STORIEMONSTER – Episode 19

Augustus 1977

Die dag draal verby. Weereens, geen enkele voertuig besoek die Kotwal woning nie. Renier peusel aan die laaste brood, wat teen die tyd al droog en styl proe. Die gedagte dat hy sy tyd mors knaag weer aan hom. Dit is Woensdag, as hy teen Vrydag nog nie ‘n plan kan sien nie, gaan hy die hele ding van ‘n ander hoek af moet benader.

Die son sak die tweede keer agter die geboue weg, en Renier verander van posisie. Teen middernag raak hy aan die slaap. Hy slaap weereens sleg. Hy word bedonnerd wakker. Hy is styf en seer. Hy besluit net daar en dan, as hier vandag niks gebeur nie, fokkof hy huis toe. Hy skuifel weer af kafee toe.

Skuins teen die randsteen, staan ‘n oranje Ranchero bakkie geparkeer. ‘n Beer van ‘n man staan skuins teen dit aangeleen. Hy hou sy sigaret tussen sy duim en sy wysvinger vas. Die twee seuns wat gister pakslae gekry het, sit agter op die bakkie. Hulle sien hom soos een man, en die blondekop leun oor, en fluister in die groot man se oor. As hy vinger wys in Renier se rigting, en die ou grote die sigaret driftig wegskiet, blaas Renier deur sy saamgeperste lippe. Hy is nie nou lus vir die snert nie.

‘Hey! Jy, fokken gemors!’ skree die man, en begin haastig oor die pad na hom toe aanloop.

‘Jy dink jy kan kinders aanrand, en daarmee wegkom. Hoekom klap jy nie aan my nie jou stuk drek!’

‘Leer jou kinders maniere, dan sal niemand aan hulle slaan nie. As jy nou omdraai, en wegstap, sal ek jou nie seermaak nie.’

Renier sien sy stelling vat effens die wind uit die man se seile. Hy is nie gewoond daaraan dat iemand terugpraat nie, nog minder hom dreig.

‘Jissis, ek sal jou vermorsel!’

Renier hou beide sy hande op.

‘Ek wil nie baklei nie. Hulle het my met klippe gegooi’ sê Renier en beduie in die rigting van die bakkie, ‘ek en jy is ewe oud. Daar moet respek wees.’

‘Jy is ‘n fokken boemelaar. Kak soos jy kry nie respek nie,’ en hy wil nie verder na rede luister nie. Hy swaai n allemintige hou in Renier se rigting. Lomp, ongebalanseerd… ‘n amateur met ‘n groot lyf.

Renier koes onder die hou in, en alhoewel die man se hele kortrib oop is, slaan Renier nie ‘n hou nie.

‘Meneer, ek waarsku jou, ek gaan jou seermaak. Los my uit!’ Renier pleit amper met die man, en die ou grote verwar dit met vrees. Dit was die grootste fout van sy dag.

Die groot man gooi sy kop terug en lag.

‘Jy! Jy MY seermaak.’ Hy breek in ‘n roggelhoes uit, en dan kom hy weer vorentoe, die keer wil hy Renier gryp met die regter hand, en slaan met die linker.

Renier het genoeg gehad. Hy ontwyk die man se greep, blok die lamlendige vuishou, en dan slaan Renier hom presies waar hy sy seun geslaan het. Op die midrif. Die man is groot, en alhoewel die hou sy wind hortend oor sy lippe laat bars, het hy genoeg krag oor om ‘n tweede vuishou te mik.

Renier gryp die groot vuis met beide hande, en hy ruk die arm geweldig hard grond toe. Hy hoor met behae hoe klap iets in die man se skouerpotjie, en ‘n pynkreet kom oor sy aanvaller se lippe. Sy kop is Renier se heuphoogte, en hy sien nie Renier se knieg beweeg nie, en hy wend dus geen poging aan om te keer nie.

Renier breek die man se neus met ‘n sagte nat kraak, en hy steier terug met beide hande oor sy gesig. Instinktief, slaan Renier hom reg in die middel van die twee hande. Dan bedwing hy homself, en retireer. Die laaste hou laat die man slordig agteruit strompel, en hy val oor die randsteen, en hy hik as hy plat op sy boude gaan sit.

Renier sak af, en die man kyk hom met vrees in sy oë aan.

‘Jy was gewaarsku. Boggeroff nê, dan gaan wen jy eers daai twee knapies op die bakkie se respek terug, en dan leer jy hulle maniere. Dan sal hierdie tipe ding jou nie weer oorkom nie.’

Die man kyk hom met ‘n leë uitdrukking aan.

‘Verstaan jy!’ skree Renier, en die man mompel ‘n erkenning agter sy bebloede hande uit. Hy spoeg ‘n tand uit.

Renier stap in die winkel in, en hy koop sy brood en Coke. As hy uitkom, sien hy die bakkie stadig in die straat afry.

Ek het nie hierdie tipe aandag nodig nie, dink hy. Hy stap terug in die rigting van sy skuilplek.

//

Teen middagete, is daar nog steeds geen lewe by die Kotwal hek nie. Renier staan op. Hy moet sy bene rek. Die boemelaar strategie begin sy tol eis.

Hy loop dronkerig weg van die oop perseel af, reg in die rigting van die hek. Hy kyk net vinnig sydelings na die hek, en weereens volg die kamera hom. Hy hou aan loop. Sy oog val op ‘n paneelwa wat aan die oorkant van die pad, amper die helfte op in die aangrensende blok, langs die pad op die sypaadjie staan. Om dit is ‘n vrolike oranje lint gespan, en ‘n ouerige man sit agter die stuur, terwyl ‘n jong swart man op presies daardie oomblik, reg agter die paneelwa, in die grond wegsak. Renier stap ingedagte nader. Hy is geneig om te vergeet van sy mondering. Die man agter die stuur kyk hom agterdogtig aan as hy onder die lint deurklim.

