Die skoolsaal is heeltemal te groot. Die luidspreker sisteem is egter uitstekend. Dirk sit dit af. Hy roep die groepies opgewonde manne nader, en beveel hulle om die skoolbanke wat spesiaal vir hulle uitgesit is, teenmekaar te skuif. Dirk het vroeër die middag ‘n los tru-projektor skerm georganiseer, en hy laat die groot een voor in die saal, weer wegtrek in die dak in. Hy wil hierdie vergadering so knus as moonlik hou. Die manne leer ken, en so min as moontlik van wat gesê word hier binne, laat uitlek na nuuskierige oortjies buite.
Hy merk Speurder Sersant Marx op in die geledere. Hy knik ‘n groet uit.
Renier van der Berg en Brigadier Milla Keyter kom die groot saal saam ingestap. Daar is ‘n murmurering onder die manne. Renier stap dadelik na die tru-projektor skerm toe, en hy groet die manne met’n eenvoudige: ‘Naand kerels, ek is Renier van der Berg.’
Daar is ‘n oomblik stilte, dan staan ‘n bonkige kort rooikop kereltjie op. Sy gesig oortrek met sproete. Hy kyk na sy maats om hom.
‘Generaal Renier van der Berg.’ sê hy eenvoudig.