STORIEMONSTER – Episode 26

Charl vertrek en die drietal koukus.

‘Ons het net een opsie’ sê Dirk ‘ons sal eenvoudig die Kotwal huis moet dophou totdat die besending vertrek, en hulle volg na hulle nes toe.’

‘Een keer ‘n maand kry Kamfer ‘n besending… ‘ peins Roelien en maak geluidjies met haar tong ‘en laasnag se manewales en die konsentrasie van stank, beteken net een ding. Hulle is besig om vervaard te produseer, so ons sal moet gatroer.’

‘Ek sekondeer’ val Marius in.

‘Ok, ons gaan maar eenvoudig net moet sit en wag tot iets gebeur’ sê Dirk.

‘Ja, wel, maar ek dink nie dit gaan skade doen om so bietjie daar te peuter nie. Net om te sien waarmee ons te doen het. ‘ beaam Marius.

‘Goed, ons gaan gooi ‘n draai vannaand, maar onopsigtelik. Ons wil nie vêre ruffle nie. Laat ons vir Kamfer kan intrek.’

‘Goed…. jy’t iets gepraat van ‘n pakkie?’

‘Jip, kom ons ry gou’.

Dieselfde vragmotor waarin Dirk en Marius uit Durban uitgesmokkel is, staan weereens geparkeer in City Deep.

Die bestuurder groet hulle soos ou vriende, en sommer so in die gesels stap hy na die gereedskapkis onder in die kajuit van sy voertuig, en hy pluk ‘n plat Castle Lager tweedosyn karton uit. Binne in die karton is vier plastiek hompe materiaal wat lyk soos ou brood. ‘n Klein pakkie blink doppies is slordig teen die kant ingedruk.

Dirk glimlag vir die laksheid van die hollander. Dit was altyd sy manier. Hoe meer obvious jy is, hoe minder sien mense wat jy doen. Hy sit die plofstof versigtig in die kattebak van die BMW.

‘Wat de fok is dit?’ vra Marius.

‘Die brood van die dood….. Semtex my ou. Hierdie doppies is PETN detonators, en hierdie…’

Dirk haal die pakkie doppies uit, en onder dit lê ‘n enkel elektroniese apparaat. Nie vreeslik anders as die afstandbeheer van ‘n hek nie, ‘is die remote detonator. Jy stel dit op, druk die knoppie….fokken BOOM!!!’

‘Nou wat wil jy opblaas?’

‘Roelien het iets gebabbel van die dwelms wat gekook moet word, en die LPG wat daarvoor nodig is. Die skaal waarop daardie ouens die goed maak, gaan heelwat gas vat, en as die broodjies daardie gas laat ontplof…… skiet ons die hele Kotwal klang in ‘n wentelbaan in. Imagine ons kan almal bymekaar kry…’

‘Ek stem, Dirk. Charl se voorstel dat die kaarthuis self inmekaar stort….. staan my nie aan nie. Iemand gaan moet betaal vir die mense wat ek verloor het.’

Marius streel liefderyk oor die plofstof. Dirk neem hom nie kwalik nie. Hy dink ook hulle skiet die kaarthuisie eeder inmekaar.

‘Die probleem gaan wees om die hele lot bymekaar te kry. Dit gaan neuk.’ sê Marius

‘Gelukkig het ons ‘n insider.’ voeg Dirk droog by.

//

Hulle wag tot middernag. Dirk en Marius besluit om die Kotwal perseel van die leë plot agter dit te probeer insluip. Dit was van kardinale belang om dit ongesiens te doen. Vinnig in, raak vertroud met die omgewing, en glip dan weer uit.

Hulle parkeer die BMW in die stofpad en sluip verby die murasie na die reuse muur toe. Dirk slinger die touhaak oor die muur, en dit gryp aan die sement met die heel eerste probeerslag. Dirk toets die krag van die tou, en dan klim hy.

Hy hoor die aktiwiteit voor hy bo is om dit te aanskou. Weg is die stilte en rustigheid wat oor die groot erf gehang het met hulle vorige besoek hier. Hy loer oor die muur, en die hele perseel wemel met mense. Daar staan twee gepantserde voertuie, kompleet met ‘n bekende sekuriteitsmaatskappy se naam op die deure, geparkeer. Rondom dit is ‘n warboel manne in khaki klere, wat naarstigtelik groot swart sakke na mekaar toe aangee, en die voertuie laai.

Reg langs die reuse huis, en helder verlig onder twee oorhoofse ligte, staan twee reuse wit tenks. Op hulle kante is die kapasiteit van die tenks in swart in gestensel….. 20000L. LPG.

Dirk beduie vir Marius dat hy terug afkom.

‘Dit lyk soos ‘n fokken miernes daarbinne. Hulle is besig om te pak.’

‘How lucky can one be. Dan volg ons hulle en boemiemboem.’ sê Marius.

‘Nie ideaal met een kar nie, glad nie…. maar ons sal maar ons kanse moet vat.’

Hulle ry weer om die blok, en parkeer die BMW ‘n ent weg van die groot staalhekke wat die ingang van die Kotwal woning uitmaak.

‘Die plofstof, en ons hele plan om die LPG op te blaas, sal ons maar moet vergeet van.’ mymer Dirk.

‘Hoekom?’

‘Daar is veertigduisend liter daar. Dit is genoeg om hiedie hele blok plat te vee.’

‘Wel, daar is nie veel in die blok oor nie….’

‘Marius, moenie laat jou haat jou aan die neus rondlei nie. Dit is nie ons plek om selfs ‘n enkele onskuldige mens by hierdie gemors te betrek nie.’ Dirk sien eers die skouers vierkantig trek, en dan ontspan die man voor hom.

“Jy is reg, ek moet nie stupid raak nie.”

Skielik beweeg die groot staalhekke. Dirk sit regop, en skakel die swart BMW se enjin aan.

Driehonderd meter agter die BMW, bo-op die dak van Duncan’s Liquor, laat sak ‘n persoon die Luna Optics nagvisie verkyker……

//

Twee gepantserde voertuie, en ‘n ouerige Pajero draai uit by die hekke, en ry vlak voor die BMW verby. Dirk maak ‘n U-draai, en sonder om sy hoofligte aanteskakel volg hy die konvooi uit die dorp uit. As die voertuie op die N14 na Ventersdorp draai, val Dirk heelwat terug, en skakel die hoofligte aan. Die konvooi beweeg teen 30km/h onder die spoedgrens. Dirk klap sy tong.

‘Ons gaan uitstaan soos ‘n puisie op ‘n blond se gat.’ Hy versnel, en gaan verby die konvooi. Marius kyk hom vraend aan.

‘Dan volg ons hulle maar van voor af. Hou hulle dop, as hulle afdraai, sal ons wel die spoor weer kan optel.’

Hulle ry vooruit. Die ligte bly sigbaar, en as hulle by ‘n groot vierrigting stopstraat kom, ry Dirk reguit oor, versnel effens, skakel skielik sy ligte af, en maak ‘n U-draai. Hy trek die BMW van die skouer af, en effens in die veld in.

Hy spring uit en hardloop pad toe. Hy is net betyds om die Pajero links te sien draai.