‘Daai lint is daar vir ‘n rede. As jy in die gat indonner, dan is jy my baby. Voertsek hier!’ beveel die man nors.

Renier ignoreer hom, en hy skuur teen die voertuig verby. Hy loer in die gat af. Teen die kant van die donker opening, is ‘n leertjie in die sement wand van die afvoersloot ingemessel. Daar is geen teken van die ou wat nou net hier ingeklim het nie. Die doolhof hier onder is dus groot genoeg vir ‘n man om in te beweeg. Hy wonder waar die gang heen lei?

Hy stap terug na die bestuurder van die voertuig toe.

‘Hel, dis seker niks lekker daar onder nie?’ vra hy vriendelik.

Die man kyk net geirriteerd na hom, en blaai deur sy koerant.

‘Waar gaan al die gange heen?’

‘Kyk maat,’ en hy klim uit die voertuig uit ‘ek het nie lus om met jou te praat nie, fokkof hier’

Renier is lus en slaan hom, maar daar is verskeie mense op die sypaadjie, en oorkant die pad. Hy kners op sy tande, en volg die kapitalistiese roete. Hy haal ‘n twintig rand noot uit sy sak. Hierdie ou verdien seker twintig rand ‘n week, dink Renier grimmig. Die man kyk verbaas na die noot. Renier druk dit in sy hand.

‘Waar gaan al hierdie gange heen?’ vra hy weer.

Die man gryp die noot vraatsig, en druk dit in sy sak. Hy kyk met nuwe oë na Renier.

‘Hierdie is die hoof stormwater sisteem. Dit loop kruis en dwars onder elke straat.’

‘Dit gaan egter nie in die persele in nie?’ vra Renier.

‘Dit doen soms, ja’ se die man, en bly dan stil.

‘Hoe groot is die gange?’ vra Renier.

‘Dit was alles mynwereld hier. Hulle is massief. Jy kan regop loop in meeste van hulle’ Hy kyk agterdogtig na Renier.

‘Is daar iewers ‘n uitlegkaart of iets, wat jou wys hoe die netwerk lyk?’ vra Renier weer.
Die twintig rand se waarde is gebruik. Die man slaan toe soos ‘n bankteller by teetyd. Renier krap weer in sy sak, en die man hou gretig die volgende noot dop. Renier hou die noot toe in sy hand, en trek net sy wenkbroue op.

‘Ja,’ sê die man nors. Hy leun oor en grawe in die paneelwa se paneelkissie. Hy haal ‘n verslete papier uit. Dit het donkie-ore van jare se gebruik. Hy vou dit oop.

‘Hier kan jy sien presies waar loop wat. Die kaart dek vier blokke. My wyk met ander woorde. Hierdie str…’

Renier gryp die stuk papier uit sy hand uit, en druk die noot in laasgenoemde se plek.

‘Ek dink ek het sopas jou kaart gekoop,’ sê hy, en hy duik onder die lint deur. Die man lyk asof hy wil protesteer. Veertig rand laat jou niks van die aard doen nie, en hy laat Renier begaan.

Renier druk haastig die kaart onder sy hemp in. Dan vervat hy die skuifel, en hy beweeg in die rigting van sy skuilplek. Hy pak vinnig op. Dit help nie hy vertoef hier nie. Hy het werk om te doen.

//

Die meter lengte ronde staaf gloei bloedrooi as Renier die blaasvlam wegvat. Hy slaan die punt om in ‘n skerp hoek. Voor hy uit Randfontein weg is, het hy die deksels van die stormwater slote versigtig beloer. Almal van hulle het ‘n ring in die middel. Hy sal die swaar deksel moet kan ooptrek. Agter op die staaf, sweis hy ‘n groterige ring, wat hy uit ‘n oorskiet stuk van dieselfde staaf gebuig het. Groot genoeg dat hy sy een hand se vingers kan deurgly.

Hy het skielik ‘n oog ontwikkel vir die deksels. Daar is ‘n groot vierkantige een aan die bopunt van sy straat. Hy koel die instrument onder koue water af, en dan stap hy pad toe. Hy kyk rond as hy by die deksel kom, en as hy niemand gewaar nie, hak hy vinnig die stuk yster deur. Hy tel die deksel gemaklik op. Hy glimlag tevrede.

//

Renier bestudeer die ou kaart voor hom. Die onderskeie blokke is in dik strepe afgemerk. Hy is egter meer geinterresseerd in die fyn stippellyne wat die onderskeie erwe afmerk. Hy merk die Kotwal woning se blok af. Reg teen die agterste grenslyn, is ‘n gang. Die kaart is oud en verslete, en dit dui wel ‘n deksel aan in die Kotwal erf. Die kaart wys dit egter reg op die stippellyn. Dit kan of in die erf agter Kotwal wees, of in syne. Geluk moet nou net aan sy kant wees.

Hy besluit om relatief lig te beweeg. Hy sit die Glock in ‘n skouer skede, die knaldemper sit hy in ‘n aparte skede om sy enkel. In ‘n heupgordel sit hy ‘n flits, en ses ekstra batterye. Vir die wis en die onwis, haak hy twee klein kannetjies traangas langs die batterye in.
Hy bestudeer weer die kaart, en hy werk ‘n roete uit. Dit sal beter wees as hy die bakkie ‘n blok weg parkeer, daar is verskeie deksels in die straat ‘n blok agter die Kotwal woning. Drie van hulle gaan deur in die Kotwal lyn. Hy merk al drie op die kaart, en dan klim hy in sy bakkie, en ry Randfontein toe.

//

Renier besluit op die deksel wat reg inlyn lê met die Kotwal erf. Die feit dat dit reg in die middel van ‘n oop parkeer spasie is, pas hom soos ‘n handskoen. Die F250 is lekker hoog, hy kan gemaklik onder dit inseil…. en haastig uit as dit moet. Hy sit in die bakkie tot net na middernag. Die straat is stil en verlate. Hy klim uit, en hak die deksel oop. Hy skuif dit versigtig eenkant toe, en dan trek hy die groot bakkie netjies oor die gat. Hy skuif onder die voertuig in, en vind dat hy kan regop sit, as sy bene in die gat afhang.

Nou kan hy rustig sy toerusting nagaan. As hy tevrede is, klim hy drie skorte af teen die leer, en hy besluit om die deksel oop te los.

Die flits gooi ‘n helder straal na onder. Hy skat so agt voet tot op die vloer van die gang. Hy klim af. Dit is nat en koel. Dit ruik na ‘n mengsel van muf, en nat sement. Iewers hoor hy water drup. Hy lig op die kaart. Reg, daar is een deksel wat hy moet verbysteek en dan oor ‘n dwarsgang, en die eerste deksel na die skuins gang is sy deksel. Hy haal ‘n stukkie blou bordkryt uit sy sak. Soos hy loop, maak hy merke teen die muur. Hy wil nie hier verdwaal nie. Vernaam nie as hy moet vinnig ontsnap nie.

Renier is sesvoet plat in sy sokkies. Hy moet sy kop effens vooroor buig om te kan loop in die gang. Hy skuifel vorentoe. Hy kruis die dwarsgang en as hy by die tweede deksel kom, lig hy na bo. Hy klim stadig teen die leer op. As sy kop teen die deksel druk, lig hy dit baie versigitg op n skreef oop. Dit is swaar, hy kan dit nie ophou, en terselftertyd rondkyk nie. Hy skakel die flits af, en druk teen die deksel. As dit oplig, druk hy die agterkant van die flits in die spasie. Hy loer deur die klein gapinkie.

Hy is op die regte plek. Hy kan die heining sien met die kameras op. Die agterkant van die huis is ongeveer tagtig meter weg. Dit gaan neuk. Die erf is oop, en daar is geen digte plantegroei wat dekking kan bied nie. Hy kyk deur die skrefie na die muur se kant toe. Die deksel sit reg teen die muur. Agter in die hoek, tien meter weg is ‘n digte bottelkwas struik. Dit gaan nie genoeg dekking gee nie.

Hy voel eers die nattigheid in sy nek, en dan die verwoede grom. Hy ruk instinktief sy kop weg, maar die hond se tand sny deur sy oor. Hy verloor sy balans, en val in die gat af. Sy opleiding red hom, en hy breek die val met sy bene. Klonte grond en stukke gras val in die gat af soos die hond maal daarbo om deur die gleef te kom. Sy flits is nog daar bo. Hy gryp na die trappies, en begin haastig weer oplim. ‘n Tweede hond het bygekom. Hy is amper bo, as die deksel skielik wyd oopgelig word. Hy kyk in n bebaarde gesig vas, en beide mans verstar. Dan los Renier as hy die man se skouer sien beweeg. Hy stort weer in die gat af. Hy hoor die man vervaard name roep daarbo. Hy val sleg, vlieg orent en begin hardloop. Dit is stikdonker. As hy die donnerse flits nie so diep in die spleet gedruk het nie, sou dit na binne geval het. Hy vloek gedemp, en probeer onthou hoe ver dit is na die dwarsgang toe. Hy hou aan opkyk. Sy deksel is oop,hy sal dit duidelik sien. Hy hardloop volspoed in n soliede muur vas. Hy voel hoe die growwe tekstuur sy ken en voorkop se vel verniel. Hoe de fok het hy die gat gemis? Hy kan nie onthou dat hy verby die dwarsgang is nie. Stadig nou Van der Berg…. stadig. Hy draai om en stap terug. Hy sien nie die oop gat nie. Hy kry weer die dwarsgang, hy draai om, en stap versigtig terug. Hy het vergeet sy deksel sit in ‘n effense inham.

Hy kry dit na vyf minute se soek. Hy klim haastig die trappies uit. Onder die bakkie, skuif hy die deksel toe. Net voor dit dig word, sien Renier onder op die vloer van die gat, die duidelike ligstraal van ‘n flits. Hy beter wegkom hier.

Hy seil blitsig onder die bakkie uit. Hy kom orent en ruk die bakkie se sleutel uit sy sak. As dit knars in die sleutelgat, sien hy te laat die beweging skuins agter hom. Hy koes, maar dit voel skielik asof sy skedel bars. ‘n Wit lig skiet deur sy kop, en hy val….

//

Huidig.

‘Ek wil nie hê jy moet gaan nie’ sê Marius eenvoudig. Hy sit op die hoek van die groot dubbelbed, en kyk mistroostig hoe Heleen pak.

‘Vir wat nie? Dis nie asof jy vreeslik baie tyd het vir my deesdae nie. Jy is so in jou eie gat opgekruip, dis scary!’ snou sy hom toe.

Hy weet dit is heeltemal waar. Hulle is al amper twee maande hier. Heleen se broer is besig om ongeduldig te raak, en Heleen beur terug samelewing toe. Hy is so betrokke by sy opleiding, dat hy skaars met haar praat deesdae. Hy is doodmoeg in die aande, en rus is iets wat hy verslind. Hy antwoord haar nie.

Sy hou op pak, en sy kyk vir ‘n oomblik weg van hom af.

‘Ek waai, en dan baklei ek ook nog met jou…. ek’s jammer.’

Hy staan op, en sy stap in sy arms in. Hulle staan lank so, dan wikkel sy haarself los.

‘Kyk, ek is nie heeltemal uit die masjien uit nie. Noël het net so ontsaglike netwerk wat ek kan gebruik. So, ek gaan aanhou krap en uitvis, en julle help.’ Sy tel ‘n dik pak foliopapier wat eenkant op die bed lê op. ‘Kyk al die leidrade,’ sê sy, en pruil haar mond vir hom.

‘Dis net dat ek nie dink jy is veilig daarbo nie. Jy weet die huis was onder surveilance, en jy weet hulle weet waar om jou in die hande te kry. Ek is vreeslik bang hulle gebruik jou om by my uit te kom.’ fluister Marius.

‘Dirk het belowe hy sal iemand daar hê om my op te pas. So moenie worry nie, boeta, eks gecover.’ Haar stem dra geen oortuiging nie.

Hulle gedagtegange word verbreek deur die kragtige geklop van ‘n helikopter. Dit suis oor die huis, en hulle hoor dit effe agter die huis omdraai.

‘My lift is hier!’ sê sy.

Marius help haar die laaste goed pak. Dit raak stil buite. Hy begin die tasse uitdra na die stoep toe.

Die Bell 222 staan gereed, en David is dadelik daar om die bagasie in die vaartuig te laai. Die jong loodsie staan eenkant ernstig in gesprek met Dirk. Dirk draai na Heleen en Marius toe.

‘Heleen, Frits Derkson.’ Dirk beduie na die jong loodsie toe. ‘ Hy sal jou afgooi by Grand Central, en ‘n man byname Hugh Nicoletts, sal jou oppik, en huis toe vat. Wees maar geduldig met Hugh, hy is abrasive en kru en ongeskik. Hy sal jou oppa…’

‘Asof ek dit nie teen die tyd al gewoond is nie.’ spot Heleen.
‘Nou ma goed, laat ons waai,’ sê Frits.

Heleen soengroet Dirk. ‘Ek het al die notas op jou lessenaar gelos, Dirk. Presies waar wat gebere is, en dies meer.’ Dan draa sy na Marius toe, en lei hom ‘n entjie weg. Hulle gesels vlugtig, en dan klim sy in die helikopter. Tien minute later hang net ‘n vae stofwolk nog oor die werf.

//

Dirk hang die groot slaansak onder die afdak op.

‘Moer die ding met alles wat jy het, laat ek sien!’ beveel Dirk.

Marius staan onseker nader. Hy tik tik na die sak soos ‘n wafferse bokser.

‘Jyt te veel Rocky flieks gekyk, ouboet,’ maan Dirk. ‘Kom hier’

Dirk skop Marius se bene blitsig onder hom uit. Hulle tuimel neer in die stof, en ‘n sekonde later het Dirk Marius in ‘n nekklem.

‘Jy is nie groot nie, Marius, so jy wil nooit in hierdie posisie beland nie. Jou spiere is soepel en sterk nou. Jy is jonk, hou altyd jou aanvaller weg van jou lyf af. Daar is verskeie maniere om dit te doen. Ek sal jou almal leer. Verstaan jy?’

‘Ek doen, maar as ek onverhoeds betrap word, en ek gaan wel grond toe? Wat doen ek dan?’

‘Ek sal jou wys.’

Dirk vat ‘n swart merkpen, en hy merk kolle op die slaansak.

‘Gesig hier, solar plexus, diafragma, maag en lende,’ hy maak kringe.

‘Begin eers stadig, kyk wat ek doen, en herhaal dit. Moenie skaam wees om dit alleen te oefen nie.’

Dirk wys hom die onderskeie maniere om sy vuis te hou. Die reguit vuis, die hamer-aksie en watter een om waar te gebruik.

‘Onthou ook, in ‘n konflik situasie, is jou bene net so belangrik. Skop altyd na jou opponent se knieg. Die Achilles tendon kan netsoveel skade aanrig, maar dit is ‘n skop wat jy sal moet oefen.’

‘Ek dog jy skop altyd ‘n ou in die eiers’

‘Hy beskerm ALTYD sy eiers, dan skop jy sy fokken knieg af.’

Hulle spandeer twee ure onder die afdak, en vir die eerste keer in ‘n week, brand Marius se longe as hy klaar is.

//

‘Net ‘n maand’merk Dirk op. Die dag is offisieel verby, en Marius en Dirk sit op die stoep en ontspan.

“Jy gaan nou nie Bruce Lee wees nie, maar jy sal na jouself kan kyk.’

Marius knik net. Vandat Heleen vanmiddag weg is, is hy soos ‘n leeu in n hok. Sy is veilig by die huis, en sy het ‘n mondvol gehad oor haar beskermingsengel. Hy mis haar vreeslik.

‘Dit voel vir my asof ek haar te na kom. Ons almal weet daar is soekende oë daarbuite. Some fokken score iewers wat op my tab gesettle moet word. En sy is alleen in Johannesburg, en ek hier. Dit voel net nie reg nie.’ mymer Marius

‘Ek verstaan’ sê Dirk ‘maar jy het ‘n lang pad gekom tot dusver. Dis lekker om met jou te werk, want jy is ‘n natural. Ek en jy weet beide dat die score gesettle sal moet word. Dit is gevaarlike, vindingryke mense hierdie. Volgens my het jy geen ander keuse as om voorbereid die stryd te betree nie.’

‘Ek weet’ sê Marius. ‘Die probleem is net, ons het nog steeds geen idee met wie ons te make het nie’

‘Ons gaan uitvind, ek het voelers uitgesteek daarbuite.’ sê Dirk. Hy het ‘n kermende gevoel van onheil in sy binneste as hy dink aan Koert. Die man kan na homself kyk, maar die feit dat hy net skielik nie terugvoer gee nie, is uit sy karakter. Hy hou egter sy gedagtes vir homself. Hy vervolg: ‘Heleen het uitstekende werk gedoen. Ek dink ons moet opvolg,’ Hy staan op en beduie vir Marius om hom te volg.

Hulle gaan sit voor die groot skerm in die grot.

‘Die generaal was taamlik well documented tot in 1977. Toe, POEF, is hy weg. Iets moes daar gebeur het wat aanleiding gegee het tot hierdie hele gemors. However, ons kan niks opvolg nie, totdat ons nie weet wie die ander party is nie.’

Dirk maak die folder oop wat Heleen saamgestel het.

“Heleen is oortuig hierdie reeks moorde het iets daarmee uit te waaie.’

Marius se oë flikker oor die skerm.

‘Hoe? Waarom?’ vra Marius.
‘Intuisie blykbaar’ sê Dirk en glimlag. ‘En natuurlik die foto!’ voeg hy by en wys Marius die swart en wit foto waar Renier van der Berg onopsigtelik probeer wees.

‘Hel, ek is nie heeltemal so seker nie. Dit is ma…’ skielik bly Marius stil, en Dirk kyk vraend na hom.

Marius laat sak sy kop, en stamp dit herhaaldelik teen die lessenaarblad.

‘Ek is so ‘n poepol. Sy was reg, ek is so in my eie gat opgekruip gewees hierdie laaste twee maande.’ Hy vlieg skielik op, en storm by die voordeur uit. Dirk bly verdwaas sit.

Marius haas homself vyf minute later terug in die grot in, en hy gooi die nota voor Dirk neer.

‘Hierdie was saam met die sleutels in die kluis. Dit is die briefie wat my oom vir my gelos het. Ek het heeltemal daarvan vergeet. Dit lê nou al twee maande in die BMW se cubbyhole.’

Dirk tel geinteresseerd die nota op. Sy wenkbroue lig.

‘Nou waar de fok sal die dagboek wees?’ terwyl hy nog sy sin klaarmaak, skakel hy klaar vir Heleen.

Sy antwoord dadelik, en nog voor Dirk ‘n woord kan inkry, vuur sy die eerste salvo:

‘Jissis, Dirk. Ek sweer, ek sal ‘n swartmark wapen gaan koop, en self jou fokken gorilla skiet. Jy kon seker nerens ‘n meer walglike, obnoxious of meer egotistiese doos in die hande gekry het nie nê? Ek sal van my don….’

‘Wag nou,’ val hy haar in die rede. ‘Deur hoeveel van die trommels het jy gegaan Heleen?’

Sy kalmeer effens as sy die dringendheid in sy stem hoor.

‘Daar is nog tien oor. Ek het begin spoed verloor by die heavy stuff. Daar is ‘n folder op jou rekenaar waarin ek meeste gedokumenteer het. Having said that, ek het dieselfde lysie vanmiddag by ‘n welbekende boekhandelaar gaan afgooi. Om sy reaksie as histeries te beskryf, is ‘n understatement. Die goed is miljoene rande werd. Hy sa…’

‘Ok, ok’ val Dirk haar weer in die rede ‘Dis nie nou belangrik nie. Ons is opsoek na Renier se dagboek.’

‘Sy dagboek! Nou waar kom dit nou skielik vandaan?’ vra sy.

‘Marius het ‘n nota gekry saam met die sleutels vir die stoor in Edenvale. Daarin noem die generaal sy dagboek. Hy beweer egte..’

‘Jissis, en Marius het seker van dit vergeet. Fok! Twee maande van my lewe down the drain. Want poepol het vergeet van die belangrikste bestanddeel van hierdie hele fokkop.’ Sy is briesend.

‘Ok, relax, jy praat asof ons die dagboek reeds het. Kon jy dit dalk gemis het in die trommels wat jy reeds deurgegaan het?’

‘Nope, daar is nie ‘n manier nie. Ek het fisies deur elke boek geblaai. Daar was geen dagboek nie. Wat laat jou dink dit is in een van die trommels?’ vra sy.

‘Wel, waar anders?’

Dirk hoor hoe sy met haar tong teen haar lippe speel.

‘My guess is, die huis in Kensington. Dit is massief, en ek is seker daar is verskeie ou dekadente wegsteekplekkies daar.’ En voordat Dirk iets kan sê ‘en nee, ek gaan notafok alleen daar in nie.’

‘Goed, die sleutel lê dan daar. Ons sal in elk geval deur die laaste trommels gaan. Net vir incase.’

‘Waar is Marius?’ vra sy.

Dirk gee die foon vir Marius, en maak homself uit die voete. Dit gaan ‘n lang nag wees.
Hy gooi die lig in die stoor aan, en hy maak sy weg na die groepie trommels wat stowwerig eenkant staan.

//

Die Bell laat sak sy stert, en die loods sit dit veersag neer op die gemerkte stuk beton. Heleen klim wankelrig uit. Sy is nie gemaak vir vlieg nie. Die Here sou haar vlerke gegee het as hy wou gehad het sy moet vlieg. Sy staan eers met haar voete uitmekaar geplant, totdat sy haar balans herwin het.

Net buite die afgebakende area om die helipad, staan ‘n vuil verinneweerde Isuzu Trooper. Teen dit leun ‘n amper onmoontlike lang seningrige man. Sy arms gevou voor sy bors. Die loods haal Heleen se bagasie uit, en die lang man kom in beweging. Hy stap op die sementblad op, tel die bagasie met een vloeiende beweging op, en draai om in die rigting van die Isuzu. Hy sê nie ‘n woord nie.

‘Verskoon my,’ Heleen stap voor hom in. ‘Wie de moer is jy?’

‘Hugh.’ Die stem diep. Hy klink soos Sam Elliott. Om die waarheid te sê, hy lyk soos ‘n jong Sam Elliott. Tot by die cowboyhoed op sy kop. Hy wag nie dat sy haar opsomming klaar maak nie. Hy maak die klap van die Isuzu oop agter, en gooi onsamehangend die bagasie agter in die voertuig.

Hy stap om, klim agter die stuur in, en skakel die voertuig aan. Heleen skud haar kop. Sy ruk die passasiersdeur oop, en nog terwyl sy inklim, laat hoor sy van haarself:

‘Luister, jou ma het jou duidelik nie maniere geleer nie. Nou kyk, ek di…’

‘I dont understand a word you say.’ Die diep stem, ryk en melodieus amper.

Heleen soek na wind. Haar seile hang slap.

‘Oh, ummm ok, I am Heleen. We got off to a bad start there.’ Sy kyk sydelings na hom. Hy is onmoontlik aantreklik. Hy bly stil, en druk die voertuig in rat. Hulle ry woordeloos na Heleen se huis toe. Sy het geen idee hoe hy weet waar sy en Marius bly nie.

Sy maak die voertuig se deur oop.

‘Just wait!’ blaf hy. “Keys!’ en hy steek sy hand na haar toe uit. Heleen vererg haar uit haar heuppotjies uit.

‘You were not in the front of the queue when manners were dealt, were you?’ snou sy hom toe terwyl sy in haar handsak grawe. Hy praat nie, hy vat die sleutels en klap die deur in haar gesig toe. Die voertuig gee ‘n biep.

Die fokken vermetelheid, dink Heleen vies. Hy is klaar oorkant die pad, besig om die voordeur oop te sluit. As hy binne in die huis in verdwyn, ruk Heleen haar op, en maak die Isuzu se deur oop. Die alarm loei en sy ignoreer dit. Voordat sy by die klap van die Isuzu kan kom is hy langs haar. Sy greep is soos staal as dit haar om die arm vat. Hy ruk haar in die rigting van die huis.

Sy wil losruk, en hom iets viesliks toesnou, maar die uitdrukking op sy gesig, en die ys in die staalblou oë, laat haar stilbly. Hy stamp haar onseremonieel in die voorhuis in. Deur die venster kan sy sien die Isuzu se deur hang nog oop.

‘There is going to be a set of rules. Try a stunt like that again, and i will tie you to your bed. You do as I say.’ Hy is kwaad.

‘I dont need to d..’ begin sy

‘Shut the fuck up, I am here to protect you. Nothing is negotiable. I do not enter into word matches with you. You do as I say.’ En daarmee is die gesprek oor. Heleen is verslaan. Hy storm uit buitentoe, en gaan haal haar bagasie. Hy sit dit in die voorkamer, hy klap die deur toe en grendel dit.

Heleen stap badkamer toe, en as sy die deur oordadig hard toeklap, hoor sy hoe hy deur die huis beweeg. Sy kyk na haarself in die spieël, en sy gaan sit op die toilet. Sy gaan ‘n donnerse gevangene wees in haar eie huis. Weereens stoot ‘n rebelsheid in haar op. Sy stoom en mor en maal vir tien minute lank rond in die badkamer. Daar is ‘n ligte kloppie aan die deur.

Hy spreek haar naam uit as ‘Helayne’.

‘Are you ok in there?’ Sy stem sagter. ‘I made some coffee.’

Sy slaan haar oë hemelwaarts, en ruk die deur oop. Die twee koppies koffie staan en stoom op die kombuis toonbank.

Sy praat sag met hom, haar rug na hom toe.

‘I am a private person. I am not sure I can do this. I am not even sure that you are neccessary. Its not me they are after. I had no fucking choice in this whole thing.’

Hy kyk net na haar. Hy vat sy koffie, en hy gaan sit op die sitkamerbank. Hy sit so dat hy die voordeur kan dophou.

Heleen sug. Hierdie hele ding gaan nie maklik wees nie.

//

Die alarm op haar selfoon, maak haar halfvyf wakker. Sy strompel deur kombuis toe, om die ketel te gaan aansit. Sy gee ‘n gil as sy die kombuislig aanskakel. Die buislig gooi ‘n vaal ligkring in die voorkamer in. Hugh Nicoletts sit penorent op die bank. Ten volle geklee. Sy oë oop en wakker.

‘Good morning’ sê hy net.

Heleen haal nog ‘n koppie uit. Sy het heeltemal vergeet van hom. Sy trek haar kamerjas stywer om haar naakte liggaam. Sy sal moet gewoond raak hieraan.

Hulle eet ontbyt in stilte. Heleen wil deurstap garage toe, maar Hugh keer haar voor.

‘We go in my vehicle.’ Dit is dit, en sy stry nie. Dit sal tog nie help nie. Sy beduie hom die pad na haar broer se reuse gebou in Spartan toe.

//

Heleen se verwelkomingskomitee by die werk, bestaan uit vraatsige openlike aangaping deur die jonger meisies in die gebou, en Heleen verwag dat sommige van die mans gaan opstaan en teen hulle lessenaars pis. Die lang man aan haar sy het ‘n dramatiese effek op die mense om haar.

Die kantoor idioot, ‘n lang gymnasium aap, kom met ‘n koppie koffie in sy hand na hulle toe aangestap.

‘Sjoe, jy gaan op vakansie, en kom terug met ‘n nuwe man in jou lewe’ Hy is heelwat korter as Hugh, en hy kyk hom openlik op en af aan. Sy uitdrukking smalend. Heleen sien hoe hy sy borspiere onder sy hemp laat spring, en Hugh kyk geamuseerd daarna.

‘Jy is nog net so ‘n windbal, Rudolf’ sê Heleen geirriteerd. Die vent was reg van die begin af openlik geinteresseerd in Heleen, soms grens dit aan teistering. Sy kan die knaap nie verdra nie. Sy skuur by hom verby, en glip by haar kantoordeur in. Hugh staan na die man wat die hele paadjie volstaan en kyk. Hy het geen intensie om teen hom te skuur nie.

Rudolf smelt voor die staalgrys oë, en hy staan nonchalant opsy en beduie met sy arm in ‘n galante gebaar in die rigting van die lang man.

Hugh loop die kantoor binne, en as Heleen haar goed op die lessenaar uitgepak het, hou hy ‘n klein plastiek apparaatjie na haar toe uit. Dit lyk amper soos die afstandbeheer van ‘n elektriese hek.

‘I will be outside. Press this button if you need me.’ Hy druk die knoppie, en sy hoor ‘n fyn piepgeluid iewers aan sy persoon.

Sy vat dit, en knik. Hy trek die deur agter hom toe, en dan is hy weg.

//

September 1977

Die eerste sensasie wat Renier van bewus word, is vars beddegoed. Die tweede is dat hy nie kan beweeg nie. Die derde is die reuk soos dié van ‘n dokter spreekkamer. Sy oë flikker oop, en die vierde is ‘n verblindende ronde lig reg bokant hom.

Hy probeer beweeg. Hy kan nie. Hy voel die gespes skaaf teen sy enkels, en as hy sy kop draai, sien hy die leerbande om sy gewrigte, wat hom stewig aan die bed vasklem.

Sy kop is ontsettend seer. Daar is ‘n vae klop agter sy oë, en die bokant van sy skedel voel broos.

Die herinneringe kom stadig terug. Hy pluk aan die bande om sy polse. Hy hoor ‘n deur oopgaan, en dan kom die gesig in die veld van sy visie in. ‘n Bekende gesig. Simon Kotwal.

Die man grynslag af na hom toe.

‘Jy is ‘n moeilike ou om in die hande te kry, Generaal’ Hy lê ekstra klem op die woord ‘generaal’.

‘Ek dink nie ek sou jou kon opspoor as jy nie self na my toe gekom het nie.’ die stem smalend. ‘Jy is so vinnig by die huis weg, en jy het jou stomme vroutjie soos ‘n warm patat gelos. Poef…’ hy klap sy vingers in die lug ‘ en jy is weg.’

‘Maak my los Kotwal, dit is ‘n bevel’

Die man gooi sy kop agteroor, en lag uit sy maag uit.

‘Jy vergeet, generaal, danksy jou is ek uit die militêr. Jy beveel niemand niks hier nie. Om die waarheid te sê, dink ek die bordjies is verhang.’ Sy kop is naby aan Renier, en sy asem ruik na pepperment.

‘Hierdie privaat oorloggie, het te vêr gegaan, Kotwal. Jy was verkeerd, en jy het jou vonnis gekry. Die res van dit verstaan ek glad nie’ sê Renier skor. Sy keel is droog.

Hy vat Renier hard om die wange, en druk sy gesig.

‘Oee, ek dink jy verstaan heeltemal Van der Berg,’ hy put openlik genot daaruit om sy eertydse bevelvoerder op die van te kan noem.

‘Losers gaan lê, en lek hulle wonde, en weet nie wat om verder te doen nie. Wenners sien die uitdaging. Ek het jou uitdaging aanvaar Van der Berg, en dit lyk vir my ek is besig om die oorloggie te wen!’

‘Is dit wat jou mammie jou geleer het?’ gooi Renier die bom smalend. Renier deins effens terug as hy die uitdrukking op Kotwal se gesig sien. Waansin is die eerste gedagte wat in Renier se kop opkom. Die man is ‘n malmens, en die verwysing na sy ma, het ‘n senuweepunt geniepsig raakgedruk. Kotwal trek sy arm terug, en klap Renier oophand deur die gesig. Dit lyk asof hy die hou gaan opvolg, maar net so skielik as wat dit verskyn het, verdwyn die uitdrukking weer. Kotwal vee ‘n fyn strepie speeksel wat in sy mondhoek gevorm het, af met die agterkant van sy hand.

‘Jy gaan nog daardie ou uitlatinkie hewig berou, Van der Berg.’

Renier het ‘n vieslike voorgevoel dat die man nie onsin praat nie.

Hy sien n beweging op die grense van sy gesigsveld. Daar is nog iemand in die kamer. Hy sien die vroulike hand met die inspuiting, hy wil wegruk, maar hy kan nie. Die naald deurdring sy vel, en vind ‘n aar.

‘n Salige hitte sprei deur sy liggaam. Sy verset smelt, en die gesig van Kotwal voor hom, raak vriendelik. Die konfrontasie van oomblikke gelede, vergete. Renier voel hoe hulle die bande om sy arms en bene losmaak. Kotwal steek sy hand na hom toe uit. Renier vat dit, en trek homself orent.

Hy is bewus van die vae pyn in sy kop.

‘Jy het seker ‘n hoofpyn’ se Kotwal, asof hy Renier se gedagtes kan lees.

‘So effens ja,’ beaam Renier.

Kotwal knik vir die persoon agter hom, en Renier kyk oor sy skouer.

Sy is ‘n engel. Die lang blonde hare om ‘n sagte gesig. Deurdringende blou oë wat vriendelik op hom gerig is. Sy hou ‘n glas water na hom toe uit.

‘Drink, dit sal jou hoofpyn wegvat’ Haar stem is strelend. ‘n Waterval wat vloei deur sy sintuie. Hy drink. Kotwal vat hom aan die arm.

‘Jy is net betyds vir ons aand godsdiens. Kom ons kry jou aangetrek, en dan gaan stel ek jou voor aan die res van die mense hier.’

Renier laat hom uit die vertrek uitlei.

//

Hulle sit in ‘n reuse kring. Om hulle op die vloer, is ‘n massiewe ster. Op elkeen van die vyf punte van die ster, brand ‘n groot kers. Renier voel ‘n snaakse teenwoordigheid, hy kan dit nie verklaar nie. Die engel skuif langs hom in. Hulle sit met hulle bene gekruis, hulle hande voor hulle, palms teen mekaar, vingers reguit. Die elmboe reguit opgetrek.

‘Vryf jou hande teenmekaar’ beveel sy, en Renier doen dit. ‘Trek hulle effe van mekaar weg, voel jy daardie tinteling?’
Renier voel die reaksie tussen sy hande.

‘Jy sal moet oefen, daardie sensasie is pure rou energie. Ek wil hê jy moet leer om dit te projekteer.’ Gaan sy aan. Iets in Renier rebelleer vaagweg. Sy voel dit aan.

‘Daar is nie haas nie, Renier. Met oefening, sal jy daardie energie kan vorm. Jy gaan nie lepels kan buig nie, en jy gaan nie in tale praat nie, maar reg aangewend, kan jy gebeure manupileer. Dit is net die begin, later is daar baie meer, en dan is die wereld jou oester.’

Haar stem trek hom in. Haar aanraking laat hom fokus. Hy sit weer sy hande bymekaar. Die ritueel hou aan vir ‘n volle uur. In die sirkel is veertien mans. Wit, swart, bruin. Almal dieselfde aangetrek. Die wit togas om hulle bene gevou. As die verrigtinge klaar is, en hulle staan op, trek elke man die kappie van die toga oor sy kop.

Soos monikke, volg hulle mekaar uit die saal uit.

//

Hulle volg mekaar in ‘n ander saal in. Die reuk van kos, laat Renier besef dat hy honger is. Hulle gaan sit weerskante van ‘n lang growwe houttafel. Voor elke man word ‘n kleibak neergesit. Twee bediendes loop met reuse potte op ‘n trollie elke kant van die tafel af, en skep met ‘n groot ysterlepel ‘n porsie sop in elke bak.

As die groot lepel oor Renier se skouer kom, val ‘n warm druppel sop in sy nek. Die sensasie maak iets in hom wakker. Hy moet weg hier! Daar is ‘n skerp wit flits van lig deur sy kop. Hy moet weg hier! Dit is die vyand. ‘n Blink R1 flits voor sy geestesoog verby. Die magasyn vol. Dit draai outomaties kolf eerste na hom toe. Hy moet dit net teen sy skouer druk, en die sneller trek, en hy is vry!

Die tweede bediende sit voor elke bak kos, ‘n glas water neer. Langs die glas, ‘n enkel blou en wit kapsule. Daar is nie ‘n manier wat hy daardie pil drink nie. Hy begin eet. Sy kop is deurmekaar. Sy emosies baklei. Dit is so rustig hier. Waarteen wil hy baklei? Hier is nie gevaar nie. Die sop is heerlik.

Hy skuif sy bak terug, en as hy rondkyk, besef hy dat hy sy kos gulsig verslind het. Kotwal! Die afvoerpype, sy bakkie… stadig kom sy geheue terug. Ok ok, stadig nou, hulle weet nie. As hy onder die spuitnaalde kan uitbly, en die pille wegsteek, is hy mos nou presies waar hy wil wees.

Hy maak oordadig asof hy die kapsule in sy mond sit. Hy gooi sy kop agteroor, en drink die glas water leeg. Hy voel die kapsule in die mou van die toga afgly.

//

‘Hoe groot was sy dosis?’ vra Kotwal aan die blonde vrou. Hy draai sy stoel weg van die ry monitors voor hom. Die middelste een het ‘n helder kleurbeeld van die eetsaal daarop.

‘Twee cc’ sê sy eenvoudig. Kotwal kyk op sy horlosie.

‘Een uur en sewentien minute….’ peins hy. ‘Hy is merkwaardig bestand teen die dwelm.’

‘Moet ek hom ‘n tweede dosis toedien?’ vra sy

‘Onmiddelik, ek sal solank dat Petrus hom buite aksie stel. Ons sal nie te lank van nou af intensief met sy indoktronasie moet begin. Hy gaan moeilikheid maak.’

‘Groter dosisse, en ons begin more met die breinspoeling. Ek dink dit is te vinnig. Maar, as ons hom doodmaak, is die vlieg uit die salf uit.’ sê sy gevoelloos.

Kotwal swaai weer blitsig die stoel in haar rigting.

‘Jy maak doodseker dat hy nie doodgaan nie’ sis hy ‘doodseker, verstaan jy? Hy sal lewe om oud te word. Hy sal oud en alleen doodgaan. Met niks. Met niemand. My wraak sal vernietigend en volmaak wees.’

Sy knik net, en haal ‘n kleurlose botteltjie vloeistof uit die rak agter haar.

‘3cc dan’ sê sy en stap uit.

Word vervolg … 

3 Responses so far »

  1. 1

    jagternw1976 said,

    Thank you very much. 🙂

  2. 2

    Kokkewiet said,

    🙂

  3. 3

    jagternw1976 said,

    Episode 20 samblief ………… OF
    Episode 20 NOU ! Dadelik !


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar