Archive for Julie 3, 2007

Eina

Ek wil nie vandag veel sê nie. My gemoed is te vol.

Ek het ‘n nuwe student wie se man binnekort (soos in twee weke van nou af) moet begin tronkstraf uitdien vir bedrog. Dit lyk op hierdie stadium of dit 12 jaar gaan wees.

Ek gaan nie vir julle die hele sad storie vertel nie. Net dat hy wel ‘n fout gemaak het, maar dit nie alleen gedoen het nie. Die ander partye het vals verklarings afgelê, en alhoewel hy weet dat hulle ook skuldig was, het hy niks wat dit kan bewys nie. Hulle het alles op sy skouers gepak.

Dis ‘n goeie, beskaafde, slim man. Hulle het twee kinders van 9 en 11. Skielik moet sy nou uitspring en na 12 jaar gaan werk om vir haar en die kinders te kan sorg terwyl hy tronkstraf uitdien.

Die punt is eintlik die hartseer in haar oë. Sy het hierdie man so lief … ten spyte van… In haar eie woorde: “EK het ‘n belofte voor God afgelê dat ek hom sal bystaan en liefhê tot ek die dag doodgaan. As God hom kan vergewe vir sy misstap, kan ek ook.” En sy bedoel elke woord. My hart breek vir hierdie gesin. Hierdie volgende twee weke is absoluut kosbaar vir hulle. Die kinders gaan grootmense wees as hy uit die tronk uit kom.

Wat sou JY doen as jy net twee weke oorgehad het met jou ander helfte? Jou pot se deksel? Die mens wat jy so lief voor is? Daardie asem wat jou ‘n rede gee om op te staan elke dag? Die een met wie jy nie kan wag om te praat en lag nie? Die een vir wie jy jou arms stompies sal baklei? Twaalf jaar is ‘n lang tyd…Skielik lyk my ou probleempies so nietig…

Comments (4) »