STORIEMONSTER – Episode 22

Roelien Basson staan met haar bene wyd geplant. Hande in die heupe. Inspekteur Theuns Eloff het moeite om nie na die hupse lyfie te staar nie.

‘Inspekteur, ek kan nie glo dat julle na vier maande, nog nie ‘n dooie duit informasie het oor die vrou se moord nie. Wat máák julle?’

‘Mejuffrou Basson, ons kan nie leidrade uit die lug uitruk nie. Ons het gedoen wat ons kan.’ skerm hy.

‘Het gedoen!’ skree sy verontwaardig. ‘Hét gedoen….. so julle is klaar met die ondersoek?’

‘Ons is ja…’

Sy stamp haar voet driftig op die grond.

‘En julle het niks. Ek wil nie ‘n rassis wees nie, maar ek wonder tog tot watse uiterstes julle sou gegaan het as dit ‘n vooraanstaande swart vrou was!’

‘Die oomblik toe jy gesê het ‘swart’ vrou, was jy al klaar ‘n rassis in my boekie.’ kap die inspekteur terug.

‘Dis besides the bloody point, Inspekteur. Ek is seker ek kon ‘n beter job gemaak het van hierdie….’ sy maak aanhalingstekens met haar vingers in die lug ‘ondersoek’ Sy oorbeklemtoon die woord dramaties.

‘Nou hoe dan nou so?’ vra die Inspekteur smalend.

‘Like hoekom is sy eers gemartel, en toe geskiet?’

Roelien sien ‘n flikker van ongemak op die polisieman se gesig. Hy herstel egter vinnig.

‘Waar kom jy aan sulke snert?’

‘Want eks nie stupid nie, Inspekteur. Ek was by die lykshuis. Sy was eers in haar knieg geskiet. Dit kon ek al op die moordtoneel sien. Moenie vir my sê dít het julle ontglip nie?’ tart sy.

Theuns Eloff is skielik nie meer lus vir praat nie. Hy storm verby haar en ruk sy kantoordeur oop.

‘Ek is besig, juffrou. As jy enige verdere vrae het, vat dit op met Kaptein Ntsalintsali.’ Hy beduie haar uit sy kantoor uit.

‘Touched a nerve, didnt I?’ sy glimlag soet vir hom, en dan stap sy uit.

Inspekteur Eloff stap na sy lessenaar toe, en tel die foon op. Hy druk ‘n nommer in.
‘Captain….. Eloff here. I think we might have a problem.’

//

Roelien ry na haar woonstel toe. Sy is kwaad, en die klein Hyundai Getz betaal die prys. Sy haat dit as mense haar onderskat. Ingrid van der Berg was gemartel…. perdedrolle is nie vye nie.

Sy trek die rooi motortjie onder die afdak met die ongelukkige nommer dertien in. Eers as sy al haar katte kos gegee het, en sy sien hoe die klein liggaampies die kos waarderend verslind, kalmeer sy.

//

Roelien Basson is ‘n ligte slaper. Iets maak haar wakker. Sy bly leweloos lê, en die elektroniese wekker op haar bedkassie basuin 02:15 uit. Wat het haar versteur?

Dan hoor sy dit weer. Die dowwe krapgeluid onder by haar glas skuifdeur. Sy spring rats uit die bed, en trippel oor na haar venster toe. Onder, kan sy vaagweg ‘n donker gestalte uitmaak. Op die hoek van haar woonstel,skuil ‘n tweede donker vorm.

Sy is geseënd met logiese denke. Dit is Hartbeespoort hierdie. Daar is ongelooflik min inbrake hier, en as daar is, is dit wragtag nie by ‘n derderangse woonstelletjie aan die gatkant van die dorp nie. Nope, hulle breek gewoonlik by die meer gegoede plekke in. Wat wil hulle steel hier? ‘n Bleddie toaster?

Haar instink vertel haar dat hierdie javels hier is vir háár.

‘Dit gaan nie so maklik wees nie, kêrels,’ prewel sy by haarself. Sy haal haar gordelbeursie van die stoel se leuning af, en bind dit om haar middel. Selfoon, beursie met al haar kaarte…. wat nog?

Sy krap in haar bedkassie laai, en gooi ‘n botteltjie pepersproei ook in die sakkie. Sy trek geluidloos haar donkerste sweetpak aan. Sy sluip uit haar kamer uit. Kaalvoet, haar tekkies sal net ‘n lawaai opskop. Haar motorsleutels lê op die kombuis toonbank. Sy gaan dit los. Die kar sal nou net aandag trek. Sy haal versigtig die afstandbeheer vir die sekuriteitshek voor die kompleks, van die bos sleutels in die gordelbeursie af. Sy wil so lig as moontlik beweeg.

Sy hurk halfpad teen die trappe af, en loer onder die plafon deur. Hulle het die deur oop, maar nie traliedeur gaan hulle nog ‘n rukkie besig hou. Sy spring oor die reling, en land soos ‘n kat op haar voete in die voorportaal. Sy weet die voordeur is nie sigbaar van die skuifdeur af nie. Sy hoop en bid net, dat die twee narre daar agter by die deur, die enigste twee poepolle is.

Die voordeur klik oop, sy glip uit en druk dit agter haar toe, en dan is sy in die teerpad tussen die woonstelle. So far so good, dink sy. Sy hoor skaars die PLOP, sy voel die wind verby haar oor, en dan klap die patroon teen ‘n muur iewers langs haar. Sy gee ‘n gedempte gilletjie. Sy het geen idee waar die skoot vandaan gekom het nie, maar hulle weet sy is buite. Sy begin hardloop. Sy hardloop trompop in haar aanvaller vas. Hy ruk haar om en sy sien die skrefie voorarm onder die donker jas se mou oopskuif. Sy slaan haar tande diep in die stukkie vleis in. Haar aanvaller brul van pyn. Sy ruk die sakkie om haar middel oop, en vind die sproeikannetjie onmiddelik. Sy mik oor haar skouer, en sy los eers die knoppie as haar aanvaller se hande van haar afgly. Die man bulk en val op sy knieë.

Dan hardloop sy. Sy was nie verniet die honderdmeter kampioen op skool nie. So kaalvoet, gaan nie een van daardie lummels haar stof ruik nie. Sy druk die knoppie op haar afstandbeheer kontrole, en die hek beweeg rukkerig oop.

Sy draai instinktief regs, druk die knoppie weer, en sy is al te vêr weg om te hoor as die hek dig toeklik.

//

Haar kop werk oortyd as sy oorslaan na ‘n stywe draffie toe. Wat nou, Roelien? Baie oulik, jy is vry, maar waar gaan jy nou heen? Wie het haar verraai? Sekerlik die polisie, dit is tog waar sy laas was, en as jy hulle nie kan vertrou nie, wié kan jy vertrou?

Sy haal so in die hardloop die selfoon uit haar sakkie. Dit is ‘n long shot, Roelien, dink sy en jy gaan dalk in die stort opeindig saam met die man, keuses het jy nie nou nie. Sy vinger haastig af deur haar kontaklys.

//

Dirk ruk wakker op die tweede lui.

‘Dhooge!’

‘Ek’s natgesweet en alleen. Ek het gewonder of jou stort aanbod nog staan!’

Dirk is vir ‘n oomblik heeltemal uit die veld geslaan. Hy hoor die vrou is uitasem, en dan kom die herkenning stadig na hom toe deur.

‘Roelien?’

‘Einste, is jy bly?’

‘Ummm, dis half drie in die oggend. Ons sal die vryery meer buigbaar moet maak.’ Hy glimlag en sit regop in die bed.

‘Jip, luister, ek is in die knyp. Ek is besig om soos ‘n mal mens weg te hardloop van my huis af. Gelukkig het hulle mis geskiet ook!’

Dirk vlieg uit die bed uit.

‘Geskiet?’

‘Jip, luister, ek…’

‘Wag, wag, waar is jy? Ek kom jou haal!’

‘Is jy nie iewers in Gatsrand, duisende kilometer van hier af nie?’ vra sy.

‘Nee, ek’s in Johannesburg’

Sy slaak ‘n hoorbare sug van verligting.

‘Dirk….. dit is mos Dirk nê?’

‘Jip’

‘Weet jy hoe om by die ou kabelspoor by Hartebeespoortdam te kom?’

‘Nee… wag, hou aan..’

Roelien hoor ‘n tweede stem, deur die slaap.

‘Ons sal dit kry!’ kom Dirk se stem terug na haar toe.

‘Ok, ek sal wag!’ sy lag.

//

Die BMW werk hard. Vyf voor vier stop hulle by die ingang na die kabelspoor. Die meisie wat uit die skaduwees voor die xenons instap is heelwat jonger as wat Dirk verwag het. Marius trek sy asem skerp in. Dit is amper ongelooflik. Sy is ‘n rooikop, maar die ooreenkomste tussen haar en Heleen Bosch, is amper spookagtig.

‘Jissis Dirk,’ prewel hy ‘kan dit wees?’

‘Ongelooflik’ sê Dirk eenvoudig, dan is hy uit die kar, en stap die meisie tegemoet.

‘Jislaaik, waarop is jy grootgemaak. Steroids en pienk melk?’ Sy kyk Dirk openlik op en af.

‘Jong, jy staan soos ‘n bokkie in die hoofligte, ons kan later niceties uitruil. Kom!’ Hy stoot haar onseremonieel in die rigting van die BMW.

As sy in die kar klim, draai Marius om en kyk na haar. Sy deins effens terug.
‘Eks… ummm.. eks jam…ummm’ sy steek haar hand uit na hom toe. Die hartseer op sy gesig, gemeng met vyandigheid, verstaan sy nie.

‘Roelien’ sê sy net, en trek haar hand terug as die jong man geen poging aanwend om homself voor te stel nie.. Die motor draai knarsend op die gruis, en dan snel dit terug in die rigting van Johannesburg.

//

Roelien hou hom dop vanuit haar hoekie op die sagte leersitplek. Dit was akward, dink sy. Hy het na haar gekyk asof hy haar ken. Sy kyk na sy profiel. Hy staar net na die verligte pad voor hom. Die spiere in sy kaak vat en los. Iets in haar skree vir hom. Fok, Roelien, dink sy. Jy is ‘n oopkop. Jy het altyd gehoop so-iets gebeur met jou. Liefde met die eerste oogopslag. Kak timing…. dit is verseker. Bitter kak timing. Sy kyk weg, en vang Dirk se oog in die truspieel. Hy knik vir haar. Dit maak haar meer gemaklik voel.

//

Sy is doodmoeg. Die ou huis in Kensington, bekoor haar net so. Sy kan nie verstaan waarom dit hom so ontstel nie. Sy was nog besig om te koer, toe storm hy die vertek uit, en dit was die laaste wat sy van hom gesien het vir die res van die nag.

‘Roelien, ek het baie om jou te vertel. Bitter baie. Driekwart van dit gaan jy nie glo nie. Ek dink jy moet eers gou stort, en in die bed klim, dan vervat ons die gesprek môre.’

‘Dit is goed so, net een ding. Hoekom pis ek jou maatjie so af?’

Dirk krap ongemaklik agter sy oor. Dan staan hy op, en hy haal Heleen se skootrekenaar bo van die yskas af.

Dit skakel blitsig aan. Hy krap deur Heleen se fotos, en kry een van haar op die plaas.

Roelien staar geskok na die foto.

‘Dit lyk asof ek in ‘n spieël kyk. Wie is dit?’

‘Heleen Bosch. Marius se eertydse verloofde. Dit i….’

‘Shit, en laat ek raai, hulle is uitmekaar uit en en nou k…’

‘Nee, ons het haar eergister begrawe, Roelien. Nog ‘n slagoffer van hierdie fokkop waarin jy jouself nou begewe.’

‘Ag jirre, nee. Luister Dirk, ek gaan dit net moeilik maak vir hom. Ek is moeg. Môre vertel ons ons stories, en dan sal ek my eie potjie krap, ok?’

‘Hy gaan jou nie toelaat nie.. Ek het die kyk in sy oë gesien. Jy gaan moet bly.’

//

Hulle sit om die ontbyt tafel. Die atmosfeer tussen Roelien en Marius, kan jy met ‘n panga kap. Dirk onderbreek die ongemaklike stilte.

‘Ok, wat het gebeur laasnag?’ vra hy.

‘Eintlik, wat het gister gebeur. Ek sit en blaai deur my argiewe, en ek kom weer af op die vrou wat in Kosmos vermoor was’

Marius se kop ruk op.

‘My ma?’ sê hy net.

Roelien kyk hulpeloos na Dirk.

‘Ek het nie geweet ditwas jou ma nie. Ek is só jammer.’ Skielik knak iets in haar, en sy staan op en stap na Marius toe. Sy weet nie wat haar besiel nie, maar sy buk af en sit haar arms om sy skouers.

‘Ek is so jammer oor alles. So jammer dat ek lyk soos ek lyk. Ek maak jou seer en….’

Sy voel die styfheid in sy liggaam. Dan kom die hartverskeurende kreet uit sy binneste. Vir die eerste keer in vier maande, rou Marius van der Berg. Roelien wil wegtrek, maar hy hou haar vas, en hy huil. Dirk staan op, en verdwyn uit die vertrek uit.

Roelien hou hom vas. Dit voel net reg, en as hy bedaar, trek sy weg, en stap terug na haar stoel toe.

As sy gaan sit, en sy kyk terug na hom toe, steek hy sy hand uit oor die tafel.

‘Marius, aangenaam’ en daar is ‘n effense glimlag.

‘Roelien’ sê sy ‘….likewise’

Die ys is gebreek.

//

‘So, ek gaan vra toe die polisie wat aangaan, en of hulle regtig so stupid is soos hulle lyk, en laasnag wil hulle in my huis inbreek, en met die wegkomslag, skiet iemand op my. Nogal met ‘n silencer. Jy koop nie silencers op die vlooimark nie!’ Roelien vertel koorsagtig haar storie.

Hulle sit in die ruim voorkamer van die ou huis. Dirk kyk na Marius.

‘Gaan jy die storie vertel, of gaan ek?’

Marius begin langsaam die storie vertel.
As hy ‘n uur later afsluit, kyk Roelien met groot oë na hulle.

‘Ek het geen idee gehad dat hierdie so groot is nie. Kyk, as newcomer hier, het ek natuurlik ‘n paar vrae.’

‘Gooi’ sê Dirk ‘dit is dalk goed om ‘n vars perspektief te kry hierop.’

‘En, ek het ‘n vivid imagination’ lag sy. Dirk sien hoe haar lag weer die lig in Marius se oë laat brand. Die meisie het gekom asof sy gestuur is.

‘Ok, so, al hierdie moeilik het begin met ‘n persoonlike onderonsie tussen jou pa en hierdie geheimsinnige man. Nou, ok dit is alles goed en wel dat hy jou pa se legacy wil vernietig, maar ek ken mense. Ek kry die idee dat die man iets wegsteek. Iets wat hy nie wil he enigiemand moet weet nie. Dalk het jou pa informasie iewers gelos, wat ons geheime ridder ten alle koste wil terughê. Ie….’

‘Die dagboek!’ sê Dirk en Marius in ‘n koor. Roelien kyk net met ‘n leë uitdrukking na hulle.

‘Dagboek? Is daar nog iets wat ek moet weet?’

‘My pa het ‘n dagboek gehad. In die oorspronklike nota aan my het hy genoem dat dit al ons vrae sal beantwoord. Ons moet dit kry. Come hell or high water.’

Roelien vryf oor haar oë.

‘Elke liewe leidraad tot dusver het niks opgelewer nie, sê julle. Nou waar begin ons?’

Voordat enigiemand kan antwoord, stap Dirk terug kombuis toe. Hy kom terug met Heleen se skootrekenaar, en Marius kyk na dit asof dit ‘n slang is.

‘Ons begin hier’

//

‘Sy was sistematies’ sê Dirk. Hulle kyk na die rye folders. Almal met snaakse name. ‘Fantastiese vier,’ ‘Biblioteek blues,’ ‘Generaal Geskiedenis’ ‘Rowwe Recce’s’ en ‘n besonderse nuwe een getiteld ‘dagboek dilemma’.

Marius glimlag hartseer. ‘en funny,’ voeg hy by.

‘Wat is hierdie?’ se Roelien en tik op die ‘Fantastiese vier’ folder.

‘Meer ‘n teorie wat sy gehad het. Ek dink nie regtig ons mo….’ begin Dirk.

‘Ha nou, Haaaaaaaa nou’ keer Roelien ‘hierdie is baie interressant. Sien julle dié ou. Siegfried Kamfer. Hy is ‘n nutcase. My vriendin was ‘n onderhoud met hom toegestaan so ses maande terug. Die ou bly binne in ‘n glaskas, met ‘n ster op die vloer, en ‘n sirkel, en hy brand kerse en strooi sout en stront, en hy beweeg nie uit die sirkel nie. Vir jare nou al blykbaar. Die sekuriteit was blykbaar ontsettend. Sy het met net haar onderklere die onderhoud gevoer. Onsamehangende vent ook. Weirdo extraordinaire..’

‘Ster?’ vra Dirk en Marius weer gelyk.

‘Julle twee moet bietjie wegkom van mekaar af, dink ek’ sy giggel. Marius staan op, en vat haar hand.

‘Kom kyk gou hier,’ Hy lei haar teen die trappe op.

In die generaal se kamer steek sy vas as sy die pentagram op die vloer sien.

‘Jip, soortgelyk aan hoe sy dit vir my verduidelik het.’ Sy stap om die patroon in die vloer.

‘Dit is eerie,’ sy ril onwillekeurig. ‘kom ons gaan terug’

Sy wip weer voor die skerm in.

‘Die fantastiese vier…’ en hulle los haar uit dat sy deur die data kan gaan. Tien minute later draai sy die stoel, en sy kyk van die een man na die ander.

‘Hierdie drie moorde….. walglik soos hulle was, is verbind met mekaar. Ek wed my bottom dollar daarop.’

‘Ja, maar almal is opgelos, die oortreders agter slot en grendel.’ stribbel Dirk teë.

‘Jip, done and dusted. Weet jy wat is die odds daarvoor in hierdie landjie?’ vra sy en voor enigeen van die twee kan antwoord ‘Nada, zilts. Kyk hoe pragtig is al die gate toegestop, voor julle oë die laaste paar dae. Hierdie stink vir my na net meer toegeveegde spore.’

‘Maak sin’ sê Marius en kyk na Dirk.

‘Ok’ se Dirk en staan op. ‘Dan vat ons hulle een vir een. Praat met die manne wat die sake ondersoek het, kyk of ons die fantastiese vier kan verbind met ons geheimsinnige man.’

‘Dan het ons werk’ beaam Marius.

‘Roelien, is jy in?’ vra Dirk.

‘Julle sal my nie uit hierdie avontuur kan uitskiet met ‘n bazooka nie. Dit is die storie van die dekade!’

‘Raait, kyk of jy vir ons die manne kan kry wat hierdie sake ondersoek het.’

//

Roelien stoot haar ontbyt op die bord rond. Marius sit sy vurk neer.

‘Jy wil iets vra?’ Marius kyk onderlings na haar.

Sy ontmoet sy blik, en byt haar onderlip.

‘Ek sit elke aand ekstra pellets uit vir my katte, maar kom vannaand sesuur, soek hulle hul sagtekos. En ek’s hier….. en hulle gaan scatter as iemand anders hulle wil voer. Ek, ummmm…’

‘Eet klaar, dan gaan haal ons hulle’ Marius leun oor en druk haar hand. ‘Het jy van daai mandjies?’

‘Nee’

‘Dan tel ons gou ‘n paar op by die SPCA.’

Skielik is haar aptyt terug, en sy vaar onder die eiers in.

Tussen die happe deur, gee sy vir Dirk die informasie oor die speurders wat hy soek.

‘Terwyl julle twee uitry dié kant toe’ sê Dirk ‘ wil ek gou ‘n draai in Benoni gaan gooi. Dit is my ou valley, en ek wil sommer die speurder gaan sien wat die Matthysen ding ondersoek het. Die Martin Marx kêrel.’ Hy het ‘n spesmaas die twee jongmense voor hom, gaan ‘n pad loop saam. Hy wil wragtig nie die spaarwiel wees nie.

Marius kyk vlugtig na hom.

‘Die Trooper het nie vensters nie, gaan jy ‘n kans waag met dit op die Oosrand?

‘Die windskerm is darem intak….. so ek gaan nie insekte eet nie. Ek sal definitief voor donker terug wees’ antwoord Dirk en glimlag.

Dirk ry reguit na die polisie meganiese skool in Benoni. Hy kan aan niemand beter dink as sy ou polisiepêl, Anton Opperman, om hom met die regte mense in kontak te bring nie.
Hy stop die verinneweerde Trooper langs ‘n blinknuwe Nissan Murano, en bodder nie eers om dit te probeer sluit nie.

Die jong dame by ontvangs onthou die groot man, en knoop ‘n geselsie aan.

‘Meneer Dhooge! Ons het u lanklaas gesien, hoe gaan dit?’

‘Uitstekend Sandra, en hoe gaan dinge hier?’

‘Ag, meneer weet mos maar, elke dag dieselfde ding. Jy het gehoor nê’ sy kyk trots in die gang af ‘Anto…ummm…. Inspekteur Opperman het nou met die nuwe range, as majoor uitgestap anderkant.’
Dirk kyk na haar en glimlag skelm..

‘Is julle twee ‘n item’

Sy bloos bloedrooi, en voordat sy kan antwoord, gaan ‘n deur in die gang oop.

Dirk ruik seewier en peppermint. Hy draai om , en sy kom in die gang afgestap. Haar tree lank en soepel. Soos ‘n kat. Eers as die lig in die voorportaal oor haar val, merk Dirk die uniform op. Sy kyk net vlugtig in sy rigting, dan stap sy uit.
Die meisie agter die toonbank kug.

‘Dis ons baas. Brigadier Keyter.’

Dirk draai om. Die wind effens uit sy seile.

‘Ummm, is Anton in?’

‘Jip, en nou dat sý uit is, is hy vry.’ Openlike jaloesie.

Dirk knik, en as hy verby die voordeur stap, sien hy die brigadier staan en kyk na die vernielde Trooper. Die beeldskone gesig het ‘n effense frons. Sy kyk op, reguit in sy oë, en sy draai haastig om, en klim in die Murano.

Dirk stap af in die gang. Anton se deur staan oop, en as Dirk instap, en hy kyk op, verander die gesig van polisie-ernstig na seuntjiebly in ‘n oogwink.
‘Dirk!!’ Hy vlieg op en kom haastig om die lessenaar gestap. Hy vat Dirk se groot hand in beide syne.
‘Wat maak jy hier in ons valley ? Is jy gatvol vir stof en klippe? Kom sit, vertel my alles, moet niks uitlaat nie.’
‘Nee jong, jy weet mos, as ek hier rondhang, het ek gewoonlik meer kak as plesier.’
Die gesig raak weer polisie-ernstig, en Dirk keer.

‘Vertel my eers van jou nuwe baas. Striking om die minste te sê. Ek kan aan geen baas dink waarvoor ek eeder sou wou werk nie.’ tart Dirk.‘Die brigadier…..’ peins Anton.
‘Jong sy is nou wragtag nie maanskyn en rose nie. Harde vrou. Die stunning uiterlike huisves ‘n doringdraad binneste. As sy praat, beter jy luister. So vergeet maar van ‘n romantiese konneksie, Dirkie, julle sal mekaar binne ‘n week dood donner.’
‘En….. ek merk chemie op tussen jou en die ontvangsdame, iets waarvan ek moet weet? Wat het van die landdros geword?’*(Volsirkel)
Daar is ‘n skamerige kug, en ‘n ontwykende antwoord, wat Dirk se teorie pragtig staaf.

Na ‘n verdere tien minute se oor en weer klets, val Dirk met die deur in die huis.
‘Kyk, ek het ‘n vreeslike gemors op my hande. Stringe dooie mense en ‘n bondel lewendiges wat ek graag so sal wil hou…… lewendig.’

‘Ok, gooi, wat kan ek vir jou doen?’

‘Jong, ek is opsoek na die manne wat gewerk het aan n moordsaak hier in die dorp, nie te lank terug nie. Hier was ‘n ou, ene Jack Matthyssen, skatryk sakeman, wreed vermoor en….’

‘Ek onthou dit baie goed, Dirk. Jy is opsoek na Martin Marx. Ek en hy is nie close nie, maar ek kan onthou dat die saak opgelos was. Sommer vinnig ook. Wat is die probleem?’

‘Ja, ek weet van Martin Marx. Wel juis dat dit so vinnig opgelos was. Daar is twee ander soortgelyke sake, en ek hoop dat dit verbind is met die ou na wie ek soek.’

‘Dalk kan ek help, na wie soek jy?’

Dirk glimlag vir hom.

‘Dis die hele kak, ek weet nie, en ek sal jou alles vertel sodra die water minder modderig is. Mense is geneig om dood te gaan as hulle te veel weet, maar sodra ek die ding onder die knieg het, dan braai ons ‘n vleisie, dan sal ek jou inlig.’
Anton knik net, en trek ‘n klein velletjie papier uit ‘n plastiek houertjie op sy tafel. Hy skribbel ‘n nommer neer.
‘Bel vir Martin. Hy is abrasive, maar ‘n goeie ou. Ek sal ook met hom praat, dalk kan hy jou help.’
//

Dirk ry op in Sapphire straat, en soek na die nommer wat die speurder hom oor die foon gegee het. Hy sien die polisiemotor, voordat hy ‘n nommer kon eien, en hy swaai by die oprit in.
Die vrou wat vir hom die deur oopmaak, is stunning, en openlik antagonisties teenoor hom. Sy beduie hom direk na die eetkamer toe, en Dirk het nie veel tyd om oor haar houding te tob nie.

Aan die kop van die tafel, sit ‘n reuse man, hy eet met oorgawe, en kyk net vlietig op as Dirk inkom.
Dirk gaan sit regoor hom, en wag dat hy klaar eet.
‘Jy weet dat jy nie hier sou gesit het as dit nie vir Majoor Opperman was nie.’
Dirk knik net, en die mooi vrou kom skuif langs die groot speurder in.
‘Ek dink as jy ‘n slegter polisieman was, sou ek ook nie hier gesit het nie.’ gooi Dirk ‘n klip in die bos. Die speurder hou op kou, en hy kyk Dirk in die oë.

‘Jy weet, daardie hele fokken storie, het so teen my grein ingegaan, dit was net nie waar nie. So jy is reg, daar was soveel vrae wat ek wou vra, maar nie kon nie, en ek haat dit om te dink dat daar nog ‘n moordenaar daar buite rondsluip.’
Dirk trek sy wenkbroue op.

‘Jy verloor my. Ek dog die ding is klinklaar opgelos. Done and dusted.’

‘Like hell’ sê Martin Marx, en dan ontplof die mooi vrou aan sy sy.

‘Meneer ummm, ummmm…..’

‘Dhooge, noem my Dirk asseblief.’

‘Dirk dan, ek gaan nie doekies omdraai nie. Daardie saak was opgelos, en dit het aan Martin sy rang gegee. Daardie rang laat hom toe om te delegeer. Dit hou hom veilig, en dit hou hom by my, en hierdie verhouding is nuut en pragtig en lekker, en ek wil niks verander nie. As jy dit opfok, en ek is ‘n vrou, ek het ‘n gevoel in my water, sal ek jou nooit vergewe nie. En jy wil nie aan my verkeerde kant kom nie. Is dit duidelik?’

Beide mans kyk oorbluf na haar. Sy staan driftig op en begin die tafel afdek. Martin Marx se harde polisiegesig word sag en hy trek haar net vir ‘n oomblik nader, maar sy wriemel los en verdwyn in die kombuis.

‘Sy maak nie ‘n moordkuil van haar hart nie, dis verseker.’ sê hy en Dirk sien ‘n teerheid in die staalgrys oë.
‘Luister Martin, ek jaag dalk wind, en ek gryp na grashalms. Hierdie is ‘n grashalm. Maar ek sit self met ‘n streep lyke, en ek moet hierdie ding oplos.’
Martin Marx knik.
‘Vertel my jou storie.’
As Dirk klaar is, vryf Martin Marx oor sy oë.

‘Jys doodreg oor die grashalm. Jy het net ‘n ou foto. Dit kon heeltemal random gewees het. En dan hierdie okulte skakel. Die stêr besigheid. Daar is duisende mense wat alternatiewe gelowe beoefen. Dit en my teorie, dat as jy te veel fokken geld het, raak jy verveeld, en dan moet jy jou kicks van iewers anders af kry. My polisieneus egter……..’

‘Laat jou dink eks dalk op die regte spoor.’ maak Dirk sy sin vir hom klaar.

‘Jip, en die feit dat jy elke keer gepootjie word as jy opvolg. Dat jy dink daar is top brass in die polisie betrokke. Ek het met die Matthyssen saak dieselfde verdomde gevoel gehad.’

‘Dat toutjies getrek word?’

Martin knik net.

‘So wat het jou gepla oor die saak?’ vra Dirk

‘Jirre, dit was net té maklik, vir starters. James Hippert is drek, maar hy was nie stupid nie. Daar was net nie ‘n manier dat daai tipe van ou met die moordwapens in sy voertuig sal rondry nie. Nie ‘n manier nie.’

‘So jy dink dit was geplant?’

Martin knik net.

‘Enige manier waarop ons dit kan bewys?’

‘Nie sonder om vreeslik stof op te skop nie.’

‘En jy is nou Kaptein, jy wil dit seker ook nie in die weegskaal plaas nie, ek kan dit verstaan.’

Martin slaan met sy groot vuis op die tafel.

‘Jy kyk my vlak, my rang het niks daarmee uit te waai nie. Daar loop ‘n moordenaar vry rond daarbuite. Dít vreet my.’
Dirk besef dat hy en die groot man oorkant hom ‘n pad sal kan loop. Hy glimlag.

‘Daai, was die regte antwoord. Ek wil egter nie alles opfok nie, point my net in die regte rigting, en ek sal self opvolg.’

‘Ok, die een hand was die ander. Hou my in die kring, en ek sal help waar ek kan’ sê Martin.

‘Jyt my woord’

‘Goed, wat my gepla het was dat Hippert se vingerafdrukke op die wapens was. Hy is eenvoudig nie so stupid nie. Daar was ‘n paar plastiek handskoene is sy bakkie. Waar de fok kom die prints vandaan?’

Dirk snap onmiddelik.

‘So, as die prints geplant was, het ons ‘n mol by forensies, is ek reg?’ vra Dirk.

‘Exactly. Ek het moerse respek vir Jonathan Cohen, maar in die nagte wat ek al wakker gelê en getop het oor die saak…… hy was edgy daardie aand.’

‘Hokaai’ stop Dirk hom ‘Ek neem aan die Cohen mannetjie is julle forensiese ou?’

‘Korrek, gewoonlik komkommer koel en beredenerend, met verslae wat lees soos tesisse, maar in hierdie geval was dit ‘n afgewaterde getuig op die bank, en dit was dit.’
Martin staan op, en haal ‘n pen en skryfblok uit ‘n aktetas wat oop op ‘n sytafel staan. Hy skryf vinnig ‘n adres neer.

‘Hier is waar jy hom in die hande kan kry’

Dirk staan ook op. Hy skud die groot man se blad.

‘Ek sal jou laat weet’

Daarmee is die vergadering oor, en as Dirk in die kombuis inkyk, kyk hy in Nana Forme se donker oë in. Daar is ‘n dreigement daar. Hy stap by die voordeur uit.
As hy die Trooper se deur toeslaan, ruik hy vaagweg seewier en pepperment. Hy verstar en kyk rond in die voertuig.
Moet ‘n mooi vrou altyd met jou verbeelding lol? Hy ry verergd in die rigting van Benoni dorp.

Word vervolg … 

Lewer kommentaar