‘Ok, daar is ons cover in sy moer in, ons sal nie weer kan verbysteek nie. Nou sal ons moet versigtig wees’

Dirk draai op die R500 na Holfontein. Die konvooi is omtrent ‘n kilometer voor hulle.

Hulle ry verby reuse spilpunte wat vlak langs die pad staan. Mieliewereld. Die geraamtes van die besproeïngs gereedskap weerkaats in die xenons van die BMW. Dirk en Marius ry in stilte. Dirk hou die afstandmeter fyn dop, en net as die elektroniese syfers vyftien kilometer bereik, gaan die agterste voertuig in die konvooi se flikkerlig aan. Die voertuie draai in op ‘n grondpad, en Dirk versnel verby die afdraai.

‘Nou gaan dinge tricky raak.’ mompel hy.

Die maan is ‘n knipsel van ‘n toonnael in die lug. Dirk ry ‘n kilometer, en swaai die BMW oor die pad, en maak ‘n U-draai. By die grondpad, sit hy die ligte af, en draai versigtig in. Dit is stikdonker.

‘Waar’s die flits?’ vra hy aan Marius.

Marius het klaar die lig in sy hand en hy draai sy venster af. Hy hou die lig laag,en met sy arm by die venster uit, skyn hy in die grondpad. Dit is bedrieglik min lig vir die snelheid wat hulle sal moet handhaaf om die konvooi op te vang. Die rooi liggies is al amper uit sig. Dirk mik-mik maar hy durf nie die groot BMW oor 40km/h vat nie.

‘Fok, ek kan skaars die skouer uitmaak.’ Marius probeer meer Dirk se kant van die pad verlig, maar die hoek is nie reg nie. Hy kom geboeë orent, en wikkel sy bolyf by die oop venster uit. Dirk tref die Pajero teen veertig kilometer per uur. Die lugsak ontplooi en die krag agter dit en die mag van die impak laat verloor Dirk Dhooge sy bewussyn. Die laaste gedagte wat deur sy kop gaan, as die glasstukke om hom neerkletter, en die reuk van enjinolie en brandstof sy neusgate vul, is dat hy wonder waar Marius is. Die sitplek langs hom is leeg.

//

Maruis rol homself instinktief in ‘n bal. Die impak ruk hom uit die BMW en as hy die grond tref, is dit genadiglik die sagte nat aarde van ‘n varsgeploegde mielieland. Die spoed waarmee hy die grond tref, is nog steeds van so ‘n aard dat hy sy wind uitval, en hy voel hoe die 9mm glock wat hy agter in sy broek gedruk het, sy rug verniel. Hy tol en skuur oor die gebroke walletjies en kom dan genadiglik twintig meter verder tot stilstand.

Daar is ‘n oomblik se stilte. Net die gesis van die BMW se verkoelersisteem wat dit verbreek. Die Pajero staan skuins in die pad, en dan doem twee figure op uit die mielieland wat al kniehoogte hoë plante het, aan die anderkant van die pad. Marius sien die skerp lig van ‘n sterk flits, en hy skuifel moeisaam verder weg van die pad af. As hy tevrede is dat hy nie opgemerk sal word nie, draai hy op sy sy.

Die grootste van die twee mans lig in die wrak in, en Marius sien Dirk se bebloede gesig. Hy sien die beweging van die groot man se skouers. Hy slaak ‘n sug van verligting. Die man gee die flits vir sy makker, breek die deur oop, en dan ruk hy vir Dirk aan sy kop uit die verwronge BMW. Marius byt op sy tande. Bliksems!

Dirk tref die grond hard. Hy is nog nie by sy positiewe nie, hy keer nie, en sy wang klap teen die grond.

‘Jou fokker!’ skree die klein mannetjie. ‘Jy moet seker dink ons is stupid. Mens kan myle vêr sien hier. Jy was al in die kak toe jy die U-turn daar onder gedoen het. Is jy fokken mal om sonder jou ligte te try ry!’

Die grote stap na die gefrommelde Pajero toe, en hy vroetel op die vloer van die voertuig rond, en as hy weer orent kom, het hy ‘n tweerigting radio in sy vuis.

‘Sampie, kom in!’ bulder hy.

Marius hoor die gekraak van die radio, maar hy kan nie die gesprek volg nie.

‘Sampie, bring die Deutz, ons sal hierdie kar moet insleep, die Pajero sal loop, maar hy is taamlik opgefok.’

Weer kraak die radio. Watter voertuig hulle ookal stuur, sal hier in hierdie mielieland moet draai. Marius beur orent, en sy ledemate is styf en seer, maar andersins is hy ongeskonde. Hy beweeg gebukkend dieper in die land in. Elke beweging laat ervaar hom ‘n nuwe pyn.

Verder op in die pad, kom ‘n stel skerp hoofligte aan. Dan, die gedreun van ‘n groot sessilinder lugverkoelde enjin. Hul bestemming was nie vêr nie, dink Marius. So naby, en tog so vêr. Die groot eks-weermag voertuig gooi ‘n wye draai deur die mielieland… presies waar Marius oomblikke gelede gelê het. Hy duik plat in die lang gras langs die land, en die voertuig draai vlak voor hom.

Op die ingewing van die oomblik, instinktief, vlieg Marius orent as die rooi agterligte vir hom wink. Met al die spoed wat sy seer liggaam hom toelaat, storm hy nader, en kry vatplek agter aan die bakwerk, en hy hang vir ‘n oomblik terwyl sy voete oor die grond sleep. Hy hys homself op, en swaai oor die bakwerk. Hy voel-voel om hom rond, en dadelik merk hy die donker kol van ‘n seil by sy voet op. Hy sak af, en kruip onder die vuil materiaal in. Nou moet hy net wag. Tweehonderd meter nader aan die hoofpad, laat sak ‘n persoon weereens die Luna Optics. Die persoon talm vir ‘n oomblik, ruk die kattebak van ‘n voertuig wat diep in die bosse parkeer is, oop en die liggie in die bagasieruim verlig vir ‘n vlietende oomblik ‘n lang geweersak. Dan is dit weer pikdonker.

//

Hulle hak die wrak van die BMW. Slordig, kettings word sommer oor die bakwerk gegooi, en dan word die neus opgetrek. ‘n Hand vroetel onder die seil reg voor Marius se neus, en ‘n tang word raakgevat. Marius lig die seil effens op, en hy sien hoe Dirk hardhandig na die Pajero gesleep word. Die twee mans wat hom sleep, kreun onder die gewig van die reuse man.

Die kleintjie wat op Dirk geskree het, ruk die agterdeur van die Pajero oop, en as hy omdraai, is daar ‘n luide swiep, en sy hele gesig verander in ‘n rooi bal van been en bloed. Die krag agter die patroon ruk hom in die Pajero in. Die grote laat Dirk val, en voor hy kan omdraai, is die tweede swiep daar. Die man ruk, en die patroon laat trek hom ‘n meter deur die lug. Hy val, gee een verdere ruk as sy brein nog nie die doodsboodskap verstaan nie… dan is hy stil. Asof ‘n leeftyd later, kom die klank van die skote eers by Marius uit.

Hy het geen idee wat besig is om te gebeur nie, hy skuif sy arm agter sy rug in, en haal die Glock uit. Sampie slaan dekking. Hy duik tussen die Deutz en die wrak van die BMW in. Marius laat nie op hom wag nie. Hy kom orent, en skiet Sampie in die agterkop. Die man gee ‘n amper moedelose suggie, en sak inmekaar.

Marius spring oor die kant van die insleepvoertuig. Dirk Dhooge is besig om stadig orent te probeer kom. Hy steier, en gaan sit weer.

‘Jy moet dalk jou gat begin roer.’ sê Marius as hy sy skouer onder die groot man indruk.

‘Jy het geen idee hoe hard moer ‘n airbag jou nie.’ Dirk kreun en leun swaar op Marius.

“Ek’s seker. Luister, iemand is besig om te skiet hier. Ek weet nie hoe selektief is die persoon met wie hy afmaai nie, ons sal moet wegkom hier. Sal jy kan loop?’

‘Jip, laat ek net my orientasie regkry. Ek dink my sleutelbeen is af.’

Marius mik met Dirk in die rigting van die geplante mielieland. Die insleepvoertuig het nie langer as vyf minute gevat nie. Daardie skote moes aandag getrek het. Hulle het nie baie tyd nie.

Die skielike hoofligte agter die BMW laat Marius die pistool opruk. Die kraak en knetter van ‘n diesel word hoorbaar, en dan skuif stop die wit Landcruiser 90 stasiewa in ‘n bol stof reg langs hulle. Die passasiersdeur word oopgestamp, en die dakliggie verlig die gesig van ‘n man in sy vyftigs. Vir ‘n flietende oomblik lyk hy vir Marius bekend, en Dirk gee ‘n uitroep.

‘Hoe de fok kan dit wees?’

‘Daar is nie nou tyd vir redekawel nie kerels, klim, daar kom die troepe!’ skree die man.

Hulle sien in die verte ligte aankom.

‘Marius, kry die BMW se kattebak oop.’ gebied Dirk.

‘Vir wat?’

‘Want die fokken plofstof is nog daar in.’

Marius sien die sleutel van die BMW lê op die sitplek van die wrak. Hy haas hom terug en sluit die BMW se kattebak oop. Dirk ruk die helfte van die doodsbroodjies uit, en dan sak hy met ‘n kreun vooroor, en begin vroetel. Marius sit die oorblywende plofstof versigtig in die Landcruiser.

‘Raait….’ skree Dirk, en dan spring hulle in die Landcruiser. Die ou man draai dit met entoesiasme om in die mielieland.

Hulle jaag terug in die rigting van die grootpad.

‘Stop hier, generaal…..’ skree Dirk, en Marius se kop ruk op.

‘Sit af die ligte… gou-gou.’ gebied Dirk weer.

In die skielike duisternis, sien hulle hoe die ligte die ongelukstoneel bereik. Hulle hoor luide stemme, en dan druk Dirk die klein afstandbeheer in sy hand.

Die toneel voor hulle verdwyn in ‘n bal vuur en ‘n sampioenwolk.

Die ou man trap die Landcruiser ongenadiglik hard op die stuk grondpad. Marius se kop is in hoogste rat. Kan dit wees? Is hierdie man langs hom sy pa? Die woede wel strydlustig in hom op. Hy kyk sydelings na die man agter die stuurwiel. Sy hande is los en gemaklik op die kontroles, sy gesig besonder ontspanne vir die drama waardeur hulle nou-net is. Dit kan Marius nie skeel nie.

‘So, ek dink ‘n verduideliking is wat nou nodig is……. PA!’

Die woede nou heelbo. Kokend. Al die emosies van die laaste paar maande wat dreig om Marius oor te vat. Wat hom lus maak om sy vuis in die ou man se ontspanne mond in te bliksem.

Renier se kaakspiere bult. Hy rat terug, en draai in die hoofpad in.

‘Ek het my hele lewe spandeer aan hierdie gemors. Wanneer moes dit ophou?’

Dan bly hy stil. Hy stamp die Cruiser in die volgende rat in.

‘Dit was nie fokken klaar nie, en my ma en my meisie moes die prys betaal. Ingetrek deur jou fokken skielike “dood”.’ Marius maak die aanhalingstekens met sy vingers. ‘Dit klink vir my meer na weghardloop.’

Die Cruiser se neus duik in die teerpad in, die bande kerm as die remme hulle martel. Renier ruk die voertuig onverskillig uit die pad uit. Hy skakel die daklig aan, en as hy sy gesig na Marius toe draai, laat die absolute gesag, en teenwoordigheid van die man voor hom, hom effens terugdeins.

‘Daar agter…. is gekonsentreerde evil. Boosheid wat jou wildste drome sal oortref. Dit is boosheid wat jou ma, en jou meisie weg gevat het. Om my te blameer omdat ek net soos julle destyds teen my wil hierby ingetrek was, is dom. As jy iemand wil blameer, blameer die duiwel.’

‘Ag Here, spaar my die Sondagskool les. Volgende op jou lys van verskonings is seker die vroueduiwel Lilith. Ek va….’

‘DIT IS GENOEG.’ sis Renier.

Weereens oordonder die teenwoordigheid van die man voor hom vir Marius. Hy bly stil. Die rebelsheid nog vlak in hom. Hierdie gesprek is nog lank nie verby nie.

‘Generaal, dit is ‘n eer.’ neem Dirk die eerste keer deel aan die gesprek. ‘However, hier waar ek nou sit, is ek ook taamlik gatvol vir dié hele storie. U sal moet verduidelik wat hier aangaan. Met respek…’ voeg hy by en kreun as hy terugleun in die sitplek.

‘Kom ons kry jou eers by ‘n dokter. Ons kan later hierdie ding uitsorteer.’ Dit is finaal. Die res van die rit geskied in stilte.

//

Dokter Leroy Grisham is baie minder taktvol met Marius, as wat hy ooit sou gewaag het om te wees met Heleen Bosch.

‘Dit is die laaste keer. Skietwonde en die na-ure spalk van bene, is meer as wat Heleen se pa ooit van my sou verwag het.’ mor die ou man.

Vir ‘n oomblik trek daar ‘n effense hartseer oor die verimpelde gesig.

‘Arme Heleen…..’ Dan trek hy sy gereedskap nader.

//

Dirk se oë is skrefies geswel, en hy vat die sluk koffie met moeite. Sy lippe is dik en ‘n pers vlek het oor sy bolip gevorm. Genadiglik is sy neus nie gebreek nie. Sy linkerarm is in ‘n kraakvars materiaal hangverband. Hulle sit om Martin Marx se klein kombuistafeltjie, en daar is ‘n drietal oë gerig op die ouer man. Roelien kan die atmosfeer sny met haar stomp bottermes.

‘Generaal…’ begin Dirk, maar die ou man val hom in die rede.

‘Dirk, die Generaal is lankal nie meer hier binne nie,’ hy tik op sy bors, ‘noem my Renier.’

Dirk knik net, en die ou man roer stadig die koffie in sy koppie… dan begin hy praat.

‘Die laaste amper veertig jaar, was my lewe verwikkel in ‘n persoonlike fete tussen my en Simon Kotwal.’

Hy kyk vir ‘n oomblik deurdringend na Marius.

‘Marius, daar waar jy nou sit, koester jy seker meer haat vir my, as enigiets anders. Onthou net, Kotwal het destyds alles wat vir my kosbaar is, ook gevat. Ek het jou, en jou ma, verlaat. Daar was geen ander keuse nie. Ek was onder die wanindruk dat ek die probleem in ‘n japtrap sal oplos, en aangaan met my lewe. Ek was jonk en dom.’

Dit lyk asof Marius iets wil sê, maar Renier hou sy hand op.

‘Ek wil julle nie verveel met wat julle alreeds weet nie. Julle weet van Kotwal, en van die res van die gepeupel…. soos Mathyssen, Cartwright en Strydom. En die groot kanon… Siegfried Kamfer.’

‘Wag ‘n bietjie,’ val Dirk hom in die rede, ‘ek dog Kotwal is die groot kanon?’

Renier knik, en vervat:

‘Hy was. Ek neem aan Petros Shikandano het julle breedvoerig ingelig oor ons ontsnapping destyds?’

Die twee mans knik. Roelien is besig om soos ‘n spons alles op te suig.

‘Dit was my enkel grootste oorwinning oor Kotwal. Op verskeie vlakke. Ek het hom daar skielik finansieel afhanklik gemaak van beleggers. Die ironie is dat dit ook die deur oopgemaak het vir Kamfer…. en ‘n nog groter, boser monster in die resep ingebring het. Kotwal was die epitoom van boosheid…. Kamfer het nog ‘n bestandeel bygevoeg.’

Renier bly ‘n oomblik stil, en die drietal om hom hang aan sy lippe.

‘Kranksinnigheid…..’

‘Ok, ok, ok – dit is alles goed en wel, en ek dink ons verstaan waarmee ons te doen het,’ val Marius hom in die rede, ‘maar ek wil graag weet waarom JY skielik besluit het om weg te hardloop.’

Die verwyt is dik in Marius se stem. Renier ignoreer dit, en antwoord saaklik.

‘Want daar was skielik nog ‘n entiteit betrokke.’

Marius gooi sy hande in die lug, en sê sarkasties:

‘Wag, laat ek raai. Ons liewe heksie. Die duiwel wat nie wou lê om gespyker te word nie…. wat was dit…. LILITH…’ Marius spreek die naam dramaties en teatraal uit. Sy oë opgeslaan na die plafon.

Renier buk af, en hy sit ‘n netjiese aktetas op die tafel. Hy klap die knippe oop, en sit ‘n opvou leêr op die tafel.

‘Ek weet Petros het gedink ek is my varkies kwyt.’

Hy gooi die dokumente voor Marius.

‘Vroeg in 2000, word daar skielik transaksies gekelder. Deur die verloop van daardie spesifieke jaar kos LILITH ons geliefde Kamfer/Kotwal venootskap etlike miljoene rand. Sy maak haar teenwoordigheid duidelik. In 2001 blaas sy Kotwal se motor voor sy huis in Randfontein op. Sy maak dit baie duidelik dat sy sekuriteit onvoldoende is. Ek voel skielik asof ek ‘n anonieme medewerker het. Die hele maatskappy, en die notering daarvan, sou nie moontlik gewees het, as sy my nie gehelp het nie. So, Marius, daar is die bewyse…. verbeelding is sy definitief nie.’

‘Wat laat jou dink sy is vroulik?’ vra Roelien.

‘Sy het haarself LILITH gedoop. Deur die hele verongeluk van transaksies, het sy ‘n duidelike handtekening gelos.’

‘Dit kan natuurlik ‘n rookskerm wees.’ mymer Dirk.

‘Ek het dit ook eers vermoed, maar, en dit sal Marius se vraag oor my “dood” ook antwoord, toe hierdie ding nog militêr van aard was, was sy nêrens te siene nie. Eers toe Kamfer in die prentjie gekom het, het sy te voorskyn gekom. Onthou, Siegfried Kamfer is bo alles ‘n besigheidsman, en ‘n gierige een op die koop toe. Die massiewe somme geld wat hy in die Kotwal militere onderneming ingedruk het, het vir my nie sin gemaak nie. Daar was geen manier waarop Kotwal genoeg geld uit dit kon gemaak het, om ooit sy skuld te betaal nie. Tog, Kamfer het bly belê.’

Hy staan op, en tap nog koffie uit die masjien.

‘LILTH het die maatskappy oopgevlek, en sy het my gebruik om dit te noteer, en my gebrandmerk as die bron. Dit was ‘n stille venootskap tussen my en haar. Ek het die maatskappy gebruik om Kotwal se militere fokkop op sy knieë te dwing. Ek wens net ek kon dit doen voor 9-11. Die absolute afgryslikheid van die daad, en die golwe wat dit om die wereld veroorsaak het, het selfs ‘n drol soos Kotwal vir ‘n oomblik laat huiwer. Elke lid van die maatskappy het ‘n nota ontvang. Hulle het geweet ek weet, en hulle het geweet die enigste manier waarop hulle kon oorleef, was om Kotwal en sy operasie stop te sit.’

Hy drink ‘n sluk, en gaan aan. ‘n Bitterheid skielik in sy stem.

‘En ek slaan op my bors. Ek was die oorwinnaar. Dit het perfek uitgewerk, my veiligheid en die veiligheid van Marius en sy ma, en die veiligheid van my land, was gekoop met afpersing…. uiteindelik kon my lewe aangaan. Min het ek geweet, my oorwinning het reg in die hand van die Kamfer- monster gespeel.’

‘Hoe so?’ vra Roelien weer.

‘Kamfer het nie belê in Kotwal se militere aktiwiteite nie. Kamfer het belê in die Maatskappy. Skielik het hy die room van die weermag, polisie en die regering van hierdie land, in sy hande gehad. Nou…. kon hy maak net wat hy wou.’

‘Toe begin die dwelms..’ vul Marius die prentjie in.

‘Korrek, en die hoeveelhede geld betrokke was ongelooflik. Skielik was dit biljoene.’ sê Renier.

‘En geld is mag’ sê Dirk ingedagte.

‘Soveel mag, dat my houvas op die Maatskappy nie meer water gedra het nie. Mag, wat stadigaan hierdie hele kliek bokant die gereg verhef het. Mag wat met elke sakkie dwelms, die kruishaar nader aan my voorkop geskuif het. Ek was ‘n liability. My tyd was naby.’

‘So, hoe het jy jou dood bewerkstellig? ’ vra Marius, smalend.

Renier druk sy hand in sy mond, en sit ‘n stel valstande op die tafel neer.

Ek het my tande laat trek, en op my ouderdom is daar baie lyke met dieselfde kenmerke. Is dit nie snaaks hoe ouderdom ons almal dieselfde laat lyk nie?’ Renier glimlag met ‘n pap mond.

Roelien bars uit van die lag. Dit breek die gespanne atmosfeer effens.

“Gen…. Renier, weet Petros dat jy lewe?’ vra Dirk

‘Nee,’ Renier se stem is hartseer ‘niemand weet ek lewe nie. Regverdige einde vir ‘n kak bestaan, nie waar nie?’

‘Maar ons weet nou, en ék is nie te ekstaties daaroor nie.’ Marius stoot sy stoel hard terug, en dan is hy by die agterdeur uit.

‘Ingrid en Heleen. Hy sal daardie rekening met Kotwal moet vereffen.’ peins Renier

‘Renier, hier is ‘n paar goed wat ek nie verstaan nie. Eerstens, hoekom vervaardig Kotwal die goed in Randfontein, en nie sommer direk op die plaas nie?’

Renier stoot sy leë koppie weg.

‘Want hy is ‘n slinkse jakkals. Hy gebruik sy suster, Wilma as dekmantel. Die stomme vrou het die titel “die kok” gekry. Sy weet wat sy doen daar agter die bose potte dwelms, en in die geval dat iemand dalk ‘n klopjag uitvoer…. iemand wat nie op sy enorme payroll is nie, is Wilma die een wat die knock gaan vat. So maklik soos dit. Daar sal nie ‘n enkele vinger na hom toe kan wys nie. Hy is al tien jaar weg uit Randfontein.’

‘Ok, dit maak sin, tweedens, hoekom het Kotwal drie van die fantastiese vier doodgemaak?’

‘Die fantastiese vier?’

‘Mathyssen, Strydom en Cartwright.’

‘Dieselfde rede hoekom ek gedink het my tyd word kort. Hulle is almal vuil wasgoed, hulle doele uitgedien. Hy het nie meer hulle geld nodig gehad nie, so BOEM BOEM BOEM…. en die los drade in die harnas is geknip.’

Dirk maak beide hul koppies weer vol koffie. Hy gaan sit regoor die generaal.

‘Maar, dit is die probleem, dit was nie net BOEM BOEM BOEM nie, dit was grusame moorde.’ sê Dirk.

‘Hy is die epitoom van boosheid. Ek het jou al gesê.’

“Iets is nie reg nie. Ek is jammer om Ingrid in hierdie argument in te bring, maar sy was net ‘n koeëlpunt werd. Vinnig, sloppy, tipies.’

Renier krimp merkbaar ineen, en onmiddelik berou Dirk die analogie. Roelien red die situasie.

‘Ek is ‘n joernalis. My werk is sensasie. Ek het ‘n teorie.’ sê sy eenvoudig.

Die twee mans kyk haar aan. Dirk met belangstelling, en Renier met verveeldheid.

‘Ek dink LILITH ís Kotwal.’ Sy gooi die bom doodluiters, en sy kyk nie vir ‘n reaksie nie. Sy staan op, en vat die koppies wasbak toe.

‘Fok’ sê Dirk.

Renier skud sy kop.

‘Nee, kannie wees nie. Kyk in daardie stapel dokumente, LILITH het Kotwal al ‘n fortuin gekos. Daar is nie ‘n manier dat ‘n man….’

‘Kotwal is skielik net ‘n pion.’ val Roelien Renier in die rede. ‘Dink ‘n bietjie, soos ek dit verstaan, was die hele dwelm idee Kamfer s’n. Skielik maak die Maatskappy se lede miljoene. Kamfer ry die brander, en Kotwal word ‘n poppie aan ‘n garing toutjie. Die poppemeesters in die Maatskappy gee vir Kamfer ‘n toutjie van sy eie. Dit moes Kotwal ontsettend afgepis het. Ek dink die grusaamheid van die moorde was Kotwal se manier om ‘n baie duidelike boodskap te stuur. Dalk leef hy homself so in sy eie skepping in, dat dit sommer vanself gekom het. Volgens oom Renier se verduideliking van die man, verbaas niks my vreeslik nie.’

Nou het Roelien die mans se volle aandag.

‘Petros Shikandano het dieselfde vergelyking gebruik…. puppet on a string.’ mymer Dirk.

‘Fok’ sê Renier hierdie keer. Marius staan in die deur, met sy ken in sy hand.

‘Dit maak sin Roelien, wat my gepla het van Kamfer, was die feit dat hy homself in sy eie tronk toesluit. Wat help al die geld in die wereld jou, maar jy is jou eie gevangene?’

‘Dit is die basiese bestandeel van die deursnit mens, Marius.’ antwoord Roelien. ‘Ons almal werk vir jare ons gatte af in ons asbes kantoortronkies, net om eendag as ons oud is, daardie ou neseiertjie te hê. Ek dink Kamfer sal eendag net wegglip. PLOEP! Van die radar af. Om sy geld iewers te gaan uitleef.’

‘En intussen grawe hy homself in, want hy weet as hy roer, kap Kotwal hom.’

Renier staan op, en begin op en af loop voor die tafel.

‘Die teorie meisietjie, laat baie stukkies reg val. Daar is ‘n pompstasie vir die spulpunte in die omgewing. Omtrent vierhonderd meter weg van Kotwal se plaashuis. Ek het al ure op daardie geboutjie deurgebring, en ek weet hoe steek die ding inmekaar. Kotwal is net so onbereikbaar. Hy het ‘n bunker onder sy huis forfucksakes. Nou maak dit sin…. as hy roer, kap Kamfer hom. Ek het vir ‘n oomblik gewonder oor hoekom Kotwal die Maatskappy aan my sou ontbloot het. Hy is slim, baie slim. Gebruik my om hulle af te pers en op hulle plekke te hou, en in die proses verslap hulle houvas op hom. Regtig vindingryk. Ek het nooit gedink Kotwal is instaat tot sulke redenasie nie. Moet nooit jou teenstander onderskat nie.’

Dirk en Marius se koppe ruk op.

‘So jy weet presies waar die plek is?’ vra Marius.

‘Ek weet presies’

‘Jissis, nou waarvoor wag ons? Ons glip daar in, en ons haal eers daai Kotwal bliksem uit, en dan gaan ruk ons Kamfer se hol uit.’ Marius lyk reg om ammunisie te begin pak.

‘Wag, wag.’ keer Dirk.

‘Dis nie van wag-wag nie, Dirk. Die bliksems het nie gewag-wag toe hulle my ma en Heleen vermoor het nie. Nee meneer, wag fokken wag het nerens opgekom nie!’

‘Sit, en luister’ sis Dirk, en die uitdrukking op die groot man se geswolle gesig, laat Marius sit en luister.

‘Daar is ‘n moerse verskil tussen iemand skiet uit selfverdediging, en iemand skiet uit haat. Jy gaan elke aand jou lig moet afsit, en met jouself saamleef. Vra jou fokken pa daar oorkant jou of dit maklik is. Vra my of dit maklik is. Die haat brand nou diep, maar trust my, dit kwyn, en dan neem die gewete oor. So relax nou, kom ons werk ‘n plan uit om die hele gemors in sy geheel uit te roei. Die Maatskappy ingesluit. Of wil jy in die parlement en in polisiekantore ook instorm met ‘n outomatiese wapen? En ek gaan ses weke met die kak om my skouer loop. Ek kan jou nie help nie. Was dit nie die deal nie. Ons is saam hierin. ’

Marius swyg. Sy kaakspiere gespan.

Renier praat sag met hom.

‘Marius, ek het getel, daar is oor die sestig troepe by Kotwal se plaas alleen. Dink jy nie ek sou al self die ding beeindig het, as dit so maklik was soos storm net daar in nie? Kamfer gaan nog erger wees.’

‘Goed,’ erken Marius ‘dan het julle brightsparks seker ‘n plan.’

Renier kyk na Dirk vir hulp.

‘Ek het ‘n kontak hoog op in die polisie wat vertrou kan word. Ek sal daar begin. Sy is ons enigste hoop.’

‘Jou brigadier poppie?’ vra Marius, en skielik is daar hoop in sy oë.

‘My brigadier poppie.’ beaam Dirk.

Die vier mense gaan sit weer om die tafel. Elkeen eers besig met sy eie gedagtes. Dirk verbreek die stilte.

‘Renier, die laaste vraag wat ek wou vra, wat is die storie met die pentagramme en die duiwelsaanbidding?’

Renier kyk Dirk in die oë, en vra:

‘Is jy ‘n Christen, Dirk?’

‘Ek is christelik groot gemaak, Sondagskool, aangeneem en toe raak ek besig. Ek het nooit weer regtig daaraan gedink nie.’

‘Het jy nooit wou vrae vra nie?’

‘Daar was ‘n tyd wat ek gewonder het oor goed, maar soos ek sê, toe word ek besig.’

Renier verval in ‘n mymering, die drietal luister.

‘My aanhouding destyds deur Kotwal het ‘n merk op my gemaak. Die medikasie, die breinspoeling, ek was nie heeltemal bestand teen dit nie. Op daardie stadium was die hele program gebaseer op die Pagan streep Wicca beginsel. Is julle vertroud met dié gelowe?’

Die drietal skud hul koppe.

‘Gaan doen julle huiswerk. Ek gaan julle nie verveel nie. Almal het ‘n grashalmpie nodig om na te gryp as hulle val. Ek verkies net om nie die grashalm te aanbid nie.’

‘Waar is al die geld heen?’ vra Marius. ‘Daar is tot ‘n verband op die huis in Kensington?’

Renier lag.

‘As ek jou ‘n half biljoen rand gegee het, het my geliefde boeke nou nog in ‘n stoor gelê. Daardie boeke was my cover. Ek wou gehad het jy moes een van MY boeke in sirkulasie sit. Dit sou enige twyfel oor my dood in die kiem smoor. Ek het spesiaal vir jou die Clavis Salomonis gelos. Toe jy die eerste keer die search knoppie op Google gedruk het, was jy geflag. Die verband op die huis was net ‘n stootjie in die regte rigting. ’

‘Geflag?’

‘Jip, elke boekhandelaar in die wereld hou daardie tipe van besoeke dop. Toe jy begin navraag doen, het die voeltjies die een na die ander gebyt, Kotwal ingesluit en het ek jou met ‘n geldwortel in die regte rigting gelei.’

Marius kyk hom skaapagtig aan.

‘Die regte rigting? Waarvan praat jy?’

Renier trek weer die aktetas nader. Hy haal sy groen ID dokument uit, en skuif dit oor die tafel na Marius toe.

‘Ek waag nie om in die openbaar te verskyn soos ek nou hier sit nie. Julle sal seker saamstem dat die omstandighede buitengewoon was. Op my dag was ek ‘n yster as dit kom by vermomming.’

Marius slaan die boekie oop, en hy kyk vas in die gesig van Mauritz Lotz. Hy het homself nie misgis met die ouman stem nie.

‘Toe ek my boek terugkoop, het ek geweet hulle gaan skielik op jou hakke wees. Elke man wat ek daarbuite in die veld gehad het, het al op daardie stadium jou rekenaar opgespoor. Met daardie transaksie, het julle moeilikheid begin.’

Renier kyk Marius in die oë. Dit is tyd dat hy besef dat Heleen se dood nie net op ander mense se gewetens behoort te druk nie.

Die besef dring deur. Marius laat sy kop sak.

//

Dirk rol die selfoon deur sy gesonde hand se vingers. Dan pak hy die bul by die horings. Hy bel Brigadier Milla Keyter. Sy antwoord op die derde lui.

‘Ek is by die werk, maak dit vinnig Dirk.’ Kortaf, haastig.

‘Goeie môre aan jou ook dan.’ Sarkasties.

Daar hang ‘n swanger stilte. Dirk val met die deur in die huis.

‘Milla, jy moet my kom sien. Dit is belangrik. Jy weet waar ons is. Maak seker jy word nie gevolg nie.

Dirk lui af. Sy het gevra vir vinnig, vinnig het sy gekry.

Hy skakel vinnig ‘n tweede nommer. Hy kan netsowel twee ou vriende weer bymekaar kry. Dit behoort die pot goed te roer.

Milla Keyter het ‘n swart sweetpak aan. ‘n Vleiende swart sweetpak. Sy stap die helder verligte kombuis binne, en sy verstar as sy Dirk se gesig sien. Sy steek haar hand uit, en streel oor Dirk se geswolle lip. Dan, skielik asof sy vel lawa is, ruk sy haar hand weg.

‘Wat het jou oorgekom?’

‘Raak geskeer.’

‘Toe ruk jy weg en breek jou arm?’

‘Nee, nie so erg nie, net my sleutelbeen.’

Sy draai om, en kyk vraend na Dirk as sy die ouer man wat teen die yskas leun, opmerk.

‘Milla, julle het al ontmoet, net nie aangesig tot aangesig nie…. Renier van der Berg…. Generaal…. Brigadier Milla Keyter.’

Milla verstyf merkbaar. Sy gaan sit, en die hand wat om die tafelblad vou, se kneukels is spierwit. Sy herstel vinnig.

‘Terug uit die dode. Generaal, het jou vroueduiwel jou terug gestuur?’

Renier knik net ‘n groet met sy kop.

‘Ons trackrecord lees seker nie soos ‘n bybel nie, maar dalk kan ons dié keer beter doen, Brigadier.’ Hy skuif na die ander been toe, maar bly staan. Dirk dog vir ‘n oomblik Milla gaan opstaan en loop. Sy bly sit.

‘Die teiken bly dieselfde. Het jy jou duiwels begrawe Generaal? Verstaan my baie mooi, ek soek vir Kamfer, ek soek hom agter tralies. Dit is hoekom ek hier is. Om die score te settle. Die polisiemanier.’

Renier knik weer.

‘Teorieë is net dit, ons doen dit die polisiemanier.’ beaam hy.

Milla ontspan merkbaar, en Dirk voel hy mis iets. Hy skud die gevoel af. Hulle het werk.

‘Milla, hoe groot taakmag kan jy bymekaar slaan?’ vra Dirk.

‘Wel, met die mense op die korrupsielys uit die pad…. bly daar omtrent net twee polisiemanne oor.’ antwoord sy bitter.

‘Ok, ok kom ek verduidelik eers vir jou waarmee ons te make het. Jy moet ook weet dat ek en Marius kak aangejaag het. Met die benefit van hindsight, het ons amper die hele ding verongeluk. Ons moet hoop en bid dat daardie besending dwelms tog by Kamfer uitkom.’

‘Is dit hoekom jy lyk soos jy lyk?’

Hy knik net.

‘Dit is darem nie net alles doom en gloom nie. Renier het ons gatte gered, en in die proses vir ons intelligensie verskaf van onskatbare waarde.’

‘Jy bly maar die held’ sê Milla, en kyk Renier vierkantig in die oë. Hy ignoreer die aanmerking.

‘Die Kotwal plek op Holfontein, het ‘n mag van ongeveer sestig troepe. Di….’

‘Vier en sestig, verlede week Woensdag.’

Dirk kyk vir Renier.

‘Ok, vier en sestig. Ek het geen idee hoeveel Kamfer het nie, ma…’

‘Kamfer gebruik ‘n PMC… Private Military Company. Dit is wat hom so onbereikbaar maak. Troepe is ‘n enkele oproep weg.’ sê Renier.

‘Dit is interessant. Wie gebruik hy?’ Dirk het meeste van sy opleiding gedoen deur soortgelyke maatskappye.

‘Trojan.’ sê Renier

‘Fok, Damian Killian se plek?’

‘Korrek’

Dirk lag, en die res van die tafel hang aan sy lippe.

‘Sierra Leone…. 1995. Kom ons sê net dat meneer Killian sy lewe aan my te danke het, en dat ek weet hoe hy sy maatskappy gefinansier het. Ek het hom tien kilometer uit die Kono distrik gedra. Ek sou sê hy skuld my.’

‘Goed, nog ‘n held…. dan los ons Kamfer vir jou.’

‘Al wat ek sê Milla, is dat ons Kamfer met heelwat minder troepe sal kan aanvat. Laat ek net eers ‘n woordjie voer met Damian Killian.’

‘Ok, doen jou ding.’ Milla kyk weg, meer om die vlietende kyk van bewondering weg te steek as enigiets anders.

‘Goed, kom ons hoop en bid dat ek en Marius nie dinge verongeluk het nie. Milla, sal Charl Steyn die dwelmtransaksie kan laat voortgaan?’

‘Ek kan hom kontak en uitvind wat daar aangaan.’ antwoord sy.

‘Nou goed, dan het ons werk. Milla as jy die manne bymekaar het, sal ek graag met hulle wil praat. Renier het al die intelligensie. Dit sal net die operasie vergemaklik.’

‘Natuurlik.’ Brigadier Keyter staan op, en dan leun sy met haar hande op die tafel. Sy kyk elkeen in die oë.

‘Daar is natuurlik voorwaardes verbonde aan hierdie operasie. Dit bly polisiebesigheid. As ek enigeen van julle sien inmeng, en as enige een van julle ‘n sneller trek wat kon gebly het, sluit ek daardie persoon self toe, en gooi die sleutel weg. Is dit duidelik?’

Dit lyk asof Marius wil beswaar maak, maar Renier sit sy hand op sy skouer, en Marius sak stil terug in sy stoel.

‘Natuurlik.’ Dirk put ‘n effense genot daaruit om haar antwoord van ‘n oomblik gelede te gebruik. Vernaam as hy die befoeterde wolk sien skuif oor die gesig. Die seegroen oë word vir ‘n oomblik donker poele diep bergwater, en dan spoel die see terug. Jissis, dink dirk.

‘Gee my vier en twintig uur.’ Sy staan op, en voor iemand kan groet, is sy by die deur uit.

‘Jissis!’ sê Marius.

//

Dirk ry op in Carvalho Straat Jet Park. Hierdie deel van die reuse industriële park is ‘n amper nagedagte. Carvalho straat verbind nie met die hoofroetes van Jetpark nie. Die enigste ingang na hierdie deel van die uitbreiding is van Kempton Park treinstasie se kant af. Carvalho straat loop dood in ‘n sirkel. Handig.

Dirk stop in die sirkel. Damian Killian se kompleks is ‘n interressante mengelmoes van ‘n staalkonstruksie wat keurig ingevul is met asbes panele. Die gebou toring vier verdiepings die lug in. Die vooraansig spel fabriek in hoofletters. Daar is geen baksteen geboue wat gewoonlik die teenwoordigheid van ‘n kantoorblok aandui nie.

Dirk druk die knoppie by die hek, en vir amper ‘n minuut draai die klein kameratjie op die muur nuuskierig rond. Dirk weet skielik hoe ‘n vreemde hond moet voel as almal aan sy hol ruik.

Dan gly die soliede staalhek oop. Dirk parkeer in die duidelik gemerkte parkerings voor die pragtige stukkie tuin. Die enigste groenigheid op die perseel. Dirk sit nog en kyk vir ‘n klein klip seuntjie wat in die water piepie as die groot voordeur van die fabriek stadig na bo begin skuif.

Dirk stap die reuse gebou binne. Hy glimlag. Damian was altyd ‘n seuntjie. Sy speelgoed het net baie duurder geword. Die vloeroppervlakte van die reuse stoor word netjies in twee verdeel deur die omtrent twee meter breë paadjie waarop Dirk nou loop en kwyl.

Weerskante van die paadjie is netjiese gepolieerde aluminium paaltjies, wat aanmekaar verbind word deur helder gechroomde fyn kettinkies. Daaragter is enige man se wêreld van drome. Links is die motorfietse, vanaf ‘n vroeë veertigs Royal Enfield oorlogsfiets deur ‘n magdom superfietse tot by vier pragtig omgeboude Suzuki M109R Boulevards. Almal van hulle in verskeie fases van modifikasie. Op die bloue se helder gechroomde hart, hang ‘n turboaanjaer….. Dit moet ‘n fokken monster wees, dink Dirk.

Aan die regterkant, staan daar twintig motors. Almal ikone. Die helder rooi oorspronklike Lamborghini Countach…. is ‘n LP 500. Die dele van die enjin en ratkas wat agter tussen die massiewe 335 seksie bande uitsteek, is blink en skoon.

Die ses jaar wêreld tydrenkampioen staan daar vier van. Dirk kyk na die bonkige gespierde lyne van die Lancia Delta Integrale. ‘n Agtklep, ‘n sestienklep en beide ‘n EVO1 en 2 staan blink gepolitoer onder die groot oorhoofse halogeenligte. Hy sien ‘n Maserati Ghibli, verskeie Porsches en ‘n Nissan GTR R34 Skyline. Hy fluit deur sy tande. Damian Killian het nog altyd smaak gehad.

‘Dirk…. Dirk fokken Dhooge!!’ kom die stem van iewers bo in die gebou af. ‘n Stem wat klink soos ‘n tiener seun s’n…. terwyl dit probeer breek. Dirk kyk op, en die kort blonde man wat agter ‘n reeling staan net onder die dak van die reuse stoor, wuif vrolik vir hom.

‘Hou net reguit aan. Die hysbak is daar voor jou op linkerkant. Ek sien jou nou!’

Die hysbak is ‘n oop staal raamwerk, met skerdeure. Definitief ‘n antieke stuk. Die kabels bo in die dak, begin deur twee helder geel gespeekte wiele opgehys te word.

‘My magtag Dirk… hel eks bly om jou weer te sien.’ Die vaal mannetjie lyk soos ‘n jonger weergawe van Woody Allen. Die ronde John Lennon brilletjie op sy neus het ‘n duur goue raampie. Hy omhels Dirk, sy kop raak skaars aan Dirk se bors. Waarvoor Dirk dankbaar is, want die mannetjie het nie eers die verband opgemerk nie. Hy klop Damian op die rug soos jy ‘n troeteldier klop.

‘Damian’

‘Kom in. Ek het heerlike vars koffie en my ma bly ook nou hier, so daar is vars trifle ook.’

‘Jy bly hier?’ vra Dirk.

‘Ja, ten volle ingerig my maat. Alles hier onder een dak by Fabrizio Killiano.’ fok die mannetjie Italiaans op.

Dirk volg hom in die helder verligte woonarea in. Dit is imponerend. Die hele dak is van glas, en as hulle die woonvertek instap, druk die klein mannetjie ‘n knoppie teen die muur, en die deel van die ak waaronder hulle gaan sit, verdonker.

Daar is ‘n vyftien meter skuins ruit voor hulle. Damian kan uit hierdie vertrek oor sy hele koningkryk uitkyk. Hulle gaan sit. Damian druk ‘n knoppie op sy stoel, en die hele stoor word donker. Strategies geplaasde ligte beklemtoon sy versameling voertuie, en die Lamborghini begin stadig in die rondte te draai.

‘Sy is mooi nê?’ sê Damian, en steek ‘n sigaret op.

Dirk knik, en ‘n hupse blonde meisie stap in, en Damian bestel hulle drinkgoed.

‘Wel Dirk, as jy hier uitslaan, is dit seker payday vir my nê?’

Dirk ken die man voor hom soos die palm van sy hand. Onder daardie seuntjie voorkoms, skuil seker die gevaarlikste man wat Dirk ken. Damian se vermomming was nog altyd perfek. Die grootste fout wat jy kan maak, is om Damian Killian te onderskat.

‘Jy kan seker so sê, Damian. Eintlik gaan dit twee kante toe werk. Ek gaan jou vra om ‘n bron van inkomste te stop, en ek gaan in die proses jou gat red.’

‘Wicked.’ Damian skop sy leerstoel se leuning terug en hy sit-lê en kyk Dirk deurdringend aan.

Dirk besluit om nie draaie te loop nie.

‘Siegfried Kamfer is going down, Damian. Ek wil hê jy moet dit laat gebeur.’

Die klein koppies koffie word neergesit, en Barbie maak haarself uit die voete.

‘Siegfried Kamfer betaal my drie miljoen per maand, Dirk. Hy is die eend wat die goue eiers lê.’

‘Wel, jou eend gaan uit die water geskiet word. Hier is die scenarios. Of jy raak betrokke, en dit is ‘n bloedbad, en ‘n geveg wat jy nie kan wen nie, en jy eindig op in ‘n sel, met al hierdie lieflike speelgoed wat mettertyd hier wegroes, of jy ignoreer Kamfer se oproep van jou troepe, en jy stap weg sonder dat ‘n haan ooit weer kraai. Dit kan ek waarborg. ‘

‘Of ek waarsku my klient, kry hom uit die pad uit, hou my speelgoed, en koop nuwes by met sy geld….’

‘En maak my jou nommer een vyand. Sal jy dit kan hanteer? Jy skuld my, Damian. So maklik soos dit.’

Die klein mannetjie sit skielik regop. Asof hy ‘n besluit geneem het.

‘Ek skuld jou Dirk, hy is ook darem nie my enigste klient nie. Dit is nie lekker nie. Da…’

‘Damian, ek sal jou ‘n lys van vyftien name gee. Hoog op in die regering. Hulle koppe gaan rol, en in die feeding frenzy wat gaan volg, gaan iemand jou dienste nodig hê. Hierdie knape het geld. Miskien kan jy van jou verliese dek. Hoe klink dit?’

‘Dankie Dirk… ek sou dit in elk geval gedoen het. Mense sou hulle inkomste verloor het, dit is maar altyd my grootste worry. My mense.’

Hy het nog nie verander nie. Die gevaarlikste man wat hy ken, met die kleinste lyfie, wat die grootste hart huisves.

‘Dankie Damian.’

Die transaksie was afgehandel.

//

Charl Steyn ontmoet Dirk Dhooge en Mila Keyter by NINO’s in Eastgate. Nadat die familiariteite afgehandel is, merk Charl sinies op:

‘Aan jou vernielde lyfie neem ek aan dit is julle wat naby die Kotwal plek kak aangejaag het?’

Dirk knik net.

‘Wel, dit was nie baie slim nie. Die hele lot is erg senuweeagtig. Wilma Kotwal en haar sewe kokke is egter nie sommer mense wat orders vat nie. Hulle produseer nog onverpoos voort. Wat dalk net vierkantig in ons guns gaan tel.’

Dirk peins ‘n oomblik.

‘Maak sin, ons wil tog hê dat daar dwelms op al drie persele moet wees. Kotwal, Kamfer en die superlab.’

‘Moenie worry oor die lab nie. Daar is genoeg bewyse daar regardless. Ons moet net seker maak dat Kamfer sy besending kry.’

‘Kan jy dit reël?’

‘Ek kan bietjie druk toepas. Ek sal wel presies weet wanneer hulle gaan beweeg. Feit bly staan, ons tydsberekening sal perfek moet wees. Daardie dwelms lê nie rond by Kamfer nie. As dit inkom, staan die verspreiders so te sê reg.’

‘Mooi, dan kak ‘n paar van die stukke drek ook sommer in die proses….’

Beide mans kyk na Brigadier Keyter wat nog nie ‘n woord gerep het nie.

‘Milla, hoe gaan jou dinge aan?’ Dirk sien Charl Steyn se wenkbrou effe oplig oor die familiariteit waarmee hy die vrou aanspreek.

‘Ek het twee helikopters en sewe en veertig mense. Vier Casspirs. Dit is al.’

‘Dit is meer as waarvoor ek gehoop het.’ stel Dirk haar gerus. ‘Nagvisie- apparaat, koeëlvaste baadjies en outomatiese wapens?’

‘Almal sal toegerus wees met R5’e vars uit Walhmanstal. Die Casspirs het ook 7.62mm’s op en een slegs ‘n 20mil.’

‘20mil? Ernstige wapen. Mooi! Daai ding kan lekker kak aanjaag as hy moet. Mooi!’ Dirk kan nie sy entoesiasme wegsteek nie.

‘Ok,ok bedaar.’ Die eerste keer sien Dirk Dhooge ‘n vlietende glimlag op Milla Keyter se gesig. Die see verander in ‘n amper Indiese oseaan blou. Jissis. Dan vervat sy.

‘Ek neem aan die Generaal sal ons breedvoerig kan inlig oor die opset daar?’

‘Hy sal.’ beaam Dirk.

Hulle kyk altwee na Charl Steyn. Die bal is nou in sy hande. Nou moet dinge net gebeur.

‘Milla, so gou as moontlik sal jy vir ons ‘n plek moet kry waar ons die aanval kan uitlê. Tru-projektor en dies meer, sodat ons die ouens kan brief.’

‘Klaar gereël. Hoërskool Brandwag se skoolsaal. Woensdagaand.’

Die vrou ken haar kak, dink Dirk. Hulle verdaag haastig.

Word vervolg … 

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: