massiewe klap as die rotor breek, dan val die vaal vliegtuig in die water.

Drie minute later borrel die water oor dit, en herstel die wateroppervlak na normaal. Jens laat sak die loop.

Nou nog net die twee konte in die Hilux. Dan kan hy ‘n dop gaan drink. Dit is dorswerk dié.

//

Martin Marx se huis in Dertiende laan Northmead, is nog in die ou uitbreidings. Loodplafonne en houtvloere. Dirk swaai die BMW, met Marius kort op sy hakke in Roelien se Getz, by die motorhek in, en sien met verligting dat die garage, en ‘n enkel afdak agter die huis is.

Die plek is perfek. Roelien kom uitgestorm, en Dirk kan sien dat die twee jongmense voor hom hulself moet bedwing om nie inmekaar se arms in te val nie. Hy glimlag.

‘Julle het darem julle heilige tyd gevat om hier uit te kom!’ skel sy.

‘Ok, ok,’ keer Marius en hulle stap hand om die lyf die huis binne.

//

Hulle sit om die eetkamertafel. Roelien is grysbleek as sy begin praat. Sy skuif die dagboek weg voor haar, en probeer die massas informasie wat die twee mans voor haar so vinnig afgerammel het, te verwerk.

‘Ek het geen idée gehad dat hierdie so groot is nie. Jissis, 9-11.’

Sy staan op en begin op en af voor die tafel te loop. Haar hand onder haar ken.

‘Eenhonderd en vyftig fokken vrot appels!’

‘Jip’ sê Marius en tik op die boek voor hom. Hy draai dit in Dirk se rigting.

‘Hoekom sal die naampie in rooi wees?’ vra hy en tik op ‘n naam halfpad af in die lys.

‘Majoor Charl Steyn,’ lees Dirk die naam. ‘Geen idée nie.’

‘Ok, hoe de duiwel gaan ons hierdie ding benader?’ vra Marius.

‘Eks lus en klim in jou kar, en ry Randfontein toe, en gaan skiet hom in sy gesig.’ mompel Dirk.

‘ Ek dink nie dit gaan lekker werk nie. Kyk gou hier,’ sê Marius en skuif die dagboek oor na hom toe.

Dirk lees gou die laaste paar inskrywings.

‘Fok,’ is al wat hy uitkry.

‘Jip, die generaal het hom verloor. Ek dink ons moet Siegfried Kamfer se tjank gaan aftrap.’ stel Marius voor.

‘Dit is blykbaar nie net van instap, en trap nie. Moeilike mannetjie om by uit te kom as ek reg verstaan.’ mor Dirk.

‘Julle dink nou met testosteroon, in plaas van julle koppe.’ Roelien kyk ernstig na hulle ‘Ek stel voor ons kry ‘n persoon hoog op in either instansie, polisie, weermag of regering, wat nie op daardie lys is nie, en wat gaan bereid wees om te luister.’

Marius snork.

‘Dit is Afrika die, meisie. Hierdie hele ding klink so vêrgesog, wie gaan na ons luister?’

Dirk tik-tik op die tafel.

‘Ek ken iemand taamlik hoog op, maar fok weet, sy is nie baie goed met luister nie’

‘Jou Brigadier!’ roep Marius opgewonde uit.

‘My fokken Brigadier’ sê Dirk, amper moedeloos.

‘Kwaai,’ gaan Marius aan ‘Ek dink natuurlik ons moet bietjie gaan snuffel daar in Randfontein. Terwyl Kotwal nou weg is, kan ons maar netsowel ‘n gevoel kry vir wie my ma se moordenaar was.’

Dirk knik.

‘Dit kan seker nie vreeslik skade doen nie. Kyk, ek dink nie hulle weet presies wát ons weet nie. So as ons dit taamlik sonder om golwe te maak kan doen, kan ons dalk net meer uitvind. Waar is daardie plan van die huis?’

Marius krap in sy pa se dagboek.

‘Hier’

‘Ok, ons maak kopiee van die kaart, en dan gaan gooi ons vannag n draai daar.’ Se Dirk.

‘Eks seker nie genooi nie.’ merk Roelien suur op.

Dirk en Marius kyk vir mekaar.

‘Dit is net surveilance’ sê Dirk ‘as jy nog ‘n koppie koffie maak, kan jy saamkom.’

Roelien hardloop ketel toe.

//

Dirk en Marius ry Oakfields winkelsentrum toe. Hulle maak afskrifte van die Kotwal woning se vloerplan, en van die Maatskappylys name.

Dirk steek die lys in sy bosak en glimlag vir Marius.

‘Kom ons kyk hoe werk hierdie as bargaining tool..’ grinnik hy onoortuigend.

Hy laai vir Marius by die huis af, en bel vir Anton Opperman.

‘Yes Anton, hoe lyk dinge?’

‘Jirre Dirk’ val Anton met die deur in die huis ‘wat de fok het jy met die brigadier gedoen nou die aand? Sy is soos ‘n brullende leeu, en die res van ons kak hare soos wolwe. Sy stoomroller elke oggend hier in, en van daar af, is dit net nag.’

‘Nie veel nie, ouboet. Is sy in?’

‘Sys hier, maar ek dink jy speel op AVBOB se stoepe om nou met haar te neuk’

‘Sien jou oor tien minute’ sê Dirk en lui af.

//

Anton wil nog keer, maar Dirk Dhooge stap ferm deur na Brigadier Keyter se deur toe, klop ‘n enkele keer en stap in. Hy klap die deur in Anton se gesig toe.

Sy is in volle uniform, en as sy opkyk, is dit of ‘n weerligstraal haar tref.

‘Jy,’ sis sy net.

‘Ja, ek!’ sis Dirk terug en voor sy kan aangaan plof Dirk in die stoel oorkant haar neer, en hy gooi die naamlys voor haar neer.

‘Milla, ek gaan nie jou gat lek en vir jou vertel ek kan nie hierdie ding oplos sonder jou nie, want ek kan. Maar, ek en jy het verkeerd afgeskop om een of ander rede, en dit pla my. Verstaan my baie mooi, eks hier vir jou hulp, ja, maar ek is meer hier omdat dit JY is. Jy krap aan my hormone. Ek wil hȇ jy moet dit weet, en ek gaan probably weer aan jou vat. En as jy weer weghardloop, hardloop ek hierdie keer saam.’

Dit vat die wind effens uit haar seile, maar dan word die oë weer hard en koud. Sy doen presies wat Dirk nie verwag nie. Sy ruk ‘n kortneus .38 rewolwer uit haar boonste laai, en druk dit langarm in Dirk se gesig.

‘Jou hormone is net dit, joune’ sis sy ‘vat aan my, en ek sal met die grootste gemak hierdie sneller trek, is dit duidelik?’

‘n Roekeloosheid kom oor Dirk. Hy sit sy groot hand om die hand wat die rewolwer vashou, en hy trek dit meer inlyn met sy voorkop. Hy sȇ niks, en kyk haar vierkantig in die oë.

‘As jy daardie sneller getrek het, sou jy Inspekteur Opperman voor die deur doodgeskiet het.’

‘ Majoor Opperman’ sȇ sy en laat sak die wapen. Dirk hou sy hand op hare. Sy sidder merkbaar, en hy vat sy hand weg.

‘Dirk’ sê sy net, en bly stil.

‘Kyk na die lys name Milla. Dit is belangrik. Ek bly in Martin Marx se huis. As jy wil praat, ek is daar.’ Dirk staan op en stap deur toe.

‘Dirk’ se sy weer, en as hy omkyk, sien hy ‘n traan teen haar wang afrol, dan beduie sy hom uit haar kantoor uit met ‘n beweging van haar ken.

Dirk ry huis toe. Wat de fok is dit met dié vrou? Sy bel hom voordat hy terug is by die huis.

‘Dirk, wat de duiwel is die idée met hierdie lys? Hier is groot kanonne op hierdie lys. Jy maak ‘n fout?’

‘Ok Milla, het jy enigiets gehoor van ‘n ontploffing in Kensington vanmore?’

‘Nee’

‘Goed, ons blaas ‘n kar op helder oordag, dit maak nie eers rippels op die gladde oppervlakte van die meer nie. Niks. Ons huis in Edenvale word opgeblaas, en twee van my vriende sterf….. niks. Ons het ‘n mini oorlog in Randfontein….. jip… fokkol. Ek kan vir jou verskeie ander nuuswaardige voorbeelde noem. Niks. Die name op daardie lys trek die toutjies. Verduidelik dit vir my.’

‘Ek kan nie. Dirk, ek gaan eerlik wees. Ek weet meer van hierdie ding as wat ek voorgee.’

‘Hoe so?’

‘Die handskrif waarin die lys geskryf is….. ek herken dit’

Dirk ruk die BMW tot stilstand by die publieke swembad in Northmead.

‘Jy WAT?’

‘Generaal Renier van der Berg,’ sê sy net. ‘Ek sal jou kom sien vannaand. Ons sal moet praat.’

//

Die viertal sit om die eetkamer tafel. Milla Keyter praat.

‘Ek en Generaal va…..Renier, het op ‘n kol dieselfde teiken gehad. Siegfried Kamfer. Daar was skielik ‘n oorvloed Crystal Meth op die strate van Johannesburg. Mense word gevang en hulle praat. Siegfried Kamfer was ‘n verskaffer. Ons het sy klub betrek op ‘n sting operation, en met leë hande uitgestap. Dit was seker die enkele grootste vernedering wat my afdeling nog oorgekom het. Daar was destyds helse druk deur Kamfer geplaas op die plaaslike owerheid. Die burgemeester en dies meer, en hy het ons gedagvaar, en gewen. Kamfer is ‘n bliksem. Nadat die stof gaan lê het, het Renier met my in kontak gekom, en met sulke absurde insunuasies gekom, dat ek hom onmoontlik kon ernstig opneem. Julle daarenteen, doen blykbaar, en as wat met julle gebeur het, waar is, het ons ‘n moerse probleem hier.’

Dirk val haar in die rede.

‘Het jy enige idée wie Renier van der Berg was?’

‘Ek het my huiswerk gedoen. Dirk. Stel jouself egter in my posisie. Kamfer het seker gemaak ons krap nie weer nie. Ek was bewus dat daar toutjies getrek word boontoe, maar ek het geen idée gehad dit gaan so hoog nie.’ sy tik op die lys name wat voor hulle op die tafel lê.

‘Crystal Meth?’ vra Roelien. ‘Dit is seriously gevaarlike goed daardie. Tik.’

‘Maklik om te maak, met relatiewe verkrygbare bestandele, met vieslike elemente wat agterbly na die produksie proses.’ antwoord Milla. ‘en om alles te kroon, het die beskikbaarheid van ‘glass’ of ‘tik’ tienvoudig toegeneem oor die laaste paar jaar.’

‘Die terroris broeikas was seker nie meer finansieel vatbaar nie.’ merk Dirk droog op.

‘Nie met Renier van der Berg op jou hakke nie’ sê Milla, en daar is respek in haar stem.

‘Raait’ se Dirk, sy been raak aan Milla s’n onder die tafel, en eers trek sy weg, maar laat dit dan teen syne rus. Die heelal druk ‘n reuse roeispaan in sy pot hormone.

‘Ek het geweet dat daar ‘n lys was. Die Generaal het dit genoem. Ek het nie geweet wie op die lys is nie. Die Genraal het ‘n informant in hierdie sogenaamde Maatskappy.’

‘Die rooi naampie.’ Dirk wys na die lys.

‘Korrek, en ek kan hom in die hande kry.’ antwoord Milla

‘ Wat weet jy van Simon Kotwal?’ vra Marius skielik vir Milla.

Die hele tafel kan sien sy sukkel om haar emosie onder beheer te hou.

‘Simon Kotwal? Wat het hy hiermee uit te waai?’ vra sy, haar stem bewe.

‘Ek neem aan jy ken hom?’ vra Marius weer.

‘Hy is die duiwel self, en Wilma Kotwal, sy suster, is ‘n dier.’ Die emosie stu in haar op soos ‘n gety, sy sit haar koppie so hard op die tafel neer, dat die oor afbreek. As sy weer praat, is haar stem koud.

‘Kry vir my Kotwal en Kamfer, en ek gee julle die Maatskappy.’ sy staan op en strompel amper by die agterdeur uit. Dirk volg haar, maar sy hou net haar hand op. Sy klim in die rooi Murano, en dan is sy weg.

//

Hulle ry elkeen met hulle eie gedagtes Randfontein toe. Dirk se gedagtes is gepekel in peppermint en seewier. Marius s’n is deurtrek met haat. Uiteindelik, gaan die prooi die jagters word. Roelien se gedagtes is logies en helder.

‘Hoe gaan ons daar inkom?’ vra sy.

‘Soos my pa het.’ antwoord Marius, en hy tel ‘n stuk yster wat by sy voete lê op.

‘Hierdie instrument is met die komplimente van Benoni Munisipaliteit. Hiermee tel jy manholecovers op.’ Hy glimlag breed vir haar.

Hulle ry Steenboksingel binne. Regs is nommer 51. Nog plot, maar oorkant die pad sit die meenthuise dig gepak. Daar is ‘n amper afgeleefdheid aan die groot staalhekke voor die plek. Bossies groei teen die muur langs. Krake in die muur is groen deurtrek met mos. Op die sypaadjie self, is die gras wit en lusteloos. Groot kolle stof tussen dit.

‘Waar is die kaart?’ vra Dirk. Hy skakel die dakliggie van die BMW aan, en saam kyk hulle na die doolhof gange om die Kotwal woning.

‘Die kaart is bitter oud. Check hier, die plekke word nog aangedui as leë persele. Kyk daar, hulle is dig bebou. Die straat langs die kant af ook. Soos fokken sardientjies in ‘n blik gepak.’ Dirk wys na die blok voor hulle.

‘Aan die agterkant is alles nog plot. Hoe groot skat jy die gronde?’ vra Marius.

‘As ek na die skaal kyk…. Vyf akker. As ons dus van die plotte se kant af ondergronds inkom, gaan ons so driehonderd meter gang voor ons hê. Ek wonder hoe groot is die gange?’ Dirk vryf onder sy ken.

‘Shit, ek wens ons het Petros Shikandano op speed-dial gehad.’ prewel Marius.

Dirk knik net.

‘Kom ons ry om die blok.’

Hulle kry ‘n mangat in die gebroke teerpad tussen die plotte. Die geluk is aan hulle kant. Die plotte om hulle lyk verlate. Middelslag huise staan vervalle op gronde sonder heinings. Die eerste ligte wat hulle sien, is omtrent ‘n kilometer reguit aan. Heeltemal buite sig van wat hulle wil doen hier. Daar hang ‘n vreemde stank om hulle.

‘Myne….’ Dirk wys na die bouvalle om hulle ‘en wat hulle agterlos as die aarde se rykdom getap is.

“Dit stink’ sê Roelien en kreukel haar neus.

Marius is klaar doenig by die deksel oor die mangat. Dirk druk sy skouer teen hom, en saam lig hulle die verslete deksel op.

Die damp gas kom met ‘n luide WHOOOOSH uit die gat. Die reuk daarvan genoeg om al drie van hulle te laat terugval, hygend. Die deksel val genadiglik weer toe, en Roelien sak neer op die rand van die pad. Sy klem haar keel vas.

‘Jissis’ hoes Dirk ‘wat de fok was dit?’

‘Wat de fok myn hulle hier? Nuclear waste?’ hyg Marius.

Roelien sit orent, en hoes nog ‘n paar keer, en dan sê sy hees: ‘Dit my vriende, is die vieslike nageboorte van Crystal Meth. Ek sal weet. Ek is ‘n joernalis.’

//

‘Ons het geen keuse nie. Die tonnels is vir ons nie ‘n opsie nie. Kom ons stap net so om die plot en kyk hoe lyk die sekuriteit.’ stel Dirk voor.

Hulle klim in die kar, en Dirk parkeer onopsigtelik voor ‘n behuisingskompleks in aanbou. Die Kotwal plot lê donker en verdoemend sowat driehonderd meter voor hulle.

Daar is slegs ‘n vaal liggie by die hek, en ‘n enkele lig op die stoep van die woning. Die res van die gebou is in duisternis gehul. Hulle loop in gelid aan die donker kant van die pad nader. By die groot staal hek, is ‘n klein sekuriteitshuisie. Hulle sien ‘n enkel wag. Hy blaai verveeld deur ‘n tydskrif. Sy voete op ‘n melkkrat voor hom. Hulle hou verder aan op teen die massiewe muur om die plek. Dan stop Roelien hulle.

‘Ruik julle dit?’ vra sy, en Dirk knik dadelik.

‘LPG gas, ruik asof hier ‘n taamlike lekkasie is.’

‘Nee my vriend’ sê Roelien ‘Crystal Meth vat ‘n taamlike hoeveelheid kookwerk. Gasbranders om presies te wees. Ek is bereid om geld te wed, iemand daar bo is besig om as we speak, dwelms te vervaardig. In grootmaat. Ek wens ek kan sien wat hier binne aangaan?’

Marius vlieg om, en dadelik is daar ‘n 9mm pistool in sy vuis. Hy is al sterk oppad na die hek toe as Dirk hom eers gestop kry.

‘Ha nou, Poon, ha nou. Dink ‘n bietjie. Nou fok ons die wag op, en onmiddelik is ons covers geblaas. Dan weet hulle ons weet. En more as ons hier kom, is hier fokkol.’ Paai Dirk.

Marius ontspan effens.

‘So wat stel jy voor?’

‘Ons gaan huis toe, kry die nodigste gereedskap more, en dan gaan ek en jy hier in sonder dat enigiemand ons sien. Ons kyk ons kyke, en maak ‘n plan van daar af. Hoe klink dit?’

Marius druk die 9mm terug in die skede. Teësinnig.

‘Jy is seker reg’

‘Natuurlik is ek reg. Die mense is doodgemaklik. Dit moet fokken lekker wees om te weet jy is bo die gereg, en jy kan rustig maak net wat jy wil, en as die bure moan, val dit op gekoopte dowe ore, en hulle waai. Net daar, my vriend, is fout nommer een aan hulle kant. Om hier in te kom,’ en Dirk wys na die massiewe muur ‘is fokkol’

Die drietal draai om, en stap doodluiters voor die hek verby.

//

Martin verskaf aan hulle ‘n anker. Dieselfde as wat die Valke gebruik. Die liggewig tou wat daarmee saamgaan, is oorgenoeg om die sowat vyf meter hoe heining om die Kotwal plek te dek.

‘So, gaan ons in vannaand?’ vra Marius terwyl hulle oppad terug huis toe is van die meganiese skool af.

‘Nee’ sê Dirk en lag hartlik as hy die jy-fok-rond-uitdrukking op Marius se gesig sien.

‘Die Hollander stuur groete, en hy stuur vir ons ‘n pakkie. Dan gaan ons in.’

‘Soooo, jy gaan nie die plan met my deel nie?’ vra Marius seergemaak.

‘O ja, maar ek gaan jou eerder wys.’

//

Dit is net na twaalf as die alarm by Martin Marx se hek, ‘n luide skril loei gee. Van die drietal om die tafel, gryp twee na wapens, en Roelien skarrel af in die gang om te gaan kyk of sy iets kan sien.

‘Dit lyk na ‘n weermag voertuig’ skree sy terug ‘Dit het ‘n ‘W’ nommerplaat.’

Dirk maak grootoog vir Marius.

‘Ek sal ons gas ontvang. Hou jouself reg hier om die hoek, as hy net bietjie meer as KWE sȇ, blaas sy breins uit, ok.’

Marius knik, en beweeg stil in die sitkamer in.

Dirk druk die afstandbeheer van die hek, en dit skuif oop. Die vaalgroen Toyota Corolla ry tot voor die agterdeur, en stop. Die man wat uitklim is in volle uniform, die rang op sy skouer kondig aan dat hy ‘n majoor is. Die lappie bokant sy sak lees: STEYN.

Dirk sit twee en twee bymekaar. ‘Hou jouself reg, Marius, dit is die rooi naampie op die lys.’ Dirk maak die deur oop voor die man kan klop. Dirk gryp hom aan die arm wat hy uitsteek, en swaai hom om.

‘Wag, wag!’ skree hy, ‘ Ek kom om te gesels. Ek werk vir die Generaal.’

Dirk druk hom by die deur in, en as die verskrikte man opkyk, trek Marius die hamer van die 9mm oor.

‘Jissis, ek kom in vrede. Milla Keyter het my gestuur.’

Dirk los hom, maar Marius hou die 9mm sekuur op sy voorkop gerig.

‘Sit Majoor’ beveel Dirk en Marius laat sak versigtig die wapen, maar los dit gelaai.

Die man sak neer op ‘n stoel. Sy hande bewe.

‘Koffie majoor?’ kom die stem van Roelien Basson uit die kombuisdeur. Die man ruk om, en dan blaas hy sy asem uit.

‘Asseblief, met ‘n dubbel brandewyn as jy kan?’

Roelien giggel. Dit breek die ys, en Marius laat sak die haan terug op sy plek, en slaan die veiligheidsknip in posisie.

Hy skuif stadig en versigtig regop in die stoel, en steek sy hand uit na Dirk.

‘Ek is lanklaas so rondgeruk vriend. Remind my om nooit aan jou verkeerde kant te kom nie.’

Dirk vat die uitgesteekte hand ‘Smit’ sê hy, en Majoor Steyn lag.

‘Ek weet wie jy is, meneer Dhooge. Die Generaal het jou persoonlik gekies. Wouter het jou skitterende aanbevelings gegee.’

Dirk kyk hom geamuseerd aan.

‘Ok, dan weet jy seker wie dié is.’ Dirk wys met sy duim na Marius.

Charl Steyn draai na Marius toe, en hy steek sy hand uit.

‘Dit is n eer, meneer Van der Berg.’

Marius skud sy hand. Hy sê niks.

‘Ek is Roelien’ sê sy en sit die koffie voor hulle neer. Hy skud haar hand ook.

‘Is jy seker jy is nie gevolg nie?’ vra Dirk, en Charl kyk met ‘n amper seergemaakte uitdrukking na hom.

‘Eks darem nou nie heeltemal ‘n leek nie, meneer Dhooge’

‘Dirk… noem my Dirk asseblief.’

‘Charl’ sê hy eenvoudig.

‘Raait, Charl. Laat ons gesels. Hoe diep is jy in hierdie ding ingewriemel?’

Charl vat ‘n sluk koffie.

‘Diep genoeg. Ek moet dalk die rangorde verduidelik. Waar is jou lys?’

Dirk staan op, en gaan na sy slaapkamer. Hy skuif die bed weg, en lig die twee vloerplanke wat hy losgetrek het op. Hy bring die boek wat hy soek uit, en sit versigtig die planke terug. Hy skuif die bed op sy plek, en haas hom terug.

Charl kyk na die lys name.

‘Die ringkoppe’ sê hy en tik met sy vinger op die lys, is hierdie manne. Hy vat die potlood wat op die tafel lê, en omring vyftien name.

‘Hulle is die infrastruktuur van die Maatskappy. Sonder hulle, vou alles inmekaar.’

Hy merk ‘n verdere twintig name, wat syne insluit. ‘ almal range van Kaptein tot Majoor, is die sub-orde. Die res van die lys, is almal net pionne.’ Gaan hy aan.

‘Ok’ se Dirk. ‘Hóé ingelig is jy?’

‘Genoeg om te weet dat julle hulle op die agtervoet het. Genoeg om te weet dat die ringkoppe, erg ontsteld is. As hulle ontsteld is…… gaan mense dood. Dis hoe dit werk.’

‘Wat presies dink hulle weet ons?’ vra Marius.

‘Sover, onderskat hulle julle heeltemal. Hulle weet vir ‘n feit nie dat julle diá informasie het nie.’ Hy tik weer op die lys. ‘hulle weet egter die informasie is daar buite. Julle beter fok weet anoniem bly, want as hulle net lont ruik, is julle dood.’ Die erns is dik in sy stem.

‘So hulle probeer nog verhoed dat ons kry wat ons alreeds het.’ Dirk glimlag.

‘Jip’ sê Charl ‘by the way, wie is julle man in Durban?’

Dirk en Marius kyk beide vir hom met opgetrekde wenkbroue.

‘Julle was in Durban, wie het saam met julle gewerk?’

‘Die Hollander!’ sê Marius en Dirk in ‘n koor.

‘Wel my vriende, hy is besig om hulle daar onder op ‘n fokken knop te jaag.’ Charl lag. ‘Vreeslik op ‘n knop te jaag. Hy het gistermiddag een van die choppers moertoe geskiet net buite die hawe, en hy het vier hoogs opgeleide troepe by die Yacht Club afgemaai. Hy is ‘n moeilike mannetjie.’

‘Ek neem aan hy’t sy boot gekry…’ sê Marius droog vir Dirk.

Dirk lag.

‘Ok, wat weet julle nog?’ wil Charl weet.

‘Ons weet dat hulle besig is met ‘n groterige Crystal Meth lab in Randfontein,’ val Roelien in.

Charl kyk na haar met nuwe respek.

‘Julle was besig. Jy is egter verkeerd. Dit is nie ‘n groterige lab nie. Dit is die grootste superlab in die suidelike halfrond.’

Dirk fluit deur sy tande.

‘Ek neem aan die oorspronklike terroris bedrywighede is iets van die verlede?’ vra hy.

‘Jip, na 2001 en die gebeure in Amerika, het die Generaal soveel druk toegepas, dat die Maatskappy hulle bedrywighede moes staak. Julle kan dink wat die wêreld met hierdie Afrika landtjie sou gedoen het as ons betrokkenheid by die enkel grootste terroris aanval van die eeu, op die lappe moes kom. Feit is, een van die deurslaggewende dwelms in die indoktronasie van die terroriste, was inderdaad Crystal Meth. So wat doen jy? Jy beef jou fasiliteite bietjie op, en teen R4000 ‘n gram, maak jy skielik meer geld in ‘n maand as wat jy in ‘n jaar kon maak deur terroriste op te lei. It was a no-brainer for them’

‘Ok, so hoeveel weet jy van die dwelm organisasie?’ vra Dirk.

‘Nie naastenby genoeg nie’ hy staan op ‘verskoon my net gou, ek dink julle sal nogal belangstel in wat ek julle wil wys’ Hy loop haastig uit motor toe, en Marius kom orent.

‘Relax, ouboet. Hy gaan nêrens heen nie.’

Charl kom terug met ‘n lywige pak dokumente.

‘Hierdie is die offshore bankstate van die vyftien ringkoppe. Sit maar voor julle na die bedrae kyk. Dit is astronomies. Ek is die Maatskappy se rekenmeester.’ Hy sê dit amper trots.

‘Ok’ vra Dirk ‘en die manne ondertoe in die ketting. Hoe word hulle vergoed vir hul harde werk?’

‘Bo en behalwe my salaris, word daar elke maand dertig duisend rand in my rekening inbetaal.’

‘Dis fokken handig,’ sê Marius vyandig ‘ jy sal dit seker mis as dit nie meer daar is nie’

Charl lig die bondel papiere op, en hy haal ‘n klein stapeltjie papiere uit wat aanmekaar gekram is.

‘Nee wat’ sê hy met ‘n glimlag ‘hier is my donasies aan die DBV oor die afgelope tien jaar.’

Hy skuif dit na Marius toe. ‘Drie miljoen’ lees Marius hardop.

‘So… as jy ‘n fokken hond wil hê, is ek die ou om mee te praat.

Roelien bars uit van die lag, en Marius en Dirk kan nie help om in te val nie.

Skielik is Charl ernstig.

‘Geld is maklik om aan verslaaf te raak. Geld regeer jou lewe voordat jy dit agterkom. Elkeen op daardie lys sal kan getuig. Ek het van die geld ontslae geraak voordat fit vir my lekker kon raak. Veiliger so!’

Daar word met nuwe respek gekyk na die man voor hulle.

‘Wat is julle plan van aksie?’ vra Charl.

‘Ek’t gehoop jy’t ‘n plan’ se Dirk net so ernstig.

‘Ek het ‘n idee’ antwoord hy ‘as ons eers vir Kotwal en Kamfer kan grond toe bring, want dit is tog hoekom ek hier is. Brigadier Keyter het ‘n fokken hard-on vir Kamfer om een of ander rede, dan kan ons die Maatskappy isoleer. Daar is nog, glo dit of nie, grootkoppe daarbuite wat heeltemal skoon is. Ek kan ‘n lys van name maak van mense wat ons sal kan help. Imagine ons kan die dwelms stop, hulle cashflow opfok, en dan BAM, dreig ons om pers toe te gaan met ons informasie, met hierdie, en hy tik op die stapel dokumente voor hom, ter stawing, en ek kan julle waarborg, die koppe gaan rol. As die ringkoppe val, tuimel die res soos ‘n kaarthuisie inmekaar.’

Hy kyk van Marius na Dirk, en beide skud hulle koppe, en beide dink “like hell”.

‘Ok, hoe sink ons Kotwal en sy Meth?’ vra Dirk.

‘Los eers vir Kotwal. Daardie man is ‘n glibberige vent. Kamfer dink hy is glibberig, maar hy is ‘n oop teiken.’

‘Hoe sô?’ vra Marius ‘word has it hy is onbereikbaar’

Charl lag.

‘Ek weet vir ‘n feit dat hy eenkeer ‘n maand ‘n moerse besending Crystal Meth kry. Julle maak seker dat Brigadier Keyter se manne daar is as die dwelms land, en POEF…. in die kak is hy.’

Dirk kyk na Marius. ‘Dit is doenbaar’

‘Ek neem aan hy versend direk van die plek in Randfontein af?’

Charl lag weer. ‘Nee, my maat. Kotwal is gekonsentreerde evil. So dom is hy nie. Hulle laai die meth in bulk op en gaan verpak dit elders. Van daar af vlieg hulle dit uit na die afsetpunte toe. Kamfer is die grootste afsetpunt met ‘n paar kleineres wat onbelangrik is.’

‘Vlieg dit uit?’ vra Dirk.

‘Jip, met een of ander ou weermag helikopter. ‘n Alouette as ek dit nie mis het nie.’

‘Jy het geen idee waar die verpakking gebeur nie?’ vra Dirk en ken reeds die antwoord.

‘Nee my vriend, dit is wat julle sal moet uitvind.’

Word vervolg … 

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: