Skoonouers

Dit was ‘n lekker naweek. Tipies winter in die Vrystaat, alles vaal en dof, maar die dae was vol sonskyn en sonder wind. Lekker gebak in die sonnetjie. Batterye is gerecharge, en daai alter ego wat verlede week uit die kas geklim het, veilig weggebêre.

My skoonouers het hier gekuier van Donderdag af. Liefie en Seun (17) het vir hulle gekook omdat ek nog Donderdag aand tot 7uur moes werk. Dit moet ek net sê van my manne, hulle kan alles doen. Vee, was en stryk, koskook en skottelgoed was.Seun was maar nege toe ek begin het met my besigheid, en van toe af moes hy leer om sy deeltjie te doen. Dis ‘n groot berg van my skouers af, my ure is maar ongereëld in die week. Hulle vat vas en raak en menigmale is die kossies reg wanneer ek klaar gewerk het. Of ek moet net die final touches kom doen. Anyway, hulle het ook toe mooi uitgehaal en gewys Donderdagaand, en skoonouers was heel beïndruk.

Ek is baie lief vir my skoonouers. My ma is oorlede toe ek 13 was, ek en my pa is nie vreeslik close nie (annerdag se storie daai), dus het my skoonouers basies die plek van my ouers ingeneem toe ons getroud is. My skoonpa is ‘n Pastoor, maar hy het vroeg in ons huwelik geleer dat hierdie ONS huis is, en ons die dinge hier op ONS manier doen. Vir so ‘n paar jaar het ons in dieselfde straat gebly, twee huise van mekaar af. Dus baie gerieflik naby. Hy het die manier gehad om sommer so in die straat, nog voor hy by die hek kom, al na my te roep. Hard en duidelik. Of kom klop aan die deur, en as ek nie soos in oombliklik daai deur oopruk nie, my dan begin roep. Hard en duidelik. Die hele buurt het altyd geweet as hy oppad is na ons toe. Eendag het ek net vir hom mooi verduidelik dat ek nie daarvan hou nie, en dat hy my asseblief ‘n kansie moet gee om tot by die deur te kom nadat hy geklop het. Problem solved. En so het ons maar die ander dingetjies wat gepla het ook uitgestryk.

Skoonma is die dierbaarheid van self. Sy het nog nooit ingemeng in ons huwelik OF my huishouding nie. Sy is altyd daar as ek hulp nodig het, en het so in die beginjare gehelp met pannekoek en melkkos resepte sommer so oor die foon. Wat ek daardie tyd van kook af geweet het, was effens gevaarlik. Het een Sondag hierdie “wonderlike” ete voorberei, maar die BBQ hoender sommer weer gespice. My arme man het vir dae lank die toilet met baie gereelde tussenposes besoek! My eerste vetkoeke is deur die hond begrawe…en Liefie vertel altyd hoe hy en sy pel die rotte onder in die myn doodgegooi het met my eerste Soetkoekie pogins… Intussen het dinge darem gelukkig ten goede verander!

In elk geval, Skoonma het voor ons troue vir my die raad gegee: “Moenie hom bederf deur bv sy klere vir hom reg te sit om aan te trek nie. As die kindertjies eers daar is gaan jy nie tyd kry daarvoor nie, en hy gaan dit nog steeds verwag.” Ek het dit toe nooit gedoen nie, maar sy doen dit nog tot vandag toe vir Skoonpa! As hy self iets moet soek in ‘n kas of ‘n tas, is dit choas en dan moet sy weer alles regpak. Ek dink dis nogal slim van hom…!

Sy is ook altyd besig om met Skoonpa te “baklei” oor iets. “Steek in jou hemp. Maak reg jou das. Moenie so mors nie.” hehe Maar hulle is beslis mekaar se ander helftes. Hierdie jaar is hulle 50 jaar getroud. Dis ‘n leeftyd. Skoonma se gesondheid is nie waffers nie, maar Skoonpa hol heeltyd rond soos ‘n mier wat kos bymekaarmaak vir die winter. Kan nie ‘n oomblik stilsit nie. Altyd besig om erens iemand te help. Kry kos by winkels verniet (groente en brood wat verby die verval datum is, maar nog nie sleg is nie) en deel dit uit onder die hongeres. Sy begin nou bietjie sukkel om by te hou, maar hy glo sy sal doodgaan as hy haar nie besig hou nie. Ons raas baie met hom om haar bietjie rus en vrede te gun, maar hy ken haar seker beter as ons.

Skoonpa is MAL oor roomys. Toe ek hom die eerste keer ontmoet het by my skoonsuster se huis, het sy vir my ‘n bakkie roomys in die hand gestop en gesê: “As jy dit vir hom gaan gee, is jou kop deur.” Nodeloos om te sê, my shares het sommer dadelik gestyg!

Nou ja, Saterdag is hulle terug huistoe, en tot die honde het dadelik agtergekom die huis voel vreemd stil. Ons het mekaar nie regtig waardeer toe ons so naby mekaar gebly het nie. Nou verlang ons ons dood na mekaar. En ons bly so ver van mekaar af dat ons mekaar seker 2 maal per jaar sien. Sad. Maar die kuier was lekker.

6 Responses so far »

  1. 1

    Kokkewiet said,

    Ek is so bly dat julle lekker gekuier het en dat jy so goeie verhouding met jou skoonouers het. Ek moet sê na my egskeiding verlang ek baie na my skoonma. Ek kon met enigiets na haar toe gaan en ons kon daaroor gesels en redeneer sonder om mekaar aan te val.

  2. 2

    Anonymous said,

    Jy is bevoorreg om sulke wonderlike skoonouers te he! En die liefie en oulike seun wat kosmaak!!

    Seker omlat jy so oulik is.

    Fairydust

  3. 3

    Boendoe said,

    Hey Dellie,
    Ek het ‘n comment by Antjie gelos, maar uit pure windgatgeit wil ek dit sommer hier ook doen! Ek is SO trots op myself, om my naampie in blou te sien MET ‘n prentjie!! Ek het my alie behoorlik afgesukkel, bietjie IT gestremd. Kom kuier!

  4. 4

    Anonymous said,

    Dellie,

    N.a.v die dd debakel, ek moet vir jou info mail. dan kan jy hom goed gas gee!

    Los jou e-mailadres hier, grt asb.

  5. 5

    Dellie said,

    Anonymous, daars ‘n e-mail link by my profile waarheen jy kan stuur.

  6. 6

    Butterfae said,

    Hey Dellie
    Sjoe, maar jy is gelukkig om sulke wonderlike skoonouers te hê. My skoonma is wonderlik somtyds, maar as sy die dag lus is, dan krap sy my hele lewe deurmekaar. Sy sal opmerkings maak oor my gewig, hare, kleredrag ens. Uitvra oor ons geldsake of sommer my computer aansit en kyk wat daar aangaan. Maar een ding waaroor ek nie kan kla nie is die manier hoe sy my man grootgemaak het. Hy dra my op die hande. Ons maak beurte om kos te maak, skottelgoed en wasgoed te was ens. Hy het nie ‘n lui haar op sy kop nie. Gelukkig sien ek skoonma net so 2 keer ‘n jaar, want hulle bly vêr. Ons bly in Nelspruit en hulle in Nylstroom. Maar net ‘n naweek is klaar te lank. Waardeer wat jy het terwyl jy kan, want sulke skoonouers is so skaars soos hoendertande.
    Groete
    Chantie aka Butterfae


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar