Tommie

Ek het hierdie naweek vir Tommie ontmoet. Hy is ‘n gestremde man van 25, wat aan ‘n rolstoel gekluister is. Hy praat moeilik, maar hy praat oor alles. Heeltyd.

Van Vrydag aand af is hy ingesluit in die kringetjie om die tafel, potjies en swembad. Sy oë het geskitter elke keer wanneer iemand bevestig dat hy ook daar is deur ‘n grappie met hom te maak. Ons het nie eintlik geweet hoe moet ons hom hanteer nie, maar vinnig agtergekom dat hy maar net so lekker kan vloek en skerts soos die res van ons. Toe hanteer ons hom maar net soos een van ons.

Soms het hy bietjie vergeet wie is wie, en dan sommer vir Albert Jaco genoem, of vir Martie Saartjie. Maar sodra hy ‘n naam geroep het, en dis nie een van ons s’n nie, het die naaste man of vrou dadelik geantwoord en met hom gesels. Hy het dit so geniet! En skerp met grappies vang hoor! Dan lag hy uit sy maag uit dat hy sommer so sit en ruk in daai rolstoel. En nie skaam vir drukkies uitdeel en dan sommer so skelmpies aan die girl se boud te vat nie! Hehe!

Saterdag het hy besluit dat Kimberley droog is, en dat hy in Welkom wil kom bly. Hy kuier dan so lekker saam met ons. Maak allerhande planne saam met Han, dat hy hier gaan kom werk, en sommer by ons gaan kom bly. En so speel ons maar saam om hom gelukkig te hou.

Sondag langs die swembad het sy vreugde geen perke geken toe Liefie ‘n lekker bommie langs hom maak en hom papnat spat nie. Hy het geskater soos ‘n kind en vir Liefie met die een handjie beduie: “Jou bliksem, vir jou gaan ek kry!” So asof hy enige oomblik uit die rolstoel kan opstaan en saam in die water kan gaan speel.

Maar toe groet-tyd kom Sondag middag, is die man moeilik. Hy wil niks weet van teruggaan Kimberley toe nie. Hy huil en skel en protesteer toe sy ma en boetie hom in die kar help. Ons staan almal daar met trane in ons oë, ons weet dit is nie moontlik om sy droom te laat waar word nie. Hy het intensiewe sorg nodig, wat nie een van ons vir hom kan bied nie. Die vorige keer wat hy kom kuier het, kon hulle glo vir weke nie huishou met hom daarna nie. Vreeslik opstandig oor die “dooie” plek waar hy bly!

Mens kan dit seker ook verstaan, ek ken nie sy volle omstandighede nie, maar verstandelik is hy redelik skerp. Dit moet verskriklik frustrerend wees om vasgevang te wees in ‘n nuttelose liggaam, en jou kop wil ander dinge doen.

Maar ou Tommie, dit was lekker om jou te leer ken. Jou lewensvreugde was vir my wonderlik om te ervaar, en ek hoop jy kom kuier weer eendag vir ons. Anne, as jy hier lees, ons bewonder die wyse waarop jy en Johan vir Tommie versorg. Julle beloning sal groot wees eendag. Ek glo Liewe Jesus gee sulke kinders net vir besondere mense. Gee vir hom ‘n lekker stywe druk van ons klomp in Welkom af!

 

20 Responses so far »

  1. 1

    Suz said,

    Dellie

    Dankie vir hierdie pragtige inskrywing, dit laat my weer besef dat ek soveel het om voor dankbaar te wees. Ek voel partymaal ongelukkig omdat ek nie ‘n nuwe kar, huis en al daardie dinge kan bekostig nie. Maar as jy na Tommie kyk het ek baie om voor dankbaar te wees. Ek het ‘n wonderlike man, kinders, huis en belangrikste van als ek kan loop, sien, praat en hoor. Hierdie dinge aanvaar ek so maklik as vansefspreekend en dit kan so maklik van mens weggeneem word. DANKIE DAT JY VANDAG WEER MY Oë VIR MY BIETJIE OOP GEMAAK HET.

    Lekker Dag

  2. 2

    Marina said,

    Dellie dit laat mens net weer klein voel oor Ons Vader se genade oor ons. Dit word duidelik aan ons gese dat hierdie mensies verseker is van ‘n plekkie in die hemel.

  3. 3

    Adelem said,

    Dis lekker om te weet daar is iemand in sy posisie wat nie dat sy gestremdheid hom onder kry nie. Party mense in sy posisie is kwaad vir alles en almal en voel die wereld skuld hulle iets. Nie Tommie nie!

    My broer het so 4 maande terug een oggend blind wakker geword. Hy het as kind nog altyd probleme met bloedklonte en sy oe gehad, maar deur almal se gebede het dit nie sy lewe beinvloed nie.
    Hy het ‘n bloedklont deur sy oe gehad deur die nag. Toe my skoonsuster die dr vra hoekom moes dit met hulle gebeur en erg ontsteld was, het die dr vir haar gese, daai bloedklont kon deur sy hart gegaan het en dan was hy dood. So, dis beter om ‘n blinde man te he, as om ‘n weduwee te wees met 2 klein kindertjies.
    Dis ‘n helse ding. Hy’s 8 jaar getroud met 2 pragtige seuns en ‘n vrou wat deur dik en dun by hom staan. Hy kry depressie-oomblikke waar hy alles wil opgee en net doodgaan. Maar, gelukkig het hy ‘n groot ondersteunings-kring en almal gee maar ‘n handjie, maar dis erg hoor. Dit gaan nou al beter, maar hy en sy gesin het nog ‘n entjie om te gaan om die tragedie te aanvaar.
    Maar ja, dis moeilik om altyd die donker wolk se silver randjie raak te sien en Tommie het die besluit geneem om te fokus op die silver randjie!

  4. 4

    Dellie said,

    Adele, dis vreeslik. Die aanpassing moet geweldig wees. Maar soos die dokter gesê het, ten minste is die bloedklont nie deur sy hart nie. Baie sterkte vir julle familie.

  5. 5

    Adelem said,

    Dankie Dellie-ding! By God is niks onmoontlik nie en ons glo dit wat gebeur het, het ‘n doel. Ons is nog net die geestelik sterk genoeg om die doel raak te sien nie. Satan probeer ons andersins wysmaak, maar met God se Genade en hulp probeer ons ons positief wees!

  6. 6

    Annie said,

    Dankie Dellie vir die wakker skud. Soos Suz sê, dit laat mens net weer op jou knieë gaan en DANKIE sê.

  7. 7

    Eben said,

    Ai Dellie vriendin, dis pragtig en met soveel deernis geskrywe.

    Aan almal wat sulke mense/kinders in julle lewe het, JULLE is spesiaal, want die Here het julle met die hand uitgesoek om die kruis te dra, maar die beloning op die einde van die dag, gaan soveel groter wees.

    Sterkte

  8. 8

    boendoe said,

    More!
    Ek het vroeer jou stukkie gelees, maar kon net nie comment nie. Nou’s ek terug!
    Mens moet jou seeninge tel, ja, maar mens moet ook nie vergeet dat gestremdes in die eerste plek MENSE is nie. Mense met drome, ideale en begeertes, nes ons. ‘n Gestremde vriendin het eendag gese, dat sedert sy in ‘n rolstoel is, mense oor en verby haar kyk. Niemand wil meer oogkontak maak nie. Dit moet vreeslik wees om so “misgekyk” te word. Hulle kort nie bejammering en simpatie nie. Hulle wil net aanvaar word as deel van die menslike spesie.
    Jammer, nou het ek weer oorgeneem!

  9. 9

    Ek het mos hoeka gese^ ons is ‘n volk met groot omgee harte. Mooi Dellie.

  10. 10

    duskant said,

    Die Bybel praat van Engele om ons. Het julle al mooi gaan dink wat die implikasie daarvan is…vir my is dit die feit dat Tommie ‘n Engel kan wees, hier om vir ons ‘n diep waarheid oor die lewe te kom leer. Ek steek vandag ‘n kers vir hom aan, daar waar hy in die “dooie” plek moet woon, en ek bewonder hom nederig. Dankie vir ‘n mooi post!

  11. 11

    mykopop said,

    Ek dink net weer aan die woorde van die Transformers se “Agter Wind Aan” wat ek nou die dag gepos het:

    “Ons weet als van vat af, maar so min van gee”.

    Dis mooi dat julle so vir hom omgee.

  12. 12

    SHARKS said,

    Ek kan maar net my kop in skaamte sak, so vinnig om te kla oor die en oor daai!! Gee Tommie ‘n stywe ou drukkie.

  13. 13

    sonneblomseplekkie said,

    Hier woon ‘n meisie by haar ma op ‘n plot. Toe ek die eerste keer daar kom was ek bang vir die kind. Sy glimlag en probeer gesels met die vriendelikheid van 1000 engele. Maar ek bly bang vir haar. Want sy kruip op haar kniee rond en die spoeg loop uit haar mond. Na paar kuiertjies leer ek die kind ken. Ek sien haar ma praat met haar soos sy met ek en jy praat. Elke keer as ek daar kom druk sy haar hareborsel in my hand en ek moet haar pragtige lang hare borsel. Ek beloof haar ek sal vir haar inkleurkreite en koki penne bring, en elke keer as ek daar kom sonder die goed, dan hoor ek dit. Sy het my so skuldig laat voel dat ek toe nou maar spesiaal gegaan en vir haar die goed gaan koop het. En sy het dit soos goud opgepas. Sy word 18 en maak klaar met ‘skool’ Haar ma kry vir haar ‘werk’ Sy moet papiertjies knip in ‘n iemand se winkel, en sy is so trots op haarself gewees daaroor. Om ‘n lang storie kort te knip, mens raak so vinnig lief vir sulke mense, mens moet net jou hart oopmaak en ophou bang wees. Hulle kan nie byt nie, hulle soek ook maar net liefde en aanvaarding. Elrisha was ‘n eye opener vir my.

    Lekker dag
    Liefde groete
    Sonneblom

  14. 14

    vygie said,

    Ja wat, ons eie liewe Loren het ons geleer dat gestremde kinders eerstens maar net kinders is wat liefde meeste van alles nodig het – soos ons almal maar. Terselfdertyd het elke mens op aarde sy eie persoonlikheid en voorkeure en intelligensievlak en humorsin. Gestremde mense ook. Selfs al lyk iemand vir jou asof hy niks registreer nie, kan jy dit nie sommer net aanneem nie. Dalk het hy net probleme met kommunikasie maar kan ‘n heerlike gesprek met jou voer d.m.v ‘n rekenaar of ander toestelle. Dankie dat julle oor julle aanvanklike onsekerheid gekom het en daardie eerste stap geneem het. Ek wens almal wil so wees.

  15. 15

    vygie said,

    O ja, ek wou nog vra: Kan ek hiernatoe link?

  16. 16

    Dellie said,

    Natuurlik kan jy link, Vygie!

    En dis waar wat jy en Sonneblom sê. Aanvanklik was ons ook half “skrikkerig” vir Tommie, maar ek dink dis omdat ons nie lekker verstaan het wat met hom aangaan nie. Toe ons eers met hom begin gesels, het ons agtergekom hy verstaan baie goed wat om hom aangaan. En sy kinderlike plesier vir alles, is oorweldigend.

    My broer se dogtertjie was ook gestremd. Ek het by hulle gebly nadat my ma oorlede is toe ek 13 was. Die kleinste dingetjies kon vir haar die grootste plesier verskaf. Soos om doodeenvoudig met ‘n stukkie tou te speel. In en uitryg deur haar tande!

    En soms was sy baie moeilik, gehuil en geskree, en al wat mens kon doen was om haar in haar kamer toe te maak totdat sy bedaar. Sonder meubels, net ‘n matras, maar dit was vir haar eie beskerming want sy kon loop, en sy het op alles geklouter en haarself soms stukkend geval. Van my pels wat kom kuier het, so oë het somtyds gerek as sy so skree, hulle was skoon ontsteld. Ons het maar net verduidelik wat aangaan. Mens raak gewoond aan hulle maniertjies, maar ou maat, as sy vir jou vasgevat het in ‘n druk, het jy daarvan geweet! 😆 Sy was pragtig, met sulke groot blou oë wat gevoel het of hulle tot in jou siel kan kyk. En sy kon so lekker lag!

    Sy is ‘n paar jaar gelede oorlede, niemand het verwag dat sy meer as 20 jaar oud sou word nie. Sy was in ‘n tehuis in Pta, maar het baie naweke huistoe gekom en dan moes my broer maar skuif, SY wil by ma slaap. Sy kon nie regtig praat nie, maar het haar maniertjies gehad om met ons te kommunikeer.

    Persoonlik dink ek mens moet maar net jou instink volg rondom gestremdes, en hulle normaal behandel. Hulle sal jou laat weet waar hulle perke is.

  17. 17

    Butterfae said,

    Haai! Hoekom het jy getrek? Ek het vinnig kom inloer om te kyk hoe dit met jou gaan. Ek begin oor 2 weke weer te werk. My hart is baie seer, wil nie my baby by iemand los nie, maar ek moet maar. As ek terug is by die werk kan ek weer baie blog. Vertel my bietjie al die skindernuus wat ek gemis het.
    Groete uit moederland!!

  18. 19

    Kokkewiet said,

    Voorwaar ‘n eye-opener. Dankie Dellie vir die mooi post!!

  19. 20

    sonkind said,

    Dis so ‘sweet’! Dankie hiervoor.


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar op SHARKS Kanselleer antwoord